Numeri 25 – Pinehas se passie vir God stop die plaag as straf vir afgodery en onsedelikheid
Israel is by Sittim aan die oostekant van die Jordaan, die plek vanwaar Josua verkenners die 16 km Kanaän sal instuur na Jerigo (Jos. 2:1) en uiteindelik die Jordaan self sal oorsteek om die beloofde land in te neem (Jos. 3:1).
Soos Moab in hoofstuk 22-24 die gevaar van buite af was om deur Bileam Israel te vervloek, só is Moab steeds in hoofstuk 25 die gevaar. Hierdie keer van binne af deur die Israeliete te verlei met afgodery en onsedelikheid (hoerery) op grond van die raad van Bileam.
Moab en Midian was saam verantwoordelik vir die huur van Bileam (Num. 22:4, 7) en hier sien ons dit ook. Daar is Moabitiese en Midianitiese vroue betrokke. Dit verklaar ook hoekom daar uiteindelik oorlog teen Midian gevoer word as straf vir hierdie aanslag op hulle verhouding met God deur onsedelikheid en afgodery (Num. 31).
By Sinai is Israel al gewaarsku teen enige verdrag met die nasies van Kanaän of ‘n ondertrouery met hulle mense weens die gevaar van afgodery en onsedelikheid (Eks. 34:15-16). Hier word die gevaar op ‘n konkrete wyse geïllustreer. Israelitiese mans val vir die losbandige seksuele verhoudings met Moabitiese vrouens by die offermaaltye waar Baäl-Peor aanbid is.
Die toorn van die Here het teen Israel ontvlam en Moses het op sy bevel van die leiers in die openbaar opgehang voor die heiligdom. Heel waarskynlik het dit ingehou dat hulle arms en bene gebreek is voordat ‘n skerp paal deur hulle liggaam van onder na bo gesteek is en dan in die grond geplant is. ‘n Uiters grusame straf.
Selfs hierdie grusame straf het egter nie die gewenste uitwerking gehad nie, want onder dít alles, sê die skrywer, het ’n Israelitiese man, Simri, tog nog ’n Midianitiese vrou, Kosbi, tussen sy familie in gebring, waarskynlik om met haar te trou. Albei was van gerekende families uit hulle onderskeie nasies soos die vermelding van hulle name en dié van hulle ouers aantoon.
Simri het dit boonop skaamteloos gedoen voor die oë van Moses en die hele gemeente van Israel wat by die ingang van die tent van ontmoeting gestaan en huil het oor die afgryslike straf wat hulle moes toepas. ‘n Plaag het daarby onder die volk uitgebreek weens die toorn van die Here waarskynlik oor Simri se optrede.
Toe Pinehas, seun van die hoëpriester Eleasar, en kleinseun van Aäron, egter sien wat Simri doen, het hy ’n spies gevat en hom na die tent toe gevolg. Daar het hy die spies deur albei gesteek, deur Simri tot in die onderlyf van Kosbi. Sy passie vir God het die plaag afgewend. Daarmee het die ramp onder die Israeliete tot ’n einde gekom al is daar steeds vier en twintig duisend Israeliete dood.
Die Here beloon Pinehas deur hom in die publiek en met die oog op sy nageslag se toekoms te eer, soos Hy God geëer het en ‘n totale ramp vir die volk afgeweer het. Hy lei Israel ook in die uiteindelike geveg met Midian deur die silwertrompette te gebruik (Num. 31).
Dit leer ons dat dit ‘n valse idee is dat ‘n mens ongehoorsaamheid teen die Here eenvoudig kan los, met die verskoning dat God self sal optree. Dit getuig van ‘n volslae minagting en onverskilligheid nie net vir God se eer nie, maar ook vir die heil van sondaars.
Die gedeelte sluit af met ‘n opdrag van die Here om teen die Midianiete op te tree wat dan ook die laaste ding is wat Moses doen (Num. 31) vóór hy met sy laaste toesprake in Deuteronomium afskeid neem en self die grens tussen hier en daar oorsteek met sy dood.
Boodskap
Psalm 106:28-31 haal hierdie verhaal van Israel se sonde met Baäl-Peor aan as bewys van die onbestendigheid van Israel en prys tegelykertyd Pinehas se optrede wat deur die geslagte vir hom as ‘n daad van geregtigheid gereken is.
Paulus gebruik ook hierdie verhaal om gelowiges te waarsku om nie op dieselfde wyse as die volk hier in Sittim die Here te verloën deur afgodery en losbandigheid (1 Kor. 10:8). Hy wil ons leer om ons te staal teen die versoekings wat daar op geestelike en seksuele gebied na ons toe kom: “God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan … Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God.” (2 Kor. 10:13b, 31).
Die waarskuwing teen die “leer van Bileam”
Johannes gebruik in Openbaring 2:14 die verhaal van Bileam uit Numeri 22-25 (vgl. Num. 31:8,16) om nie net die verval in afgodsdiens en onsedelikheid in sy brief aan Pergamum aan te spreek nie, maar ook die gevaar van verkeerde leerstellings uit te lig wat die basis verskaf vir gelowiges om afvallig te raak.
Die “leer van Bileam” raak dus ‘n beskrywing van enige leerstelling wat gelowiges verlei om by afgodsdiens en onsedelikheid betrokke te raak, terwyl hulle in hulle onkunde dink dat daar niks fout is mee nie! Hierdie mense is ook die Nikolaïete genoem (Openb. 2:15; vgl. ook Openb. 2:6).
Die woord “Nikolaïete” is ’n Hebraïsme, d.w.s. ’n Hebreeuse/Aramese woord wat in Grieks geskryf word. In Aramees beteken nichola “laat ons eet”. Dit verwys waarskynlik na heidense volgelinge van die Here Jesus Christus wat nie wou inval met die besluit van die Jerusalem vergadering nie (Hand. 15:22-29). Nikolaïete beteken dus iets soos: “Laat-ons-eters”, mense wat vervolging wou vermy en daarom by hulle etes die Romeinse gode vereer het saam met die God van Israel in Christus. Die Here Jesus wou egter niks daarvan weet nie, en het hulle skerp aangespreek.
Dieselfde sien ‘n mens by Judas, die broer van Jesus, wat in Judas 11 die verhaal van Bileam uit Numeri 22-25 gebruik om die “bedrog van Bileam”, weens gierigheid, af te wys in terme van die lasterlike leerstellings van goddelose leraars wat die genade van God misbruik en mense verlei om doodgewoon volgens hulle natuurlike drange te lewe en nie volgens God se standaarde nie.
Hulle sal egter nie die straf wat God oor afgodery en onsedelikheid bring, kan ontwyk nie, want in plaas daarvan dat hulle deur die Gees van God beheers word, laat hulle toe dat hulle natuurlike drange hulle beheers. Dit bring nie net verdeeldheid in die geloofsgemeenskap nie, maar stort die oortreders in die volle oordeel van God, soos Judas dit uitspel in die res van sy brief.
Ook Petrus gebruik die “weg van Bileam” uit Numeri 22-25, op voetspoor van Judas, as waarskuwing in 2 Petrus 2:15-16 om die lasterlike lering van die dwaalleraars aan die kaak te stel wat met wellus en losbandigheid jong bekeerlinge verlei om terug te keer na die besmetting van die wêreld waaruit hulle so pas vrygekom het nadat hulle die Here Jesus as Verlosser leer ken het. Hulle verlei met hulle losbandige leringe onstandvastige mense – “die vervloektes”, sê Petrus! – om af te wyk van die “heilige gebod” rondom morele waardes en terug te keer na die sondes van hulle natuurlike drange, soos ‘n hond na sy braaksel, soos ‘n gewaste vark wat weer in die modder gaan rol.
View all posts in this series
- Bybelskool oor Numeri - July 20, 2017
- Inleiding – ‘n reisverhaal - July 24, 2017
- Indeling – twee generasies - July 25, 2017
- Ekskursie – geweld in die OT - July 26, 2017
- Ekskursie – Numeri in die NT - July 27, 2017
- Numeri 1-2 – Elkeen kry sy plek in die kamp - July 28, 2017
- Numeri 3-4 – Elke Leviet kry ‘n taak en verantwoordelikheid - July 31, 2017
- Numeri 5 – Elke Israeliet moet rein leef, veral in die huwelik - August 1, 2017
- Numeri 6 – Die impak van geloftes aan en die seën van die Here - August 2, 2017
- Numeri 7 – Die Tabernakel word toegewy en ingewy - August 3, 2017
- Numeri 8 – Die Leviete word afgesonder en gereinig vir hulle dienswerk - August 4, 2017
- Numeri 9 – Wanneer God beweeg, beweeg die geloofsgemeenskap - August 7, 2017
- Numeri 10 – Die tyd vir die reis na Kanaän het aangebreek - August 8, 2017
- Numeri 11 – Die Here troef die gulsige verset van die volk met sy Gees en ‘n oordaad vleis - August 9, 2017
- Numeri 12 – God bevestig Moses as sy betroubaarste dienaar - August 10, 2017
- Numeri 13 – Ons was soos sprinkane in ons eie oë - August 11, 2017
- Numeri 14 – Hoe lank sal hierdie volk my almag bly onderskat? - August 14, 2017
- Numeri 15 – Verdere riglyne vir die hantering van sondes - August 15, 2017
- Numeri 16 – Verset lei tot veroordeling wat net getroef word deur voorbidding en versoening - August 16, 2017
- Numeri 17 – Aäron se kierie met ryp amandels boesem ontsag in - August 17, 2017
- Numeri 18 – Israel word ‘n gemeenskap van gee en neem - August 18, 2017
- Numeri 19 – God voorsien reinigingswater sodat hulle met Hom in gemeenskap kan lewe - August 21, 2017
- Numeri 20 – God se soewereine transformasie troef ongehoorsaamheid en onbarmhartigheid - August 22, 2017
- Numeri 21 – God bring verlossing vir dié wat op Hom vertrou - August 23, 2017
- Numeri 22 – Die Here gebruik die bose Bileam om Israel te seën - August 24, 2017
- Numeri 23:1-26 – Niemand kan God se seën tot niet maak nie - August 26, 2017
- Numeri 23:27-24:25 – Geseën is dié wat jou seën; Vervloek dié wat jou vervloek - August 28, 2017
- Numeri 25 – Pinehas se passie vir God stop die plaag as straf vir afgodery en onsedelikheid - August 29, 2017
- Numeri 26 – Elkeen kry sy plek in die land - August 30, 2017
- Numeri 27 – God handhaaf die erfreg van vroue en stel Josua as leier aan - August 31, 2017
- Numeri 28-29 – Die daaglikse, weeklikse, maandelikse en jaarlikse kalenders vir die vyf offers en vyf feeste - September 1, 2017
- Numeri 30 – Hou jou aan alles wat jy beloof - September 4, 2017
- Numeri 31 – Die Here straf die Midianiete met ‘n grootskaalse uitwissing - September 5, 2017
- Numeri 32 – Ruben, Gad en die helfte van Manasse kry grondgebied oos van die Jordaan - September 6, 2017
- Numeri 33 – God is getrou deur die volk se omswerwinge en wil hulle veilig in die land laat woon - September 7, 2017
- Numeri 34-35 – God beskerm die volk met grense en asielstede. Die Leviete kry ook stede en weiveld - September 8, 2017
- Numeri 36 – Elke Israeliet moes vashou aan sy deel van die stam se grond - September 9, 2017
Kelly Alexandeer
Hi Chris,
Ek hoop dit gaan goed met jou.
My vragie is nie te doen met Numeri nie. My vragie is iets wat ons in die huis bespreek het, maar ons familie kan nie op n antwoord afkom nie. Hoop jy kan n bietjie lig bring.
So ons vraag is: God het vir Adam gemaak, en daarna het hy vir Eva gemaak vir Adam, toe hulle gemeenskap het was dit n sonde en God het hulle gestraf. Hoekom was dit n sonde? Is Eva dan nie gebond aan Adam en was hulle dan nie sielsgenote nie? Was hulle ook dan nie getroud nie?
Baie dankie,
Ons sien uit na jou terugvoering.
Chris van Wyk
Hi Kelly. Ek is bly om te sien dat julle in die huis hieroor gesels!
God het aanvanklik vir Adam ‘n maat gemaak, Eva, wat vir hom ‘n “helper” moes wees. Daarmee word sy ‘n “indispensible companion” (NET Bible), iemand wat hulle eenheid meer maak as die somtotaal van hulle individualiteit. Eva komplementeer Adam, en hy natuurlik ook vir haar, waarsonder hulle nie vrugbaar kan wees en aan hulle doel kan beantwoord om die aarde te bewoon, bewerk en bewaar nie.
Eva is Adam se “gelyke”, maar nie as ‘n presiese replika nie, eerder as ‘n “counterpart” – in Afrikaans “eweknie” – sy komplementerende teenoorgestelde. Om dié gedagte te onderstreep, word Eva uit die “ribbebeen” van Adam gemaak is. Dit is die enigste plek in die Bybel waar dié woord gebruik word. In buite-Bybelse bronne word die woord bv. in argitektuur gebruik – “een kant” van ‘n paar (bv. suide-kant vs. noorde-kant, bo-kant vs. onder-kant). Hulle is daarom “helftes” van hulle eenheid met mekaar.
Hierdie idee lê waarskynlik agter die populêre siening waar van ‘n mens se man of vrou as ‘n “wederhelf” of in die geval van ‘n man se vrou as sy “beter helfte” gepraat word!
Hulle is deur God in ‘n argetipe huwelikseremonie verbind. God, die “pa” in die gebeure, gee die vrou aan die man – ek sien Hom eintlik in die paadjie afstap met die bruid aan sy arm om haar te oorhandig aan die bruidegom wat opgewonde staan en wag – en skep só die moontlikheid van vrugbaarheid sodat die tuin en aarde bewoon, bewerk en bewaar kan word.
Hulle was dus “getroud” in die sin dat God hulle vir mekaar as man en vrou gegee het, soos Jesus ook daaroor gesels in Matteus 19.
Hulle sonde het egter nie in gemeenskap gelê nie. Hulle was vry om mekaar te geniet. Hulle sonde lê in die eet van die vrug wat verbode was.
Die vrou val vir die versoeking en verlei haar man om saam met haar te sondig. Lees weer in Genesis 3 hoe die boom se vrugte op drie maniere aantreklik was vir haar. Dit was “goed om te eet” – d.w.s. dit was op fisiese vlak ‘n versoeking. Dit was “mooi om na te kyk” – d.w.s. dit het haar op estetiese vlak bevredig. Dit was ook “begeerlik omdat dit kennis kan gee” – d.w.s. dit was op intellektuele vlak uiters stimulerend. Selfs vandag nog die basiese bestanddeel van elke liewe versoeking.
Met haar optrede word sy die eerste rebel, die een wat in opstand kom teen God en sy goeie bedoelings met haar en sy skepping. Die man val ook vir die versoeking en eet saam met haar van die vrugte, maar begaan daarmee eintlik ‘n groter sonde – as ‘n mens só ‘n onderskeid sou kon tref – want hy het in die eerste plek die opdrag gekry om nie van die boom van alle kennis te eet nie, en het sy rol as beskermer en bewaarder nie net van die tuin van Eden, maar ook van sy vrou in hulle gelyke vennootskap gefaal.
Die sonde van die tuin word dus in die eerste en laaste instansie met Adam self geassossieer, soos Paulus later in Romeine sou argumenteer. In Adam het die hele menslike geslag gesondig. Die effek op Adam en Eva is onmiddellik sigbaar in hulle verhoudings. Hulle word skaam vir mekaar. Hulle word skaam vir God. Skuld verplaas die onskuld in hulle bewussyn van hulleself en hulle plek in hierdie wêreld. En hulle verbeur die voorreg van die Metgesel wat hulle in alle wysheid wou begelei … totdat Jesus as Begeleier na die lewe op die toneel verskyn.
Lees meer hieroor in my hantering van Genesis by http://www.bybelskool.com/genesis.
Kelly Alexander
Hi Chris,
Baie dankie vir jou verduideliking, ons waardeur dit.
Ek lees wat jy se, en wat ek kan aflei is dat “seks” dan nie die verbode vrug was nie. Wat was die verbode vrug dan?
As hulle getroud was, soos jy se, kan seks nie die verbode vrug wees nie. So watter sonde kon hulle pleeg om skaam te word vir mekaar en vir God?
Chris van Wyk
Hulle sonde was dat hulle geëet het van die boom van die kennis van goed en kwaad. Dit beteken dat hulle onafhanklik van God wou besluit wat goed is en wat sleg. Hulle sonde was dus opstand teen God se wil en ‘n keuse om hulle eie kop te volg. Ek baseer dit op die volgende:
1. Onthou dat die tuin van Eden in alle opsigte ‘n paradys was, nie net in terme van die oorvloed nie, maar ook in terme van die vryheid van geleenthede. Dit het gemeenskap ingesluit. Daar was net die een voorskrif: “Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy.” (Gen. 2:17). Dit is hierdie voorskrif wat hulle oortree. Die sonde lê dus nie in wat hulle presies gedoen het nie, maar in dat hulle dit gedoen het.
2. Die interpretasies wat aan hierdie boom van alle kennis – letterlik: “die boom van die kennis van goed en kwaad” – verbind word, is baie uiteenlopend. Die interpretasie wat vir my die meeste sin maak, is dat God hiermee vir Adam en Eva ‘n voorskrif gee om hulle onderskeidingsvermoë van wat goed en kwaad is aan God self oor te laat. Hulle moet nie selfstandig probeer om sonder God se direkte insette in hulle lewe, hulle morele en spirituele keuses te maak nie. Die onderskeiding van wat reg en verkeerd is – alle kennis – moes hulle aan God oorlaat. In hulle verhouding met Hom sou hulle geweet het hoe om te leef.
3. Die implikasie van hierdie enkele verbod is dat die mens van die boom van die lewe (2:9) mag geëet het, want dit word as een van die redes aangegee waarom die mens ná die sondeval uit die tuin geban word: “As hy nou maar net nie sy hand uitsteek en die vrug van die boom van die lewe vat en daarvan eet en altyd bly lewe nie!” (3:22). Hulle kies egter om eerder outonoom te wees en self te besluit wat reg en verkeerd is. Daarmee verbeur hulle ook die geleentheid om vir altyd te lewe, iets wat eers in Jesus Christus reggestel kon word.
4. Lees meer oor die ersonde by hierdie skakel: https://bybelskool.com/die-erfsonde/