Skip to main content

Numeri 10 – Die tyd vir die reis na Kanaän het aangebreek

Die tyd vir die reis na Kanaän het aangebreek.  Veertien maande ná die Uittog uit Egipte beveel die Here Moses om twee silwertrompette te maak om nie net met die volk te kommunikeer nie, maar ook die Here te herinner om op hulle ag te slaan – Numeri 10:1-10.  Op die twintigste van die tweede maand van die tweede jaar na die Uittog het die wolk opgetrek van die Tabernakel en het die volk in die voorgeskrewe volgorde begin trek op bevel van die Here, hoewel dit blyk dat Moses met sy uitnodiging aan Gobab nie sy volle vertroue op God stel nie, met destruktiewe gevolge waarop die volgende hoofstukke sal uitbrei – Numeri 10:11-34.  Telkens het Moses die “Lied van die Ark” aangehef as gebed van vertroue in reaksie op God se begeleiding in die “heilige oorlog” sowel as sy teenwoordigheid in “aanbidding”  – Numeri 10:35-36.

Die twee silwertrompette – Numeri 10:1-10

Die Here beveel Moses om twee silwertrompette te maak.  Volgens Josefus was dit ‘n dun buis net meer as dertig sentimeter lank met ‘n klokvormige punt.  Soos met die sjofar wat van ramshorings gemaak is, kon dit net deur priesters gebruik word. Deur een of albei –  harder of sagter, korter, langer of afwisselend – te blaas kon met die volk gekommunikeer word om bymekaar te kom by die Tabernakel of die kamp te versit.  Dit is ook in oorlog en die liturgie gebruik. Die trompette het ook die funksie gehad om die Here te herinner om op hulle ag te slaan: “Ek is die Here julle God”.

Die wolk trek op en die reis begin – Numeri 10:11-34

Hulle reis begin met die wolk wat optrek van die Tabernakel.  Dit is die teken, selfs voor die trompette blaas, dat die volk in die voorgeskrewe volgorde moet begin trek op bevel van die Here.  Die reis sou hulle van die Sinaiwoestyn in die suide van die hedendaagse Sinai-skiereiland neem na die Kades in die Paranwoestyn (Num. 13:26; Deut. 1:1-2) in die noord-oostelike gedeelte daarvan vanwaar hulle Kanaän sou kon inneem. Die Paranwoestyn is interessant genoeg ook die plek waar Ismael gewoon het (Gen. 21:21).

Dit was van die begin van die Uittog af duidelik dat die Here die Bevryder is en die volk se toekoms sou bepaal.  Hier is dit op die reis ook van meet af duidelik dat Hy die Begeleier is wat elke deel van die reis sou bepaal: “Die verbondsark van die Here het gedurende die drie dae voor hulle uit getrek om vir hulle ’n plek te vind waar hulle kon oorbly.

Moses vra egter met die aanvang van die reis vir sy swaer Gobab, die leier van die Keniete, afstammelinge van Abraham by sy vrou Ketura (Gen. 25:1-2), om saam met hulle te trek.  “Jy moet ons gids wees.” Dit blyk dus dat Moses met sy uitnodiging aan Gobab nie sy volle vertroue op God stel nie, met destruktiewe gevolge waarop die volgende hoofstukke sal uitbrei.

‘n Bietjie agtergrond uit Eksodus 2:16-22.  Moses het met sy vlug uit Egipte weens die moord op ‘n Egiptenaar in Midian by die Keniete gaan woon waar hy getrou het met Sippora.  Dié plek het hom nie net ‘n tuiste by die familie van die Keniete gegee nie, maar in kontak gebring met Jahwe, omdat hulle Hom aanbid het.  Jetro het Jahwe gedien as priester.

Dit is dan ook hier tydens sy verblyf by die Keniete waar Moses die epifanie met God beleef en geroep word om die volk uit Egipte te lei.  Die veertig jaar wat Moses by hulle sou deurbring, sou hom ook waardevolle ervaring van die woestyn en veral die belangrike oases in die woestyn gee.

Dit lyk asof Gobab aanvanklik teëstribbel, maar hy trek waarskynlik saam, want dit is duidelik dat ten minste ‘n deel van sy mense uiteindelik deel van Israel geword het.  Hulle het hulle saam met die stam van Juda in Kanaän gaan vestig (Rigt. 1:16).

Hierdie uitnodiging sou hier egter ‘n gemengde seën meebring vir die Israeliete, want die groter groep Midianiete sou later op hierdie reis op verskillende wyses ‘n uitdaging vir die Israeliete wees.  Die profeet Bileam is deur Midianitiese leiers gehuur om Israel te vervloek (Num. 22) en Midianitiese (en Moabitiese) vroue het die Israelitiese mans verlei tot afgodery en onsedelikheid by Baäl-Peor (Num. 25).  Dit is dus duidelik dat die Midianiete wel vir Jahwe gedien, maar sinkretisties saam met ander gode.

Moses sukkel dus self om die Here volledig te vertrou en laat mense saamtrek wat die Here nie met hulle hele hart dien nie.   Dit is dan ook waarskynlik van hierdie mense, saam met ander wat uit Egipte saamgekom het, wat in die volgende hoofstuk ‘n “onweerstaanbare lus vir vleis” gekry het, die “mense van ander afkoms”, wat die Israeliete verlei het om ook te begin kla oor God se voorsiening.

Die “Lied van die Ark” – Numeri 10:35-36

Telkens op hulle reis het Moses die “Lied van die Ark” aangehef as gebed van vertroue op God se toetrede tot die “heilige oorlog” teen sy vyande, sowel as op God se teenwoordigheid by die geloofsgemeenskap in “aanbidding” by die Tabernakel.  “War and worship”!

Interessant genoeg word hierdie lied met die omgekeerde Hebreeuse letter “nun” (in Afrikaans “n”) afgebaken, een aan die begin en een aan die einde van hierdie twee verse.  Dit is die sogenaamde “inverted nun” (“׆” in plaas van ”נ”), soos dit op nege plekke in die Hebreeuse Masoretiese teks van die OT voorkom.  Dit dien die funksie van die hakies () om ‘n gedeelte van die omliggende teks te onderskei.

Vers 35 is identies aan Psalm 68:1 en vers 36 kom ooreen aan Psalm 132:8.  Dit verheerlik God se ingrype in die geskiedenis van hierdie wêreld om sy vyande te verstrooi.  Dit verheerlik ook God se teenwoordigheid by sy mense, die “ontelbare menigtes van Israel”.  Hierdie lied is in hierdie vorm ook gebruik as liturgiese gebed in die latere sinagoges, iets wat ons gerus ook soms kan gebruik in ons eie liturgie.

Hieruit is dit duidelik dat die ark uiteraard ‘n belangrike rol gespeek in die aanbidding by die Tabernakel.  Maar, dit was nie al nie.  Die ark is ook in oorlog gebruik, soos hierdie lied dit uitspel, en ons bv. lees met die Intog in Kanaän (Jos. 6:6-7), in die tyd van die hoëpriester Eli (1 Sam. 4:1-10) asook in die tyd van Dawid (2 Sam. 11:11).

Boodskap

Die Here het die volk regtig goed voorberei vir hierdie reis na die beloofde land.  Hy het hulle uit Egipte bevry met die plae en genoeg ekonomiese voorsiening gegee in terme van silwer, goud, grootvee ensomeer.  Hy het hulle deur die Rietsee begelei en finaal van Egipte se mag verlos.  Hy het hulle versorg met kos en water deur die woestyn.  Hy het hulle in die oorlog teen die Amalekiete na oorwinning gelei.  Hy het sy wet vir hulle by Sinai gegee en sigbare teenwoordig geword in die Tabernakel met die wolk- en vuurkolom.  Hulle kon in vertroue die trek aandurf die woestyn in al sou dit uiteraard uitdagings en versoekings vir hulle inhou.

Op soortgelyke wyse het God sy Seun voorberei vir die begin van sy bediening.  Hy was dertig toe Hy in die Jordaan gedoop is en die Heilige Gees op Hom neergedaal het.  Direk daarna lees ons dat Jesus deur die Gees ingelei word in die woestyn om versoek te word en waar dit ook juis sy fisiese behoeftes is wat as aanleiding tot die versoekings deur die duiwel gebruik word (Matteus 4:1-11) soos dit ook die geval was met die volk in Numeri 10 en verder.

Anders as die eerste generasie van die volk Israel in die woestyn slaag Jesus egter dié toets deur vas te hou aan die Woord van God as die “brood” wat Hom voed in sy versoekings.  Sy volharding bevestig nie net sy geskiktheid as die een wat gelowiges na die eindbestemming kan begelei nie, maar dien as motivering tot standvastige volharding vir almal wat aan versoekings blootgestel word, soos verskeie NT skrywers aantoon (1 Kor. 10:13; Hebr. 2:18; 4:15; 12:1-4; Jak. 1:12; vgl. ook Gal. 6:1 en 2 Petrus 2:9).

Daarom is die verhaal van Numeri vir ons ook steeds ‘n voorbeeld van ons eie geestelike reis – gewikkel in geestelike oorlogvoering sowel as aanbidding – maar met die voordeel dat ons ook die voorbeeld van die Here Jesus het om ons aan te moedig om die uitdagings die hoof te bied deur die gawes wat God vir ons gee vir ons reis, sy Woord en sy Gees.  Skep moed uit Jesus se volharding en stry die stryd van geloof met oorgawe.  Hy sal jou meer as ‘n oorwinnaar maak deur die krag wat Hy deur sy Gees in jou aan die werk sit.

View all posts in this series

Numeri


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar