Skip to main content

Numeri 23:1-26 – Niemand kan God se seën tot niet maak nie

Bileam tree as woordvoerder van die Here op in vyf verskillende uitsprake.  Die eerste vier het met Israel te make en die laaste een met die Amalekiete, Keniete en Kittiërs:

  1. Eerste uitspraak: God se seën troef vervloeking – Num. 23:1-12
  2. Tweede uitspraak: Niemand kan God se seën tot niet maak nie – Num. 23:13-26
  3. Derde uitspraak: Geseën is hulle wat jou seën, vervloek is hulle wat jou vervloek – Num. 23:27-24:14
  4. Vierde uitspraak: ‘n Ster uit Jakob sal God se wil vir sy volk volledig verwesenlik – Num. 24:15-19
  5. Bileam se ander uitsprake: God sal alle vyande uitwis – Num. 24:20-25

Dat Bileam sewe altare bou, kan beteken dat hy ook ander gode aangeroep het as Jahwe, omdat dit heeltemal uniek is in die Bybel dat op meer as een altaar geoffer is.  Dit is egter net Jahwe, die God van Israel, wat Homself aan Bileam openbaar.  Dit dra dus ook die boodskap dat Hy die enigste lewende God is.

Let ook op dat Balak by “sy brandoffer” moet bly staan, ‘n aanduiding dat ‘n deel van die offers ‘n poging was om Balak se sonde met God te probeer versoen.  Die uitsprake wat die Here vir Bileam gee, is daarom ook bedoel vir Balak, want Bileam word opdrag gegee om dit vir Balak te gaan sê.

Maar die toepassing van die inhoud daarvan het ‘n baie wyer reikwydte in die implikasies wat dit vir Israel en die nasies sou hê.  Met die laaste drie is Balak eintlik net ‘n bystander en is Bileam heeltemal in beslag geneem deur die Gees van God.

Dit is duidelik dat die Here Homself aan Bileam openbaar het in woorde wat vir hom voorgesê is (Num. 23:5, 12).  Dit het ingesluit dat hy aanvanklik ‘n “voorteken” van die Here gesoek het vóórdat hy dit vir Balak gaan gee het (Num. 24:1), hoewel dit later nie meer nodig was toe die Gees van God oor hom gekom het (Num. 24:2).  Toe het hy direk gepraat soos die Here dit aan hom openbara het.

Die openbaring het ook “sien” ingesluit in terme van die hede (Num. 23:9; 24:2) sowel as visioene van die toekoms (Num. 24:17, 20, 21)/  Gebed het ook ‘n rol gespeel.

Bileam beskryf sy eie ervaring as volg: “Die openbaring aan ‘n man wie se oë geopen is, die openbaring aan een wat die woorde van God hoor, wat sien wat die Almagtige hom laat sien, wat in gebed neerval en sy oë word geopen.” (Num. 24:3b-4).

Bileam se eerste uitspraak: God se seën troef vervloeking – Num. 23:1-12

Bileam begin deur aan te sluit by die opdrag tot vervloeking wat Balak van die Moabiete hom gegee het.  Aram dui op die gebied van die Arameërs wat onder andere Damaskus ingesluit het, min of meer waar Sirië vandag is.

Balak se opdrag aan Bileam kan hy egter nie uitvoer nie, omdat God se bedoeling en roeping sterker is.  Bileam kan nie hóm vervloek wat God nie vervloek nie. ‘n Belangrike boodskap ook vandag aan ons.  God se seën troef vervloeking.

Daarom seën Bileam Israel in lyn met die opdrag wat die Here reeds met die aanvang van sy reis vir hom gegee het.  Let op vir die beloftes aan die aartsvaders wat weerklink in ‘n frase soos: “Wie kan die stof tel” (vgl. die belofte aan Abraham in Gen. 13:16 en aan Jakob in Gen. 28:14).  Hierdie volk sal ‘n eie plek hê en aan die Here geheilig lewe.

Hoe tragies is dit dat Bileam se wens om ook eendag “as opregte” te sterwe sodat sy einde soos hierdie volk kan wees, nooit vervul is nie, weens Bileam se onvermoë om sy gierigheid en gekonkel te laat staan.  Dit sien ons die feit dat dit waarskynlik Balak se weiering om Bileam te betaal (Num. 24:11), is wat gelei het tot die raad van Bileam om Israel deur afgodery en onsedelikheid te verlei om hulle verhouding met God in gevaar te stel.

Bileam se gierigheid laat hom dus struikel in sy geloofsvolharding.  Die beloning van die lewe hier en nou het te veel van ‘n suigkrag gehad dat hy tevrede kon wees net met die beloning van die dood as ‘n opregte.

Bileam se tweede uitspraak: Niemand kan God se seën tot niet maak nie – Num. 23:13-26

Die proses herhaal op ‘n ander plek waar weer sewe altare gebou en daarop geoffer word.  Weereens sonder Bileam hom af om God se openbaring te ontvang.  Weereens kom die opdrag om Israel te seën en nie te vervloek nie.

Hierdie keer word God se seën in sy lojaliteit en betroubaarheid beskryf: “God is nie ’n mens dat Hy sou lieg nie, ’n mens dat Hy van gedagte sou verander nie.  Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, iets belowe en dit nie uitvoer nie?” Een van die mooiste beskrywings van God in die Bybel!

Dié God is by Israel. Sy krag is vir hulle soos die horings van ‘n buffel.  Met Hom is hulle so onaantasbaar soos ‘n leeumannetjie.  Maar let op.  Dit het alles met God te make.  Die wonderlike gebeurtenisse met die Uittog, die feit dat Israel beskerm is teen toordery en waarsêery, wys onomwonde na net een ding: “Wat het God nie alles gedoen nie!”  Soli Deo Gloria!

Boodskap

Die inhoud van hierdie eerste twee uitsprake van Bileam leer ons twee goed.

  1. God se seën beskerm sy volk.
  2. Die eer vir die seën en beskerming is God s’n.

As ons dus vir onsself die wonderlike seën van God toeëien, beteken dit terselfdertyd dat die eer daarvoor aan God self toekom. Dit leer ons dat ons soos Israel met ‘n verwagting van God se betroubaarheid kan leef.  Dat ons daarop kan staatmaak.  Maar, terselfdertyd, dat ons in dankbaarheid daarvoor God moet verheerlik. Só kan ons die dood van die “opregte” sterwe, iets wat Bileam vertroetel het, maar uiteindelik verkwansel het in sy gierigheid.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Numeri


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…