Skip to main content

Numeri 26 – Elkeen kry sy plek in die land

Dit is insiggewend dat die sensus van die tweede generasie eers ná die ramp van die afgodery en onsedelikheid gebeur.  Die laaste oorlewendes van die eerste generasie het waarskynlik met die laaste plaag omgekom, want hierna was daar nie weer verset tot hulle reeds die land begin inneem het nie.  Die tyd het gekom om die volk gereed te maak om die land in te val en vooruit reeds vir elkeen ‘n plek te gee in die land, soos dit vir hulle ouers in die kamp gegeld het.

Weereens word die sensus volgens die militêr weerbare manne in die families en stamme gedoen.  Eleasar neem saam met Moses verantwoordelikheid daarvoor.  Tussendeur word ‘n paar skraapsels historiese detail van die afgelope reis deur die woestyn ingevleg met die sensusdata.

Een van die verwysings is tegelyk tragies en hoopvol, dié na die Koragiete.  Met die sensus van Ruben, die eersgebore stam van Jakob, word die opstand van Datan en Abiram genoem, sowel as dié van die “bende” van Korag, as ‘n waarskuwing aan Israel om nie soos hulle in opstand te kom nie.

Daar is egter ook die mededeling dat Korag se seuns nie gesterf het nie, omdat hulle nie saam met hulle pa gerebelleer het nie.  Ons weet dat die Koragiete toenemend ‘n belangrike rol in Israel gespeel het, soos vroeër al by Numeri 16 bespreek.  Die uitstaande rigter-profeet-priester Samuel was ‘n Koragiet, sowel as die digter-liturg Heman wat sy dogters tot die tempeldiens toegelaat het, en ons het uiteindelik die nalatenskap van 11 Psalms van die Koragiete.

Hierdie verhale sou aan die een kant as waarskuwing gedien het vir die volk, om nie soos Korag, Datan en Abiram hulle teen die Here en sy leiers te verset nie.  Dit sou aan die ander kant ook as hoopvolle bemoediging vir alle Israeliete gedien het, om eerder die voorbeeld van die seuns van Korag te volg.

Die verwysing na die vyf dogters van Selofgad uit die stam van Manasse is ook belangrik, omdat dié vyf ‘n aanpassing van die erfreg tot gevolg gehad het.  Dit word in hoofstuk 27 en 36 vertel.

Dit is ook duidelik dat ‘n meerderheid van die stamme matig gegroei het (Juda, Sebulon, Dan), sommige baie sterk (Issaskar, Manasse, Benjamin, Aser). Die Leviete het ook matig toegeneem.  ‘n Minderheid het matig afgeneem in getalle (Ruben, Gad), en ander redelik drasties (Efraim, Naftali).

Simeon het egter die meeste afgeneem, met amper tweederdes van 59 300 na 22 200.  Hulle sou dan ook mettertyd deur Juda geassimileer word, aangesien hulle nie net saam geveg het met die Intog nie (Rigt. 1:3), maar grondgebied binne Juda s’n gekry het (Jos. 19:1).

Hier is ‘n lys wat die eerste sensus met die tweede vergelyk. Onthou die getalle kan na eenhede ook verwys, soos vroeër geargumenteer.  Dit is net die orde grootte van die stamme wat met mekaar vergelyk moet word.

Eerste generasie Tweede generasie
Ruben 46 500 43 730
Simeon 59 300 22 200
Gad 45 650 40 500
Juda 74 600 76 500
Issaskar 54 400 64 300
Sebulon 57 400 60 500
Manasse 32 200 52 700
Efraim 40 500 32 500
Benjamin 35 400 45 600
Dan 62 700 64 400
Aser 41 500 53 400
Naftali 53 400 45 400
12 stamme 603 550 601 730
Leviete (van ‘n maand en ouer) 22 273 23 000

Dit sou ‘n groot invloed hê op die verdeling van die land, want dit is waarop die sensus gemik was.  Die beginsel was om aan elke familie binne stamverband ’n eiendom te gee volgens sy grootte.  Die areas vir die stamme is bepaal deur loting.

Die skrywer herinner ons dat: “Onder hulle was daar egter niemand van die Israeliete wat deur Moses en die priester Aäron in die Sinaiwoestyn getel is nie.  Die Here het destyds vir daardie Israeliete gesê dat hulle beslis in die woestyn sou sterf. Nie een van húlle het toe oorgebly nie, behalwe Kaleb seun van Jefunne, en Josua seun van Nun.”

Boodskap

Soos die Israeliete van die eerste generasie ‘n plek gekry het in die kamp, só kry die Israeliete van die tweede generasie ‘n plek in die land.  Die verdeling word vooraf gedoen op grond van onderskeidelik die grootte van hulle familie en ‘n loting vir die stamme.

God se regverdigheid staan dus voorop, soos dit ook in sy hantering van die seuns van Korag sowel as die dogters van Selofgad blyk.  Vir die Koragiete seën Hy oorvloedig in terme van hulle bediening in die Tabernakel en latere tempel.  Deur die dogters van Selofgad word God se seën vir vroue in terme van grondgebied nie net in hulle eie stam gewaarborg nie, maar regdeur die hele Israel.

View all posts in this series

Numeri


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar