Numeri 23:27-24:25 – Geseën is dié wat jou seën; Vervloek dié wat jou vervloek

Die atmosfeer vir die verdere uitsprake van Bileam verander, want Balak besef toenemend dat hierdie poging van hom om Israel te vervloek, besig is om in sy gesig te ontplof. In desperaatheid neem hy Bileam na nog ‘n ander plek, offer weer op sewe altare, in die hoop dat sy geluk sal draai.

Maar helaas, selfs die feit dat Bileam nou na ‘n droër wêreld afkyk, beïnvloed nie die boodskap van die Here nie.  Trouens sy derde uitspraak raak liries juis oor die samehorigheid en oorvloed wat Israel beleef: “Hulle lyk soos uitgestrekte valleie, soos tuine aan ‘n rivier, soos aalwyne wat deur die Here geplant is, soos sederbome by die water.”  Psalm 1 in oortreffende trap!

Bileam se derde uitspraak: Geseën is hulle wat jou seën, vervloek is hulle wat jou vervloek – Num. 23:27-24:14

‘n Mens kom in hierdie derde uitspraak van Bileam nog ‘n bietjie meer agter van wat in sy kommunikasie van die Here gebeur.  Die Gees van God kom oor hom en hy ontvang sy boodskap in gebed voor die Here, woorde sowel as visioene.

Die prentjie wat hy kry van Israel oorspoel egter die hede, want hy sien ‘n toekoms van oorvloed wat hulle nie net in hulle onderlinge verhoudinge laat floreer nie, maar ook eksponensieel in invloed onder die nasies sal laat groei.

Alles omdat die Here se krag vir hulle soos die horings van ‘n buffel is wat pandemonium veroorsaak by dié wat hulle uitdaag.  Selfs wanneer hulle gaan rus, is hulle soos ‘n leeumannetjie wat vrees inboesem by alle diere van die veld.

Weereens hoor ‘n mens die belofte aan Abraham: “Geseënd is hulle wat jou seën, vervloek is hulle wat jou vervloek.” (Gen. 12:3).

Bileam se vierde uitspraak: ‘n Ster uit Jakob sal God se wil vir sy volk volledig verwesenlik – Num. 24:15-19

Let op hoe bang die bang Balak nou is!  Hy hou sy hande afwerend voor hom, alles omdat hy uit vrees vir Israel gereageer het soos ‘n vreesagtige hond wat blaf, terwyl die bevel van die Here was dat Israel Moab in vrede moes laat.  As Balak die Here vertrou het, was dié petalje heeltemal onnodig.

Hy dreig Bileam dat hy nie betaal sal word nie.  Bileam word egter nie daardeur afgeskrik nie.  Ai, as Bileam maar net gehou het by sy vroom antwoord dat hy nie niks mag doen, goed of kwaad, teen die opdrag van die Here in nie!  Hy gee dan wel onbetaald die laaste twee uitsprake, ook sonder offers dié keer, maar val uiteindelik vir die versoeking om wel vir Balak raad te gee hoe om Israel se verhouding met God skade aan te doen, waarskynlik vir geld.

Sy vierde uitspraak is ‘n juweel.  Hy kyk ver die toekoms in en sien Een wat nog nie naby is nie, maar verseker in die toekoms sal kom, “’n ster uit Jakob”, “’n heerser in Israel”, wat oor Moab en Edom sal regeer, en al die opstandiges en vyande sal vernietig.

Uiteraard sou konings soos Dawid – veral in sy optredes teen Moab en Edom – hieraan beantwoord, maar die volle vervulling sou eers kom met die geboorte van Jesus in die stad Bethlehem.

Matteus verbind moontlik die “ster” van die sterrekykers in die geboorteverhaal van Jesus in Matteus 2:1-12 aan die “ster uit Jakob” van Numeri 24:17 waarop Israel se Messiaanse verwagting onder andere begrond was.  Die sterrekykers raak dus die NT heidense getuies van die geboorte van die Messias, soos Bileam ‘n OT – weliswaar heidense – profeet daarvan was.

Ook Johannes gebruik moontlik in Openbaring 2:28 in sy brief aan Tiatira (vgl. ook Ps. 2:9) op soortgelyke wyse die beskrywing van die “môrester” wat ‘n oorwinningskroon sal wees in die stryd teen die nasies en begrond dit moontlik op die agtergrond wat Bileam se uitsprake in Numeri 24:14-20 verskaf.

Jesus word daarom ook nie verniet die môrester genoem nie, die Een wat God se wil vir sy volk volledig verwesenlik het (Openb. 22:16).

Bileam se ander uitsprake: God sal alle vyande van Israel uitwis – Num. 24:20-25

Bileam gee ook ‘n toegif:

  1. Die eerste is ‘n uitspraak oor Amalek wat deur Saul uitgevoer is waarin hy spesifiek die Keniete gespaar het weens hulle goeie verhouding met Israel (1 Sam. 15).
  2. Die tweede is ‘n uitspraak einste oor die Keniete wat moontlik vervul is met die eerste ballingskap in 721 v.C. toe die noordryk weggevoer is en talle ander nasies saam weggevoer is. Die verwysing na Kain is waarskynlik ‘n metafoor wat na hulle verwoesting verwys, want die Keniete het van Abraham, ‘n nageslag van Set, afgestam.
  3. Die derde is die uitspraak oor en teen die Kittiërs (die woord word spesifiek vir Cipriote gebruik, en in die algemeen vir Grieke). Ons weet nie histories van enige veldslag van die Grieke (of Cipriote) teen die Assiriërs nie, hoewel in die tyd van Alexander die Grote in die 3de eeu v.C. daar wel oorloë teen daardie gebied was, wat toe deur die Mediërs en Perse geregeer is.  Die verwysing is egter problematies.

Boodskap

Die bedoeling van God word nooit gedwarsboom nie.  Sy doel was dat Abraham se nageslag sy seën sal ervaar en dat almal deur hulle geseën sou word.  Alle nasies wat met Israel in ‘n goeie verhouding gelewe het, is daarom ook deur God geseën.  Die teendeel was ook waar.  Dié wat Israel teengestaan en vervloek het, is ook deur God teengestaan en vervloek.

Dié demografiese werklikheid was egter net ‘n skadubeeld van die geestelike werklikheid wat met Jesus Christus gekom het.   Paulus skryf helder daaroor in Galasiërs 3 dat die seën waarvan die OT praat vir gelowiges uit alle nasies bedoel is, omdat dit in Christus Jesus uitgebrei is na alle mense:

Julle sien dus dat dié wat glo, kinders van Abraham is. Die Skrif het vooruit geweet dat God ook mense wat nie Jode is nie, sou vryspreek as hulle glo. Daarom het die Skrif al voorheen die goeie nuus vir Abraham gebring: “In jou sal al die nasies geseën word.” Dit is dus dié wat glo, wat saam met die gelowige Abraham geseën word.” (Gal. 3:7-9).

Hy interpreteer die beloftes aan Abraham as iets wat volledig in Christus vervul is:

Broers, ek gaan nou ’n voorbeeld uit die gewone lewe neem. As ’n testament, wat maar net mensewerk is, eers geldig is, kan niemand dit ongeldig maak of iets daaraan toevoeg nie. God het sy beloftes aan Abraham en aan sy nakomeling gegee. Daar staan nie ‘aan nakomelinge’, meer as een nie, maar: ‘en aan jou nakomeling’ net een, en hierdie nakomeling is Christus.” (Gal. 3:15-16).

Daarom kan elkeen wat in Christus Jesus glo deel in die beloftes aan en seën van Abraham.  Hulle is kinders van God:

Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God, want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword. Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één. En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God.” (Gal. 3:26-29).

Loof die Here vandag vir hierdie waarheid wat alreeds deur die enigmatiese profeet-waarsêer, Bileam, 14 eeue v.C. gebring is.  En hoewel dit hom nie gebaat het nie weens sy gierigheid en gekonkel, is dit vir ons die evangelie, die goeie nuus wat ons die dood van die “opregtes” kan laat sterwe.

Vir die dieperdelwers:  getuienis uit die OT dat Jesus ‘n mens sowel as God sou wees

Paulus gebruik in 1 Timoteus 2:5 die ongewone frase “die mens Jesus Christus” om die Middelaarskap van Jesus te beskryf: “Daar is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus.”  Dit begrond Jesus se Middelaarskap in sy mensheid, soos die eerste deel van die vers dit ook in sy Goddelikheid begrond.

Geleerdes verbind hierdie beskrywing van die Messias as mens aan die derde en vierde uitspraak van Bileam in Numeri 24:7 en 17 (vgl. ook Jes. 19:20 se “redder” wat getuig van die “Almagtige” se teenwoordigheid, ook ‘n mens-God verwysing).

In die Griekse vertaling (LXX) van vers 7, wat Paulus waarskynlik gebruik het, staan daar “’n man sal uit sy saad kom” in plaas van die Hebreeuse grondteks se: “en sy saad is by baie waters” (OAV – vgl. ook Hos. 11:1 se ooreenstemmende “seun”).  Hierdie man word beskryf as ‘n heerser oor die nasies, soos dit ook die geval is in vers 17 waar van hierdie heerser gepraat word as die “ster uit Jakob” wat as mens uit die nageslag van Israel sal heers.

View all posts in this series

Numeri


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: