Numeri 3-4 – Elke Leviet kry ‘n taak en verantwoordelikheid

Hierdie twee hoofstukke beskryf die roeping van Aäron as ‘n priesterlike teokrasie wat oorerflik is en hier deur sy oorblywende twee seuns Eleasar en Itamar saam met hom uitgevoer word en ná hulle dood deur hulle nageslagte.  Die Leviete word ook ingespan om na die infrastruktuur van die Tabernakel om te sien om die priesters vry te stel om hulle allerbelangrike tussenganger funksie te kan verrig.  Elke Leviet kry ‘n taak en verantwoordelikheid as ‘n voorafskaduwing van hoe die elke lid van die liggaam van Christus in die NT onder beheer van die Gees en sy gawes sou funksioneer.

God se roeping werk volgens die geslagte

Die hoofstuk begin met ‘n verwysing na die vorige keer toe die Here met Moses op Sinaiberg gepraat het. Dit verwys waarskynlik na die eerste keer wat die Here aan hom verskyn het in die brandende doringbos met sy roeping toe hy nog skape opgepas het in die woestyn (Eks. 3).  Moses en Aäron het reeds kinders gehad toe hulle die roeping ontvang het.

Hulle kinders was dus van die begin af ingesluit in die roeping wat die Here vir Moses en Aäron gegee het.  Hierdie roeping sou binne die biologiese afstamming oorgedra word van geslag tot geslag.  Hulle sou ook alleen die priesterlike werk kon doen (vgl. Num. 18:5), in onderskeid van die res van die stam van Levi wat die res van die werk rondom die Tabernakel moes verrig (vgl. Num. 18:3).

Moses se geslagsregister word nie hier herhaal nie.  Dit is alreeds in Eksodus 6:14-27 gegee saam met dié van Aäron. Hier word net op Aäron se geslagsregister gefokus om die rol wat die priesters en die Leviete in die ontplooiende geskiedenis van Israel sal inneem, te bevestig.

Aäron en sy twee seuns, Eleasar en Itamar, lei die priesterlike teokrasie

Die geslagsregister onderstreep Aäron en sy nageslag se gesag in terme van die priesterlike teokrasie wat oorerflik was.  Dit bind ook die verhale van Genesis en Eksodus aan dié van Numeri waarmee die aanspraak bevestig word wat die terugkerende bevryde slawe op die land van die belofte het.

Onthou ook dat Aäron met Eliseba ‘n dogter van Amminadab, ‘n suster van Nagson, getrou het.  Sy was uit die stam van Juda (Num. 1:7).  Aäron se seuns het daarom priesterlike en koninklike bloed in hulle are.  Dawid, die latere koning, was uit die stam van Juda, dié geslagslyn waaruit die Here Jesus Christus uiteindelik gebore sou word.

Net Eleasar en Itamar kon egter op dié stadium die diens voortsit weens die tragiese verhaal waarin die Here Nadab en Abihu weens ongeoorloofde vuur (kole) laat sterwe het.  Nadab en Abihu was ook moontlik onder die invloed van drank (Lev. 10).  Eleasar sou as die oorlewende oudste seun die hoëpriesterskap by sy pa se sterwe oorneem (Num. 20).

Die Leviete neem die plek van die eersgeborenes van Israel in

Om genoeg mense te hê vir die diens van die Tabernakel word die hele stam Levi egter hier tot Aäron se beskikking gestel.  Hulle word aan die Here gewy in die plek van al die eersgeborenes van Israel wat sedert die tiende plaag aan die Here behoort het (Eks. 13), soos ook die eerstelinge van die oes (Eks. 23).

Hulle sou nie die priesterlike werk doen nie, maar alles rondom die versorging en vervoer van die Tabernakel hanteer.  Hulle sou die priesters in staat stel om hulle roeping na te kom, iets soos wat ook in die NT gebeur met die verkiesing van die “diakens” in Handelinge 6, sodat die apostels kon fokus op die gebed en die Woordbediening.

Interessant genoeg moes daar inbetaal word deur “loskoopgeld” wat uit Israel ingevorder is vir die 273 eersgeborenes van Israel wat meer was as die totale aantal Leviete.  Dié geld het deel van die voorsiening vir die Tabernakel en sy bedienaars geword.

Dit alles was natuurlik ook ‘n voorafskaduwing van die eintlike Eersgeborene van God, die Here Jesus Christus, wat in ons plek versoening gedoen het vir ons sondes en deur God as koning vir altyd aangestel is (Hebr. 1:5-14).

Drie groepe neem verantwoordelikheid, Gersoniete, Kehatiete, en Merariërs

Die stam van Levi is in drie groepe opgedeel met die oog op die diens by die Tabernakel: Gerson, Kehat, en Merari.

  • Die Gersoniete het vir die bedekking van tente en seile van die tabernakel gesorg, die besondere gewyde voorwerpe. Eljasaf was hulle leier.  Itamar was oorhoofs vir hulle verantwoordelik (Num. 4:28).  Numeri 4:21-28 spel presies uit hoe hulle daarvoor moes sorg.  Let op dat hulle nie ‘n ouderdomsbeperking gehad het vir dienslewering nie, hoewel dieselfde ouderdomsperk waarskynlik mettertyd vir hulle gegeld het.
  • Die Kehatiete het vir die heiligdom en sy “meubels” gesorg. Elisafan was hulle leier, maar Eleasar, Aäron se seun het oorhoofs verantwoordelikheid geneem vir hulle werk. Numeri 4:1-20 spel presies uit hoe hulle dit op die woestynreis moes hanteer.  Let op die sorgvuldige wyse waarop alles hanteer moes word, die blou, rooi, pers en gebreide velle waarmee alles toegemaak moes word (vgl. Eks. 26 vir ‘n bespreking van die kleure), sowel as die opdrag om nie na die heiligdom te kyk nie.  Die ouderdomsbeperking was tussen 30-50 jaar oud.
  • Die Merariërs het vir die struktuur van die Tabernakel, die raamwerk en gereedskap, gesorg. Suriël was hulle leier.  Itamar was ook oorhoofs vir hulle verantwoordelik (Num. 4:33).  Numeri 4:29-33 spel hulle verantwoordelikheid presies uit.  Die ouderdomsbeperking was ook tussen 30-50 jaar oud.

Dit wil voorkom asof Leviete op 25 onder toesig toegelaat is om diens te begin doen (Num. 8:24), maar eers op 30 jaar oud volle verantwoordelikheid kon neem.  Ons lei dit af uit die feit dat die diensdoende Leviete altyd net tussen 30-50 jaar oud getel is.  Op 50 jaar oud moes hulle ook aftree (Num. 8:25).

Let ook op hoe sorgvuldig almal getel is en elkeen ‘n funksie gekry het in die diens by die Tabernakel: “Op die bevel wat die Here deur Moses gegee het, is hulle getel en is aan elkeen sy besondere taak en verantwoordelikheid toegewys. Hulle is getel soos die Here vir Moses beveel het”.  Terloops, die Sadokiete in Dawid se tyd was afstammelinge van Itamar en die Agimelek-groep afstammelinge van Eleasar (1 Kron. 24).

Boodskap

Die priesters het ‘n allerbelangrike funksie gehad.  Hulle was bemiddelaars van die teenwoordigheid van die Here deur die offerkultus wat Israel gereinig en met God versoen het.  Hulle het dus aan die een kant die Israeliete beskerm teen die direkte kontak met God waar sy heiligheid hulle soos ‘n verterende vuur kon uitwis as hulle oortree het, soos almal kon sien met die tragiese verhaal van Nadab en Abihu.

Aan die ander kant moes hulle ook juis vrede bring tussen God en die volk juis deur die vryspraak wat die offers gebring het.  Hulle het dus as tussengangers diens gedoen waarin hulle die volk by God verteenwoordig het, en terselfdertyd God by die volk verteenwoordig het.  Presies wat ons in die bediening van die Here Jesus Christus in die NT raaksien, soos Hebreërs dit so helder uitspel.

Om dié taak na behore te verrig, was daar ‘n groot groep nodig om die infrastruktuur van die Tabernakel in stand te hou, sodat die priesters hulle werk kon doen.  Elkeen het sy spesifieke taak en verantwoordelikheid gehad om die effektiwiteit van die priesterlike teokrasie te waarborg.  Die sensus wat telkens vermeld word, was dus nie net om agter te kom hoeveel mense daar was vir die diens nie, maar om te sorg dat elkeen sy plek kon vind en volstaan.

Dit is nie anders in die kerk vandag nie, hoewel dit nou nie meer met biologiese afstamming werk nie, maar met die geestelike roeping van die Here.  Die Here roep elkeen in sy liggaam om ‘n spesifieke rol te vervul soos die Gees dit bewerk, soos Romeine 12 en 1 Korintiërs 12 verduidelik.  Elkeen van ons moet dus steeds onder leiding van die Gees ons plek vind en volstaan volgens die gawe wat Hy uitdeel.

Numeri 3-4 is dus ‘n voorafskaduwing van hoe die kerk in die NT en daarna sou funksioneer.  En soos dit hier die geval was, is die instandhouding van die infrastruktuur van die bediening steeds van groot belang om die dienswerk van gelowiges te ondersteun, soos ons in Efesiërs 4 lees.

View all posts in this series

Numeri


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
  • Elsa Steyn on 1 Samuel 28Hi Chris 1 Sam 28 vers 19 Saul en Samuel is saam in dieselfde plek, die doderyk. Saul het volhard in die afskakeling van sy verhouding met God, en het nie tot inkeer en berou gekom nie. Hoekom is hulle twee na dieselfde plek? Samuel is dan in die hemel?
  • Chris van Wyk on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysEk het al heelwat hieroor geskrywe op bybelskool.com. Jy kan in die soekenjin verder kyk. Hier is die skakel na wat die belydenisskrifte daaroor sê wat 'n goeie vertrekpunt is: https://bybelskool.com/wat-is-die-drie-eenheid-die-getuienis-van-die-belydenisskrifte/?highlight=drie-eenheid
  • Petrus on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysBeste Chris "Ons" Gen 1: 26 -"Toe het God gese: Kom Ons maak...." Gen 11: 7 - "Kom laat Ons afgaan..." Ons praat v/d die Drie-eenhied en Jesus as God. Verstaanbaar. Wanner God na "Ons" verwys, is dit nie dat Jesus Sy Seun Die Woord is soos Johannes dit ook noem en Jesus fisies die Seun van God is so…
  • Chris van Wyk on AmosDankie Katrien, dit is my voorreg. Chris.
  • Katrien on AmosSo maklik verval ons ook in dieselfde gemaksone van ouds! Ons moet waak teen selfgenoegsaamheid in ons verhouding met God. Met die Heilige Gees binne my is daar nie wegkom kans vir God se kinders wat lou en koud word, in hul verhouding nie. Ek wil bid Heer bewaar my van gemaksugtigheid in my verhoud…
  • Chris van Wyk on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofHi Petrus, 'n mens kan die 666 simbolies verbind aan enige godsdiens wat Christene vervolg, ook dié tye en plekke deur die eeue waar Christene vervolg is in die naam van Islam. My gedagtes oor die 666 is soos volg: Die dier uit die aarde – die vals profeet (Openb 16:13 word die dier só genoem) – opp…
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 17Dankie Sarie, dit is 'n tikfout. Dit is vers 9 van 1 Samuel 21.
  • Sarie Cronje on 1 Samuel 171 Sam 21 het net 15 verse - Filistyn se wapens het hy in sy eie tent neergesit wat later in sy verhaal weer ‘n rol sou speel (1 Sam 21:19).
%d bloggers like this: