Skip to main content

Numeri 3-4 – Elke Leviet kry ‘n taak en verantwoordelikheid

Hierdie twee hoofstukke beskryf die roeping van Aäron as ‘n priesterlike teokrasie wat oorerflik is en hier deur sy oorblywende twee seuns Eleasar en Itamar saam met hom uitgevoer word en ná hulle dood deur hulle nageslagte.  Die Leviete word ook ingespan om na die infrastruktuur van die Tabernakel om te sien om die priesters vry te stel om hulle allerbelangrike tussenganger funksie te kan verrig.  Elke Leviet kry ‘n taak en verantwoordelikheid as ‘n voorafskaduwing van hoe die elke lid van die liggaam van Christus in die NT onder beheer van die Gees en sy gawes sou funksioneer.

God se roeping werk volgens die geslagte

Die hoofstuk begin met ‘n verwysing na die vorige keer toe die Here met Moses op Sinaiberg gepraat het. Dit verwys waarskynlik na die eerste keer wat die Here aan hom verskyn het in die brandende doringbos met sy roeping toe hy nog skape opgepas het in die woestyn (Eks. 3).  Moses en Aäron het reeds kinders gehad toe hulle die roeping ontvang het.

Hulle kinders was dus van die begin af ingesluit in die roeping wat die Here vir Moses en Aäron gegee het.  Hierdie roeping sou binne die biologiese afstamming oorgedra word van geslag tot geslag.  Hulle sou ook alleen die priesterlike werk kon doen (vgl. Num. 18:5), in onderskeid van die res van die stam van Levi wat die res van die werk rondom die Tabernakel moes verrig (vgl. Num. 18:3).

Moses se geslagsregister word nie hier herhaal nie.  Dit is alreeds in Eksodus 6:14-27 gegee saam met dié van Aäron. Hier word net op Aäron se geslagsregister gefokus om die rol wat die priesters en die Leviete in die ontplooiende geskiedenis van Israel sal inneem, te bevestig.

Aäron en sy twee seuns, Eleasar en Itamar, lei die priesterlike teokrasie

Die geslagsregister onderstreep Aäron en sy nageslag se gesag in terme van die priesterlike teokrasie wat oorerflik was.  Dit bind ook die verhale van Genesis en Eksodus aan dié van Numeri waarmee die aanspraak bevestig word wat die terugkerende bevryde slawe op die land van die belofte het.

Onthou ook dat Aäron met Eliseba ‘n dogter van Amminadab, ‘n suster van Nagson, getrou het.  Sy was uit die stam van Juda (Num. 1:7).  Aäron se seuns het daarom priesterlike en koninklike bloed in hulle are.  Dawid, die latere koning, was uit die stam van Juda, dié geslagslyn waaruit die Here Jesus Christus uiteindelik gebore sou word.

Net Eleasar en Itamar kon egter op dié stadium die diens voortsit weens die tragiese verhaal waarin die Here Nadab en Abihu weens ongeoorloofde vuur (kole) laat sterwe het.  Nadab en Abihu was ook moontlik onder die invloed van drank (Lev. 10).  Eleasar sou as die oorlewende oudste seun die hoëpriesterskap by sy pa se sterwe oorneem (Num. 20).

Die Leviete neem die plek van die eersgeborenes van Israel in

Om genoeg mense te hê vir die diens van die Tabernakel word die hele stam Levi egter hier tot Aäron se beskikking gestel.  Hulle word aan die Here gewy in die plek van al die eersgeborenes van Israel wat sedert die tiende plaag aan die Here behoort het (Eks. 13), soos ook die eerstelinge van die oes (Eks. 23).

Hulle sou nie die priesterlike werk doen nie, maar alles rondom die versorging en vervoer van die Tabernakel hanteer.  Hulle sou die priesters in staat stel om hulle roeping na te kom, iets soos wat ook in die NT gebeur met die verkiesing van die “diakens” in Handelinge 6, sodat die apostels kon fokus op die gebed en die Woordbediening.

Interessant genoeg moes daar inbetaal word deur “loskoopgeld” wat uit Israel ingevorder is vir die 273 eersgeborenes van Israel wat meer was as die totale aantal Leviete.  Dié geld het deel van die voorsiening vir die Tabernakel en sy bedienaars geword.

Dit alles was natuurlik ook ‘n voorafskaduwing van die eintlike Eersgeborene van God, die Here Jesus Christus, wat in ons plek versoening gedoen het vir ons sondes en deur God as koning vir altyd aangestel is (Hebr. 1:5-14).

Drie groepe neem verantwoordelikheid, Gersoniete, Kehatiete, en Merariërs

Die stam van Levi is in drie groepe opgedeel met die oog op die diens by die Tabernakel: Gerson, Kehat, en Merari.

  • Die Gersoniete het vir die bedekking van tente en seile van die tabernakel gesorg, die besondere gewyde voorwerpe. Eljasaf was hulle leier.  Itamar was oorhoofs vir hulle verantwoordelik (Num. 4:28).  Numeri 4:21-28 spel presies uit hoe hulle daarvoor moes sorg.  Let op dat hulle nie ‘n ouderdomsbeperking gehad het vir dienslewering nie, hoewel dieselfde ouderdomsperk waarskynlik mettertyd vir hulle gegeld het.
  • Die Kehatiete het vir die heiligdom en sy “meubels” gesorg. Elisafan was hulle leier, maar Eleasar, Aäron se seun het oorhoofs verantwoordelikheid geneem vir hulle werk. Numeri 4:1-20 spel presies uit hoe hulle dit op die woestynreis moes hanteer.  Let op die sorgvuldige wyse waarop alles hanteer moes word, die blou, rooi, pers en gebreide velle waarmee alles toegemaak moes word (vgl. Eks. 26 vir ‘n bespreking van die kleure), sowel as die opdrag om nie na die heiligdom te kyk nie.  Die ouderdomsbeperking was tussen 30-50 jaar oud.
  • Die Merariërs het vir die struktuur van die Tabernakel, die raamwerk en gereedskap, gesorg. Suriël was hulle leier.  Itamar was ook oorhoofs vir hulle verantwoordelik (Num. 4:33).  Numeri 4:29-33 spel hulle verantwoordelikheid presies uit.  Die ouderdomsbeperking was ook tussen 30-50 jaar oud.

Dit wil voorkom asof Leviete op 25 onder toesig toegelaat is om diens te begin doen (Num. 8:24), maar eers op 30 jaar oud volle verantwoordelikheid kon neem.  Ons lei dit af uit die feit dat die diensdoende Leviete altyd net tussen 30-50 jaar oud getel is.  Op 50 jaar oud moes hulle ook aftree (Num. 8:25).

Let ook op hoe sorgvuldig almal getel is en elkeen ‘n funksie gekry het in die diens by die Tabernakel: “Op die bevel wat die Here deur Moses gegee het, is hulle getel en is aan elkeen sy besondere taak en verantwoordelikheid toegewys. Hulle is getel soos die Here vir Moses beveel het”.  Terloops, die Sadokiete in Dawid se tyd was afstammelinge van Itamar en die Agimelek-groep afstammelinge van Eleasar (1 Kron. 24).

Boodskap

Die priesters het ‘n allerbelangrike funksie gehad.  Hulle was bemiddelaars van die teenwoordigheid van die Here deur die offerkultus wat Israel gereinig en met God versoen het.  Hulle het dus aan die een kant die Israeliete beskerm teen die direkte kontak met God waar sy heiligheid hulle soos ‘n verterende vuur kon uitwis as hulle oortree het, soos almal kon sien met die tragiese verhaal van Nadab en Abihu.

Aan die ander kant moes hulle ook juis vrede bring tussen God en die volk juis deur die vryspraak wat die offers gebring het.  Hulle het dus as tussengangers diens gedoen waarin hulle die volk by God verteenwoordig het, en terselfdertyd God by die volk verteenwoordig het.  Presies wat ons in die bediening van die Here Jesus Christus in die NT raaksien, soos Hebreërs dit so helder uitspel.

Om dié taak na behore te verrig, was daar ‘n groot groep nodig om die infrastruktuur van die Tabernakel in stand te hou, sodat die priesters hulle werk kon doen.  Elkeen het sy spesifieke taak en verantwoordelikheid gehad om die effektiwiteit van die priesterlike teokrasie te waarborg.  Die sensus wat telkens vermeld word, was dus nie net om agter te kom hoeveel mense daar was vir die diens nie, maar om te sorg dat elkeen sy plek kon vind en volstaan.

Dit is nie anders in die kerk vandag nie, hoewel dit nou nie meer met biologiese afstamming werk nie, maar met die geestelike roeping van die Here.  Die Here roep elkeen in sy liggaam om ‘n spesifieke rol te vervul soos die Gees dit bewerk, soos Romeine 12 en 1 Korintiërs 12 verduidelik.  Elkeen van ons moet dus steeds onder leiding van die Gees ons plek vind en volstaan volgens die gawe wat Hy uitdeel.

Numeri 3-4 is dus ‘n voorafskaduwing van hoe die kerk in die NT en daarna sou funksioneer.  En soos dit hier die geval was, is die instandhouding van die infrastruktuur van die bediening steeds van groot belang om die dienswerk van gelowiges te ondersteun, soos ons in Efesiërs 4 lees.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Numeri


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda