Skip to main content

Numeri 28-29 – Die daaglikse, weeklikse, maandelikse en jaarlikse kalenders vir die vyf offers en vyf feeste

Ná die land vooruit aan die families en stamme uitgedeel is, die problematiek van die erfreg van vroue uitgesorteer is, en Josua en Eleasar as leiers aangewys is van die volk, is dit heel logies om in die volgende twee hoofstukke aandag te gee aan die godsdienstige kalender van offers en feeste waaraan Israel hulle sou moes hou ná die Intog.

In Levitikus 23 het ons alreeds só ‘n kalender aangetref in die godsdienstige handboek van Israel: Levitikus 23 – Vyf feeste om saam in die teenwoordigheid van die Here te vier.

Die vyf offers wat hier beskrywe word, is ook alreeds uitvoerig hanteer in Levitikus 1-7:

Onthou ook dat in Numeri 15 daar ‘n paar ekstra riglyne gegee is: Numeri 15 – Verdere riglyne vir die hantering van sondes.

Hier word al dié reëlings aangevul en geplaas in die onderskeie daaglikse, weeklikse, maandelikse en jaarlikse kalenders wat aan die een kant die vorige reëlings bevestig (herhaling was ‘n bate!), maar aan die ander kant ook ‘n sinopsis daarvan sowel as ‘n paar detail aanpassings en byvoegings daarby verskaf:

  • vir die daaglikse offers by die Tabernakel, die kern van hulle godsdienstige verpligtinge – Numeri 28:1-8;
  • vir die weeklikse offer op die sabbat – Numeri 28:9-10;
  • vir die maandelikse offers – Numeri 28:11-15;
  • vir die vyf jaarlikse feeste met sy offers aan die beurt – Numeri 28:16-29:40.

Die daaglikse offers by die Tabernakel – Numeri 28:1-8

Elke dag en elke aand is daar brandoffers gebring om vir die algemene sondigheid van Israel versoening te bring, sowel as ‘n graanoffer en drankoffer.  Dit is heeltemal verbrand om deur die Here aanvaar te word.  Hierdie offer was absoluut essensieel om die verhouding met God in stand te hou, selfs vóór daar nog enige oortredings van watter aard ook al was.  Die heiligheid van God en die volk se behoefte aan versoening is dus daagliks deur hierdie offers bevestig.

Die weeklikse offer op die sabbat – Numeri 28:9-10

Dieselfde het gebeur op die sabbat om op die dag eintlik op ‘n dubbele manier aan God se heiligheid en die volk se behoefte aan versoening na te dink.

Die maandelikse offers – Numeri 28:11-15

Elke maand is dieselfde offers gebring, net ‘n groter aantal: twee jong bulle, een ram en sewe jaaroud lammers, sowel as ‘n groter graanoffer en drankoffer.  Daar is een ekstra offer bygevoeg, ‘n bokram as sondeoffer, vir die reiniging en vergifnis van al die konkrete sondes wat deur die volk begaan is.

Die vyf jaarlikse feeste met sy offers – Numeri 28:16-29:40

Offers by die paasfees – Numeri 28:16-25

Op die veertiende van die eerste maand is die Paasfees die aand tot eer van die Here gevier. Die volgende dag het hulle die fees van die ongesuurde brood gevier.  Dit het ‘n hele week geduur waarvan die eerste en sewende dag as ‘n sabbat gevier is.  Die hoeveelhede van die brandoffers, graanoffers en drankoffers het ooreengekom met die maandelikse offers en het ook ‘n sondeoffer ingesluit.  Die normale offers moes steeds voortgaan.

Offers by die fees van die weke – Numeri 28:26-31

Sewe weke later is die fees van die weke (wat ons ken as Pinksterfees) gehou waar die graanoffers uit die nuwe oes gebring is en die dag ook as ‘n sabbat gevier is.  Die hoeveelhede het weereens ooreengekom met dié van die maandelikse offers en die fees van die ongesuurde brood.  Daar was ook ‘n sondeoffer.

Offers by die nuwejaarsfees – Numeri 29:1-6

Die Paasfees en Pinksterfees is opgevolg met ‘n reeks van drie feeste in die sewende maand.  Op die eerste van die sewende maand het hulle die nuwejaarsfees gevier, weereens met dieselfde hoeveelhede as die maandelikse offer en die vorige twee jaarlikse feeste.

Offers op die groot versoendag – Numeri 29:7-11

Op die tiende van die sewende maand het hulle die baie spesiale groot versoendag gevier (Jom Kippur), die tweede fees dié maand, waarin hulle hulle voor die Here verootmoedig het en weereens die offers gebring het wat by die ander feeste sowel as die maandelikse offers gebring is.  Vergelyk Levitikus 16 – Die Groot Versoendag bring versoening met God en reiniging van die sonde vir meer detail daaroor.

Offers by die huttefees – Numeri 29:12-40

Op die vyftiende van die sewende maand het hulle die derde fees dié maand gevier wat ‘n hele sewe dae lank was plus nog ‘n laaste en agste feesdag.  Dit was ‘n gedenkfees vir die woestyntyd en het die grootste hoeveelheid offers ingesluit – brandoffers, graanoffers, drankoffers en sondeoffers – wat interessant genoeg dieselfde hoeveelheid ramme en lammers ingesluit het elke dag (2 en 14 onderskeidelik), maar dan elke dag een minder bul (13, 12, 11, 10, 9, 8, 7).  Niemand weet regtig waarom nie.  Die beste raaiskoot is dat dit met ‘n “big bang” begin – die Uittog uit Egipte – en dan gestadig afneem hoe langer die fees aangaan – die tyd in die woestyn.

Op die agste dag is net een bul en ram en sewe jaaroud lammers geoffer saam met die graan- en drankoffers sowel as die sondeoffer van ‘n bokram daarby.

Die kalender word afgesluit met ‘n opsommende opmerking waarin na van dié offers ook as maaltydoffers verwys word, wat die opening laat dat Israel ook van die geweldig baie vleis kon eet.  Maaltydoffers was bedoel vir die Here, die priesters en die familie en vriende van die een wat geoffer het.  Daarby word gelofteoffers en vrywillige offers ook genoem, want dit is iets wat in die volgende hoofstuk ook aangespreek sal word, en iets wat uiteraard ook te enige tyd gebeur het.

Boodskap

Matteus gebruik ‘n verwysing na die priesterlike voorskrifte uit Numeri 28:9-10 vir die bevestiging van Jesus se lering oor die Sabbat (Matt. 12:5).  Jesus se argument ter beskerming van sy dissipels wat honger was en are begin pluk en van die koring geëet het, was dat hulle eintlik net opgetree het soos die priesters wat diens moes doen in die Tabernakel, maar tog nie gestraf is vir die feit dat hulle “gewerk” het op die Sabbat nie.  Hy gebruik ook die voorbeeld van Dawid wat in die Tabernakel ingegaan en van die offerbrood geëet het om dieselfde punt te maak.

Jesus leer ons daarmee dat hierdie riglyne weliswaar van krag was vir die volk, maar dat daar uitsonderings gemaak moes word, juis sodat die riglyne deur ander nagekom kon word.  Jesus was immers op pad om in die sinagoge te gaan preek (Matt. 12:9) en het daarom soos die priesters die riglyne kon ignoreer ter wille van die bediening.

Onthou ook dat al vyf die offers en al vyf die feeste in Jesus vervul is.  Ons hoef nie meer offers te bring ter wille van versoening nie.  Jesus is dit, soos Hebreërs regdeur sy brief-boodskap aantoon.  Tog is die inhoud hiervan steeds van krag in terme van die verootmoediging waarmee ons teenoor God moet optree sowel as die feestelikheid waarmee ons die Nagmaal en Pinkster kan vier in aansluiting by die Paasfees en die Fees van die weke.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Numeri


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda