Skip to main content

Numeri 36 – Elke Israeliet moes vashou aan sy deel van die stam se grond

Dit is heel gepas dat die boek Numeri afsluit met die verdere verfyning van die erfreg van vroue.  Dit illustreer die strewe na billikheid in elke faset van die gemeenskapslewe van Israel.  Hierdie keer is dit die familiehoofde van Manasse wat vir Moses en die ander leiers uitwys dat die reëling dat vroue kon erf potensieel sou beteken dat erfgrond vanuit ‘n spesifieke stam vervreem kon word wanneer die hersteljaar aanbreek.

Op bevel van die Here het Moses toe gereël dat die erfreg van vroue net gehandhaaf kon word as hulle binne hulle eie stam sou trou.  Die beginsel waarop dit gebaseer was, is die feit dat geen grond van die Israeliete van die een stam na ’n ander mag oorgaan nie.  Elke Israeliet moes vashou aan sy deel van die stam se grond.

Nie net het die dogters van Selofgad toe gedoen soos wat die Here vir Moses beveel het nie.  Die hele Israel het hulle daaraan gehou.  Erfgrond is nooit vervreem nie en oortredings van dié reël is swaar gestraf.  Selfs konings het dit ontgeld waar die reëls oor erfgrond oortree is, soos ons uit die kosbare verhaal van Nabot se wingerd in koning Agab se tyd leer (1 Kon. 21).

Boodskap

Ons het aan die einde van ons reis met die boek van Numeri gekom.  Wat uitstaan, is die wyse waarop die Aäronitiese seën nie net geestelik in die Tabernakel ‘n rol gespeel het nie, maar ‘n beginsel geword het waarop die hele gemeenskapslewe van Israel gebaseer is.  Elke reël wat met die verloop van hulle reis saam met die Here deur die woestyn neergelê is, het ten doel gehad om die volk te beskerm, om God se genade oorvloedig oor hulle te laat wees, en hulle vrede in hulle verhouding met Hom, mekaar en die wêreld te laat beleef.

Dat die tweede generasie na veertig jaar gereed is om die beloofde land in te trek, is genade.  Dat die eerste skermutselings met die Kanaäniete, Amoriete, Moabiete en Midianiete tot klinkende oorwinnings vir Israel gelei het, is genade.  Dat die verderflike invloed van die bang Balak en die bose Bileam nie die laaste sê oor hierdie generasie gehad het nie, is genade.

Die volk was nou gereed om na Moses in sy wydlopende drie toesprake te luister soos die boek van Deuteronomium dit vir ons gaan vertel.  Dit is eintlik die “vyfde Evangelie” soos wyle prof. Dirk Odendaal lief was om te sê.  Ek kan amper nie wag dat ons saam daarna gaan luister nie.  Sela. Soli Deo Gloria.

View all posts in this series

Numeri


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar