Skip to main content

Numeri 12 – God bevestig Moses as sy betroubaarste dienaar

Mirjam en Aäron se opstand teen Moses word in hoofstuk 12 in vier bewegings vertel: verset teen Moses oor sy Kussitiese vrou (Num. 12:1-3), teregwysing deur die Here waarin Moses as God se betroubaarste dienaar bevestig word (Num.12:4-10a), voorbidding deur Moses dat Mirjam genees word (Num. 12:10b-14), en die uiteindelike reiniging voor die volk verder trek (Num. 12:15-16).  Hierna sou Aäron se gesag ook uitgedaag word soos ons in Numeri 17 gaan lees.

Verset – Numeri 12:1-3

Mirjam kom hier in opstand teen die gesag van Moses, en Aäron volg haar na.  Dit lei ons af uit die werkwoord in die eerste vers wat in die enkelvoud is en eers in die tweede vers in die meervoud is.  Op die oppervlak lyk dit asof sy en Aäron Moses aanvat oor hy buite die verbond met ‘n Kussitiese vrou (kǔ·šîṯ) getrou het, maar ten diepste gaan dit oor jaloesie. Hulle het aanspraak gemaak daarop dat hulle dieselfde status beklee as Moses en op dieselfde wyse met God in verhouding was: “Het die Here dan net deur Moses gepraat … en nie ook deur ons nie?”  Hulle besware oor die Kussitiese vrou was dus net ‘n rookskerm.

Daar is onsekerheid by sommige of Mirjam hier na Sippora verwys, omdat Sippora ‘n Midianiet was.  Die Midianiete was egter donker van vel en is daarom ook soms Kussiete – as algemene naam vir mense van Afrika – genoem.  Vergelyk Habakuk 3:7 waar Midian en Kusan (waarskynlik ‘n wisselvorm van Kus) as sinonieme gebruik word.  Mirjam kan dus wel hier na Sippora verwys.  Sommige geleerdes dink egter dat dit ‘n tweede vrou van Moses moes wees, omdat Sippora volgens hulle nie meer gelewe het nie, omdat sy ná die Eksodus geensins by name vermeld word nie.  Dit is egter ‘n argument gebou op stilte in die teks.  Dit is meer waarskynlik dat na Sippora verwys word.

Mirjam was natuurlik reg dat die Here deur haar en Aäron gepraat het.  Dink maar net terug aan die ongelooflike lied van bevryding ná die Rietsee wat sy gesing het (Eks. 15).  En Aäron het die voorreg gehad om die Naam van die Here te “” op die volk met die seën (Num. 6:24-26) en daarby die volk voortdurend in die versoening met God te begelei.  Sy wou egter meer hê as wat God reeds vir haar gegee het.  Dieselfde met Aäron.  Hulle wou hê wat Moses gekry het.  Iets waarteen die tiende gebod spesifiek waarsku: “Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie … of enigiets anders wat aan hom behoort nie” (Eks. 20:17).

Die Here is egter terdeë bewus van wat aangaan: “Die Here het dit gehoor.”  En soos ons nou al weet, die Here tree op wanneer Hy hoor wat aangaan.  Dit het baie keer ‘n hoopvolle betekenis.  Só het die Uittog uit Egipte immers gebeur op grond van God wat die volk se nood gehoor en ter harte geneem het (Eks. 2:23-25).  Dit het soms egter ‘n onheilspellende betekenis, soos ons net in die vorige hoofstuk met die verhaal van die kwartels in antwoord op die volk se gulsige verset gesien het (Num. 11).

Let op die kommentaar oor Moses wat skerp in kontras is met Mirjam en Aäron se jaloerse arrogansie: “Moses was ’n uiters sagmoedige man, meer as enigiemand anders op die aarde.”  Ten spyte van die feit dat Moses op ‘n kragtige wyse deur God gebruik is, het hy steeds sagmoedig gebly en nie homself probeer laat geld bó en behalwe die rol wat die Here hom gegee het nie.

Teregwysing – Numeri 12:3-10a

Die Here roep hulle aldrie na die tent van ontmoeting en kom daar af in die wolk vir ‘n teregwysing van Aäron en Mirjam.  Hy roep hulle nader en beklemtoon die persoonlike en openhartige aard van sy verhouding met Moses (vgl. Eks. 33:11: “Die Here het direk met Moses gepraat soos ‘n man met sy vriend.”).

Die Here verklaar dat sy profete Hom in visioene en drome hoor waarin daar soms dinge is wat moeilik is om te verstaan.  Só is dit nie met Moses nie: “Met hóm praat Ek direk en persoonlik, nie in raaisels nie.  Hy sien selfs die gestalte van die Here.”  Die eerste sin lees letterlik so: “Mond tot mond praat Ek met hom, en helder, en nie in raaisels nie.”  Moses is God se vertroueling.  Geen wonder nie, want die Here beskou Moses as sy betroubaarste dienaar – ‘n term wat vir uitsonderlike persone soos Dawid en die Messias gereserveer is – in sy “hele huis”.

Daarom is die Here verbaas dat hulle só van Moses praat en ontvlam sy toorn – “en Jahwe se neus het warm geword” – oor hulle.  Met sy vertrek in die wolk was Mirjam melaats (meṣō·rǎʹ·ʿǎṯ).  Die term sluit enige velsiekte in.  Die beskrywing dat haar velsiekte “soos sneeu” gelyk het, kan beteken dat dit “wit” was soos sneeu, die meer gebruiklike interpretasie. Dit kan egter ook beteken dat dit “nat” was soos sneeu wat dan met oop sere verbind kan word soos dit die geval was met Job.

Voorbidding – Numeri 12:10b-14

Aäron, wat die straf van melaatsheid vrygespring het, tree vir haar in by Moses oor hulle dwaasheid en sonde.  In wese het hulle die tiende gebod oortree deur hierdie begeerte na meer, na dít wat ander gehad het, in dié geval die intieme verhouding wat Moses met God gehad het.  Verkeerde begeertes is dus nie net na fisiese goedere nie, maar ook na geestelike goedere.

Let op dat Aäron sy jonger broer Moses nou met absolute eerbied as uitverkore leier hanteer: “Asseblief, Meneer.”  Dit is ‘n aanspreekvorm wat Moses eenkeer teenoor die Here gebruik het, so gewigtig was dit (vgl. Eks. 4:10, 13).

Moses doen onmiddellik voorbidding by die Here om Mirjam gesond te maak.  Hy illustreer daarmee sy afhanklikheid van die Here.  Sy intieme verhouding met die Here verlei hom nie om arrogant en familiêr teenoor God op te tree nie.

Die Here illustreer in sy reaksie sy bereidheid om te vergewe, maar ook die feit dat Hy nie sonde ongestraf laat bly nie (Eks. 34:7; Num. 14:18).  Hy antwoord dat Mirjam die normale tyd van sewe dae buite die kamp moes deurbring, die tydperk wat die wet voorgeskryf het dat iemand moes wag om van ‘n velsiekte rein verklaar te kon word.

Reiniging – Numeri 12:15-16

Die volk het daarom geduldig vir haar reiniging gewag voor hulle vertrek het van Gaserot tot by die Paranwoestyn vanwaar hulle die land Kanaän sou verken.  Die proses rondom Mirjam sou hulle die hoop gegee het dat God ook in ander se lyding onder velsiektes sou kon ingryp.  Die afsondering buite die kamp weens velsiektes kon altyd opgehef word deur God se genadige ingryping in ander se lewe op die basis van die voorbidding van die leiers.

Boodskap

Jy sou met die deurlees van die teks en my bydrae hierbo agter gekom het hoe baie raakpunte daar is met ervarings wat ons in die lewe het.  Hoe baie keer sien ons nie hierdie tipe verset raak nie!  Telkens gebore uit ons verkeerde begeertes sowel as ons arrogante drang na selfgelding.  Dit moet ons tot ootmoed en sagmoedigheid lei!

Dit is egter ook opmerklik dat God se hantering hiervan getuig van regverdigheid sowel as genade.  Hy bevestig sy verhouding met Moses op ‘n kragtige wyse.  Mirjam en Aäron sou nie hierna dit weer waag om hulle teen God se keuse te verset nie. Ons kan op dieselfde wyse op God se regverdigheid staatmaak.

God luister egter ook na Moses se smeking dat Mirjam genees word, al vereis Hy steeds dat sy die afsondering vir haar reiniging moet verduur soos die wet voorskryf.  Ons kan dus ook op God se genade staatmaak.

Die verhaal het soveel raakpunte met die prentjies van God in die NT.  In terme van God se regverdigheid sien ons aan die een kant God se handhawing van die bediening van Jesus in beide die salwing met die Heilige Gees (Matt. 3) en die volharding tydens die versoeking in die woestyn (Matt. 4).  Ons sien dit in die wysheid waarmee Hy die Fariseërs en die skares kon troef (Mark. 6:2) sowel as die wonderwerke waarmee Hy die koninkryk van God aangekondig het.

Ons sien dit ook uitvoerig in die bevestiging van Paulus se bediening teenoor dié van die ander apostels, sowel as teenoor die skynheiligheid van ‘n Petrus en Barnabas (Gal. 2).  Die Here bevestig Paulus nie net persoonlik nie (Hand. 18:9-10), maar ook publiek in Filippi teenoor die stadsraad (Hand. 16) en selfs  later in Jerusalem voor die Joodse Raad en die Romeinse goewerneurs (Hand. 22-26).

Aan die ander kant is daar ook die genesende hand van God in die bediening van Jesus sowel as sy apostels.  En dit is opmerklik dat daar talle genesings spesifiek van mense met velsiektes was!

God is volkome regverdig en volkome genadig. Ons kan op albei kante van hierdie betrokkenheid van Hom in ons lewe staatmaak.

Daarom spoor die Hebreërskrywer gelowiges aan tot getrouheid met die voorbeeld van Moses in Numeri 12:7 wat “die betroubaarste” van almal in God se diens is.  Hy vergelyk dit met Jesus se getrouheid: “Hy is getrou aan God wat Hom aangestel het, soos ook Moses getrou was in die hele huis van God.” (Hebr. 3:2,5).

Dieselfde moet van ons waar wees: “Ons is sy huis as ons maar net met moed en oortuiging bly vashou aan wat ons hoop.” (Hebr. 3:6).

View all posts in this series

Numeri


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar