Skip to main content

Numeri 18 – Israel word ‘n gemeenskap van gee en neem

Die Here volg die bevestiging van Aäron se verkiesing as hoëpriester op met ‘n beklemtoning van die verantwoordelikhede wat saam met die voorreg van priesterskap gaan.  Dit sluit in om seker te maak dat die volk nie teen die priesterskap oortree nie, want die Here wou nie die hele volk uitwis nie – Num. 18:1-7!  Die Here volg dié beklemtoning van verantwoordelikhede op met sy geskenk aan hulle.  Die priesters kry deel aan die ongeveer tien tipe offers wat gebring is, en die Leviete die tiendes van die volk.  Dit was in ruil vir die feit dat hulle nie enige grond sou kry met die aanvanklike indeling van die beloofde land nie – Num. 18:8-32.

Die Leviete is ‘n geskenk aan die priesters soos priesterskap ‘n geskenk van God is – Num. 18:1-7

Die Here begin deur die verantwoordelikhede te beklemtoon wat saam met die voorreg van priesterskap gaan (vgl. Eks. 28:38; Lev. 22:15-16).  Dit sluit in om seker te maak dat die volk nie teen die priesterskap oortree nie, want die Here wou nie die hele volk uitwis nie!  Dit het ook die begeleiding van die Leviete in hulle dienswerk ingesluit wat bedoel was om die hande van die priesters ligter te maak.

Dit is ‘n beginsel wat in die NT ook deur die gemeente in Jerusalem gevolg word toe daar voorsiening gemaak is vir die versorging van die weduwees deur verkose “diakens” sodat die apostels op die gebed en verkondiging van die Woord kon fokus (Hand. 6).

Let op die verdeling van pligte wat nie net tot ordelikheid gelei het nie, maar ook sinergie bewerk het tussen die onderskeie bedieninge in die Tabernakel.

Hierdie onderskeid is ook ‘n beginsel wat in die NT deur Paulus aan alle gemeentes neergelê is, soos hy in sy brief aan die Efesiërs geskrywe het: “En dit is die ‘gawes’ wat Hy ‘gegee het’: apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars. Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus.” (Ef. 4:11-12).

Maar let op dat die hiërargie omgedraai is in die NT.  Dit is die “gawes” wat die gewone gelowiges as “priesters” toerus vir hulle dienswerk!  Hierin speel die Here Jesus ‘n sentrale rol: “Uit Hom groei die hele liggaam.  Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ’n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde.” (Ef. 4:16).

In Numeri 18 is die Leviete ‘n geskenk aan die priesters.  In Efesiërs 4 is die “gawes” ‘n geskenk aan die gewone gelowiges.  Gewone gelowiges is immers die “koninklike priesterdom”, soos Petrus so passievol skrywe (1 Pet. 2:9).

‘n Deel van die offers word aan die priesters geskenk en die tiendes aan die Leviete – Num. 18:8-32

God se geskenk aan die mense wat Hy afgesonder het vir die dienswerk by die Tabernakel sluit verder in dat die priesters deel kry aan die ongeveer tien tipe offers wat gebring word, en die Leviete die tiendes van die volk.  Dit was in ruil vir die feit dat hulle nie enige grond sou kry met die aanvanklike indeling van die beloofde land nie.

Drie van die offers was besondere gewyde offers waarvan net die mans onder die priesters kon eet: graanoffers, sondoffers, en skuldoffers.

Sewe van die offers was gewone gewyde offers waarvan elkeen wat deel was van die priesterlike families kon eet: beweegoffers, eerstelinge van olie, wyn, koring en ander landbouprodukte, banoffers, en eerstelinge van mens en dier.  Die normale loskoop prosedure vir eerstelinge van mens en dier het gegeld.

Die Leviete het die tiendes van die volk ontvang as God se geskenk aan hulle.  Die Leviete moes op hulle beurt weer ‘n tiende van die tiendes vir die priesters gee.

Boodskap

Numeri 18 gee ons ‘n perspektief op die elemente wat nodig is om ‘n geloofsgemeenskap te laat floreer.  Al is die riglyne vir ‘n ander tyd, kan ons baie leer uit die gee en neem wat hier voor die aangesig van die Here geïllustreer word.

Van wat die volk vir die Here gegee het in terme van offers, gee Hy ‘n deel vir die priesters wat juis aangestel is om Hom daarmee te bedien.  Wat God weer vir die Israeliete in terme van ‘n opbrengs op hulle lande en in die ekonomie gegee het, deel hulle met die Leviete in terme van tiendes.  En die Leviete deel weer met die priesters, soos die priesters ook weer verantwoordelikheid neem vir die begeleiding en toerusting van die Leviete.

Dit is beginsels wat die toets van die tyd deurstaan het.  Die een hand was die ander.  Soos wat ons vir ander gee uit wat ons ontvang, word vrygewigheid deel van ons bestaan.  Hoe beter ons hieraan gehoorsaam is, hoe beter kry ons ‘n begrip van die God van wie ons vir alles wat ons het en is, afhanklik is.  Soos Hy gee, gee ons vir mekaar en sluit ons hegte bande nie net met Hom nie, maar ook met mekaar.  Soos Hy ons seën, raak ons tot ‘n seën vir ander, en uiteindelik vir die wêreld.  Want, ons is na alles ‘n “koninklike priesterdom”.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Numeri


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda