Skip to main content

Numeri 34-35 – God beskerm die volk met grense en asielstede. Die Leviete kry ook stede en weiveld

Die tema van beskerming word voortgesit in terme van die grense van die land sowel as die opdrag om die inwoners van die land te verdryf sodat hulle nie die volk verlei om op dieselfde wyse te sondig as die Kanaäniete en die gramskap van die Here oor hulle te bring nie.  Dit is deel van die Aäronitiese seën vir die volk dat die Here hulle wil beskerm in die land – Numeri 34:1-12.  Dit is ook waarom die grense van die land nie net in terme van die buitelyne bepaal word nie, maar ook in terme van elke stam en elke familie, sodat elkeen ‘n plek kan hê wat hulle hulle eie kan noem.  So sal die genade en die vrede van God op ‘n praktiese konkrete manier ervaar kan word, soos dit ook in die Aäronitiese seën uitgespel word – Numeri 34:12-29.  Daarby kom 42 stede en weiveld vir die Leviete – Numeri 35:1-8 – saam met 6 stede wat as asielstede kan dien vir almal wat onopsetlik iemand anders se dood veroorsaak, sodat ‘n regverdige beslissing gevel kan word.  Anders sou die land onrein word.  Die beskerming het ook die vreemdelinge sowel as uitlanders gegeld – Numeri 35:9-34.

God bepaal die grense van die land – Numeri 34

Die grense van die beloofde land word in hoofstuk 34 aangedui soos dit min of meer uiteindelik in Josua 13-22 aan die volk uitgedeel sou word.  Nie dat al die plekke wat hier genoem word, bekend is, of al die grenslyne presies aangedui word nie.  Maar, die breë prentjie kom ooreen.

Die beloofde land lê tussen die Groot (Middellandse) See in die weste en die Jordaan in die ooste, die woestyngebied in die suide, min of meer op die grens met Egipte, en die bergreeks van Libanon in die noorde.  Die enigste uitsondering was die gebied oos van die Jordaan wat aan Ruben, Gad en die halwe stam van Manasse uitgedeel is.

Die tema van beskerming uit die Aäronitiese seën uit Numeri 6 word dus voortgesit in terme van die grense van die land sowel as die opdrag om die inwoners van die land te verdryf, sodat hulle nie die volk verlei om op dieselfde wyse te sondig as die Kanaäniete en die gramskap van die Here oor hulle te bring nie.

Dit is ook waarom die grense van die land nie net in terme van die buitelyne bepaal word nie, maar ook in terme van elke stam en elke familie, sodat elkeen ‘n plek kan hê wat hulle hulle eie kan noem.  So sal die genade en die vrede van God op ‘n praktiese konkrete manier ervaar kan word, soos dit ook verder in die Aäronitiese seën uitgespel word.

Twaalf leiers word aangestel om dié land te verdeel soos die Here reeds aangedui het.  Ons ken egter net vir Kaleb.  Die ander name is onbekend.

Esegiël 47-48 gebruik ook aanhalings uit Numeri 34 om die grense van die nuwe beloofde land aan te dui, en haal boonop groot dele van die wette in Levitikus 18-26 aan in sy profesieë wat die Nuwe Eksodus van die 6de eeu v.C. voorspel.

Numeri se verdeling van die land is egter prakties, soos hier uitgespel.  Esegiël s’n is ‘n utopiese visie waarin die land in ewe groot dele verdeel word met die heiligdom in Jerusalem as sentrum. Die Leviete kry daar ook grond, en vreemdelinge ook.  Lees meer by: Esegiël 47-48 – God verdeel die land regverdiglik en gee lewe vanuit die heiligdom vir die hele land.

God bepaal die stede van die Leviete sowel as asielstede – Numeri 35

Hierdie seën sluit ook in dat die Leviete stede en weiveld verkry, aangesien hulle geen normale stam grondgebied sou kry nie, weens hulle afsondering vir die bediening by die Tabernakel.  48 stede is só afgestaan uit die grondgebied van al die ander stamme en vir hulle geoormerk saam met weiveld.  6 van dié stede was asielstede waarheen mense kon vlug as hulle iemand sonder opset doodgemaak het.  In Josua 21 lees ons hoe dié bepaling uitgevoer is.  Die groter stamme het meer afgestaan en die kleiner stamme minder, sodat dit billik en regverdig sou wees.

Hierdie reëlings in Numeri 35:1-8 is ook die basis vir Esegiël 47-48 se konsepsie van die priesterlike en Levitiese grondbesit rondom Jerusalem soos ‘n mens kan lees by die skakel hierbo.

Die asielstede was uitgesit sodat iemand ‘n regverdige verhoor kon kry as iemand anders onopsetlik doodgemaak is, en die familie nie onregverdige wraak sou neem nie.  Wraak in die geval van moord was immers ‘n opdrag aan die familie.  Maar, as iemand onopsetlik iemand anders doodgemaak het, moes daar eers deur ‘n regsproses gegaan word, anders sou die land onrein word.  Hierdie beskerming het ook die vreemdelinge sowel as uitlanders gegeld.

Dit is opmerklik dat daar nie gesukkel is met hofsake waar iemand doelbewus iemand anders met ‘n stuk yster of ‘n groot klip of ‘n groot stuk hout doodgemaak het nie.  Jy kon selfs nie net iemand met die vuis doodslaan nie.  Dan is dit steeds as moord gereken.  Die enigste voorwaarde was dat daar getuies moes wees.

Die asielstede was net bedoel vir manslag, wanneer iemand per ongeluk gestamp of raak gegooi is (vgl. die ander reëlings vir onopsetlike sondes in Numeri 15).  Interessant genoeg moes jy dan daar bly vir so lank as wat die hoëpriester wat jou vrygespreek het in ‘n hofbeslissing sou lewe.

Eers as die hoëpriester dood is, kon die persoon na sy plek terugkeer en mag die ander familie nie meer teen hom opgetree het nie.  Dit wil voorkom asof die hoëpriester se dood ‘n soort versoening gedoen het vir die lewe van die oortreder, ‘n verskuilde tipe van Christus se soendood in die NT.

Daar moes ook meer as een getuie wees sodat die beslissing nie weens valse getuienis gevel sou word nie.  In die NT word dié riglyn aangehaal in die hantering van geskille waar twee of drie getuies saamgeneem moes word om gesprekke van tug te hanteer. Beide Jesus en Paulus het daaroor uitgewy (Matt. 18:16, 20; 2 Kor. 13:1; 1 Tim. 5:19; vgl. Deut. 17:6; 19:15).

Die Hebreërskrywer gaan in Hebreërs 10:26-31 nog dieper op die saak in en maak die reëling rondom getuies van Numeri 35 van toepassing nie net op manslag en moord nie, maar op enige opsetlike sonde wat deur gelowiges gepleeg word:

Wanneer ons opsetlik bly sondig nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, is daar geen offer meer wat ons sondes kan wegneem nie. Daar bly alleen ’n verskriklike verwagting oor van oordeel en ’n gloeiende vuur wat die teenstanders van God sal verteer. As iemand die wet van Moses oortree, en twee of drie getuies bevestig dit, word hy nie begenadig nie, hy word doodgemaak. Hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy kry wat die Seun van God verag het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, geminag het en die Gees van genade beledig het? Ons weet tog wie Hy is wat gesê het: ‘Dit is mý reg om te straf; Ek sal vergeld (Deut. 32:35);’ en verder: ‘Die Here sal oor sy volk oordeel (Deut. 32:36; Ps. 135:14).’  Dit is verskriklik om in die hande van die lewende God te val.”

Terug by Numeri 35.  Hierdie gedetailleerde riglyne was deel van die genadige beskerming en seën van die Here om te sorg dat dieselfde lot nie die Israeliete tref as wat die Kanaäniete getref het, omdat hulle die Here se wil nie gehandhaaf het in hulle morele en geestelike lewe nie.

Soos die Here in Levitikus 18-20 Israel gewaarsku het dat hulle nie by onsedelike seksuele praktyke betrokke mag raak nie, want dit sal die land ontheilig, só doen Hy dit nou met sy reëlings rondom moord en doodslag: “Julle mag die land waarin julle woon, nie onrein maak nie, want bloedvergieting verontreinig die land en daar kan alleen deur die dood van hom wat die bloed vergiet het, versoening gedoen word vir die land waarin die bloed vergiet is. Julle moenie die land waarin julle bly en waar Ek teenwoordig is, onrein maak nie, want Ek, die Here, is teenwoordig by die Israeliete.

Boodskap

Die tema van beskerming staan veral uit in hierdie laaste deel van Numeri.  Elke stukkie detail van die voorskrifte het ten doel om Israel te laat floreer in die beloofde land.  Die grense is nie daar om in te perk nie, maar vreedsame en florerende naasbestaan moontlik te maak.  Dieselfde geld die stede en weivelde vir die Leviete.  Hulle sou kon dink dat hulle afgeskeep word in terme van die daaglikse ekonomie van hulle huishoudings, maar selfs daarvoor het die Here voorsiening gemaak.

Net so was geregtigheid in hulle onderlinge verhoudings hoog op prys gestel.  Dit moes billik en verantwoordelik uitgevoer word.  Daar moes getuies wees. Daar moes betrokkenheid van die families wees.  Daar moes voorsiening wees vir onopsetlike tragedies deur die asielstede.  Daar moes ‘n geestelike komponent wees met die betrokkenheid van die hoëpriester.

Dit gee ons ‘n heel ander perspektief op die wet van die Here.  Dit was nie ‘n strakke stel reëls wat die lewe swaar gemaak het nie.  Dit was bedoel om Israel in staat te stel om binne die genade van die Here te lewe en sy vrede te kan ervaar saam met die mense wat hulle liefhet.  Dat Israel nie altyd hierdie wet só hanteer het nie, was nie weens gebreke in die wet as sodanig nie, maar weens die gebreke in die mense wat dit moes nakom.

Vandaar die skuif wat by die profete kom na ‘n visie vir die internalisering van die wet (Jer. 31:31-34) wat in die NT deel van die evangelie van Jesus Christus word.  God skryf deur sy Gees die wet op in ons verstand en op ons harte sodat ons van binne af dit kan nakom: “Ek sal hulle my wette in die verstand gee, op hulle harte sal Ek dit skrywe; Ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees.” (Hebr. 8:10).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Numeri


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar