Skip to main content

Numeri 21 – God bring verlossing vir dié wat op Hom vertrou

Die pas begin versnel met die trek langs die Dooie See op aan die oostekant van die Jordaan.  Die eerste oorwinning wat die tweede generasie van Israel behaal, is teen die Kanaäniete van koning Arad wie se stede hulle met die banvloek tref – Numeri 21:1-3.  Dit word opgevolg deur nog ‘n tranedal van verset oor kos en water wat die skrywer met ‘n perfekte idioom weergee: “die siel van die Israeliete het kort geraak.”  Die Here se oordeel van giftige slange word opgevolg met die verlossing van die koperslang vir dié wat op Hom vertrou, iets wat in die NT deur Johannes, Paulus en Judas in hulle boodskappe ingetrek word – Numeri 21:4-9.  Uiteindelik kry die Israeliete wel water waarvan hulle die herinnering met ‘n besondere lied verewig – Numeri 21:10-20.  Die eerste grondgebied wat hulle nie net inneem nie, maar bewoon is dié van die Amoriete van koning Sihon en die Refaïete van koning Og wat ook met ‘n lied verewig is – Numeri 21:21-35.

Die Kanaäniete neem Israeliete gevange maar die Here gee hulle die oorwinning – Num. 21:1-3

Van hierdie punt af trek Israel met verdrag van suid na noord aan die oostekant van die Jordaan op langs die grondgebied van Edom, Moab, Ammon tot by Basan (vgl. kaart met erkenning aan Logos).  Voordat hulle egter nog verby Bosra kon trek, het die Kanaänitiese koning Arad van die Suidland (Negev) besluit om die gevaar met ‘n voorkomende aanval die hoof te bied en kry dit reg om ‘n aantal van die mense van Israel gevange te neem.  Hy het waarskynlik die moed gehad, saam met die Amalekiete (Num. 14:45) en Amoriete (Deut. 1:44), omdat hulle reeds 38 jaar tevore die eerste generasie van die Israeliete se mislukte eerste Intog suksesvol afgeweer het.

Let op hoe Israel se tweede generasie hulle wend tot gebed en die voorskrifte wat die Here hulle oor geloftes gegee het, en waaraan sy seën verbind is (Num. 6).  Hulle betaal dus ook hulle gelofte met die oorwinning deur die stede as banoffer aan die Here te offer.  Hulle het dus niks vir hulleself van die buit gehou nie, maar die plekke heeltemal verwoes.  Daarom word die plek Gorma genoem, ‘n naam wat verband hou met die woord “ban” in Hebreeus.

Juda betrek saam met die Keniete uiteindelik hierdie gebied (Rigt. 1:16-17).  Dit is merkwaardig dat Juda dus eintlik die eerste stuk grondgebied in Kanaän kry met hierdie “gelofte”-veldtog wat Israel teen die Kanaäniete onderneem, hoewel hulle steeds verdere oorloë moes voer vanuit die bergland om die gebied onder beheer te kry.  Hulle het veral gesukkel met die mense van die vlaktes weens hulle ysterwaens (Rigt. 1:18-19).

Die koperslang bring verlossing – Num. 21:4-9

Die blydskap oor die oorwinning was egter van korte duur.  Die reis het uiteraard ook van die tweede generasie ‘n hoë tol geëis.  In die oorspronklike Hebreeus word hulle ongeduld beskryf met die idioom: “die siel van die Israeliete het kort geraak”.  In plaas daarvan om egter soos met die bedreiging van koning Arad van die Kanaäniete tot die Here te bid, vaar hulle uit teen Moses en die Here oor hulle omstandighede.

Die Here se reaksie om giftige slange onder hulle in te stuur, word genadiglik begroet met skuldbelydenis deur die volk – teenoor die Here sowel as teenoor Moses! – en voorbidding deur Moses wat op bevel van die Here ‘n koperslang maak met die belofte: “Elkeen wat gepik is en daarheen opkyk, sal lewe.”

Die slang het die vloek voorgestel wat hulle getref het.  Deur die slang “op te lig” teen die paal is die vloek weggeneem, sodat, wanneer hulle daarheen gekyk het, ‘n teken van geloof en vertroue, hulle genees sou word.

Die simbool van die koperslang is later in die tempel geplaas, maar mettertyd aanbid as Negustan (‘n samevoeging van die Hebreeuse woorde vir koper en slang), sodat koning Hiskia uiteindelik besluit het om dit met sy hervormings te verwoes in die laat agtste eeu v.C.: “Hiskia het die hoogtes laat verwoes, die klippilare laat stukkend slaan en die gewyde pale laat afkap. Hy het ook die koperslang wat destyds deur Moses gemaak is, laat stukkend slaan, want tot nou toe het die Israeliete die koperslang met offers vereer. Die slang is Negustan genoem.” (2 Kon. 18:4).

In die NT gebruik Jesus in sy gesprek met Nikodemus die koperslang as ‘n OT skadubeeld van die verlossing wat Hy bring en koppel daaraan die bekende uitspraak van Joh. 3:16.  Soos Moses die koperslang in die woestyn op ‘n paal opgelig het en dit genesing van die dodelike gif van die slange in die woestyn gebring het, sê Jesus vir Nikodemus, só bring Hy verlossing deur sy dood aan die kruis: “sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.  God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.” (Joh. 3:14-16).

Ook Paulus verwys na die koperslang van Numeri 21, maar gebruik dit as ‘n waarskuwing dat God nie deur afgodsdiens en onsedelikheid uitgetart moet word, want só ‘n verset teen God sal jou dood beteken, omdat dit ‘n verset en verwerping van Christus inhou (1 Kor. 10:9).

Let op dat vir Paulus Christus dus die een was wat die volk in die woestyn laat omkom en laat lewe het.  ‘n Duidelike verwysing na die dubbele betekenis wat Jesus vir mense het in terme van verlossing en oordeel.

Dit is hieruit ook duidelik dat Paulus Christus as preëksistente teenwoordigheid van die Here Jesus in die woestyn beskou.  Soos dit ook in Judas 4-5 die geval is waar Judas selfs die woord “Jesus” gebruik om te verwys na die Een wat die volk uit Egipte verlos het en dié wat nie in geloof aan Hom vasgehou het, laat omkom het in die woestyn.

Ekskursie oor Judas 4-5

Judas skryf:

Geliefdes, ek was vas van plan om aan julle te skrywe oor die verlossing waaraan ons almal deel het. Maar nou voel ek my verplig om julle met my brief aan te spoor om te stry vir die geloof wat een maal oorgelewer is aan dié wat God vir Hom afgesonder het. Die rede hiervoor is dat sekere mense ongemerk julle geledere binnegedring het, goddelose mense wie se veroordeling lank reeds vas staan. Hulle misbruik die genade van ons God. Hulle gebruik dit as dekmantel om losbandig te lewe, en hulle verwerp ons enigste Meester en Here, Jesus Christus.  Al weet julle al hierdie dinge, wil ek julle daaraan herinner dat, hoewel die Here (kurios) een maal sy volk uit Egipte verlos het, Hy tog daarna dié wat nie geglo het nie, laat omkom het.

Vers 5 gebruik volgens die vroegste teksgetuies in die Grieks die woord Jesus nie kurios, d.w.s. Here, nie.  Selfs al sou die lesing kurios aanvaar word, verwys kurios in hierdie vers in elk geval na Jesus wat in die vorige vers, vers 4, as Here beskryf word (Bauckham, Word reeks).

Baie identifiseer Jesus daarom met die engel wat die Here voor die Israeliete uitgestuur het soos Eksodus 23:20 aanvoer. Ook Johannes voer aan dat Jesaja die heerlikheid van die Here gesien het en verbind dit met Jesus (Joh. 12:41). Die Hebreërskrywer verbind Jesus as Here aan die skepping (Hebr. 1:10) en Paulus verbind Jesus aan die Jahwe van die OT (vgl. Rom. 10:13; Jes. 28:16).  Food for thought!

Die reis na die vlakte by Moab – Num. 21:10-20

Die verlossing van die gif van die slange is nie die enigste voorsiening van die Here nie.  Op hulle verdere trek noord langs die Dooie See op, waar hulle met die Amoriete en Refaïete slaags sou raak, voorsien die Here vir hulle water by ‘n put.  In ‘n besondere lied word dié gebeurtenis gedenk.  Die redakteur vermeld ook dat die gebeure in ‘n ander boek: “Die Boek van die Oorloë van Jahwe” opgeteken is.  Moses verwys in Deuteronomium 2:8-23 weer terug hierna.  Later hoor ons ook van die: “Boek van die Opregte” waarin van hierdie verhale ook opgeteken is (Jos. 10:13).

Die oorwinning oor die Amoriete van Sihon en die Refaïet Og van Basan – Num. 21:21-35

Let weereens op dat Israel aanvanklik net deur die gebied van die Amoriete wou trek, maar toe deur koning Sihon aangeval is.  Dit lei tot ‘n groot oorwinning vir Israel.  Hierdie keer het hulle die stede nie verwoes nie, maar daarin gaan woon, in vervulling van die belofte dat die land van die Amoriete aan hulle gegee sou word en vier dit met ‘n lied wat die groot gebeurtenis herdenk.

Interessant genoeg neem Israel ‘n bestaande gedig van die Amoriete oor waarin dié liries oor Sihon se oorwinnings geraak heet, en spot op subtiele wyse met hulle: “Maar nou het ons op hulle losgetrek”!   Vergelyk ook die status wat dié oorwinning in die volksgeheue ingeneem het regdeur die OT (Jos. 2:10; Rigt. 11:19-21; 1 Kon. 4:19; Neh. 9:22).

Deuteronomium 2:24-3:11 kyk terug hierna en vertel die verhaal meer spesifiek in terme van die Here se opdrag om die land in te neem, as ‘n aanmoediging aan die volk om getrou te bly aan die Here.

Die volgende koning wat voor die Israelitiese besetting val, in opdrag van die Here ná hulle weereens eerste deur die inwoners aangeval is, is Og van Basan, ‘n koning wat met die Refaïete geassosieer word.  Moses verwys hierna terug in sy toespraak in Deuteronomium na sy reuse bed: “Net koning Og van Basan het destyds nog van die Refaïete oorgebly. Sy bed was van yster. Dit was sowat vier meter lank en amper twee meter breed, en is nou nog te sien in Rabba van die Ammoniete.” (Deut. 3:11).

Basan was bekend vir sy vet ramme en bulle (Eseg. 39:18).  Amos beskryf die gemaksug van die vroue van Samaria met die metafoor van die koeie van Basan (Am. 4:1).

Boodskap

Die gedeelte leen hom tot verskeie perspektiewe wat ‘n mens vir jou geestelike lewe kan benut.  Ek kies twee daarvan om ietsie meer oor te sê.

1.  Daar is ‘n groot verskil tussen kla en bid. Die verskil lê egter nie in die inhoud nie, maar net in die gerigtheid.  Die Israeliete kla oor God toe hulle hulle behoeftes nie bevredig word nie, met destruktiewe gevolge.  Die Israeliete bid tot God toe hulle gebyt word deur die slange, met positiewe gevolge.  Dieselfde het gebeur toe hulle net daarvoor aangeval is deur die Kanaäniete.  Gebed bring verlossing.  Klagtes bring verwydering.

2.  Jesus bring verlossing en oordeel. Daar is ‘n populêre mening dat Hy net Verlosser is.  Dat Hy nooit oordeel nie.  Dit is egter nie die prentjie van Johannes se evangelie, Paulus asook Judas se briewe nie.  Al drie van hulle neem die voorbeeld van die koperslang uit Numeri 21 en pas dit toe op Jesus.  En al drie beklemtoon die verlossing sowel as die oordeel wat Jesus bring.  Dít is waarom die oproep tot ‘n heilige lewe so belangrik is, en so konsekwent deur die NT beklemtoon word, soos Johannes in sy Openbaring ook nog verder op voortborduur (vgl. Openbaring 8 – God hoor die gebede van die heiliges en verskerp sy verlossende oordeel).

Geloof in Jesus Christus lei altyd tot gehoorsaamheid aan sy wil vir die lewe.  Daarsonder is geloof dood en nutteloos en kom mense onder sy oordeel: “Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.” (Joh. 3:18).

View all posts in this series

Numeri


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar