Die boek van die lewe
Daar is vier boeke wat in Openbaring belangrik is.
- Die BOEK met die sewe seëls wat Jesus neem uit die hand van sy Vader wat sy wil as verlossingsagenda vir die wêreld bevat (Openb. 5:1, 7). Dit is iets wat God self uitvoer en waarin ons getuienis en volharding tekens van sy verlossende genade is.
- Die BOEKIE wat Johannes kry om die boodskap wat Hy moes bring, oor te dra (Openb. 10:2, 8-10). Dit is iets wat hy met sy verkondiging uitvoer waarin hy ook vir ons ‘n voorbeeld van gehoorsaamheid aan God se opdragte is.
- Die BOEKE met die werke van alle mense op grond waarvan hulle geoordeel word (Openb. 20:12). Dit geld almal van ons.
- Die BOEK VAN DIE LEWE waarin net die name van die gelowiges opgeskryf is reeds vóór die grondlegging van die wêreld (Openb. 3:5; 13:8; 17:8; 20:12, 15; 21:27). Nie alle mense het daaraan deel nie.
Die belangrikheid van laasgenoemde twee – die boek met die werke en die boek van die lewe – kan nie oorskat word nie. Veral die boek van die lewe speel ook ‘n rol in die res van die Bybel.
DIE VREUGDE EN VERLIES WAT IN DIE BOEK VAN DIE LEWE OPGESLUIT LÊ
- Die boeke met die werke en die boek van die lewe word by die finale “wit-troon” oordeel van God oor alle mense oopgemaak: “En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ’n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke.” (Openb. 20:12).
- Dit is duidelik dat alle mense daar geoordeel word op grond van wat oor hulle in die boekrolle met hulle werke opgeteken is. Ons werke is dus nie onbelangrik vir God nie!
- Maar, wat nog meer belangrik is, is dat dié oordeel ook gedoen word op grond van die feit of mense se name in die boekrol van die lewe opgeteken is, al dan nie. Die genade troef dus die verdienste, alhoewel die regverdige dade steeds deel van die proses is. Die oordeel van die Lam van God met sy boek is beslissend vir ons saligheid!
- Die ontsagwekkende is dat hierdie name reeds vóór die grondlegging van die wêreld daarin opgeteken is! Dit is Johannes se onomwonde boodskap (Openb. 13:8; 17:8). ‘n Mens kan jou net in aanbidding voor dié wonderlike werklikheid buig, die werklikheid wat met die boodskap van die uitverkiesing op ander plekke in die Bybel verkondig word (Ef. 1; Rom. 9-11 ens.).
- Dit is ‘n bron van groot blydskap! Soos Jesus al gesê het vir sy dissipels toe hulle opgewonde was oor hulle “werke” in sy Naam: “Maar julle moenie daaroor bly wees dat die geeste aan julle onderworpe is nie, maar wees liewer bly dat julle name in die hemele opgeskryf is.” (Lukas 10:20).
- Dit is ‘n bron van bemoediging! Dit is nie net die diepste vreugde van enige gelowige se lewe dat sy of haar naam in die boek van die lewe opgeskryf is nie. Dit is ook die kragbron vir jou volharding. Jesus sê vir die gelowiges in Sardis: “Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie, en Ek sal sy naam bely voor my Vader en voor sy engele.” (Openb. 3:5).
- Paulus gebruik hierdie wonderlike voorreg dat ‘n mens se naam in die boek van die lewe opgeskryf is as aanmoediging om mekaar in die geloofstryd te ondersteun: “En ek vra jou ook, opregte metgesel, wees hierdie vroue behulpsaam wat met my saamgestry het in die evangelie, ook saam met Clemens en my ander medearbeiders wie se name in die boek van die lewe is.” (Fil. 4:3). En let op dat Hy net daarna oor die wederkoms skryf wat ons vreugde en vrede moet bepaal.
- Die Hebreërskrywer eggo dit en sê dat dit die skare van gelowiges is, wie se name in die hemel opgeskrywe is, wat ons aanmoedig om te volhard: “Julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tienduisende engele, by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is, en by God, die Regter van almal, en by die geeste van die volmaakte regverdiges. ” (Hebr. 12:22-23).
- Vir dié wie se name in die boekrol van die lewe verskyn, die regverdiges, wag die nuwe hemel en aarde, soos in Openbaring 21 uitgespel word. Om in God se teenwoordigheid vir ewig te lewe, is immers die grootste voorreg en vreugde denkbaar: “En daarin sal nie inkom iets wat verontreinig en gruwelikheid en leuens doen nie; maar net die wat geskrywe is in die boek van die lewe van die Lam.” (Openb. 21:27).
- Vir die ander, die goddeloses, wag die tweede dood, die vuurpoel, dáár waar die Bose driemanskap reeds is: “En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.” (Openb. 20:15).
- Dit sluit die mense in wat deel van die geloofsgemeenskap is, maar wat die genade van die Here misbruik om ongebonde en losbandig te lewe: “Want sekere mense het ingesluip wat lank tevore al opgeskryf is vir hierdie oordeel, goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën.” (Jud. 4).
- Dit is waarskynlik ook hulle wat die wil van die Here soos Hy in sy Woord dit bekendgemaak het, verander of verwerp, soos Johannes dit stel in Openbaring: “En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is.” (Openb. 22:19). Watter ontsettende verlies dat jy deur jou eie toedoen jou toekoms mis.
- Dit gee ‘n mens ook ‘n groter begrip vir die ontsettende gebed wat Dawid in die ongelooflike aanvegting onder goddeloses in sy geledere bid: “Laat hulle uitgedelg word uit die boek van die lewe en nie saam met die regverdiges opgeskrywe word nie.” (Ps. 69:29).
- Die tragiese werklikheid is dat almal eendag die Here sal aanbid, selfs diegene wat teen Hom in opstand was in hierdie lewe: “En al die bewoners van die aarde sal hom aanbid, almal wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe van die Lam wat geslag is, geskrywe is nie.” (Openb. 13:8).
- Hulle sal in afgryse verkeer oor die strik waarin hulle getrap het om verlei te word om teen God in opstand te kom: “Die dier wat jy gesien het, was en is nie en sal uit die afgrond opkom en na die verderf vaar; en die bewoners van die aarde wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe geskryf is nie, sal hulle verwonder as hulle die dier sien wat was en nie is nie, alhoewel hy is.” (Openb. 17:8).
Fanie Nel
Hi Chris, God weet alles lank voor dit gebeur. Ek weet dus dat die name van die gelowiges voor die begin al opgeskryf was. Watse kans het n mens dan as jou naam nie daar geskryf is nie. Soos as iemand n reeks moordenaar is, God moes geweet het wat hy gaan doen. Ek weet ons het n keuse of ons iets doen of nie, maar as God dit so lank terug al geweet het is dit steeds sy keuse?
Chris van Wyk
Ek antwoord jou in sewe stellings gerugsteun deur aanhalings uit ons belydenisskrifte. Jy kan die Skrifverwysings ook nagaan.
EEN. God kies ons uit in Jesus Christus, ons Here. Hy wys daardeur dat Hy barmhartig en regverdig is. Hierdie uitverkiesing is uit louter goedheid sonder dat ons dit verdien. Die uitverkiesing staan vas in sy ewige en onveranderlike raad. Hy skryf ons name in die boek van die lewe. Dit is ‘n bron van grenslose vreugde en dankbaarheid.
“Ons glo dat God, toe die hele geslag van Adam deur die sonde van die eerste mens in die verderf en ondergang gestort is, Hom betoon het soos Hy is, naamlik barmhartig en regverdig. God is barmhartig, aangesien Hy dié wat Hy uitverkies het, uit hierdie verderf trek en verlos; God het hulle, uit louter goedheid en sonder om hulle werke in die minste in aanmerking te neem, in sy ewige en onveranderlike raad uitverkies in Jesus Christus, ons Here. God is regverdig deurdat Hy die ander in hulle val en verderf laat bly waarin hulle hulleself gewerp het.
Rom. 3:12; 9:16; Deut. 32:8; 1 Sam. 12:22; Ps. 65:5; Mal. 1:2; 2 Tim. 1:9; Rom. 9:29; Tit. 3:4-5; Ef. 1:4-5; Rom. 11:5; Hand. 2:47; 13:48; 2 Tim. 2:20; Rom. 9:11; 1 Pet. 1:2; Rom. 9:21; Joh. 6:27, 44; 17:9,12; Joh. 13:9; 15:16; Rom. 11:34-35; Joh. 18:20; 15:19; Tit. 1:1; Ef. 1:3; Joh. 10:29; Matt. 15:24; 20:23.” (Nederlandse Geloofsbelydenis 16: DIE EWIGE VERKIESING VAN GOD)
TWEE. God gee deur die werk van die Heiige Gees ‘n opregte geloof in Jesus Christus in ons harte. In Hom besit ons die volle saligheid vir ewig en altyd.
“Ons glo dat die Heilige Gees ‘n opregte geloof in ons harte laat ontvlam om die ware kennis van hierdie groot geheimenis te verkry. Die geloof omhels Jesus Christus met al sy verdienstes. Dit maak Hom ons eie en soek na niks anders as na Hom nie. Daar is dus net twee moontlikhede: In Jesus Christus is nie alles wat vir ons saligheid nodig is nie, óóf dit is alles wél in Hom, en dan het hy wat wat Jesus Christus deur die geloof besit, sy volle saligheid. Om nou te beweer dat Christus nie genoegsaam is nie maar dat daar buite Hom nog iets meer nodig is, sou gruwelike godslastering wees, want dit sou beteken dat Christus slegs ‘n halwe Verlosser is. Ons sê daarom tereg saam met Paulus dat ons deur die geloof alleen of deur die geloof sonder die werke geregverdig is (Rom. 3:28).
Om presies te wees: Ons bedoel nie dat die geloof self ons regverdig maak nie, want die geloof is slegs die middel waardeur ons Christus, ons Geregtigheid, omhels, maar wel dat Jesus Christus ons Geregtigheid is. Hýý reken ons sy hele verdienste toe en ook al sy heilige werke wat Hy vir ons en in ons plek gedoen het, terwyl die geloof die middel is wat ons in die gemeenskap aan al sy weldade aan Hom verbind. En as die weldade ons eiendom geword het, is hulle meer as genoeg om vryspraak vir ons sondes te verkry.
Ps. 51:8; Ef. 1:17-18; 1 Tess. 1:6; 1 Kor. 2:12; Gal 2:21; Jer. 23:6; 1 Kor. 1:20; Jer. 51:10; 1 Kor. 15:3; Matt. 1:21; Rom. 8:1; 3:20, 28; Gal. 2:16; Heb. 7:19; Rom. 8:29, 33; Hand. 13:28; 1 Pet. 1:4; Rom. 10:3, 5, 9; Luk. 1:77; Tit. 3:5; Ps. 32:1; Rom. 4:5; 3:24, 27; Filp. 3:9; 2 Tim. 1:9; Ps. 115:1; 1 Kor. 4:7; Rom. 4:2.” (Nederlandse Geloofsbelydenis 22: ONS REGVERDIGING DEUR DIE GELOOF)
DRIE. ‘n Ware geloof aanvaar dat alles in die Woord waar is en vertrou God dat Hy in Christus die ewige lewe aan jou geskenk het.
“‘n Ware geloof is nie alleen ‘n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het (a) vir waar aanvaar nie, maar ook ‘n vaste vertroue (b) wat die Heilige Gees (c) deur die evangelie in my hart werk (d), naamlik dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus (e), vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid (f) geskenk het.
(a) Jak 2:19. (b) Heb 11:1, 7; Rom 4:18-21; 10:10; Ef 3:12; Heb 4:16; Jak 1:6. (c) Gal 5:22; Matt 16:17; 2 Kor 4:13; Joh 6:29; Ef 2:8; Fil 1:19; Hand 16:14. (d) Rom 1:16; 10:17; 1 Kor 1:21; Hand 10:44; 16:14. (e) Ef 2:8; Rom 3:24; 5:19; Luk 1:77, 78. (f) Rom 1:17; Gal 3:11; Heb 10:10, 38; Gal 2:16.” (Heidelbergse Kategismus Vraag 21: Wat is ‘n ware geloof?)
VIER. Die uitverkiesing raak duidelik waar mense tot bekering en geloof in Christus kom. Dit gebeur deur die verkondiging van die evangelie. Dié wat die evangelie glo, ontvang die ewige lewe.
“Alle mense het in Adam gesondig en hulle skuldig gemaak aan die vloek en die ewige dood. Daarom sou God niemand verontreg het as dit sy wil was om die hele menslike geslag in die sonde en vervloeking te laat bly en vanweë die sonde te veroordeel nie. Daarom leer die apostel: die hele wêreld is voor God doemwaardig (Rom 3:19). Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God (Rom 3:23) en: Die loon van die sonde is die dood (Rom 6:23).
Die liefde van God is egter hierin geopenbaar dat Hy sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê (1 Joh 4:9; Joh 3:16).
Om mense tot geloof te bring, stuur God uit louter goedheid verkondigers van hierdie vreugdevolle boodskap na wie Hy wil en wanneer Hy wil. Deur hulle diens word die mense geroep tot bekering en geloof in Christus, die gekruisigde, want: Hoe kan hulle in Hom glo van Wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? (Rom 10:14,15).
Hierdie uitverkiesing het nie op grond van vooruitgesiene geloof, geloofsgehoorsaamheid, heiligheid of enige ander goeie hoedanigheid of geskiktheid van die mens tot stand gekom nie. Dit alles kan nooit vooraf as rede of voorwaarde vir die uitverkiesing van die mens vereis word nie. Die uitverkiesing is immers die oorsaak van geloof en geloofsgehoorsaamheid, heiligheid, ensovoorts. Daarom is die uitverkiesing die fontein van alle saligheid waaruit geloof, heiligheid en al die ander saligmakende gawes, en uiteindelik die ewige lewe self, as vrugte en gevolge daarvan voortvloei. Die apostel getuig immers: Om heilig en sonder gebrek voor Hom te wees (Ef 1:4), en nie ómdat ons alreeds so was nie.” (Dordtse Leerreëls 1.1.1-3,9)
VYF. Dié wat hierdie evangelie nie glo nie het self skuld aan hulle ongeloof en sal die ewige lewe nie beërwe nie. Hulle name is nie opgeskryf in die boek van die lewe nie.
“Die toorn van God bly op hulle wat hierdie evangelie nie glo nie. Hulle wat die evangelie egter aanneem en die Verlosser, Jesus, met ‘n ware en lewende geloof omhels, word deur Hom van die toorn van God en van die verderf verlos, en Hy skenk hulle die ewige lewe (Joh 3:36; Mark 16:16).
Die oorsaak of skuld van daardie ongeloof, net soos van alle ander sondes, lê beslis nie by God nie, maar by die mens. Die geloof in Jesus Christus en die saligheid deur Hom is egter ‘n genadegawe van God. Soos geskrywe is: Uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God (Ef 2:8), ook: Dit is aan julle genadiglik gegee om in Christus te glo (Fil 1:29).” (Dordtse Leerreëls 1.1.4-5)
SES. Die uitverkiesing is ‘n bron van sekerheid wat die dryfkrag gee vir ‘n heilige lewe voor die aangesig van God.
“Vir die kinders van God is die besef en die sekerheid van hierdie uitverkiesing daagliks steeds meer rede om hulle voor die aangesig van God te verootmoedig, om die diepte van sy barmhartigheid te aanbid, om hulleself te reinig en om Hom, wat hulle eerste so uitnemend liefgehad het, ook van hulle kant vurig lief te hê. Dit is dan ook onmoontlik dat hierdie leer van die uitverkiesing en die besinning daaroor die kinders van God sal laat ophou om die gebooie van God te gehoorsaam of dat hulle onverskillig sou word deur ‘n sondige lewe te lei. Deur die regverdige oordeel van God is dit juis die geval met hulle wat die genade van die uitverkiesing ligtelik vir hulleself toe-eien of ydellik en ligsinnig daaroor praat, sonder dat hulle begeer om in die weë van die uitverkorenes te
wandel.” (Dordtse Leerreëls 1.1.13)
SEWE. Hierdie evangelie word aan alles mense verkondig sonder enige onderskeid. In die praktyk kom sommmige tot bekering en geloof, en ander nie.
“Verder is dit die belofte van die evangelie dat elkeen wat in die gekruisigde Christus glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. Hierdie belofte moet aan alle volke en mense, aan wie God na sy welbehae die evangelie stuur, sonder enige onderskeid verkondig en bekend gestel word, met die eis tot bekering en geloof.
Baie wat deur die evangelie geroep is, bekeer hulle nie, glo nie in Christus nie, maar sterf in ongeloof. Dit gebeur, nie omdat die offer wat Christus aan die kruis volbring het, gebrekkig of onvoldoende is nie, maar deur hul eie skuld.
Almal wat egter waarlik glo en deur die dood van Christus van die sonde bevry en van die verderf gered word, ontvang hierdie weldaad slegs uit die genade van God. Hierdie genade is van ewigheid af in Christus aan hulle gegee, sonder dat Hy dit aan enigiemand verskuldig is.
Dit was immers die volkome vrye raadsbesluit, genadige wil en voorneme van God die Vader, dat die lewendmakende en saligmakende krag van die uiters kosbare dood van sy Seun al die uitverkorenes tot voordeel sal strek. So het God slegs aan die uitverkorenes die regverdigende geloof geskenk om hulle daardeur onfeilbaar salig te maak. Dit wil sê: Dit was die wil van God dat Christus deur die bloed van die kruis – waarmee Hy die nuwe verbond bevestig het – uit elke volk, stam, geslag en taal húúlle en hulle alleen kragdadiglik sal verlos, wat van ewigheid af tot die saligheid uitverkies en deur die Vader aan Hom gegee is. Ook was dit die wil van God dat Christus aan hulle die geloof sal gee wat Hy, soos ook die ander saligmakende gawes van die Heilige Gees, deur sy dood vir hulle verwerf het. Verder, dat Hy hulle van al hulle sondes – sowel die erfsonde as
die daadsonde wat náá en vór die geloof begaan is – deur sy bloed sal reinig. Ten slotte, dat Hy hulle tot die einde toe getrou sal bewaar, en uiteindelik sonder enige vlek of rimpel in heerlikheid by Hom sal neem.” (Dordtse Leerreëls 1.1.5-8)
Fanie Nel
Hi Chris, baie dankie vir die breedvoerige antwoord. Ek sal dit so oordra.
Annerie Myburgh
Goeie maand DsChris. Ek het n vraag oor hierdie stuk oor die boek vd lewe. My dogter se verloofde sukkel om die feite vd uitverkiesing te aanvaar – hy glo die mense wat op n stadium tot bekering kom, maar later ophou glo, is wel uitverkies, (soos die saad in die vlak grond), dus hulle het begin glo uit loutere genade deur geloof wat deur God geskenk is, maar as sommige gelowiges nie hul kant bring en die goeie wedloop voluit hardloop en die eindstreep bereik nie, word hulle name, wat voor die grondlegging vd aarde in die boek vd lewe geskryf is, uitgehaal. Uitverkiesing is dus n waarborg dat jy op n stadium sal glo, maar nie n waarborg dat jy sal volhard nie. Hy gebruik Eksodus 32:33 om sy punt te staaf, ook Psalm 69:29. Hoe verklaar ons dan hierdie verse?
Chris van Wyk
Hi Annerie – dit is ‘n mondvol. Ek het weer gaan kyk na die vier boeke van God – soos ek dit in die Skrif raaksien – en sal tegelenertyd iets daaroor publiseer. Ek dink die gelykenis van die Saaier moet ‘n mens versigtig hanteer. Die eerste drie tipes grond is mense wat nie enduit glo nie. Hulle gebrek aan volharding wys dus dat hulle nie uitverkies is nie. Soos die goeie grond wys dat hulle wel uitverkies is. Die belangrike punt oor volharding is om te onthou dat Jesus ons volharding is: “Ek, Johannes, is julle medegelowige, en deur ons verbondenheid met Jesus het ek saam met julle deel aan die verdrukking en aan die koninkryk en aan die volharding.” (Openb 1:9). Dit is God wat in ons werk om te wil sowel as om te werk (Fil 2:12-13). Dit is omdat Hy in ons werk wat ons die moed het om te volhard. Ons werk dus met vrees en bewing aan ons saligheid, in die wete dat dit afhang van God wat in ons werk. Uitverkiesing is dus ‘n waarborg van volharding. “My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My. Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. Ek en die Vader is een.” (Joh 10:27-29). Eksodus 32:33 gaan oor mense wat God verwerp het – deur losbandigheid en afgodery in Eksodus. Psalm 69:29 gaan oor die vyande van die regverdiges wat in die oordeel van God kom. Hulle is dus nie uitverkies nie, want hulle lewens het geen vrug getoon nie.