Skip to main content

Die boek van die lewe

Daar is vier boeke wat in Openbaring belangrik is.
  1. Die BOEK met die sewe seëls wat Jesus neem uit die hand van sy Vader wat sy wil as verlossingsagenda vir die wêreld bevat (Openb. 5:1, 7).  Dit is iets wat God self uitvoer en waarin ons getuienis en volharding tekens van sy verlossende genade is.
  2. Die BOEKIE wat Johannes kry om die boodskap wat Hy moes bring, oor te dra (Openb. 10:2, 8-10).  Dit is iets wat hy met sy verkondiging uitvoer waarin hy ook vir ons ‘n voorbeeld van gehoorsaamheid aan God se opdragte is.
  3. Die BOEKE met die werke van alle mense op grond waarvan hulle geoordeel word (Openb. 20:12).  Dit geld almal van ons.
  4. Die BOEK VAN DIE LEWE waarin net die name van die gelowiges opgeskryf is reeds vóór die grondlegging van die wêreld (Openb. 3:5; 13:8; 17:8; 20:12, 15; 21:27).  Nie alle mense het daaraan deel nie.
Die belangrikheid van laasgenoemde twee – die boek met die werke en die boek van die lewe – kan nie oorskat word nie.  Veral die boek van die lewe speel ook ‘n rol in die res van die Bybel.
DIE VREUGDE EN VERLIES WAT IN DIE BOEK VAN DIE LEWE OPGESLUIT LÊ

  1. Die boeke met die werke en die boek van die lewe word by die finale “wit-troon” oordeel van God oor alle mense oopgemaak: “En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ’n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke.” (Openb. 20:12).
  2. Dit is duidelik dat alle mense daar geoordeel word op grond van wat oor hulle in die boekrolle met hulle werke opgeteken is.  Ons werke is dus nie onbelangrik vir God nie!
  3. Maar, wat nog meer belangrik is, is dat dié oordeel ook gedoen word op grond van die feit of mense se name in die boekrol van die lewe opgeteken is, al dan nie.  Die genade troef dus die verdienste, alhoewel die regverdige dade steeds deel van die proses is.  Die oordeel van die Lam van God met sy boek is beslissend vir ons saligheid!
  4. Die ontsagwekkende is dat hierdie name reeds vóór die grondlegging van die wêreld daarin opgeteken is!  Dit is Johannes se onomwonde boodskap (Openb. 13:8; 17:8).  ‘n Mens kan jou net in aanbidding voor dié wonderlike werklikheid buig, die werklikheid wat met die boodskap van die uitverkiesing op ander plekke in die Bybel verkondig word (Ef. 1; Rom. 9-11 ens.).
  5. Dit is ‘n bron van groot blydskap!  Soos Jesus al gesê het vir sy dissipels toe hulle opgewonde was oor hulle “werke” in sy Naam: “Maar julle moenie daaroor bly wees dat die geeste aan julle onderworpe is nie, maar wees liewer bly dat julle name in die hemele opgeskryf is.” (Lukas 10:20).
  6. Dit is ‘n bron van bemoediging!  Dit is nie net die diepste vreugde van enige gelowige se lewe dat sy of haar naam in die boek van die lewe opgeskryf is nie.  Dit is ook die kragbron vir jou volharding.  Jesus sê vir die gelowiges in Sardis: “Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie, en Ek sal sy naam bely voor my Vader en voor sy engele.” (Openb. 3:5).
  7. Paulus gebruik hierdie wonderlike voorreg dat ‘n mens se naam in die boek van die lewe opgeskryf is as aanmoediging om mekaar in die geloofstryd te ondersteun: “En ek vra jou ook, opregte metgesel, wees hierdie vroue behulpsaam wat met my saamgestry het in die evangelie, ook saam met Clemens en my ander medearbeiders wie se name in die boek van die lewe is.” (Fil. 4:3).  En let op dat Hy net daarna oor die wederkoms skryf wat ons vreugde en vrede moet bepaal.
  8. Die Hebreërskrywer eggo dit en sê dat dit die skare van gelowiges is, wie se name in die hemel opgeskrywe is, wat ons aanmoedig om te volhard: “Julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tienduisende engele, by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is, en by God, die Regter van almal, en by die geeste van die volmaakte regverdiges. ” (Hebr. 12:22-23).
  9. Vir dié wie se name in die boekrol van die lewe verskyn, die regverdiges, wag die nuwe hemel en aarde, soos in Openbaring 21 uitgespel  word.  Om in God se teenwoordigheid vir ewig te lewe, is immers die grootste voorreg en vreugde denkbaar: “En daarin sal nie inkom iets wat verontreinig en gruwelikheid en leuens doen nie; maar net die wat geskrywe is in die boek van die lewe van die Lam.” (Openb. 21:27).
  10. Vir die ander, die goddeloses, wag die tweede dood, die vuurpoel, dáár waar die Bose driemanskap reeds is: “En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.” (Openb. 20:15).
  11. Dit sluit die mense in wat deel van die geloofsgemeenskap is, maar wat die genade van die Here misbruik om ongebonde en losbandig te lewe: “Want sekere mense het ingesluip wat lank tevore al opgeskryf is vir hierdie oordeel, goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën.” (Jud. 4).
  12. Dit is waarskynlik ook hulle wat die wil van die Here soos Hy in sy Woord dit bekendgemaak het, verander of verwerp, soos Johannes dit stel in Openbaring: “En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is.” (Openb. 22:19).  Watter ontsettende verlies dat jy deur jou eie toedoen jou toekoms mis.
  13. Dit gee ‘n mens ook ‘n groter begrip vir die ontsettende gebed wat Dawid in die ongelooflike aanvegting onder goddeloses in sy geledere bid: “Laat hulle uitgedelg word uit die boek van die lewe en nie saam met die regverdiges opgeskrywe word nie.” (Ps. 69:29).
  14. Die tragiese werklikheid is dat almal eendag die Here sal aanbid, selfs diegene wat teen Hom in opstand was in hierdie lewe: “En al die bewoners van die aarde sal hom aanbid, almal wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe van die Lam wat geslag is, geskrywe is nie.” (Openb. 13:8).
  15. Hulle sal in afgryse verkeer oor die strik waarin hulle getrap het om verlei te word om teen God in opstand te kom: “Die dier wat jy gesien het, was en is nie en sal uit die afgrond opkom en na die verderf vaar; en die bewoners van die aarde wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe geskryf is nie, sal hulle verwonder as hulle die dier sien wat was en nie is nie, alhoewel hy is.” (Openb. 17:8).

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Ewige lewe; Boek van die lewe


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!