Skip to main content

Tag: Eenheid

Johannes 17:1–26 – Jesus bid passievol vir eenheid in Sy kerk

RUS

  • Ek raak stil voor die Here na ’n besige dag en laat sy vrede van my hart besit neem.

HOOR

  • Ek lees hierdie baie bekende Skrifgedeelte en vra dat die Here my insig sal verdiep.
Dit tref my dat hierdie gebed in Johannes eintlik die rol inneem van die gebed wat Jesus in Getsemane gebid het, en waar sy dissipels nie wakker kon bly nie.  Dit is sy finale aardse gebed (en lering) vir die dissipels.  Hierna sou Hy as Hoëpriester hemelse gebede bid vir hulle (Hy is daar ons Voorspraak – 1 John 2:1; Hy leef daar vir altyd om vir ons in te tree – Heb 7:25; Hy pleit daar vir ons [nes die Gees in ons harte] waar Hy sit aan die regterhand van God – Rom 8:34).  En die inhoud van die gebed is net so omvattend soos die Ons Vader wat Jesus aan sy dissipels geleer het.

Continue reading

Johannes 13:31–14:31 – Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle lief gehad het

RUS

  • Dit bly heerlik om die natuur waar te neem terwyl ’n mens stil raak voor die Here.  Ek kyk nou uit op ’n tuin gebaai in sonlig, met sagte geluide wat van buite af inkom in die vertrek.
  • Ek loof die Here vir sy voorsiening en sorg en vandag veral dat Hy alles onderhou.

HOOR

  • Ek lees die gedeelte in Johannes en die volgende aspekte tref my:
Jesus sluit aan by die aanwysing van Judas as sy verraaier en intensifiseer sy gesprek met die oorblywende dissipels, waarskynlik in die eerste plek om hulle geloof te versterk, en hulle te verseker dat dieselfde lot hulle nie sal tref as vir Judas nie:
  • Liefde vir mekaar sal dissipels se uitstaande kenmerk wees (in teenstelling met Judas) – 13:31-35;
  • Hierdie liefde sal onder druk kom – soos in die geval van Petrus vir Jesus (Joh 18:25–27) – maar uiteindelik seëvier – 13:36-38;
  • Jesus gaan na sy Vader toe en word daardeur die weg en die waarheid en die lewe vir elkeen wat in Hom glo – 14:1-14;
  • Jesus gee hulle die Heilige Gees waardeur God self by hulle Sy intrek sal neem – 14:15-31.

13:31-35 en 36-38: Die punt van hierdie hele gesprek van Jesus is dat liefde bo-oor alles geskryf moet staan.  Dit moet die uitstaande kenmerk van ’n dissipel van Jesus wees.  Dit moet alles deursuur wat ons doen en sê.  Daar moet niks in die pad staan van ’n lewe in liefde nie.  En dit beteken, in die konteks van Jesus se naderende dood, dat ’n mens selfs bereid moet wees om jou lewe vir ander af te lê.  Dit is ook die punt wat later in hoofstuk 17 oor eenheid gemaak sal word – niks mag in die pad van die eenheid staan nie.  En niks mag in die pad van liefde staan nie.

Continue reading

1 Korintiërs 12 – Verskeidenheid dien die eenheid

Hoofstuk 12-14 handel oor die wyse waarop die gawes van die Gees in die gemeente gefunksioneer het.  Die gemeente se siening van die gawe van tale as die taal van die engele (13:1) en iets wat in ’n toestand van ekstase manifesteer (12:2) het gedreig om so oorbeklemtoon te word, dat die ander gawes oorheers is, en hulle eredienste onverstaanbaar begin word het.

Daarom fokus Paulus in hoofstuk 12 eerstens op die basiese belydenis van elke kind van God, dat Jesus die Here is (12:1-3).

Tweedens gebruik hy die tekening van God as Drie-enig (let op die drie woorde vir God in vers 4-6: Gees, Here, God wat met drie beskrywings van die gawes gekoppel word: genadegawes, bedieninge, kragtige werkinge) om aan die een kant die verskeidenheid van gawes wat van die persoon-ryke God kom, aan te moedig, maar aan die ander kant ook die gawes se inherente eenheid te beklemtoon omdat dié God een wese is.  Die onderskeie gawes van wysheid, kennis, geloof, gesondmaking, wonders, profesie, onderskeiding en tale kom van een Gees, en is daarom bedoel om tot die voordeel van almal in die een liggaam gebruik te word (12:7-11).

Daarmee hoop hy dat hulle met die vergelyk-speletjie sal ophou, en eerder die verskeidenheid van gawes sal gebruik tot stigting en opbou van die een liggaam van Christus in die gemeente.

Derdens brei hy uit oor die samehang van die gelowiges met hulle gawes in die een liggaam van Christus, die gemeente, wat beteken dat daar nie verdeeldheid kan wees nie (12:12-31).  Hy gebruik die beeld van ’n regte liggaam om die noodsaaklikheid van verskille (voet, hand, oor, oog) binne die groter organiese eenheid van die gemeente te demonstreer, maar ook die noodsaaklike en integrale eenheid te beklemtoon.  ’n Liggaam kan nie voortbestaan as dit verskeurd is nie.

As daar eenheid is, kan die liggaam se lede met integriteit gelyke sorg dra vir mekaar – onder andere deur mense wat spesifieke take ontvang het: apostels, profete en leraars – gawes wat veral met die Woord te make het; en deur mense wat gawes ontvang het om wonderdade te kan doen, mense gesond te maak, hulp te verleen (bystand), leiding te gee (kubernesis – bestuur of administreer), en ongewone tale of klanke te gebruik.  Die lysie kom ooreen met dié in vers 7-11, met 2 gawes wat bykom, hulp en leiding.  Dit wys dat die gawes nie ’n vaste aantal was nie, maar slegs as voorbeelde genoem word.

Paulus beklemtoon dat nie almal al die gawes het nie, en dat daar beter gawes is (profesie is bv. beter as die gawe van tale, soos hy in hoofstuk 14 sal wys), maar dat alles ondergeskik is aan die gawe van die liefde wat aan almal in die gemeente gegee is, waaroor hoofstuk 13 handel.

1 Korintiërs 1 – Partyskappe skend die Eenheid in Christus

Let op hoe Paulus sy brief begin met ’n verantwoording van sy roeping as apostel van Jesus Christus, die eerste keer dat hy die benaming begin gebruik.  Hy begrond sy apostelskap in God se wil, waarvandaan ook sy gesag kom om met “God se gemeente” in Korinte in gesprek te tree.

Sostenus, waarskynlik die voormalige hoof van die sinagoge in Korinte (Hand 18:17), maar nou ’n gelowige en medebedienaar van die Woord, word nie net saam met Paulus as outeurs van die brief aangedui nie, maar dit kan wees dat Paulus dit moontlik aan hom as sekretaris gedikteer het (1 Kor 16:21).

Let op hoe Paulus God dank vir die wyse waarop Sy genade onder hulle posgevat het, veral in die gawes van woord en kennis.  Hy is ook opgewonde dat hulle vol verwagting uitsien na die wederkoms (al gaan hy in hfst. 15 tog weer hieroor gesels).  Geloof en hoop is goed gevestig in hulle gemeente.

Maar hy kan hulle nie loof vir hulle gebrek aan eenheid nie.  Die onderlinge liefde ontbreek dus.  Vergelyk dit met sy dankwoord aan die Tessalonisense waar hy hulle geprys het vir hulle geloof, liefde en hoop (1 Tes 1:3; 2 Tes 1:3-4).  Geen wonder dat hy ’n hele hoofstuk later sou afstaan aan die onderwerp van die liefde nie, want dít is wat hulle kort gekom het (1 Kor 13).

Hy spreek hulle daarom skerp aan oor die verdeeldheid wat veral in groepvorming en partyskappe onder hulle na vore kom, soos Chloë se mense aan hom kom oordra het.  Dit is immers hulle roeping, om met mekaar “verenig te lewe met sy Seun, Christus Jesus, ons Here.”

Die gemeente het hulle identiteit in vier groepe gesoek, dié vir Paulus (die stigter van die gemeente), dié vir Apollos (’n uitstekende redenaar uit Aleksandrië), dié vir Sefas (Petrus, die leier van die apostels) en dié vir Christus (die werklik vromes?!).  Let op dat die verskille nie leerstellig was nie, maar groepvorming of partyskappe rondom leiers.  Paulus gril by dié gedagte en gaan direk oor tot ’n diepsinnige Christologiese verantwoording van hulle identiteit: Ons is Een in Christus, die krag en die wysheid van God.  Hy is die enigste leier wat in die middelpunt van ’n gemeente mag staan.

Met verwysing na Jesaja 29:14 bevestig Paulus in vers 19 en verder die OT gedagte dat God Hom nie aanpas by die heersende wysheid van mense nie, maar ontferm oor dié wat glo. Dit is nie wat jy weet wat God se aandag trek nie, maar dat jy glo.  Hiermee rig Paulus hom teen beide die Joodse en Griekse weersin in die boodskap van die kruis – die Jode neem aanstoot daarin omdat hulle eerder ’n wonderteken sou wou sien (ironies dat hulle die wonder van die opstanding geïgnoreer het en net op die kruis gefokus het); die Grieke dink dis onsin omdat dit menslike denke uitgesluit het, en net afhanklik was van geloof in God.

Hoewel Paulus in hoofstuk 2 eers verder gaan uitbrei oor hoekom God die weg van die prediking en die openbaring van die Gees kies om sy boodskap aan mense oor te dra, gaan hy in hoofstuk 3 terugkom na die betekenis van hierdie gedagte – dat God se wysheid en menslike wysheid teenoor mekaar staan – en dit van toepassing maak op die “wyse” idee van groepvorming, en uitwys hoe dwaas dit in die oë van God is.  Groepvorming kom na vore uit jaloesie en twis en skaad die gemeente, wat die gebou van God is.

Eenheid is ononderhandelbaar in die kerk wat God tot stand bring in ’n gebied.

Die ding wat my dus uit hierdie eerste hoofstuk by bly, is die klem op eenheid.  Dit is doodgewoon onaanvaarbaar dat daar groepvorming en partyskappe in ’n gemeente rondom leiers ontstaan, hetsy uit jaloesie of uit ’n getwis.  En elkeen van ons moet ons eie lojaliteite in die gemeente ondersoek of ons nie ook hieraan skuldig is nie, hoe onskuldig dit op die oog af ook al vir ons kan voorkom.  En dan praat ek nie eers van die breër Christelike prentjie in ons stede en dorpe nie …

Onlangse kommentaar