Skip to main content

Tag: seks

Hooglied 4:1-5:1 – In die tuin van liefde

Indeling

Vandag lees ons ‘n aantal gedigte – veral van die man oor sy bruid, behalwe vers 16 wat die vrou se uitnodiging aan die man verwoord – wat uitmond in hulle seksuele eenwording.
  • Vers 1-7 is ‘n loflied (wasf) van die man op die skoonheid van sy lieflingbruid.
  • Vers 8 verwoord sy uitnodiging tot saamwees aan sy bruid, maar wat net op haar uitnodiging kan gebeur.
  • Vers 9-11 besing die bruid se impak op die man: “Jy het my hart gesteel”.
  • Vers 12 tot hoofstuk 5 vers 1 is die sogenaamde tuin-gedig wat op intieme wyse hulle seksuele eenwording beskryf.

Continue reading

1 Korintiërs 7:1-24 – Dis beter om nie te trou nie

Paulus begin in hoofstuk 7 reageer op sake wat in ’n brief van die Korintiërs aan hom gerig is.  In vers 1-24 hanteer hy die vraag oor die huwelik.

Let op dat hy aansluit by ’n gedagterigting wat blykbaar by die Korintiërs ontstaan het, dat dit goed is vir ’n man om sonder ’n vrou te lewe, dit wil sê sonder seks.  Sommige het blykbaar selfs besluit het dat die huwelik nie strook met hulle opvatting van Christenwees nie en wou sonder seks in die huwelik lewe of dan skei om beter die Here te kan dien.

Daarom praat Paulus eers oor getroudes, en beveel aan dat hulle steeds in die huwelik sal bly, en steeds seksueel met mekaar sal verkeer in die huwelik, veral weens die gevaar van onsedelikheid.  Ons liggame behoort wel aan God (6:19), maar in die huwelik ook aan ons huweliksmaat.  Daarom moet huweliksmaats mekaar nie seksueel weier nie, behalwe om ’n (kort) tyd lank te bid.  Die duiwel moet nie kans kry om hulle te verlei weens hulle gebrek aan selfbeheersing nie, veral nie in ’n stad wat so berug vir sy prostitusie was nie.

Dan spits hy hom toe op die wat voorheen getroud was, die wewenaars[1] en weduwees en werk basies met twee beginsels:

  1. Paulus dink dit is beter om nie te trou nie (vers 1,8), maar relativeer dit deur homself as voorbeeld te gebruik, en te erken, soos hy self sê in vers 7, dit hang van ons gawes af, dinge wat die Here vir ons gee (vgl Matt 19:11 “Wie dit kan doen, laat hom dit doen”!);
  2. As jy jouself nie kan beheer nie, dink Paulus dit is dan beter om te trou as om deur hartstog verteer te word (vers 9).  Daarom dat ook huweliksmaats mekaar in ag moet neem (vers 2-5), sodat ’n gebrek aan seks nie hulle blootstel aan verleiding deur die duiwel nie.

Die perspektief wat egter bo alles van God af kom, is, dat as jy getroud is, jy nie mag skei nie.  Daarmee erken hy wat regdeur die Bybel as beginsel aangegee is, dat God nie wil hê huweliksmaats moet die band tussen hulle verbreek nie (vgl Jesus in Matt 19 bv. – dit sluit uiteraard dinge soos geweld en mishandeling uit).  Let ook op dat hy werk met die beginsel van een man en een vrou (“elke man sy eie vrou en elke vrou haar eie man”), dws die monogame huwelik.

Dan spreek hy die probleem van ’n ongelowige maat in die huweliksverhouding aan, en sê basies dat die ongelowige, nie die gelowige nie!, die keuse het om te bly of te ry.  Daar is ’n voordeel vir die ongelowige om te bly, maar die gelowige huweliksmaat is nie gebind aan die huwelik, as die ongelowige huweliksmaat wil skei nie.  Daar is ook ’n voordeel vir die kinders, deurdat hulle in die sfeer van die Christelike gemeenskap groot word, en daardeur beïnvloed kan word.  Anders sou hulle in ’n heidense omgewing grootword, wat eweneens ’n groot invloed op hulle sal hê.


[1] Paulus gebruik in vers 8 ‘n ander woord (agamos) vir “ongetroudes” as in vers 25 (parthenos – maagd), wat verskeie geleerdes laat vermoed dat hy eintlik in vers 8 van wewenaars praat, wat in die konteks beter pas in die lig van die gelykluidende raad wat hy vir die weduwees gee.

1 Tessalonisense 4 – Nog meer aan die Here toegewy

Paulus spoor hulle in twee gedeeltes aan – soos ’n pa (2:11-12) – om hulleself nog meer as tevore aan die Here toe te wy.  En die 2 hoofsake waarin hulle dit moet uitleef, is om nie onsedelik te leef nie (4:1-8) en mekaar lief te hê (4:9-12).

Let op dat in die vorige paar verse, 3:11-13, hy reeds die twee onderwerpe aangeroer het, sowel as die onderwerp van die wederkoms, waaroor hy vanaf vers 13 gaan praat.  Maar dat hy dit daar as ’n gebed vir die Here aanbied: mag hulle liefde vir mekaar groei, en mag hulle heilig leef, tot by die dag van Christus.

Nou gaan hy oor tot sy aansporing, nadat hy dit eers as gebed vir die Here gegee het.

1. Onsedelikheid (porneia – die woord word hier heel algemeen gebruik vir seks buite die huwelik) was geen probleem in die Griekse wêreld nie, anders as in die Joodse wêreld, aangevuur deur losbandige praktyke by die tempels.  Paulus spoor hulle egter aan om persoonlik[1] en in hulle huwelikslewe met selfbeheersing (“weerhou julle van”) en integriteit (“nie te buite gaan” en “niemand bedrieg nie”) op te tree.  Ons hoor hierin die besluite van die “sinode” van Jerusalem weerklink (Hand 15:29).  Maar sy oproep is nie maar net ’n morele of Joodse lewensles wat hy hulle gee nie.  Dit is God se wil vir hulle.  Hierop sou hy nog verder uitbrei in sy briewe aan die Korintiërs (1 Kor 5:1; 6:12-20)

2.  Let hoe hy die liefde vir mekaar nie as ’n gevoel vir of selfs diensbaarheid aan mekaar uitspel nie.  Hulle moet mekaar liefhê deur hulle met hulle eie sake besig te hou, en self in hulle lewensonderhoud te voorsien.  Hierdie oproep het implikasies vir die manier waarop die gemeente funksioneer, sowel as vir hulle getuienis na buite.  Hulle moet deur hulle eerbare leefwyse die agting van mense buit die gemeente afdwing.  Dit het ook ’n direkte positiewe gevolg vir hulleself.  Hulle sal van niemand afhanklik wees nie.

Let op dat Paulus nie met hulle oor die gevaar van rykdom praat nie, want die gemeente was arm.  Daarom moes Paulus self in sy lewensonderhoud voorsien, waartoe die gemeente in Filippi ook bygedra het.  Maar hy skryf aan die Tessalonisense oor selfvoorsiening sodat hulle nie van iemand anders afhanklik sou wees nie.  Trouens in sy tweede brief sal hy hulle waarsku om nie leeg te lê en op ander te teer nie (2 Tes 3:7-12).

In vers 13-18 brei Paulus waarskynlik uit oor vrae oor die opstanding uit die dood wat hulle aan Timoteus gevra het.  Dit wil voorkom asof sommige gelowiges depressief geraak het oor die lot van hulle geliefdes na hulle dood.  Dit kan selfs wees dat van dié sterftes weens die vervolging was.  Let op hoe Paulus die feit van die opstanding van Jesus gebruik om nie net vir hulle die regte lering oor die opstanding te gee nie, maar hulle ook te troos en met hoop te laat lewe.

In kort, sê Paulus, die ontslapenes is by die Here, en aan die einde van die tyd sal hulle wat dan nog lewe ook by die Here wees.  Dit val my op dat hy nie oor die presiese prosesse uitwei waardeur dit alles sal gebeur nie, maar hulle troos met die teenwoordigheid van God self:

“En so sal ons altyd by die Here wees.” (4:17)

Op ‘n manier is dit die somtotaal van alles in die lewe, om by die Here te wees. En dit is ook my troos vir vandag, en elke dag.


[1] Die woord skeuos wat hier in vers 4 met vrou vertaal word, beteken letterlik “houer” (vessel), en word meesal met liggaam vertaal (bv. 2 Kor 4:7).  Dit dui dus eerder op die (seksuele) beheersing van ’n mens se eie liggaam (vgl NIV en NKJV wat so vertaal; vgl ook 1 Sam 21:5 waar die Hebreeuse woord in die LXX met skeuos vertaal word waar dit duidelik op liggaam dui), hoewel die volgende opdrag van Paulus dat hulle hulself nie te buite moet gaan nie, en niemand anders moet benadeel nie, wel op die huwelik kan dui. Daarom kies ek om van persoonlike selfbeheersing en integriteit te praat sowel as in die huwelikslewe. In 1 Pet 3:7 word die woord skeuos wel gebruik in die betekenis van vrou, soos die konteks duidelik aantoon.

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.