Bybelskool

Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei.

I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (4)

  • Avatar

    Kelly Alexandeer

    |

    Hi Chris,

    Ek hoop dit gaan goed met jou.

    My vragie is nie te doen met Numeri nie. My vragie is iets wat ons in die huis bespreek het, maar ons familie kan nie op n antwoord afkom nie. Hoop jy kan n bietjie lig bring.

    So ons vraag is: God het vir Adam gemaak, en daarna het hy vir Eva gemaak vir Adam, toe hulle gemeenskap het was dit n sonde en God het hulle gestraf. Hoekom was dit n sonde? Is Eva dan nie gebond aan Adam en was hulle dan nie sielsgenote nie? Was hulle ook dan nie getroud nie?

    Baie dankie,

    Ons sien uit na jou terugvoering.

    Reply

    • Avatar

      Chris van Wyk

      |

      Hi Kelly. Ek is bly om te sien dat julle in die huis hieroor gesels!

      God het aanvanklik vir Adam ‘n maat gemaak, Eva, wat vir hom ‘n “helper” moes wees. Daarmee word sy ‘n “indispensible companion” (NET Bible), iemand wat hulle eenheid meer maak as die somtotaal van hulle individualiteit. Eva komplementeer Adam, en hy natuurlik ook vir haar, waarsonder hulle nie vrugbaar kan wees en aan hulle doel kan beantwoord om die aarde te bewoon, bewerk en bewaar nie.

      Eva is Adam se “gelyke”, maar nie as ‘n presiese replika nie, eerder as ‘n “counterpart” – in Afrikaans “eweknie” – sy komplementerende teenoorgestelde. Om dié gedagte te onderstreep, word Eva uit die “ribbebeen” van Adam gemaak is. Dit is die enigste plek in die Bybel waar dié woord gebruik word. In buite-Bybelse bronne word die woord bv. in argitektuur gebruik – “een kant” van ‘n paar (bv. suide-kant vs. noorde-kant, bo-kant vs. onder-kant). Hulle is daarom “helftes” van hulle eenheid met mekaar.

      Hierdie idee lê waarskynlik agter die populêre siening waar van ‘n mens se man of vrou as ‘n “wederhelf” of in die geval van ‘n man se vrou as sy “beter helfte” gepraat word!

      Hulle is deur God in ‘n argetipe huwelikseremonie verbind. God, die “pa” in die gebeure, gee die vrou aan die man – ek sien Hom eintlik in die paadjie afstap met die bruid aan sy arm om haar te oorhandig aan die bruidegom wat opgewonde staan en wag – en skep só die moontlikheid van vrugbaarheid sodat die tuin en aarde bewoon, bewerk en bewaar kan word.

      Hulle was dus “getroud” in die sin dat God hulle vir mekaar as man en vrou gegee het, soos Jesus ook daaroor gesels in Matteus 19.

      Hulle sonde het egter nie in gemeenskap gelê nie. Hulle was vry om mekaar te geniet. Hulle sonde lê in die eet van die vrug wat verbode was.

      Die vrou val vir die versoeking en verlei haar man om saam met haar te sondig. Lees weer in Genesis 3 hoe die boom se vrugte op drie maniere aantreklik was vir haar. Dit was “goed om te eet” – d.w.s. dit was op fisiese vlak ‘n versoeking. Dit was “mooi om na te kyk” – d.w.s. dit het haar op estetiese vlak bevredig. Dit was ook “begeerlik omdat dit kennis kan gee” – d.w.s. dit was op intellektuele vlak uiters stimulerend. Selfs vandag nog die basiese bestanddeel van elke liewe versoeking.

      Met haar optrede word sy die eerste rebel, die een wat in opstand kom teen God en sy goeie bedoelings met haar en sy skepping. Die man val ook vir die versoeking en eet saam met haar van die vrugte, maar begaan daarmee eintlik ‘n groter sonde – as ‘n mens só ‘n onderskeid sou kon tref – want hy het in die eerste plek die opdrag gekry om nie van die boom van alle kennis te eet nie, en het sy rol as beskermer en bewaarder nie net van die tuin van Eden, maar ook van sy vrou in hulle gelyke vennootskap gefaal.

      Die sonde van die tuin word dus in die eerste en laaste instansie met Adam self geassossieer, soos Paulus later in Romeine sou argumenteer. In Adam het die hele menslike geslag gesondig. Die effek op Adam en Eva is onmiddellik sigbaar in hulle verhoudings. Hulle word skaam vir mekaar. Hulle word skaam vir God. Skuld verplaas die onskuld in hulle bewussyn van hulleself en hulle plek in hierdie wêreld. En hulle verbeur die voorreg van die Metgesel wat hulle in alle wysheid wou begelei … totdat Jesus as Begeleier na die lewe op die toneel verskyn.

      Lees meer hieroor in my hantering van Genesis by http://www.bybelskool.com/genesis.

      Reply

      • Avatar

        Kelly Alexander

        |

        Hi Chris,

        Baie dankie vir jou verduideliking, ons waardeur dit.

        Ek lees wat jy se, en wat ek kan aflei is dat “seks” dan nie die verbode vrug was nie. Wat was die verbode vrug dan?

        As hulle getroud was, soos jy se, kan seks nie die verbode vrug wees nie. So watter sonde kon hulle pleeg om skaam te word vir mekaar en vir God?

        Reply

        • Avatar

          Chris van Wyk

          |

          Hulle sonde was dat hulle geëet het van die boom van die kennis van goed en kwaad. Dit beteken dat hulle onafhanklik van God wou besluit wat goed is en wat sleg. Hulle sonde was dus opstand teen God se wil en ‘n keuse om hulle eie kop te volg. Ek baseer dit op die volgende:

          1. Onthou dat die tuin van Eden in alle opsigte ‘n paradys was, nie net in terme van die oorvloed nie, maar ook in terme van die vryheid van geleenthede. Dit het gemeenskap ingesluit. Daar was net die een voorskrif: “Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy.” (Gen. 2:17). Dit is hierdie voorskrif wat hulle oortree. Die sonde lê dus nie in wat hulle presies gedoen het nie, maar in dat hulle dit gedoen het.

          2. Die interpretasies wat aan hierdie boom van alle kennis – letterlik: “die boom van die kennis van goed en kwaad” – verbind word, is baie uiteenlopend. Die interpretasie wat vir my die meeste sin maak, is dat God hiermee vir Adam en Eva ‘n voorskrif gee om hulle onderskeidingsvermoë van wat goed en kwaad is aan God self oor te laat. Hulle moet nie selfstandig probeer om sonder God se direkte insette in hulle lewe, hulle morele en spirituele keuses te maak nie. Die onderskeiding van wat reg en verkeerd is – alle kennis – moes hulle aan God oorlaat. In hulle verhouding met Hom sou hulle geweet het hoe om te leef.

          3. Die implikasie van hierdie enkele verbod is dat die mens van die boom van die lewe (2:9) mag geëet het, want dit word as een van die redes aangegee waarom die mens ná die sondeval uit die tuin geban word: “As hy nou maar net nie sy hand uitsteek en die vrug van die boom van die lewe vat en daarvan eet en altyd bly lewe nie!” (3:22). Hulle kies egter om eerder outonoom te wees en self te besluit wat reg en verkeerd is. Daarmee verbeur hulle ook die geleentheid om vir altyd te lewe, iets wat eers in Jesus Christus reggestel kon word.

          4. Lees meer oor die ersonde by hierdie skakel: http://bybelskool.com/die-erfsonde/

          Reply

Leave a comment

Onlangse kommentaar

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Sonja. Nee, Jeremia 10 verwys na die maak van afgode. Dit het niks met kersbome en versierings te make. Die Kersboom en sy versierings is eers lank daarna, en lank ná Jesus se geboorte self aan sy geboorte verbind. Aanvanklik was die ou kerkvaders baie negatief daaroor, Tertulianus bv. Lees meer by Christianity Today wat Edwin en Jennifer Woodruff oor die ontwikkelinge deur die eeue sê in hulle artikel Why do we have Christmas Trees?

  • Avatar

    Sonja

    |

    Naand Chris. Kan ek asb vra, die houtstomp wat afgekap en versier word in Jeremia 10, verwys dit na ons Kersbome en versierings? Die Jehova getuie haal daai gedeelte aan. Dankie Sonja

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Saartjie. Dankie vir die getuienis. Die Here bly getrou, selfs in die moeilikste omstandighede denkbaar.

  • Avatar

    Saartjie

    |

    Die Here kom gee vir ons as gesin verlede week Ps 91 en Hy weer ‘n plaasaanval af wat ons later hoor eintlik vir ons bedoel was. Net ‘n wonderwerk dat niemand seergekry het met 8 vermeende aanvallers wat met ander plaasmoorde en aanvalle verbind word. Vers 9 en 10 kry vir ons betekenis en ons rus in die wete dat as die Here jou toevlug is , as die Allerhoogste jou skuilplek is sal geen kwaad jou tref ,en geen ramp naby jou tent kom nie… Die getuienis van Corrie ten Boom het my so aangeraak .. Daarom deel ek hierdie ..net miskien iewers is iemand wat ook soos ek net hierdie Ps op hierdie oomblik nodig het…Vertrou God met jou beskerming!

  • Avatar

    Fanie van Emmenes

    |

    As ek bostaande lees, verbly ek my opnuut oor Jesus Christus en die geregtigheid wat deur die geloof in Hom ons deel word.
    Ek wil bykans saam met Retief Burger sing: Ek sien ‘n kruis——–.

  • Avatar

    Elsie Ceronio

    |

    Dankie vir die samestelling van so ‘n belangrike aspek vir my as christen om te weer te hoor dat daar twee kante is.
    Vrede

  • Avatar

    Ernst

    |

    Dankie Chris.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Leana. Jy kan die vorige Bybelboeke se bydraes lees by die Bybelboeke spyskaart item.

  • Avatar

    Leana Weyers

    |

    Baie dankie vir die inligting. Kan ek asb vra waar ek die boeke wat reeds behanel se inligting aflaai. Ek is nuut en wil graag daardie inligting inwin.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Ernst. Die vierde gebod word Bybelsgesproke deur twee goed gemotiveer.

    • Israel moes die sabbatdag vier, om hulle te herinner daaraan dat God alles goed gemaak het, soos Hy op die sewende dag gerus het na al sy werk aan die skepping (Eks. 20). Met die viering van die sabbatdag het hulle erkenning aan God gegee vir alles wat Hy gemaak het.
    • Israel moes ook die sabbatdag vier, om hulle te herinner daaraan dat hulle God se volk is, soos God hulle uit die slawerny van Egipte verlos het (Deut. 5). Met die viering van die sabbatdag het hulle erkenning aan God gegee vir die verlossing wat hulle in die regte verhouding met God gebring het.

    Die NT beskou die sabbatdag as ‘n skaduwee van wat sou kom. Die werklikheid is Christus. Dié wat dus in Christus is, vier hulle afhanklikheid van God elke dag, nie net op een dag nie. Hulle vier ook hulle rus van die sonde elke dag, nie net op een dag nie. Hulle het dus nie meer nodig om een dag bó ‘n ander te vier nie, hoewel hulle welkom is om dit te doen, en dit ‘n gesonde ritme van rus en werk kan skep. Niemand mag Christene egter voorskryf daaroor nie.

    Drie NT Skrifgedeeltes dra dié boodskap.

    • Paulus sê: “Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie. Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus. Moenie dat iemand wat behae skep in danige nederigheid en in die aanbidding van engele en wat voorgee dat hy allerhande visioene gesien het, julle daarmee mislei nie. So iemand verhef hom oor wat hy in eiewaan van homself dink, en hy hou nie aan die hoof, aan Christus, vas nie. Uit Christus groei die hele liggaam, ondersteun deur die gewrigte en saamgebind deur die spiere, soos God dit laat groei.” (Kol. 2:16-19).
    • Paulus sê ook: “Aanvaar die een wat in die geloof swak is, sonder om met hom te stry as sy opvatting van joune verskil … Vir die een is een dag belangriker as ander dae; vir ’n ander is alle dae ewe belangrik. Elkeen moet net in sy eie gemoed oortuig wees van sy opvatting. Die een wat ’n bepaalde dag op ’n besondere wyse hou, doen dit tot eer van die Here … Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here. Hiervoor het Christus ook gesterf en weer lewend geword: om Here te wees van die dooies en die lewendes. Jy, waarom veroordeel jy dan jou broer? En jy, waarom verag jy jou broer? Ons sal tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn, want daar staan geskrywe: ‘So seker as Ek lewe, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal bely dat Ek God is.’ (Jes. 45:23). Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee.” (Rom. 14:1-12).
    • Die Hebreërskrywer skryf: “Daar wag dus nog steeds ’n sabbatsrus vir die volk van God, want elkeen wat in die rus van God ingaan, rus van sy werk, net soos God van Syne. Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan, sodat niemand hulle voorbeeld van ongehoorsaamheid navolg en ook omkom nie.” (Hebr. 4:9-11).

    Paulus het op sy sendingreise saam met die Jode die sabbatdag gevier in ‘n poging om die evangelie aan hulle te verkondig. (Hand. 13:42 44; 16:13; 18:4). Saam met die Christene het hy egter die eerste dag van die week gevier met nagmaal, in herinnering aan die kruisdood en opstanding van die Here Jesus, en die ander kerklike dinge, soos die insamelinge van die dankoffer, nagekom (Hand. 20:7; 1 Kor. 16:2).

    Dit lê agter die ontwikkeling in die Christelike kerk om op Sondag bymekaar te kom eerder as op die sabbatdag.

%d bloggers like this: