Skip to main content

Psalm 78 – Die raaisel van onbestendigheid

Dit is ’n lang Psalm, 72 verse. Om ’n mens te help om sin daarvan te maak, kan ‘n mens die Psalm as volg indeel om die retoriese krag van die Psalmis se onderrig te kan waardeer:

  • Die raaisel van onbestendigheid: vers 1–11
  • Eerste Herinnering oor vals bekerings wat niks verander nie: vers 12-39

o   Gebeure in die woestyn: vers 12–32

o   Versorging (vers 12–16)

o   Opstand (vers17–20)

o   Straf (vers 21–32)

o   Nadenke: vers 33–39

  • Tweede herinnering oor God se keuse van Dawid, die een met die opregte hart: vers 40-72

o   Van Egipte tot Kanaän: vers 40–64

o   Versorging (vers 40–55)

o   Opstand (vers 56–58)

o   Straf (vers 59–64)

o   Nadenke: vers 65–72

Die raaisel van onbestendigheid – vers 1-8

Die kommentator Tate noem hierdie Psalm “The riddle of God and Israel from Zoan to Zion.” (Word kommentaarreeks)  Daarmee tipeer hy die Psalmis se perspektief op die geskiedenis van Israel as ’n geheimenis (vers 2), ’n raaisel uit die verlede (2014 vertaling).  Terloops: Soan (vers 12, 43) is die plek in die Nyldelta in Egipte waar die Israeliete in slawerny was.   Sion (vers 68) is die berg waarop die tempel in Jerusalem gebou is.

Dat dié geskiedenis ’n raaisel is, word gekoppel aan die feit dat dit duidelik is dat Israel deeglike opdragte gehad het om die roemryke dade van God aan hulle kinders te vertel sodat die volgende geslag van sy mag en wonders kan weet.  Trouens dit was vasgevang in die wet wat aan die kinders bekend gemaak moes word, sodat daar regdeur die geslagte ’n getuienis van God onder die volk sou kon leef (vers 5).

Hierdie opdrag was bedoel om telkens die geheue van die volk oor God se teenwoordigheid in die verlede te verfris sodat hulle met insig en ontsag dit op hulle beurt aan hulle kinders en kleinkinders bekend kon stel.  Dit was en bly God se manier waarop vertroue en gehoorsaamheid verseker word vir die volgende geslagte sodat hulle die gevaar van afvalligheid kan vermy.

Dit was die perfekte plan om God se teenwoordigheid te vier en te verseker in hulle midde.  Helaas, hulle was opstandig en ongehoorsaam aan dié opdrag.  Hoekom?  Want hulle was mense sê die Psalmis: “wie se harte onbestendig was en wie se gees nie aan God getrou was nie” (vers 8 – 2014 vertaling).  Daar was fout met hulle innerlike verbondenheid aan God.

Omdat hulle daarom nie aan die verhouding met God verbonde gebly het nie, geweier het om te lewe soos Hy hulle geleer het en vergeet het van sy werke en wonderdade, het dit ’n uitwerking in hulle gemeenskapslewe gehad.  Hulle het gevlug in die gevegte met hulle vyande (vers 9-11).  Al was hulle goed gewapen en bedrewe met die boog, kon hulle nie staande bly in die oorlog nie weens hulle onbestendigheid.

En dít is ’n raaisel.  Dit behoort nie só te wees nie, nie met ’n volk wat op só ’n wonderlike wyse deur God begenadig is nie, vir wié Hy die perfekte plan gegee het en vir wie Hy op soveel wyses gesorg het deur dik en dun, soos die res van die Psalm gaan uitlê.

Eerste Herinnering oor vals bekerings wat niks verander nie: vers 12-39

In ’n lang relaas van die gebeure in die woestyn (vers 12–32) vertel die Psalmis van God se versorging (vers 12–16) met die wonderbaarlike trek deur die Rooi See, die voortdurende leiding deur ’n wolk bedags en die lig van vuur snags en die gawe van water in die woestyn.

Maar in plaas daarvan dat hulle Hom geëer het daarvoor, het hulle in opstand gekom teen die Allerhoogste (vers 17–20), gevra vir vleis en brood na hulle smaak.  Dit het God se toorn teen hulle laat ontbrand “omdat hulle nie in God geglo het nie en nie op sy verlossing vertrou het nie” (vers 22 – 2014 vertaling).

Daarom het God hulle gestraf (vers 21–32) met te veel brood en vleis.  Maar in hulle gulsigheid, wat eintlik geen perke geken het nie, het God se toorn hulle getref en “Hy het die vetstes onder hulle om die lewe gebring en die jongmanne van Israel op hulle knieë gedwing” (vers 31 – 2014 vertaling).  Die ergste was dat selfs dié straf hulle nie van gedagte laat verander nie.  Hulle het steeds nie aan sy wonders geglo nie: “sy wonderdade het vir hulle niks gesê nie” (vers 32).

Dit laat die Psalmis diep nadink (vers 33–39) oor die feit dat teenspoed blykbaar nie die gewenste uitwerking het in mense se lewe nie.  Daar is die aanvanklike terugkeer na die Here toe as daar ’n slagting is.  Maar só ’n bekering is te maklik vals.  Al is God genadig en al vergewe Hy, veral omdat Hy weet “dat hulle maar mense is, wind wat verbywaai en nie terugkom nie” (vers 39), baat dit die mense nie.  Hulle kry dit nie vanself reg om van binne af aan God verbind te bly nie.

Tweede herinnering oor God se keuse van Dawid, die een met die opregte hart: vers 40-72

In ’n verdere historiese relaas vertel die Psalmis die verhaal van Israel verder van Egipte tot in Kanaän (vers 40–64) en lê klem op God se versorging (vers 40–55) met die magtige plae in Egipte (1ste plaag – water in bloed; 3de en 4de plaag – muggies en steekvlieë; 2de plaag – paddas; 8ste plaag – sprinkane; 7de plaag – hael en vuur; 5de en 6de plaag – pessiektes en swere; 10de plaag – die dood van die eersgeborenes – Eks. 7-12) waarvan hulle nie net beskerm is nie, maar waardeur hulle verlos is van die verdrukking van Egipte.  Hulle is soos ’n kudde skape veilig uitgelei terwyl hulle vyande deur die Rooi See oorweldig is en uiteindelik in ’n land ingebring is waar hulle vyande voor hulle uitgedryf is.

Maar, hulle het weereens in opstand gekom teen die Allerhoogste (vers 56–58).  Hulle was so vals soos ’n onbetroubare wapen – ’n “slap boog” (2014 vertaling) – wat die Here vertoorn het.

Daarom het Hy hulle gestraf (vers 59–64) deur hulle die onderspit te laat delf in die oorlog by Silo (in die tyd van Eli) en die ark (sy “krag” en sy “heerlikheid” sê die grondteks in vers 60 – vgl. 2 Sam. 4:22: “die eer van die Here is weggevat uit Israel, want die ark van God is gevat.”) in ballingskap te laat wegvoer (1 Sam. 4).  Daar is nie sprake van die volk wat hier in ballingskap weggevoer is nie, soos die 1983 vertaling verkeerdelik vertaal nie, maar wel die ark.

Die toedrag van sake laat die Psalmis weereens diep nadink (vers 65–72).  En hy besef, dít is die verhaal uit die verlede wat regtig hoop kan bring.  Dit was asof die Here skielik uit ’n slaap wakker geword het – “die roes van wyn” sê die grondteks! – en besef het die oplossing lê in die keuse van ’n jong seun, Dawid, een met ’n “opregte hart” wat nie net sy volk met vaardigheid van hande (dink aan die slingervel wat Goliat neergevel het!) sal lei nie, maar die volk in ’n intieme verhouding met God sal oppas.

Boodskap van die Psalm
Die Psalm het ’n verrassende oplossing vir die raaisel van onbestendigheid.  En ken ons dit nie self nie!  Daardie geneigdheid tot die verkeerde; daardie roep tot God as dit sleg gaan; die vergeet van God as dit goed gaan … Die oplossing lê in opregtheid van hart, iets wat aan ons geskenk word.

Onthou hoe roerend Dawid dit gebid het: “Skep ’n rein hart vir my, o God, vernuwe ’n bestendige gees in my binneste.  Moet my tog nie wegdryf uit u teenwoordigheid nie; en moet nie u heilige Gees van my wegneem nie.  Laat my weer jubel oor u verlossing, laat ’n gewillige gees my ondersteun.” Ps. 51:12-14 (2014 vertaling).

En Paulus eggo dit in Fil. 2:12-13: ”werk met vrees en bewing aan julle verlossing.  Dit is immers God wat in julle werksaam is, sodat julle gewillig is en optree soos Hý dit goedvind.” (2014 vertaling).

Ons kan onsself beskikbaar stel vir God.  Ons kan ons toelê daarop om as verloste te leef, omdat God in ons werk en Hy die onbestendigheid kan wegneem en aan ons ’n rein hart kan skenk.

Ek gaan dié dag tegemoet met Dawid se gebed in Psalm 51: “Skep ’n rein hart vir my, o God.”

by Chris van Wyk


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar