Skip to main content

Deuteronomium 12 – Aanbid alleen die Here op die plek wat Hy uitkies en volgens sy voorskrifte

https://truthinmotion.wordpress.com /2013/06/20/word50/

Die woorde waarmee Deuteronomium 12 begin, lui die hele tweede deel van Moses se tweede preek in tot met die afsluiting daarvan in Deuteronomium 26.  “Hierdie voorskrifte en bepalings moet julle gehoorsaam in die land wat Jahwe aan julle gegee het …”  Die inhoud daarvan kan in drie hoofdele verdeel word:

  1. Voorskrifte vir die kultus en die gemeenskap: die plek van aanbidding, die persoonlike afkeur van ander gode en dié wat jou daartoe kan verlei, die onderskeid tussen rein en onrein, tiendes elke jaar wat elke derde jaar vir die Leviete bedoel was (vgl. Deut. 26:12-19), die hantering van skuld, slawe, eerstelinge en die viering van drie van die feeste – Deut. 12-16:17;
  2. Voorskrifte vir leiers en die gemeenskap: regspraak, die publieke hantering van mense wat ander gode dien, godsdienstige uitsprake by die heiligdom deur die priesters, uitsprake deur die koning, voorregte vir priesters en Leviete, die afskaffing van afskuwelike Kanaänitiese praktyke, en gehoorsaamheid aan die profeet wat die Here vir hulle sal gee – Deut. 16:18-18:22;
  3. Voorskrifte vir allerlei ander dinge in die gemeenskap: asielstede, grenslyne, getuies, oorlog, moord, huwelik, doodstraf, sosiale gebruike, godsdienstige gebruike, maatskaplike gebruike, egskeiding en hertrou, onderlinge verhoudinge, swaershuwelik (leviraat), billikheid in regspraak, uitwissing van die Amalekiete, eerstelinge van die oes, en tiendes elke derde jaar vir die Leviete – Deut. 19-26.

Die voorskrifte en bepalings wat God vir sy volk gee, is nie iets wat net vir ‘n tyd lank bedoel is nie.  Dit is bedoel vir hulle hele lewe.  Dit is die voorskrifte waarvolgens hulle: “hier op aarde moet lewe in die land wat die Here die God van julle voorvaders aan julle gegee het om in besit te neem.”  Die voorskrifte is die basis van die ooreenkoms tussen God en die volk.  In hulle nougesette gehoorsaamheid daaraan sou die verbond met God bevestig en in stand gehou word.

Wis die Kanaänitiese godsdienstige plekke en praktyke uit en moenie hulle navolg nie – Deut. 12:2-4

Die eerste opdrag aan hulle in terme van hulle aanbidding in die land is om nie by bestaande Kanaänitiese godsdienstige praktyke aan te sluit nie.  Hulle moet elke plek waar die Kanaänitiese gode gedien is ,vernietig.  Dit sluit alle plekke op die hoë berge, op die heuwels en onder elke groen boom in.  Die altare en klippilare moet afgebreek word.  Die gewyde pale moet verbrand word.  Die afgodsbeelde moet afgebreek word sodat elke teken van hulle bestaan uit die land uit verwyder word.  Die Here se verbod op die dien van ander gode is absoluut. Dit is selfs gemik teen die manier waarop die ander gode gedien is.

Dien die Here op die plek wat Hy uitkies volgens sy voorskrifte – Deut. 12:5-7

Die tweede opdrag vloei hieruit voort.  In stede van die baie godsdienstige plekke, talle gode, en verskillende heidense praktyke wat in Kanaän gevolg is, moes daar net op een plek en volgens een stel voorskrifte die Here God alleen gedien word.  Moses beklemtoon dus een heiligdom, en een God, die bevestiging van hulle monoteïstiese godsdiens.

Dit is die plek wat hulle moet besoek en waar hulle hulle offers, tiendes, en eerstelinge moet bring.  Veral die maaltydoffers sou groot feestelike familiebyeenkomste moontlik maak waar hulle die voorspoed wat die Here gee met vreugde en dankbaarheid kon vier.

Let op dat die plek se naam nie gegee word nie.  Dit word verbind aan die vestiging van God se Naam om daar te woon, dit wil sê, waar die tabernakel en die ark tot rus sal kom.  Die plek kon dus verander, soos die tabernakel en die ark inderdaad van plek tot plek geskuif is in die volgende paar eeue.  Maar, dit sou altyd aan die teenwoordigheid van die Here via die tabernakel en die ark verbind bly (vgl. Openb. 11:19 waar ‘n hemelse replika in God se teenwoordigheid is!).

Vir die dieperdelwers: die verbondsark was ná die Intog aanvanklik in Bet-El gehuisves, die heiligdom wat met Jakob geassosieer is (Rigt. 20:27).  Daarna in Silo waarvandaan Sameul opgetree het (1 Sam. 4:3).  Dit was ‘n kort rukkie in Filistynse gebied voordat dit in Kirjat-Jearim (Baäla) ‘n staanplek gekry het 13 km noord van Jerusalem (1 Sam. 7:2; 1 Kron. 13:6).

Eers amper 400 jaar later in die tyd van Dawid (1010 – 970 v.C.) sou Jerusalem die enigste plek word.  Dawid het die ark op bevel van die Here na Jerusalem gebring (2 Sam. 6) waarmee die Here Jerusalem as die plek wat Hy uitgekies het, aangewys het (2 Sam. 7).

Moenie die Here aanbid waar jy wil nie, maar slegs in sy teenwoordigheid – Deut. 12:8-27

Moses sluit in die derde plek aan by die feit dat hulle steeds op reis is en eers ná die uitdagende tyd van die Intog en in besit name van die land afgehandel is, waarlik tot rus sal kan kom.  Dié vloeibare tyd moet hulle nie verlei om ‘n eie aanbiddingsplek te skep wat verdeeldheid sou kon skep in hulle onderlinge gemeenskap en hulle aan die gevaar van ander godsdienste of ten minste ‘n eie weergawe daarvan kon blootstel nie.  Die sentrale plek van aanbidding was ook ter wille van die Leviete wat sou lewe van al die gawes wat die ander Israeliete na die tabernakel sou bring.

Moses herhaal ook die verbod van offers op ander plekke, selfs al sou hulle dit vir die Here doen.  Die gevaar van afvalligheid was net te groot.  Offers moes net in die teenwoordigheid van die Here gebring word, dit wil sê, waar die tabernakel en die verbondsark was.

Dit het uiteraard nie gegeld vir die kos wat hulle vir eie gebruik geslag het nie.  Die normale reinheidsreëls het wel gegeld, soos in Deuteronomium 14 weer uitgespel sal word.

In die NT sou Jesus hieraan ‘n beslissende verandering bring.  In sy gesprek met die Samaritaanse vrou dui Hy alreeds aan dat dit nie meer oor ‘n plek sal gaan in aanbidding nie, maar oor die Persoon wat ons aanbid, die Messias, Jesus Christus (Joh. 4:19-26).  Daar was ook nie meer offers nodig nie, want sy soendood aan die kruis was ‘n eenmalige en voldoende offer vir almal wat in Hom glo (Hebr. 10:14).

Daarom skuif die plek van aanbidding ook van Jerusalem en sy tempel na die gelowiges as sodanig (1 Kor. 3:16; 6:19), sowel as die gelowiges in gemeenskap met mekaar (2 Kor. 6:16; Ef. 2:21).  Uiteindelik is die Here natuurlik self die tempel, soos Openbaring 21:22 dit uitspel!

Gehoorsaam al die gebooie, dan sal dit vir altyd goed met julle gaan – Deut. 12:28-32

Moses som die voorskrifte rondom aanbidding af met ‘n helder oproep tot gehoorsaamheid aan al die gebooie van die Here.  Dan sal dit vir altyd goed met hulle gaan.  Hulle moenie doen wat goed en reg is in hulle eie oë nie, net wat goed en reg is in die oë van die Here, hulle God.

Hulle moet ook op geen manier hulle blootstel aan die verleiding van die afgode van die land nie.  Hulle moenie eers uitvra na die gode nie, vir in geval hulle daardeur in ‘n valstrik gelei word om op dieselfde manier as die Kanaäniete by afskuwelike praktyke soos kinderoffers betrokke te raak nie: “Die Here haat dit alles.”

Daar is net Een Bevelgewer, en dit is die Here: “Elke gebod wat ek julle beveel het, moet julle gehoorsaam en daarvolgens moet julle lewe; julle mag daar niks bysit en niks daarvan wegvat nie.”

View all posts in this series

Deuteronomium


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar