Deuteronomium 4:44-5:33 – Julle moet hierdie wet leer, gehoorsaam en daarvolgens lewe

https://truthinmotion.wordpress.com /2013/06/20/word50/

In die tweede preek van Moses spel hy nou die stipulasies van die verbond uit soos dit in ander Ou Nabye Oosterse verdrae ook gedoen is.  “Dit is die wet …” lei dus die hele gedeelte van Deuteronomium 5 tot 26 in.  Dit is dieselfde wet met sy verordeninge, voorskrifte en bepalings wat Moses reeds by Sinai aan die eerste generasie Israeliete gegee het met die Uittog uit Egipte en wat nou weer aan die tweede generasie oorgedra word.

Deur die Tien Gebooie te herhaal trek Moses doelbewus die tweede generasie in met die opdrag om hierdie wet te leer, dit te gehoorsaam en daarvolgens te lewe.  Persoonlike gehoorsaamheid bly die enigste manier waarop in die verbondsverhouding met die Here volhard kan word.

Die Tien Gebooie van die eerste generasie van die Uittog is steeds geldig vir die tweede generasie van die Intog – Deut. 4:44-49

Vers 44-46 is nie so helder vertaal in die NAV nie. Dit moet eerder soos in die oorspronklike Hebreeus vertaal word: “44Dit is die wet wat Moses aan die Israeliete voorgehou het –  45wat Moses meegedeel het aan die Israeliete by hulle uittog uit Egipte – 46oorkant die Jordaan” Vers 45 is ‘n parentese wat vers 44 onderbreek waarna vers 46 die gedagtegang van vers 44 voortsit.  Die punt is dat die wet wat Moses nou aan hulle voorhou dieselfde wet is as wat hy veertig jaar terug aan die volk by Sinai voorgehou het,

Daarmee trek Moses in sy preek ‘n helder verband tussen die wet wat op Sinai (Horeb) gegee is en die wet wat nou weer aan die tweede generasie herhaal word.  Net so seker as wat die Here vir hulle die grondgebied van koning Sihon en Og van die Amoriete in besit laat neem het in vervulling van sy belofte, net so seker bly die wet van die verbond op hulle van toepassing.

Julle moet hierdie wet leer, gehoorsaam en daarvolgens lewe – Deut. 5:1-5

Soos die Here met die eerste generasie van die Uittog by die berg van God ‘n verbond gesluit het daarmee, só sluit Hy dit ook daarmee met die tweede generasie van die Intog.  Moses herinner hulle aan die ontsag wat Hy tóé daarmee ingeboesem het.  En die Tien Gebooie is steeds die hart daarvan.  Hierdie wet moet geleer, gehoorsaam en gelewe word.

Wat verwag God van hulle in die wet?  Dat hulle God sal liefhê bó alles en hulle naaste soos hulleself. Wat God verbied, mag hulle nooit doen nie.  Wat God gebied, moet hulle altyd doen. God verwag persoonlike, volkome, noukeurige en volhardende gehoorsaamheid aan die wet.  Die wet is immers in ooreenstemming met die genade van die evangelie, soos ons uit die NT weet.

Die Tien Gebooie bly steeds die wet van die verbond – Deut. 5:6-21

Die Tien Gebooie is die hart van Moses se tweede preek, trouens van alles wat hy hier aan die einde van sy lewe vir die volk deurgee.  Die Tien Gebooie bly steeds die wet van die verbond, want dit is die hart van die openbaring van God.  Soos Craigie sê: “The law of the covenant expresses the love of God and indicates the means by which a man must live to reflect love for God.” (The Book of Deuteronomy).

Die Tien Gebooie word in twee helftes opgedeel (soos in Eks. 20) wat nie net ‘n raamwerk gee waarbinne die verhouding met God en die verhouding met die naaste tot sy reg kan kom nie.  Die twee kante van die wet gee ook antwoorde op die probleem van die “sondeval” van Genesis 3 waardeur die verhouding met God verbreek is, sowel as ‘n antwoord op die probleem van die “broedermoord” van Genesis 4, waardeur die verhouding met die naaste verbreek is.

Die beskrywing van die liefde vir God (eerste tafel se vier gebooie) word saam met die beskrywing van die liefde vir die naaste (tweede tafel se ses gebooie) as fundamentele riglyn vir die volk gegee.  Dit was reeds die uitgangspunt vir die uitvoerige wetgewing van die boek Levitikus wat direk by die wet van Sinai en die boek Eksodus aangesluit het.  Dit sal hier in Deuteronomium ook die uitgangspunt vir die verdere beskrywing van die verbondstipulasies in Deuteronomium 5 tot 26 wees.

Jesus gebruik presies dieselfde raamwerk in die NT en verklaar as riglyn vir die NT kerk dat die hele wet en die profete – d.w.s. die hele OT – opgesom kan word in die dubbele liefdesgebod teenoor God en ons naaste (bv. Matt. 22:34-40).  In die res van die NT kan ‘n mens telkens hierdie beklemtoning agterkom, soos Paulus doelbewus doen in Romeine 13, en Johannes hom in 1 Johannes 4 daarin navolg, om maar net twee uitstaande voorbeelde te noem.

Ek het reeds uitvoerig oor die wet geskrywe, sowel as die wyse waarop dit in die NT hanteer word en die geldigheid daarvan ook vir vandag.  Jy kan meer daaroor lees by hierdie skakel: Eksodus 20 – Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het.

Eerste gebod – Moenie ander gode aanbid nie

Die eerste gebod in Deuteronomium 5:7 (Eks. 20:3) is die verbod op ander gode.  Dit beteken dat God niemand duld wat langs Hom aanbid en vereer word nie.  Alle afgodery word daarmee verbied. Die Here verwag dat daar net met Hom as die ware God in ‘n verhouding getree mag word.  Sy weë moet ten alle koste leer ken word, want dit is net Hy alleen wat vertrou kan word met die lewe. Daarom moet die Godsvolk Hom met hulle hele hart liefhê, vrees en eer, soos die Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 94 dit uitlê.

Tweede gebod – Moenie afbeeldings van God aanbid nie

Die tweede gebod in Deuteronomium 5:8-10 (Eks. 20:4-6) verbied die maak van enige afbeelding wat as God of in sy plek aanbid of vereer word.  Jahwe is ‘n jaloerse God wat onverdeelde trou aan Hom van sy mense eis. Gehoorsaamheid sal geseën word, en ongehoorsaamheid gestraf word.  Die uitwerking daarvan sal in die geslagte gesien kan word.

Derde gebod – Moenie God se Naam met disrespek hanteer nie

Die derde gebod in Deuteronomium 5:11 (Eks. 20:7) verbied enige misbruik van God se naam.  Sy naam mag nie onteer word deur Hom te laster of te vloek nie.  Sy naam mag ook nie misbruik word tot eie voordeel nie deur bv. ‘n valse eed in sy Naam te maak nie.  Dit sluit dus onnodige eedswering uit.  Sy Naam van God moet met vrees en eerbied gebruik word, “sodat Hy deur ons reg bely, aangeroep en in al ons woorde en werke geprys kan word”, soos die Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 99 dit uitlê.

Vierde gebod – Vier die rusdag vir God

Die vierde gebod het te make met die hou van die Sabbatdag, soos dit in Deuteronomium 5:8-11 (Eks. 20:8-10) gebied word.   Interessant is dat die motivering in Eksodus begrond word in die feit dat God die hemel en aarde gemaak het (vgl. Psalm 146:6) en in Deuteronomium in die feit dat Hy hulle uit Egipte verlos en uitgelei het. Ek het al voorheen in Eksodus hieroor geskryf en gaan dit nie weer hier herhaal nie.

Vyfde gebod – Eer jou ouers

Die vyfde gebod in Deuteronomium 5:16 (Eks. 20:12; vgl. ook Eks. 21:17 en Lev. 20:9) gebied kinders om hulle ouers te eer.  Om hulle te eer, beteken om aan hulle “gewig” te gee.  Dit beteken dat ‘n mens jou vader en moeder, maar ook: “almal wat oor my gestel is, alle eer, liefde en trou bewys”, soos die Heidelbergse Kategismus in vraag en antwoord 104 dit uitspel.

Aan die een kant beteken dit verder dat ‘n mens jou: “Aan hulle goeie leer en tug … met die verskuldigde gehoorsaamheid onderwerp.” Aan die ander kant beteken dit ook dat ‘n mens ook: “met hulle gebreke geduld moet hê, omdat God ons deur hulle wil regeer.

Sesde gebod – Moenie moord pleeg nie

Die gebod om nie moord te pleeg nie word in Deuteronomium 5:17 (Eks. 20:13) gegee.  Dit word op talle maniere in die res van Deuteronomium (vgl. ook Levitikus) prakties uitgespel.  Dit sluit in dat ‘n mens nie jou naaste mag onteer, haat, of beledig nie, want dit kom op dieselfde neer, dat ‘n mens só ‘n persoon “doodmaak”.

Sewende gebod – Moenie egbreuk pleeg nie

Die gebod om nie egbreuk te pleeg nie word in Deuteronomium 5:18 (Eks. 20:14) beskryf en verder bespreek in Deuteronomium (vgl. ook die verbondsboek in Eksodus sowel as in Levitikus).  Dié verbod is nie net op die huwelik gemik nie, maar op alle onkuisheid ook buite die huwelik.

Agste gebod – Moenie steel nie

Die gebod om nie te steel nie word in Deuteronomium 5:19 (Eks. 20:15) beskryf en werk met die gedagte dat God die voorsiener is van alles wat sy mense nodig het.  Daarom hoef hulle nie hulleself te verryk deur van iemand anders te vat wat nie aan hulle behoort nie.  God verbied daarom nie slegs die diefstal en roof wat daarmee gepaard gaan nie, maar ook: “al die skelmstreke en liste waardeur ons probeer om ons naaste se besittings in die hande te kry.” (HK vr. en antw. 110).

Dit kan gebeur met geweld of ‘n skyn van reg, soos deur die vervalsing van gewigte, lengtemaat, inhoudsmaat, goedere, geld, woeker of enige middel wat God verbied en in Deuteronomium (vgl. ook Levitikus) verder uitgespel sal word. God verbied hiermee ook alle gierigheid en alle misbruik en verkwisting van sy gawes.

Negende gebod – Moenie valse getuienis lewer nie

Die gebod om nie valse getuienis teenoor jou naaste te lewer nie word in Deuteronomium 5:20 (Eks. 20:16) beskryf.  Dit beteken dat ‘n mens niemand se woorde mag verdraai en teen hom mag gebruik nie.  Dit sluit in dat jy nie ‘n kwaadprater of lasteraar mag wees nie, sodat niemand onverhoord en ligtelik veroordeel sal word nie.  Alle vorme van lieg en bedrieg word hiermee afgewys, nie net in die reg nie, maar in alle handelinge.  Die waarheid moet met opregtheid omhels word sodat jy ook jou naaste se eer en goeie naam na jou vermoë sal verdedig en bevorder, soos die Heidelbergse Kategismus in vraag en antwoord 112 uitspel.

Tiende gebod – Moenie begeer nie

Die verbod op begeerte word in Deuteronomium 5:21 (Eks. 20:17) beskryf.  Dit sluit selfs die geringste begeerte of gedagte teen enige gebod van God wat in ons hart opkom.  Dit is dus ‘n gepaste afsluiting van die Tien Gebooie.  “Ons moet altyd en heelhartig vyande van alle sonde wees en ‘n begeerte tot alle geregtigheid hê”, soos die Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 113 dit vir ons uitspel.

Doen nougeset alles wat die Here julle beveel – Deut. 5:22-33

Die persoonlike karakter van die Tien Gebooie word, soos in Eksodus 20, onderstreep, hoewel Moses hulle herinner daaraan dat dit by die eerste generasie nie net ontsag ontlok het nie, maar ook vrees.  Hulle het daarom verkies om liewer na Moses te luister en te doen wat die Here hom verder beveel het.

Die Here, sê Moses, het geweet dat dit eintlik problematies sou wees.  Hy het wel ingestem dat dit só kan werk, maar daarby gesê: “Ag, as hulle maar so ’n hart gehad het om My te vrees en al my gebooie altyd te onderhou, dat dit met hulle en hul kinders vir ewig goed kan gaan.” (Deut. 5:29 – OAV).

Dit is waarom Moses verder aan in die preek hulle sal aanraai om hulle hart te besny (Deut. 10:16) – wat eintlik beteken dat hulle die Here toelaat om dit te doen (Deut. 30:6) – want die Here verwag dat hulle Hom sal liefhê bó alles en hulle naaste soos hulleself. En dit kan net vanuit ‘n hart wat deur God verander is, gedoen word.

Dit is só ‘n hart wat in staat is om wat God hier verbied nooit te doen nie; om wat God hier gebied altyd te doen; om God se verwagtinge persoonlik, volkome, noukeurig en volhardend te gehoorsaam.

Dan sal hulle kan wandel in die weë wat hierdie wet vir hulle uitspel en nougeset doen wat die Here hulle beveel: “sodat julle kan bly lewe en voorspoedig kan wees en lank kan woon in die land wat julle in besit sal neem.” (Deut. 5:33).

Hierna spel Moses die verdere implikasies van hierdie wet en sy voorskrifte van hoofstuk 6 tot 11 verder uit waarin hy uiteraard sal begin met die opdrag om die Here lief te hê bo alles (Deut. 6:5).  Die ander meer spesifieke bepalings sal in die tweede helfte van die preek van hoofstuk 12 tot 26 aan die orde kom.

View all posts in this series

Deuteronomium


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Francois Conradie

    Ds,
    Julle moet hierdie wet leer, gehoorsaam en daarvolgens lewe – Deut. 5:1-5. Laaste sin van jou skrywe:
    “Die wet is immers in ooreenstemming met die genade van die evangelie, soos ons uit die NT weet.”
    Verduidelik asseblief hierdie stelling bietjie meer volledig.
    Dankie

    • Hi Francois. Ek het reeds geskrywe oor die vraag of die wet van God nog geldig bly vandag. Jy kan dit as ‘n inleiding lees. Ek het ook die wyse waarop die wet in ons belydenisskrifte hanteer word, ondersoek wat jy vir nog dieper delf, kan gebruik. Die NGB (artikel 25, 34) sê bv. dat ons die getuienis van die wet gebruik om ons in die evangelie te bevestig en ook ons lewe in alle eerbaarheid tot eer van God en volgens sy wil in te rig. Dit is die hart van my oortuiging. Ek gaan verder om daar te skryf:

      1. Aan die een kant word Jesus Christus dus as die einde van die wet beskryf waardeur die gebruik van die seremonies en heenwysings van die wet afgeskaf is.
      2. Daar word aan die ander kant egter ook geleer dat die waarheid en inhoud daarvan in Christus Jesus bly bestaan, omdat dit in Hom ‘n vervulling gekry het. Die getuienisse van die wet (en die profete) kan daarby nog steeds gebruik word om ons in die evangelie te bevestig en ons lewe in eerbaarheid en tot God se eer en volgens sy wil in te rig.

      Hierdie siening is onder andere gebaseer op Jesus se woorde in die Bergrede in Matteus 5:17-18: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry. Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder vergaan as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is.”, en Paulus se uitleg van die wet in 1 Timoteus 1:8-11: “Maar ons weet dat die wet goed is wanneer iemand dit op die regte manier gebruik … Dit stem ooreen met die evangelie van die heerlikheid van die lofwaardige God, wat aan my toevertrou is.”

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: