Skip to main content

Inleiding

https://truthinmotion.wordpress.com /2013/06/20/word50/

Die tweede generasie kamp in die vlakte van Moab.  Hulle is gereed om die beloofde land Kanaän in te neem.  Moses het egter aan die einde van sy reis as leier met die volk gekom.  Net voordat hy sterwe, lewer hy daarom drie laaste “preke” om die volk voor te berei vir die Intog.  Hy het dit, saam met al die vorige woorde van God: “tot die laaste woord toe, in ’n boek opgeteken”, en vir die Leviete gegee om in die Tabernakel by die verbondsark te bewaar as getuienis van God self aan die volk (Deut. 31:24).  Daarom word die boek in Hebreeus: “Hierdie is die woorde” genoem.

Na sy dood op die berg Nebo sou Josua die volk verder lei die beloofde land in met hierdie wetboek as rigsnoer: “Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees.” (Jos. 1:8).

Die drie toesprake van Moses vorm die inhoud van die boek Deuteronomium wat daarmee die vyf boeke van die Pentateug afsluit.  Moses fokus in hierdie drie boodskappe op die impak van die verlede, hede en toekoms op die volk.  Dit verskaf ‘n teologiese raamwerk waarbinne Israel nie net hulle identiteit as volk van God kan begryp nie, maar hulle absolute lojaliteit aan die Here as Verbondsgod kan verseker.  Dit sou die lamp vir hulle weg en die lig op hulle pad wees (Ps. 119:105).

Moses begrond sy boodskappe in die genade van God wat sy beloftes vir die geloofsgemeenskap in vervulling sal bring.  Hierdie genade van God sal vir hulle die lewe beteken as hulle aan God gehoorsaam is.  Ongehoorsaamheid sal egter die oordele van die verbond oor hulle bring.

Met hierdie begronding van God se seën in ‘n oorsaak-gevolg skema stempel Deuteronomium die geskiedenis van Israel in die beloofde land, soos veral hierna in die sogenaamde Deuteronomistiese Geskiedwerk – Josua, Rigters, 1 en 2 Samuel, 1 en 2 Konings – beskryf sal word.  Gehoorsaamheid aan God sou met die keur van sy seëninge begroet word. Ongehoorsaamheid aan God sou hulle blootstel aan die trauma van sy strawwe wat uiteindelik in die oordeel van die onderskeie ballingskappe sou uitmond.

Continue reading

Begronding van die boodskap van die NT

https://truthinmotion.wordpress.com /2013/06/20/word50/

Dit bly bevredigend en bemoedigend om die diep begronding van die NT in die boodskap van die OT te sien.  Nie net word die OT ekstensief aangehaal in die NT as begronding van die boodskap van die NT nie, maar elke boek in die NT vertoon ‘n vertroudheid met en verankering in die teologie en metafore van die OT.  Dit versterk ons vertroue op die samehang van die boodskap van die hele Bybel.

Dit geld ook die boek Deuteronomium.  Al die Evangelies haal uit Deuteronomium aan in hulle beskrywing en verwoording van Jesus se bediening, soos dit ook die geval is by die ander skrywers van die NT in hul briewe aan die gelowiges.

Trouens, in die evangelies gebruik Jesus nie net direkte aanhalings uit Deuteronomium in sy bediening nie, maar skoei Hy waarskynlik sy laaste gesprekke met sy dissipels in Johannes 13-17 op die voorbeeld van Moses se toesprake in Deuteronomium 31-33.

Hier is ‘n seleksie van 25 voorbeelde van die gebruik van Deuteronomium om vir jou ‘n prentjie daarvan te gee ter versterking van jou vertroue in die boodskap vir jou lewe.

Continue reading

Hoe om Deuteronomium te lees

https://truthinmotion.wordpress.com /2013/06/20/word50/

Die Bybel moet ons lewe vorm. Daarvoor is dit nodig dat ons leer om die Bybel te leef terwyl ons dit lees. Daardeur hoor ons die stem van God in die Bybel, leer ons hoe om Jesus prakties te volg, en skryf die Gees ons in God se verhaal met die wêreld in.

Ek stel voor dat jy die volgende metodiek gebruik:

  1. LEES – Raak stil voor die Here. Dink na oor wat die afgelope 24 uur gebeur het. Dank God vir die goeie. Gee vir Hom die slegte.  Lees die teksgedeelte deeglik deur.  Wat tref jou?  Let op vir temas in die gedeelte.  Wat sê dit van God?  Wat sê dit van mense?  Wat sê dit van die wêreld?  Soek vir een of meer sleutel gedagtes wat jou besonderlik tref.  Skryf dit in jou joernaal neer.  Lees dan wat ek geskryf het en dink na oor wat jou daarin tref.
  2. LUISTER – Dink na oor wat God vir jou deur die sleutel gedagte(s) wil sê. Waar raak hierdie gedagte(s) jou lewe in die praktyk?  Wat vra dit van jou?  Wat belowe dit vir jou?  Wat moet jy dink of doen daarmee?  Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe?
  3. LEEF – Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed.  Skryf dit in jou joernaal.  Geniet Sy teenwoordigheid.  Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag.  Leef dit uit.

Die proses sal gou só deel van jou manier van lees word, dat jy dit eintlik outomaties sal kan doen: lees, luister, leef.

Deuteronomium 1 – Vertroue in en gehoorsaamheid aan die Here is onverhandelbaar

Ek herinner julle vandag eerstens aan die leesmetodiek soos ek dit gister geplaas het.  My bydraes sal baie meer waarde hê vir jou as jy dit navolg.  Begin dus met die eerste beweging, lees.

LEES

  • Raak stil voor die Here.
  • Dink na oor wat die afgelope 24 uur gebeur het.
  • Dank God vir die goeie.
  • Gee vir Hom die slegte.
  • Lees nou hoofstuk 1 deeglik deur.
  • Wat tref jou?
  • Let op vir temas in die gedeelte. Onderstreep dit as jy wil.
  • Wat sê dit van God?
  • Wat sê dit van mense?
  • Wat sê dit van die wêreld?
  • Soek vir een of meer sleutel gedagtes wat jou besonderlik tref.
  • Skryf dit in jou joernaal neer.
  • Lees dan wat ek hieronder geskryf het en dink na oor wat jou daarin tref.

Moses die profeet se woorde het Goddelike gesag – Deut. 1:1-5

https://truthinmotion.wordpress.com /2013/06/20/word50/

Moses tree as profeet op reg van die begin van die boek af.  Anders as in die Ou Nabye Oosterse verdrae se aanhef en historiese proloog is dit nie die woorde van die koning nie, maar dié van sy woordvoerder wat opgeteken word (Deut. 1-4).  Moses tree daarmee op as die woordvoerder van God wat sy wil op gesagvolle wyse bekend maak.

Abraham is natuurlik ook al ’n profeet genoem (Gen. 20:7), maar hier word Moses as die eerste van ’n reeks profete wat God se Woord aan die volk Israel bring aan ons voorgestel.

Moses verklaar die impak van die verlede as deel van God se voorskrifte vir die hede

Let op in vers 5 dat alles wat hy gaan sê as deel van die wet uitgespel word.  Moses het: “die wet begin verduidelik.”  Sy woorde in Deuteronomium, die verduideliking (die Hebreeuse woord bēʾēr beteken verklaring of uitleg) van die wet, dra dus dieselfde gewig as die voorskrifte wat God reeds gegee het in Eksodus tot Numeri, en het daarom Goddelike gesag.

Hiermee interpreteer Moses die verlede van God se handelinge met hulle van Sinaiberg af tot by die Jordaan en verklaar dit daarby as deel van sy voorskrifte aan hulle.  Alles wat met hulle gebeur het, die goed en die sleg, die wonders en die wroegings, het hulle geleer wat sy wil vir die lewe is. Moses se verklaring daarvan moes hulle die impak daarvan vir die volgende fase van God se plan met hulle laat begryp.

Continue reading

Deuteronomium 2 – God gee die land vir sy volk soos Hy eeue lank al vir ander nasies doen

Ek herhaal die opdrag van gister.  Gebruik die leesmetodiek wat ek voorstel: lees, luister, en leef. Ná jy dus die teks self gelees en die Here toegelaat het om jou aandag vas te vang deur gedagtes uit die teks wat jou tref, lees dan eers my bydrae om uiteindelik by die boodskap vir jou eie lewe te kom.

Moses gee ‘n oorsig oor God se geskiedenis met hulle – Deut. 2:1-19

https://truthinmotion.wordpress.com /2013/06/20/word50/

Moses sit sy oorsig van God se geskiedenis met die volk voort in hoofstuk 2 tot 3.  Hy begin by die onlangse geskiedenis waar hulle van Seïrberg noordwaarts getrek het in opdrag van die Here om die beloofde land in te neem, ingebed in sy verwysings na God se sorg in die vroeëre geskiedenis van die omswerwinge deur die woestyn (Deut. 2:1-19).

Dit val op dat Moses beklemtoon dat Israel nie in oorlog moet tree met dié nasies wat steeds op sy beskerming in terme van hulle grondgebied kan staatmaak nie.  Israel mag net dít in besit neem wat deur die Here self aan hulle gegee is in belofte.  Hulle moet selfs konflik oor kos en water vermy ter wille van goeie verhoudinge.  Die Here was in staat om vir hulle te sorg soos Hy onomwonde in hulle geskiedenis bewys het.  Hy het immers sy oog oor hulle gehou in die groot woestyn.

Moses vertoef nie op die detail van die reis nie.  Daarvoor moet Numeri geraadpleeg word.  Moses wil net sy punt maak dat Israel op God se sorg kan vertrou en Hom daarom moet gehoorsaam.  God se optrede teen die eerste geslag wat Hom nie vertrou het nie moet die tweede geslag motiveer om nie in dieselfde strik as hulle ouers te val deur hulle teen die Here te verset nie.

Jy kan Moses se beskrywing hier vergelyk met die geskiedenis wat opgeteken is in Numeri 20:14-21 en 21:10-20 aan die hand van my vroeë bydraes waarin meer inligting oor Edom, Moab, en Ammon verskaf is:

Moses motiveer die gawe van die land as deel van sy sorg vir alles en almal – Deut. 2:20-33

Continue reading

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda