Skip to main content

Deuteronomium 23 – Om vlekloos en blaamloos voor God te lewe

https://truthinmotion.wordpress.com /2013/06/20/word50/

Die toepassing van die beginsel van respek vir die lewe en die grense wat God gestel het, word voortgesit in terme van sewe ander sake: wie lid van die byeenkoms van die Here mag wees (Deut. 23:1-8), die wyse waarop na persoonlike higiëne omgesien moes word (Deut. 23:9-14), die beskerming van weggeloopte slawe (Deut. 23:15-16), die verbod op kultiese of gewone prostitusie (Deut. 23:17-18), die beperking op rente (Deut. 23:19-20), die vrywillige betaling van geloftes (Deut. 23:21-23), en die beskerming van ander se eiendom (Deut. 23:24-25).

Lede van die byeenkoms van die Here moet vlekloos en blaamloos wees – Deut. 23:1-8

Daar is vier tipe mans wat nie in die byeenkoms van die Here (qāhāl yhwh) mag kom nie.  Hierdie byeenkoms van die Here was die vergadering van die manlike deel van die gemeente of volksvergadering.  Die normale bywoon van ander geleenthede was nie op die spel nie, maar die formele kant van deelname aan dinge wat die volk geraak het.  Dit weet ons alreeds uit die soortgelyke voorskrifte vir Leviete in terme van die Tabernakel, en later die tempel (Levitikus 11).

  • Die eerste is ‘n man wie se testikels stukkend gedruk of wie se geslagsorgaan afgesny is. Dit kon wees dat dié reëling gegeld het, óf omdat hy nie langer vir ‘n nageslag kon sorg nie, óf omdat daar ‘n assosiasie van sulke mans met heidense tempels was.  Dit het hulle nie van die seën van die Here uitgesluit nie soos Jesaja dit duidelik stel (Jes. 56:3-5).  Die verhaal van die Etiopiese amptenaar wat deel van die koninkryk word ten spyte van sy ontmande status illustreer dit ook duidelik (Hand. 8:26-40).  Ander gestremdhede het geen invloed op deelname gehad nie.
  • Die tweede is ‘n man wat uit verbode geslagsgemeenskap gebore is. Die Hebreeuse term wat hier gebruik word, mǎmzēr, kom net een ander keer voor (Sag. 9:6 – sulke tipe kinders vorm die Here se straf aan die Filistyne weens hulle sondes totdat Hy ‘n oorblyfsel aan Homself sal verbind) en dui waarskynlik op kinders wat uit die verskillende tipes verbode geslagsgemeenskap van Levitikus 18 en 20 gebore is.  Dit het dus as ‘n verdere afskrikmiddel vir sulke ontoelaatbare verhoudings gedien.  Terloops, dit het niks met etnisiteit te doene nie.  Die “tiende geslag” beteken waarskynlik “vir die afsienbare toekoms”.
  • Die derde en vierde is die Ammoniete – weens hulle weiering in die woestyn om gasvry teenoor Israel op te tree – en die Moabiete – weens hulle poging om Israel deur Bileam te laat vervloek. Op die agtergrond is waarskynlik ook die feit dat dié twee volke uit die bloedskande tussen Lot en sy twee dogters gebore is (Gen. 19). Dié voorskrif rondom die Moabiete is met die insluiting van Rut in die volk Israel verander, weens haar vaste verbintenis aan die God van Israel.  Rut word trouens die voormoeder van nie net Dawid nie, maar van Jesus van Nasaret.  Daarom is daar in die profetiese literatuur ook positiewe geluide oor die oorblyfsel van Moab, hoewel die oordeel van die Here steeds rus op dié wat Hom nie as God erken nie (Jes. 15-16; Jer. 48).  Dieselfde geld die Ammoniete (Jer. 49).

Edomiete en Egiptenare is anders hanteer weens eersgenoemde se gesamentlike afkoms (Jakob en Esau was broers) en laasgenoemde weens die feit dat hulle Israel vir vier eeue gehuisves het in hulle land.  Kinders van die derde geslag mag lid geword het van die formele byeenkomste van die volk.

Hierdie voorskrif van die vlekloosheid en blaamloosheid van mense wat deel is van die gemeente van die Here, word in die NT omgekeer deurdat dit ‘n gawe van God in Christus word aan elkeen wat glo.  Paulus bid in Filippense: “dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees, en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer.” (Fil. 1:9-11).

Die belang van reinheid in die kamp van die Here – Deut. 23:9-14

Uit respek vir die ander rondom jou in die kamp in die opmars teen vyande sowel as die feit dat die Here in die kamp teenwoordig was, moes daar teen onreinheid gewaak word.  Dit het ‘n skoonmaak ritueel vir: “iets wat die nag gebeur het” (saadstorting [Lev. 15:16] of urinering) en die uitdruklike voorskrif vir ontlasting buite die kamp in ‘n gat wat toegekrap moes word, ingesluit.  Die redes was higiënies sowel as religieus.  Die Here was immers die hele tyd by hulle: “As die Here iets onbetaamliks by jou sien, sal Hy jou verlaat.

Die beskerming van weggeloopte slawe – Deut. 23:15-16

Die voorskrifte rondom slawe is gemik op hulle menswaardigheid.  Slawe wat weggeloop het van hulle eienaars moes beskerm word en kon kies waar hulle “asiel” wou hê.  Beskerming het versorging ingesluit.  Dit verklaar hoekom Paulus in die NT soveel moeite doen om Filemon tot die menswaardige hantering van sy weggeloopte slaaf Onesimus aan te moedig.

Die verbod op kultiese en sekulêre prostitusie – Deut. 23:17-18

Dit is duidelik uit die Hebreeuse woorde dat vers 17 verwys na kultiese prostitusie (kedesjâh [vrou] en kadesj [man] word gebruik) en vers 18 na gewone nie-kultiese sekulêre prostitusie (zônâh [vrou] en kelev [=hond, in verwysing na ‘n man] word gebruik).

In die geval van die manlike prostitute dui dit op selfdegeslag seksuele gedrag, weens die terme kadesj en kelev (hond in figuurlike sin) wat hier gebruik word.  Kadesj dui in die konteks waarskynlik op priesters wat vir kultiese selfdegeslag seks beskikbaar was, nie noodwendig teen betaling nie en kelev op ander doodgewone manlike prostitute teen betaling (sekulêre prostitusie).

Die beskrywing van ‘n selfdegeslag manlike prostituut met die term hond (Hebreeus kelev = Griekse kunes) lê waarskynlik agter Johannes se beskrywing in sy Openbaring waarin hy ook van die onsedelikes (pornoi) praat: “Die honde (kunes) bly buite, ook die towenaars en die onsedelikes (pornoi), die moordenaars en die afgodedienaars en ook elkeen wat die leuen liefhet en beoefen.” (Openb. 22:15).

Selfs die geld wat uit dié verbintenisse verdien is, was onrein in die oë van die Here en mag nie in ontvangs geneem word by die Tabernakel nie.

Die beperking op rente – Deut. 23:19-20

Onderlinge verhoudinge is beskerm deur die voorskrif dat daar geen rente gehef mag word op iets wat jy vir jou volksgenoot leen nie.  Jy mag nie munt geslaan het uit die nood van jou naaste nie.  Dit was ook in nakoming van die agste gebod (steel).  Dit het egter nie lenings aan nie-Israeliete ingesluit nie.  Dié voorskrif beperk uiteraard nie instansies wat vandag geld uitleen nie.  Die beginsel van omgee vir jou naaste geld natuurlik steeds soos dit duidelik in die NT is (1 Joh. 4).

Die vrywillige betaling van geloftes – Deut. 23:21-23

Moses het al twee keer oor geloftes gepraat (Numeri 6; Levitikus 27).  Hier fokus hy op die vrywillige betaling van geloftes uit respek vir die Here.  Die Here luister wat ons sê en hou ons daaraan!

Die beskerming van ander se eiendom – Deut. 23:24-25

Moses illustreer die beginsel van respek vir die lewe en die grense wat die Here stel deur ook ‘n voorskrif te gee vir jou hantering van ‘n ander se wingerd.  Die gasvryheids- en vrygewigheidsbeginsel het ingesluit dat jy van jou buurman se druiwe kan eet vir jou honger, maar nie vir handeldryf deur dit in jou sak te sit om verder daarmee te woeker nie.  Dieselfde het koring gegeld.  Die pluk van are was reg, maar nie die afsny met ‘n sekel nie.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Deuteronomium


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…