Skip to main content

Deuteronomium 30 – Kies die lewe en wat goed is, nie die dood en wat sleg is nie

https://truthinmotion.wordpress.com /2013/06/20/word50/

Moses voltooi sy derde preek in hoofstuk 30 deur die gevolge van hulle gehoorsaamheid al dan nie uit te spel in terme van die vloek en die seën (Deut. 30:1-10), en volg dit op met ‘n bemoedigende woord dat gehoorsaamheid moontlik is.  Dit is nie moeilik nie.  Dit is nie buite bereik nie, ‘n gedagte wat Paulus sal gebruik in sy begronding van geloof in die NT  (Deut. 30:11-14; vgl. Rom. 10:5-13).

Al wat hulle nou moet doen, is om te kies vir die lewe saam met God en Hom nougeset te gehoorsaam.  Die hemele en die aarde is getuies daarvan dat Moses niks teruggehou het van dít wat God wou hê dat Hy vir hulle moes deurgee nie, soos Jesus dit eeue later ook sou doen (Deut. 30:15-20; vgl. Joh. 15:15).

God beheer die geskiedenis en die natuur – Deut. 30:1-10

Die seëninge en strawwe van hoofstuk 27-28 word hier duidelik in hoofstuk 30 gefundeer in beide God se beheer van die geskiedenis as in sy beheer van die natuur (vgl. ook die geloofsbelydenis van hoofstuk 26).  Soos God die wel en weë van die nasies kan bepaal in terme van seën en straf (geskiedenis), só kan Hy ook die voorspoed en teenspoed in die skepping bepaal (natuur).  En só kan Hy dit ook doen vir sy volk.  God kan beide die geskiedenis (bv. die nasies) en die natuur (bv. droogtes of reën) gebruik in die proses.

Moses help daarom die volk om te verstaan dat hulle ervaring van God se seën en straf wentel om hulle gehoorsaamheid aan die grense wat Hy stel al dan nie.  Die hoop is dat selfs as hulle weens hulle ongehoorsaamheid deur die straf van die Here hulle in ‘n vreemde land bevind, ‘n terugkeer na gehoorsaamheid vir hulle die seën van die Here sal beteken.  As: “jy en jou kinders met hart en siel doen wat ek jou vandag beveel het, sal die Here jou God jou omstandighede verander.

Hiermee word God se verhouding met die volk in sy deernis met hulle gefundeer.  Bekering tot die Here en die gevolglike omkering van hulle lot is altyd binne die verhouding met God moontlik.  Trouens, die Here is in staat om hulle te heilig aan Hom, om hulle te beweeg om Hom lief te hê met hart en siel.  Selfs hulle toewyding aan die Here kom uiteindelik van Hom af.

Lees vers 6 in die OAV om die betekenis daarvan ter harte te neem: “En die HERE jou God sal jou hart besny en die hart van jou nageslag, om die HERE jou God lief te hê met jou hele hart en met jou hele siel, dat jy kan lewe.”  Dit is in die werk wat God in hulle harte sal doen wat die hoop vir die toekoms lê, ‘n boodskap wat tot in die NT ‘n impak gehad het.

Al wat God van hulle vra, is dat hulle die keuse sal maak om Hom te gehoorsaam.  Dan: “sal Hy Hom weer oor jou verbly soos Hy Hom oor jou voorvaders verbly het en sal dit met jou goed gaan.

Die gebod is nie te moeilik of buite jou bereik nie – Deut. 30:11-14

Die gehoorsaamheid wat die Here van hulle vra, is dus nie te moeilik nie.  Dit is ook nie buite hulle bereik nie.  Dit is nie in die hemel daarbo asof God se woord onverstaanbaar en geheim is nie.  Dit is ook nie anderkant die see dat dit onprakties of wêreldvreemd sou wees nie: “Maar baie naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart, om dit te doen.” (OAV).

Paulus noem hierdie woord, die “woord van geloof”.  Dié woord se inhoud, met die groter openbaring van die Here Jesus Christus, is as volg: “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word.” (Rom. 10:5-13).  ‘n Getuienis van die eenheid wat daar tussen OT en NT bestaan.

Kies die lewe en wat goed is, nie die dood en wat sleg is nie – Deut. 30:15-20

Moses se preek mond daarom uit op die appèl dat hulle die lewe moet kies en dit wat goed is, nie die dood en dit wat sleg is nie.  In dié keuse tot gehoorsaamheid lê die seën van die Here opgesluit.  Daarsonder sal hulle die straf van die Here ervaar.

Soos in die Ou Nabye Oosterse verdrae spel Moses ook die getuies uit wat sal waghou oor Israel se gehoorsaamheid al dan nie.  Dit is gepaste getuies: die hemel en die aarde, dié dinge wat God gemaak het en waarbinne en waarop die mens tot aanbidding en diens aan God geroep is.  Daarby kom in die volgende hoofstuk die wetboek wat Moses aan hulle oorhandig om langs die verbondsark in die Allerheiligste te bewaar as getuie “teen” hulle (Deut. 31:26).

Hiermee kan Moses sy derde preek afsluit, want hy het niks teruggehou van dít wat God wou hê dat Hy vir hulle moes deurgee nie, soos Jesus dit eeue later ook sou doen (vgl. Joh. 15:15).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Deuteronomium


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.