Skip to main content

Deuteronomium 30 – Kies die lewe en wat goed is, nie die dood en wat sleg is nie

https://truthinmotion.wordpress.com /2013/06/20/word50/

Moses voltooi sy derde preek in hoofstuk 30 deur die gevolge van hulle gehoorsaamheid al dan nie uit te spel in terme van die vloek en die seën (Deut. 30:1-10), en volg dit op met ‘n bemoedigende woord dat gehoorsaamheid moontlik is.  Dit is nie moeilik nie.  Dit is nie buite bereik nie, ‘n gedagte wat Paulus sal gebruik in sy begronding van geloof in die NT  (Deut. 30:11-14; vgl. Rom. 10:5-13).

Al wat hulle nou moet doen, is om te kies vir die lewe saam met God en Hom nougeset te gehoorsaam.  Die hemele en die aarde is getuies daarvan dat Moses niks teruggehou het van dít wat God wou hê dat Hy vir hulle moes deurgee nie, soos Jesus dit eeue later ook sou doen (Deut. 30:15-20; vgl. Joh. 15:15).

God beheer die geskiedenis en die natuur – Deut. 30:1-10

Die seëninge en strawwe van hoofstuk 27-28 word hier duidelik in hoofstuk 30 gefundeer in beide God se beheer van die geskiedenis as in sy beheer van die natuur (vgl. ook die geloofsbelydenis van hoofstuk 26).  Soos God die wel en weë van die nasies kan bepaal in terme van seën en straf (geskiedenis), só kan Hy ook die voorspoed en teenspoed in die skepping bepaal (natuur).  En só kan Hy dit ook doen vir sy volk.  God kan beide die geskiedenis (bv. die nasies) en die natuur (bv. droogtes of reën) gebruik in die proses.

Moses help daarom die volk om te verstaan dat hulle ervaring van God se seën en straf wentel om hulle gehoorsaamheid aan die grense wat Hy stel al dan nie.  Die hoop is dat selfs as hulle weens hulle ongehoorsaamheid deur die straf van die Here hulle in ‘n vreemde land bevind, ‘n terugkeer na gehoorsaamheid vir hulle die seën van die Here sal beteken.  As: “jy en jou kinders met hart en siel doen wat ek jou vandag beveel het, sal die Here jou God jou omstandighede verander.

Hiermee word God se verhouding met die volk in sy deernis met hulle gefundeer.  Bekering tot die Here en die gevolglike omkering van hulle lot is altyd binne die verhouding met God moontlik.  Trouens, die Here is in staat om hulle te heilig aan Hom, om hulle te beweeg om Hom lief te hê met hart en siel.  Selfs hulle toewyding aan die Here kom uiteindelik van Hom af.

Lees vers 6 in die OAV om die betekenis daarvan ter harte te neem: “En die HERE jou God sal jou hart besny en die hart van jou nageslag, om die HERE jou God lief te hê met jou hele hart en met jou hele siel, dat jy kan lewe.”  Dit is in die werk wat God in hulle harte sal doen wat die hoop vir die toekoms lê, ‘n boodskap wat tot in die NT ‘n impak gehad het.

Al wat God van hulle vra, is dat hulle die keuse sal maak om Hom te gehoorsaam.  Dan: “sal Hy Hom weer oor jou verbly soos Hy Hom oor jou voorvaders verbly het en sal dit met jou goed gaan.

Die gebod is nie te moeilik of buite jou bereik nie – Deut. 30:11-14

Die gehoorsaamheid wat die Here van hulle vra, is dus nie te moeilik nie.  Dit is ook nie buite hulle bereik nie.  Dit is nie in die hemel daarbo asof God se woord onverstaanbaar en geheim is nie.  Dit is ook nie anderkant die see dat dit onprakties of wêreldvreemd sou wees nie: “Maar baie naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart, om dit te doen.” (OAV).

Paulus noem hierdie woord, die “woord van geloof”.  Dié woord se inhoud, met die groter openbaring van die Here Jesus Christus, is as volg: “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word.” (Rom. 10:5-13).  ‘n Getuienis van die eenheid wat daar tussen OT en NT bestaan.

Kies die lewe en wat goed is, nie die dood en wat sleg is nie – Deut. 30:15-20

Moses se preek mond daarom uit op die appèl dat hulle die lewe moet kies en dit wat goed is, nie die dood en dit wat sleg is nie.  In dié keuse tot gehoorsaamheid lê die seën van die Here opgesluit.  Daarsonder sal hulle die straf van die Here ervaar.

Soos in die Ou Nabye Oosterse verdrae spel Moses ook die getuies uit wat sal waghou oor Israel se gehoorsaamheid al dan nie.  Dit is gepaste getuies: die hemel en die aarde, dié dinge wat God gemaak het en waarbinne en waarop die mens tot aanbidding en diens aan God geroep is.  Daarby kom in die volgende hoofstuk die wetboek wat Moses aan hulle oorhandig om langs die verbondsark in die Allerheiligste te bewaar as getuie “teen” hulle (Deut. 31:26).

Hiermee kan Moses sy derde preek afsluit, want hy het niks teruggehou van dít wat God wou hê dat Hy vir hulle moes deurgee nie, soos Jesus dit eeue later ook sou doen (vgl. Joh. 15:15).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Deuteronomium


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.
  • Marius smit on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieHoekom beskerm die Here jou juis aan jou regterkant?
  • runawayjoyous2427b27b07 on Eenjaar Bybelleesprogram – 366 daeBaie dankie!