Skip to main content

Deuteronomium 8 – Die Here leer die volk afhanklikheid en dankbaarheid

https://truthinmotion.wordpress.com /2013/06/20/word50/

Dit is nie net die Skrif waarvan elke deel in pas by die ander dele daarvan nie.  Dit is ook waar van die lewe coram Deo (voor God) soos Moses hier verkondig. Alles wat met die volk gebeur, die goeie en die slegte, pas in God se plan met hulle in.  Die Here leer die volk afhanklikheid deur die swaar tye en dankbaarheid deur die goeie tye.

Elke gebod wat God gee (Deut. 8:1), elke stuk voorsiening in tye van swaarkry en dissipline (Deut. 8:2-5), en elke stuk oorvloed in tye van voorspoed en sorg (Deut. 8:6-10) pas by mekaar om die volk bewus te maak van God se bestaan en sy beloning van dié wat Hom soek en gehoorsaam (Hebr. 11:6).

Dit is die rede waarom hulle nougeset die Here moet gehoorsaam sodat hulle Hom nie vergeet (Deut. 8:11-16) en dink dat dit hulle eie krag is wat hulle gebring het waar hulle is nie (Deut. 8:17-18).  Hoekom?  Want denke en dade het gevolge.  As hulle die Here vergeet en ander gode aanhang, sal hulle verseker tot niet gaan (Deut. 8:19-20).

Jy moet elke gebod gehoorsaam en daarvolgens lewe – Deut. 8:1

Moses begin deur die volk te herinner om aan elke gebod wat die Here hulle gee, gehoorsaam te wees en daarvolgens te lewe. Elke woord van die Here is met ‘n doel gegee en die moeite werd om met nougesette noukeurigheid na te kom.  Dit sal vir hulle die lewe beteken, en God se belofte van vrugbaarheid in vervulling laat gaan in die land wat Hy aan hulle en hulle voorvaders belowe het.

Jy moet onthou hoe die Here jou in die woestyn gelei het – Deut. 8:2-5

Dit is nie net die gebooie wat vir hulle gegee is as woorde van God nie.  Elke ervaring wat hulle in die woestyn gehad het, was in daardie sin ‘n woord van God aan hulle, ‘n voorbeeld van sy begeleiding waaraan hulle hulle moes steur.

Die doel van die woestyntyd was tweërlei.  Aan die een kant moes die volk hulle nederige afhanklikheid van God agterkom.  Daarom het die Here hulle op die proef gestel, nie net sodat Hy kan weet wat in hulle hart aangaan nie, maar sodat hulle dit self ook kan agterkom.

Beide die swaarkry sonder die kos, én die manna wat op wonderbaarlike wyse aan hulle voorsien is, het dus daardie doel gedien.  Dit moes hulle die groot lewensles leer dat: “’n mens nie net van brood leef nie, maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom.” God se woorde was meer basies vir hulle voortbestaan as kos en water.

Aan die ander kant moes die volk die oorvloedige en baie keer wondervoorsiening van die Here ook agterkom.  Daarom het Hy vir hulle manna gegee, iets wat hulle voorvaders nie geken het nie, en het die Here hulle klere in die veertig jaar nie laat verslyt nie, selfs hulle voete nie laat swel nie.

Met dit alles het die Here hulle harte aan Hom gebind deur die dissipline van die woestyn.

Jy moet die Here gehoorsaam wat sy belofte van die land aan jou gaan vervul – Deut. 8:6-10

Dit is daarom dat hulle die gebooie van die Here moet gehoorsaam sodat hulle sy wil kan doen. Hy sal hulle die oorvloed van die beloofde land, ‘n goeie land!, gee, maar hulle moet Hom dien, sodat hulle dit as ‘n geskenk uit sy hand kan hanteer.  Daar sal ‘n oorvloed water en vrugbaarheid wees.  As hulle Hom dien, sal daar selfs nie armoede wees nie, want ingebou in sy sorg vir hulle is daar ook die sorg wat Hy hulle beveel tot die naaste.  Hulle sal selfs genoeg yster en koper hê ter wille van hulle militêre paraatheid.

Soos die swaar tye hulle afhanklikheid moes leer, moes die goeie tye hulle dankbaarheid leer: “Telkens wanneer jy genoeg geëet het, moet jy die Here jou God dank vir hierdie goeie land wat Hy aan jou gegee het.

Jy moet sorg dat jy die Here nie vergeet deur ongehoorsaamheid – Deut. 8:11-16

Die opdrag word herhaal dat hulle moet sorg dat hulle nie die Here vergeet deur ongehoorsaam te wees aan sy gebooie en bepalings en voorskrifte soos dit in Deuteronomium 5-6 vir hulle gegee is nie.

Dit kan net te maklik gebeur dat hulle hoogmoedig word en die Here se sorg en voorsiening vergeet, sowel as die bevryding uit Egipte, die plek van slawerny. Moses herinner hulle daaraan dat dit die Here is wat hulle laat trek het tot hier, selfs al was dit ‘n groot en gevaarlike reis: “vol giftige slange en skerpioene”.  ‘n Verwysing na die gebeure met die koperslang.

Dit is ook Hy wat vir hulle water uit die rots en manna uit die lug gegee het, soos Hy telkens sy omgee vir hulle ten toon gestel het.

Jy moet versigtig wees vir die verkeerde aanname dat jou krag ‘n rol gespeel het – Deut. 8:17-18

Hierdie herinneringe moet hulle help om hoogmoed te voorkom.  Die Here is bewus dat hulle dalk kan dink dat hulle eie krag ‘n rol gespeel het in hulle voorspoed.  Daarmee onderstreep die Here dat alles van Hom af kom, ook die krag wat ‘n mens het vir jou lewe.

Die punt is net dat jy die Here nie moet vergeet nie, want dit is Hy wat jou in staat stel om rykdom te verwerf op grond van die verbond met die voorvaders.

As jy die Here vergeet en ander gode aanhang, sal jy beslis tot niet gaan – Deut. 8:19-20

As hulle dus ooit die Here vergeet en ander gode aanhang, verklaar God dat hulle beslis tot niet sal gaan soos die ander nasies vir wie die Here laat omkom het.

Boodskap

In elke ding wat met ‘n mens gebeur, is God besig.  In die slegte en die goeie tye.  Alles pas by mekaar.  In swaar tye leer Hy mens dat jy van Hom afhanklik is: “Hy het dit gedoen om jou te leer dat ’n mens nie net van brood leef nie, maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom.” (Deut. 8:3).

Wat presies Jesus se antwoord uit Deuteronomium was aan die duiwel toe hy Jesus versoek het om nie te wag op God se voorsiening nie, maar sy krag te misbruik vir Homself (Matt. 4:4).  As Jesus brood van die klippe sou gemaak het, sou God se doel met die woestyn in Jesus se lewe gedwarsboom wees.

Daarteenoor leer God mens in tye van oorvloed om dankbaar te wees en steeds te besef dat wat met jou gebeur sy geskenk aan jou is: “Telkens wanneer jy genoeg geëet het, moet jy die Here jou God dank vir hierdie goeie land wat Hy aan jou gegee het.” (Deut. 8:10).  Dan sal jy ook die versoeking kan weerstaan om die Here te vergeet en die verkeerde aanname te maak dat dit jou krag is wat al die goeie dinge met jou laat gebeur.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Deuteronomium


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders