Skip to main content

Deuteronomium 2 – God gee die land vir sy volk soos Hy eeue lank al vir ander nasies doen

Ek herhaal die opdrag van gister.  Gebruik die leesmetodiek wat ek voorstel: lees, luister, en leef. Ná jy dus die teks self gelees en die Here toegelaat het om jou aandag vas te vang deur gedagtes uit die teks wat jou tref, lees dan eers my bydrae om uiteindelik by die boodskap vir jou eie lewe te kom.

Moses gee ‘n oorsig oor God se geskiedenis met hulle – Deut. 2:1-19

https://truthinmotion.wordpress.com /2013/06/20/word50/

Moses sit sy oorsig van God se geskiedenis met die volk voort in hoofstuk 2 tot 3.  Hy begin by die onlangse geskiedenis waar hulle van Seïrberg noordwaarts getrek het in opdrag van die Here om die beloofde land in te neem, ingebed in sy verwysings na God se sorg in die vroeëre geskiedenis van die omswerwinge deur die woestyn (Deut. 2:1-19).

Dit val op dat Moses beklemtoon dat Israel nie in oorlog moet tree met dié nasies wat steeds op sy beskerming in terme van hulle grondgebied kan staatmaak nie.  Israel mag net dít in besit neem wat deur die Here self aan hulle gegee is in belofte.  Hulle moet selfs konflik oor kos en water vermy ter wille van goeie verhoudinge.  Die Here was in staat om vir hulle te sorg soos Hy onomwonde in hulle geskiedenis bewys het.  Hy het immers sy oog oor hulle gehou in die groot woestyn.

Moses vertoef nie op die detail van die reis nie.  Daarvoor moet Numeri geraadpleeg word.  Moses wil net sy punt maak dat Israel op God se sorg kan vertrou en Hom daarom moet gehoorsaam.  God se optrede teen die eerste geslag wat Hom nie vertrou het nie moet die tweede geslag motiveer om nie in dieselfde strik as hulle ouers te val deur hulle teen die Here te verset nie.

Jy kan Moses se beskrywing hier vergelyk met die geskiedenis wat opgeteken is in Numeri 20:14-21 en 21:10-20 aan die hand van my vroeë bydraes waarin meer inligting oor Edom, Moab, en Ammon verskaf is:

Moses motiveer die gawe van die land as deel van sy sorg vir alles en almal – Deut. 2:20-33

Moses motiveer dié opdrag tot die Intog dus in die wyse waarop God reeds eeue lank met die ander nasies gewerk het.  Die verskuiwings en verplasing deur die eeue was telkens God se werk (Deut. 2:20-23).  Alle land is dus gawes van God, gawes wat Hy ook kan terugneem waar dit nie in gehoorsaamheid aan Hom hanteer word nie.

Vandag bring Ek skrik en vrees vir jou oor al die volke op die aarde – Deut. 2:24-37

Só het Israel daarom ook die gebied van die Amoriete onder koningskap van Sihon (Deut. 2:24-37; vgl. Num. 21:21-31) deur die leiding van die Here ingeneem wat uiteindelik vir die stamme Ruben, Gad en die halwe Manassestam gegee is oos van die Jordaan (Deut. 3:12-20; vgl. Num. 32:1-42).  Dieselfde was die geval met die gebied  koning Og van Basan (Deut. 3:1-11; vgl. Num. 21:33-35).

Daarmee sou die Here skrik en vrees vir Israel bring oor al die volke op die aarde.  Nie soseer omdat hulle so ‘n magtige volk was nie, maar omdat hulle God so magtig is.  Daaroor sal Moses later nog verder uitbrei (Deut. 4:37-38; vgl. Deut. 7:7: “Die Here het jou nie liefgekry en gekies omdat jy groter was as die ander volke nie, jy was die kleinste van almal.”).

Moses sal in hoofstuk 4 kom by die punt wat hy hiermee wil maak, dat hulle na die Here moet luister in beide sy openbaring in hulle eie geskiedenis as in die wet, voorskrifte en bepalings wat Moses die afgelope paar dekades aan hulle deurgegee het.  Sy belofte word deur gehoorsaamheid in ontvangs geneem.

Hy sal dit alles weer saamvat vir hulle in die herhaling van die Tien Gebooie in hoofstuk 5 waarmee Moses sy tweede preek sal inlui en waarna die wet en sy voorskrifte tot by hoofstuk 11 verder uitgelê sal word.  Meer spesifieke bepalings sal in die tweede helfte van daardie preek aan die orde kom word van hoofstuk 12 tot 26.

Boodskap

Daar is genoeg stof hierbo om jou diep te laat nadink, maar die belangrike is dat jy uit jou eie leeswerk, gekombineer met my gedagtes, die Here toelaat om met jou te praat. Gebruik dus die laaste twee bewegings van my leesmetodiek wat ek nog ‘n keer weer hier vir jou weergee.

LUISTER

  • Dink na oor wat God vir jou deur die sleutel gedagte(s) uit jou eie leeswerk sowel as uit myne wil sê.
  • Waar raak hierdie gedagte(s) jou lewe in die praktyk?
  • Wat vra dit van jou?
  • Wat belowe dit vir jou?
  • Wat moet jy dink of doen daarmee?
  • Wat is die kern van die boodskap van hierdie hoofstuk vir jou dag en lewe?

LEEF

  • Besluit hoe jy daarop gaan reageer.
  • Sê dit vir die Here in gebed.
  • Skryf dit in jou joernaal.
  • Geniet Sy teenwoordigheid. Dit is na alles waarom ons Bybel lees!
  • Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag.
  • Leef dit uit.
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Deuteronomium


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Wat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ja Gerhard, ek sal eerder sê dat 'n mens jouself kan verafgod, as jou geloof as sodanig. Die Bybel praat nie so nie so ver ek kan agterkom. Die Bybel wys uiteraard afgode af, en dinge soos gierigheid wat 'n afgod kan raak. Daaruit kan 'n mens aflei dat enigiets wat in die plek van God gestel word, o…
  • Gerhard on Wat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ds ek is besig om afgodery na te slaan. Ek het 'n ds gehoor met die opmerking dat jy jou geloof kan verafgod? Afgodery is tog weg van God af soos wat ek verstaan. Groete Gerhard
  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.