Skip to main content

Deuteronomium 21 – Respek vir die lewe rig selfs die wyse waarop die doodstraf toegepas word

https://truthinmotion.wordpress.com /2013/06/20/word50/

Moses brei verder uit oor die implikasies van die sesde (moord) en sewende (egbreuk) gebod wat ook die vyfde gebod (ouers) betrek.  In die geval van moord deur ‘n onbekende persoon is daar ‘n spesifieke versoeningsvoorskrif om die land en sy mense van bloedskuld te vrywaar (Deut. 21:1-9).  In die geval van ‘n troue met ‘n krygsgevange vrou word sy volledig as Israeliet gereken.  Met egskeiding is sy dus as vry persoon vrygelaat (Deut. 21:10-14).  In die geval van ‘n tweede huwelik word die regte van die eersgebore seun beskerm ongeag die voorkeur wat die pa het (Deut. 21:15-17). In die geval van ‘n koppige en rebelse kind, ‘n vraat en ‘n suiplap, wat nie op enige dissipline reageer nie, was die doodstraf deur die gemeenskap voorgeskryf (Deut. 21:18-21).  In die geval van ‘n teregstelling deur iemand aan ‘n paal op te hang, moes die liggaam dieselfde dag begrawe word (Deut. 21:22-23).

Versoening vir moord deur ‘n onbekende persoon – Deut. 21:1-9

Moord het die hele land skuldig gemaak voor die Here.  Selfs as die moord deur ‘n onbekende persoon gepleeg is.  Daarom word ‘n spesifieke voorskrif vir versoening gegee, gekoppel aan die dorp wat die naaste in afstand aan die lyk was soos gemeet deur die leiers en regters, om die land en sy mense van bloedskuld te vrywaar.

Let op dat die leiers hulle hande was bo-oor die vers wie se nek by die spruit gebreek word, waardeur die versoening gesimboliseer is.  Dit is ‘n handeling wat ons goed ken uit Pilatus se tevergeefse poging om sy skuld aan Jesus se kruisdood te probeer voorkom deur sy hande te was. Die reaksie van die skare op Pilatus se lafhartigheid, laat ‘n rilling teen jou ruggraat afloop: “Laat die skuld vir sy bloed op ons en ons kinders rus!” (Matt. 27:24-25).

Dat ‘n mens doelbewus kan kies om bloedskuld te aanvaar in direkte opstand téén die Here se wet!  Hoe verskriklik.  Veertig jaar ná Jesus se kruisdood is Jerusalem met die grond gelykgemaak en het ‘n tyd van ongekende lyding en ontworteling vir die Joodse volk aangebreek.

‘n Huwelik met ‘n krysgevangene bring volledige vryheid, selfs in latere egskeiding – Deut. 21:10-14

Respek vir mense het die voorskrifte van die wet gekenmerk, selfs in gevalle waar die vryheid van krygsgevangenes ingeperk is.  Waar Israeliete met krygsgevangenes wou trou, moes hulle ‘n kans gee vir ‘n rouproses.

Let op dat geslagsgemeenskap die huweliksluiting vorm.  As jy as man gemeenskap met ‘n vrou gehad het, wás jy haar man, en wás sy jou vrou.  Die krysgevangene se status het daarmee onherroeplik verander.  Sy is gereken as ‘n volwaardige Israeliet.  Met egskeiding is sy dan volledig vrygelaat as ‘n volwaardige vry mens.

Die regte van die eersgebore seun word beskerm ongeag die pa se voorkeur – Deut. 21:15-17

In die geval van ‘n tweede huwelik (dit is nie seker of dit hier op poligamie dui nie) word die regte van die eerste seun beskerm ongeag die voorkeur wat die pa het.  As agtergrond dien waarskynlik die aartsvaders se probleme hier rondom.  ‘n Mens hoor die konflik tussen die eersgebore Esau en die bedrieër Jakob oor Isak se seën (Genesis 27:1-45 – Rebekka en Jakob se bedrog bedreig die geloofsgemeenskap se voortbestaan), asook Jakob wat die jonger Efraim bó Manasse geseën het (Genesis 49-50 – Jakob seën sy seuns met die oog op die toekoms).

Poligamie was altyd ‘n problematiek in Israel.  Dit was ‘n ongelukkige navolging van die Kain-praktyke wat deur Sara en Abraham in Israel ingevoer is, en veral deur die konings nagevolg is, maar waarop daar telkens kritiek gelewer is (o.a. deur Hooglied!), en in die NT deur Jesus reggestel is (Matt. 19).  God se bedoeling van die begin af was een man en een vrou, geen uitsonderings (Gen. 1-2).

Dissipline het die doodstraf ingesluit – Deut. 21:18-21

In die geval van ‘n koppige (sôrēr) en rebelse (môrěh) kind wat nie op enige dissipline reageer nie, en ‘n vraat en ‘n suiplap was, was die doodstraf deur die gemeenskap voorgeskryf.  ‘n Allerlaaste stap in die dissipline, maar ook ‘n allerverskriklike stap.  Die heiligheid van die gemeenskap is daardeur beskerm.

‘n Mens moet die ontsetting van dié radikale voorskrif goed bedink om die genade wat deur die Here Jesus Christus gekom het, beter te begryp, soos die verhaal van die Verlore Seun dit onderstreep (Luk. 15).  En onthou dat die oudste broer homself uitgerangeer het deur die genade van sy pa te bevraagteken en te weier om die bekering van die jongste seun te aanvaar.

Opgehangdes moes begrawe word om die vloek op die land te voorkom – Deut. 21:22-23

In die geval van ‘n teregstelling deur iemand aan ‘n paal op te hang, moes die liggaam dieselfde dag begrawe word.  Dit het voorkom dat die vloek daarop die land verontreinig.

Paulus gebruik hierdie teks om te beklemtoon dat Christus ons van die vloek van hierdie wet losgekoop het deur sy dood aan die paal, die kruis (Gal. 3:13).  Hy het die vloek vir ons geword, sodat ons in die genade kan leef, die genade wat ons deel word deur die geloof as ‘n gawe van die Gees.

View all posts in this series

Deuteronomium


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar