Skip to main content

Deuteronomium 21 – Respek vir die lewe rig selfs die wyse waarop die doodstraf toegepas word

https://truthinmotion.wordpress.com /2013/06/20/word50/

Moses brei verder uit oor die implikasies van die sesde (moord) en sewende (egbreuk) gebod wat ook die vyfde gebod (ouers) betrek.  In die geval van moord deur ‘n onbekende persoon is daar ‘n spesifieke versoeningsvoorskrif om die land en sy mense van bloedskuld te vrywaar (Deut. 21:1-9).  In die geval van ‘n troue met ‘n krygsgevange vrou word sy volledig as Israeliet gereken.  Met egskeiding is sy dus as vry persoon vrygelaat (Deut. 21:10-14).  In die geval van ‘n tweede huwelik word die regte van die eersgebore seun beskerm ongeag die voorkeur wat die pa het (Deut. 21:15-17). In die geval van ‘n koppige en rebelse kind, ‘n vraat en ‘n suiplap, wat nie op enige dissipline reageer nie, was die doodstraf deur die gemeenskap voorgeskryf (Deut. 21:18-21).  In die geval van ‘n teregstelling deur iemand aan ‘n paal op te hang, moes die liggaam dieselfde dag begrawe word (Deut. 21:22-23).

Versoening vir moord deur ‘n onbekende persoon – Deut. 21:1-9

Moord het die hele land skuldig gemaak voor die Here.  Selfs as die moord deur ‘n onbekende persoon gepleeg is.  Daarom word ‘n spesifieke voorskrif vir versoening gegee, gekoppel aan die dorp wat die naaste in afstand aan die lyk was soos gemeet deur die leiers en regters, om die land en sy mense van bloedskuld te vrywaar.

Let op dat die leiers hulle hande was bo-oor die vers wie se nek by die spruit gebreek word, waardeur die versoening gesimboliseer is.  Dit is ‘n handeling wat ons goed ken uit Pilatus se tevergeefse poging om sy skuld aan Jesus se kruisdood te probeer voorkom deur sy hande te was. Die reaksie van die skare op Pilatus se lafhartigheid, laat ‘n rilling teen jou ruggraat afloop: “Laat die skuld vir sy bloed op ons en ons kinders rus!” (Matt. 27:24-25).

Dat ‘n mens doelbewus kan kies om bloedskuld te aanvaar in direkte opstand téén die Here se wet!  Hoe verskriklik.  Veertig jaar ná Jesus se kruisdood is Jerusalem met die grond gelykgemaak en het ‘n tyd van ongekende lyding en ontworteling vir die Joodse volk aangebreek.

‘n Huwelik met ‘n krysgevangene bring volledige vryheid, selfs in latere egskeiding – Deut. 21:10-14

Respek vir mense het die voorskrifte van die wet gekenmerk, selfs in gevalle waar die vryheid van krygsgevangenes ingeperk is.  Waar Israeliete met krygsgevangenes wou trou, moes hulle ‘n kans gee vir ‘n rouproses.

Let op dat geslagsgemeenskap die huweliksluiting vorm.  As jy as man gemeenskap met ‘n vrou gehad het, wás jy haar man, en wás sy jou vrou.  Die krysgevangene se status het daarmee onherroeplik verander.  Sy is gereken as ‘n volwaardige Israeliet.  Met egskeiding is sy dan volledig vrygelaat as ‘n volwaardige vry mens.

Die regte van die eersgebore seun word beskerm ongeag die pa se voorkeur – Deut. 21:15-17

In die geval van ‘n tweede huwelik (dit is nie seker of dit hier op poligamie dui nie) word die regte van die eerste seun beskerm ongeag die voorkeur wat die pa het.  As agtergrond dien waarskynlik die aartsvaders se probleme hier rondom.  ‘n Mens hoor die konflik tussen die eersgebore Esau en die bedrieër Jakob oor Isak se seën (Genesis 27:1-45 – Rebekka en Jakob se bedrog bedreig die geloofsgemeenskap se voortbestaan), asook Jakob wat die jonger Efraim bó Manasse geseën het (Genesis 49-50 – Jakob seën sy seuns met die oog op die toekoms).

Poligamie was altyd ‘n problematiek in Israel.  Dit was ‘n ongelukkige navolging van die Kain-praktyke wat deur Sara en Abraham in Israel ingevoer is, en veral deur die konings nagevolg is, maar waarop daar telkens kritiek gelewer is (o.a. deur Hooglied!), en in die NT deur Jesus reggestel is (Matt. 19).  God se bedoeling van die begin af was een man en een vrou, geen uitsonderings (Gen. 1-2).

Dissipline het die doodstraf ingesluit – Deut. 21:18-21

In die geval van ‘n koppige (sôrēr) en rebelse (môrěh) kind wat nie op enige dissipline reageer nie, en ‘n vraat en ‘n suiplap was, was die doodstraf deur die gemeenskap voorgeskryf.  ‘n Allerlaaste stap in die dissipline, maar ook ‘n allerverskriklike stap.  Die heiligheid van die gemeenskap is daardeur beskerm.

‘n Mens moet die ontsetting van dié radikale voorskrif goed bedink om die genade wat deur die Here Jesus Christus gekom het, beter te begryp, soos die verhaal van die Verlore Seun dit onderstreep (Luk. 15).  En onthou dat die oudste broer homself uitgerangeer het deur die genade van sy pa te bevraagteken en te weier om die bekering van die jongste seun te aanvaar.

Opgehangdes moes begrawe word om die vloek op die land te voorkom – Deut. 21:22-23

In die geval van ‘n teregstelling deur iemand aan ‘n paal op te hang, moes die liggaam dieselfde dag begrawe word.  Dit het voorkom dat die vloek daarop die land verontreinig.

Paulus gebruik hierdie teks om te beklemtoon dat Christus ons van die vloek van hierdie wet losgekoop het deur sy dood aan die paal, die kruis (Gal. 3:13).  Hy het die vloek vir ons geword, sodat ons in die genade kan leef, die genade wat ons deel word deur die geloof as ‘n gawe van die Gees.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Deuteronomium


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda