Skip to main content

Deuteronomium 16:1-17 – Drie feeste vier hulle identiteit: Paasfees, Pinksterfees, en Huttefees

https://truthinmotion.wordpress.com /2013/06/20/word50/

Die motivering om in die teenwoordigheid van die Here te lewe moes ook gereeld versterk word deur die onderskeie feeste wat die Here hulle beveel het.  Elke fees het sy oorsprong gehad in die geskiedenis van God met die volk en het dié verhouding in herinnering geroep en die genade daarvan gevier.  Daarmee is hulle ook aan mekaar in ‘n gemeenskaplike identiteit verbind.

Daarom herinner Moses hulle om die drie hoof feeste te vier: die Paasfees (fees van die ongesuurde brood), die Pinksterfees (fees van die weke) en die Huttefees.  Die Paasfees is natuurlik die eerste keer in Egipte gevier.  Lees meer daaroor by hierdie bydrae: Eksodus 12:1-42 – Die Here beskerm die Israeliete teen die vernietiger deur die bloed van die Paaslam.

Daar is ook meer oor die drie feeste in Eksodus 23 – Sorg vir geregtigheid en die geloofsgemeenskap met God se hulp, en Eksodus 34 – Ek is barmhartig en genadig, maar Ek laat niks ongestraf nie as jy nog meer agtergrond oor hierdie drie feeste wil hê.

Moses het vroeër meer volledig die voorskrifte vir die twee ander feeste gegee – die Groot Versoendag en die Nuwejaarsfees wat ook as die dag vir die blaas van die trompet bekendgestel is.  Jy kan meer lees oor al vyf feeste in hierdie vorige bydrae van my: Levitikus 23 – Vyf feeste om saam in die teenwoordigheid van die Here te vier.

Die Paasfees – Deut. 16:1-8

Die Paasfees en die fees van die ongesuurde brood is vanaf die veertiende van die eerste maand, Abib, gevier in die lente – vgl. ook Lev. 23:4-8. Dit was ‘n week van offers aan die Here wat met ‘n Sabbatdag afgesluit is.  Dit was ook een van die pelgrimsfeeste waar van alle Israeliete verwag is om in Jerusalem saam te trek. Die ander was die Huttefees.  Hier word die plek nog nie uitgespel nie, omdat dit eers in die tyd van Dawid vasgestel sou word.  Die res van die reëlings is ‘n herhaling van wat reeds vroeër deurgegee is.

Die Pinksterfees – Deut. 16:9-12

Die Fees van die weke is sewe weke ná die Paasfees gevier met die oesfees (graan) in die somer – Lev. 23:9-22 (vgl. ook Num. 29:26).  Dit het bekend geword as Pinkster, omdat dit op die “vyftigste dag” gehou is (Pinkster beteken vyftig).  Dit was ‘n fees wat die genade van die Here met hulle oes gevier het.  Almal moes in dié genade deel.  Interessant is dat dié fees mettertyd aan die gawe van die Tien Gebooie op Sinai gekoppel is, omdat dit drie maande ná die Uittog, en gevolglik die eerste Paasfees, gehou is (Eks. 19:1).  Daarom het hierdie fees ook ná die ballingskap die Fees van die wet geword.

Die Huttefees – Deut. 16:13-17

Die Huttefees was aan die fees van die insameling van die oes (vrugte soos olywe en druiwe) gekoppel en op die vyftiende dag van die sewende maand in die herfs gehou – Lev. 23:33-26 (vgl. Num. 29:12).  Met dié fees sou hulle die tyd in die woestyn herdenk deur in hutte te bly vir ‘n week.  Dit was die ander pelgrimsfees saam met die Paasfees.  Vergelyk die vyftien Pelgrimspsalms wat mettertyd vir hierdie reis van hulle woongebiede af geskryf is: Psalm 120-134.

Drie keer elke jaar moes al die mans met hulle families en ander huisgenote in God se teenwoordigheid kom fees vier.  Elkeen moes bydra volgens die voorspoed wat hy geniet het.  Só is hulle identiteit vasgelê en gevier.

View all posts in this series

Deuteronomium


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar