Skip to main content

Deuteronomium 7 – Die liefde van die Here stel jou in staat om gehoorsaam te wees

https://truthinmotion.wordpress.com /2013/06/20/word50/

Dit bly vir my verstommend om te sien hoe elke deel van die Skrif inpas by elke ander deel daarvan.  Waar Deuteronomium 6 die volk opgeroep het om die Here met hart, siel en krag lief te hê op grond van die Tien Gebooie wat in Deuteronomium 5 herhaal is, begrond Deuteronomium 7 dié oproep in die liefde wat die Here vir hulle het!

Dit is presies hoe dit werk in ons verhouding met die Here.  Hy gee vir ons wat Hy van ons vra.  Sy liefde vir ons is die dryfveer vir ons liefde vir Hom.  Alles begin by Hom.  Daarom kan Hy alles van ons vra.

In jou stilword vandag oordink in die eerste plek hierdie lewensveranderende waarheid dat jy die Here kan liefhê: “omdat die Here jou liefhet en Hy sy belofte nakom.” (Deut. 7:8).

Die teendeel is egter net so waar.  Waar God teengestaan word, waar sy wil nie nagekom word nie, waar afgode in sy plek aanbid word, dáár ontvlam sy toorn en trek Hy sy seën en beskerming terug.  Sy oordeel is die gevolg van sy vertrapte liefde.

God se oorlogsbeleid

Deuteronomium 7 staan daarom bekend as God se oorlogsbeleid (Craigie).  Soos die Here in Eksodus 15 se antieke lied van Moses en Mirjam Homself as die Bewerker van wonderdade wat sy volk beskerm en sy vyande verpletter openbaar, só is Hy dit ook hier in Deuteronomium 7.  Hy maak aan die een kant beloftes waar en seën en beskerm sy volk in die proses.  Hy tree aan die ander kant op teen sy vyande en vervolg en verpletter hulle.

Beide kante van God – die seën en die oordeel – is aspekte van sy soewereine Koningskap.  Hy is die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde, wat die wel en weë van alle mense van altyd af en tot in aller ewigheid bepaal.

As Moses dus hier sewe nasies noem wat met die Intog uitgewis moes word, dan is dit omdat die maat van hulle teenstand teen die Here vol geraak het, en die Here besluit het om op te tree.

En laat ons onmiddellik onthou, dieselfde lot sou Israel twee keer tref, omdat hulle self nie die Here gedien het soos Hy gevra het nie.  Die Here tree nie anders op met die nasies as wat Hy met sy eie volk optree nie.

Dieselfde oordeel tref almal wat teen die Here in opstand kom.  Gelukkig ook dieselfde seën vir diegene wat die Here lief het!

Die Here sal baie nasies voor jou uit verdryf – Deut. 7:1-6

Die oorlog is die Here s’n, want dit is Hy wat die nasies se land aan sy volk gee.  Daarom sal Hy al die nasies voor hulle uit verdryf al is hulle groter en sterker as Israel.

Die sewe nasies is meesal uit die nageslag van Kanaän, seun van Gam (Gen. 10:16):

  1. Hetiete, van wie Abraham Makpela-grot gekoop het, oorspronklik van Anatolië in die hedendaagse Turkye (Gen. 23:17);
  2. Girgasiete, waaroor ons geen buite-Bybelse inligting het nie;
  3. Amoriete, aanvanklik van die Eufraat-gebied;
  4. Kanaäniete, die oorspronklike inwoners van die land;
  5. Feresiete, waarskynlik ‘n subgroep van die Kanaäniete (Gen. 13:7; 34:30);
  6. Hewiete, onderkant Hermon in die Mispegebied (Jos. 11:3), waarskynlik dieselfde mense as die Goriete (Deut. 2:12);
  7. Jebusiete, in die Bergland in en om Jerusalem (Jos. 11:3; 15:8).

Dit is dieselfde nasies wie se grondgebied aanvanklik in die belofte aan Abraham genoem is, uitgesonderd die Hewiete.  In die aanvanklike belofte word ook die Keniete, Kenissiete, Kadmoniete en Refaïete genoem (Gen. 15:21; vgl. Neh. 9:8).  In die opdrag aan Moses met die Uittog word die Hewiete egter ook genoem as deel van die gawe van die Here aan sy volk (Eks. 3:8).

Daarom mag Israel die nasies nie jammer kry en ’n verbond met hulle sluit nie.  Hulle mag glad nie met hulle ondertrou nie, want só sal die kinders van die Here af wegrokkel word om ander gode te dien. Dan sal hulle op hulle beurt die toorn van die Here laat ontvlam wat hulle sal verdelg.

Hulle moet elke teken van die Kanaäniete se afgodsdiens verwyder en verwoes om net aan die Here toegewyd te lewe: “Jy is ’n volk wat vir die Here jou God afgesonder is. Vir jou het die Here jou God gekies om uit al die volke op die aarde sy eiendomsvolk te wees.” (vgl. 1 Pet. 2:9; Openb. 5:10; 20:6!).

Die Here het Israel gekies omdat Hy hulle liefhet – Deut. 7:7-16

Moses herinner die volk daaraan dat die Here hulle nie liefgekry en gekies het omdat hulle ‘n groter nasie was as die ander nie.  Trouens, hulle was die kleinste van almal.  Dit is suiwer: “Omdat die Here jou liefhet en Hy sy belofte nakom wat Hy met ’n eed bekragtig het aan jou voorvaders.

Daaruit kan hulle ‘n groot stuk troos put.  Die Here is hulle God.  Hy is betroubaar om sy verbond in stand te hou en sy troue liefde te betoon in al die geslagte, soos die derde gebod dit ook uitspel: “aan die duisendste geslag van hulle wat Hom liefhet en sy gebooie gehoorsaam.”

Die teendeel is ook waar dat Hy elkeen wat Hom haat, straf.  Dit moet hulle aanspoor om die gebod, die voorskrifte en die beslissings wat die Here hulle gee, te gehoorsaam.  Dan sal die Here sy verbond met hulle nakom in sy troue liefde.  Hulle sal sy seën en voorspoed ervaar.  Dit sal selfs met hulle beter gaan as met al die ander volke in terme van vrugbaarheid en siektes!

Moenie vir die nasies bang wees nie – Deut. 7:17-26

Met groot pastorale bewoënheid spreek Moses die vrees vir die nasies aan deur hulle te herinner aan wat die Here met die farao in Egipte gedoen het.  God het reeds en sal steeds met sy wonderdade die nasies die skrik op die lyf jaag: “Moenie vir hulle bang wees nie, want die Here jou God is by jou en Hy is ’n groot en magtige God.

Hy stel ook die volk gerus dat die oorwinning stukkie vir stukkie sal kom: “Jy sal hulle nie almal sommer dadelik kan uitwis nie, want dan sal die wilde diere vir jou te veel word.”  Die oorwinning sal kom deur veldslae, maar ook deur verwarring, totdat almal vernietig is: “Niemand sal jou kan teenstaan nie, jy sal hulle uitdelg.

Maar, dit beteken dat hulle nougeset moet nee sê vir die versoekings van die afgodsbeelde, anders sal dit vir hulle ‘n valstrik word. Wat God verafsku, moet hulle op dieselfde wyse verafsku.  Dit moet vernietig word.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Deuteronomium


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.