Deuteronomium 7 – Die liefde van die Here stel jou in staat om gehoorsaam te wees

https://truthinmotion.wordpress.com /2013/06/20/word50/

Dit bly vir my verstommend om te sien hoe elke deel van die Skrif inpas by elke ander deel daarvan.  Waar Deuteronomium 6 die volk opgeroep het om die Here met hart, siel en krag lief te hê op grond van die Tien Gebooie wat in Deuteronomium 5 herhaal is, begrond Deuteronomium 7 dié oproep in die liefde wat die Here vir hulle het!

Dit is presies hoe dit werk in ons verhouding met die Here.  Hy gee vir ons wat Hy van ons vra.  Sy liefde vir ons is die dryfveer vir ons liefde vir Hom.  Alles begin by Hom.  Daarom kan Hy alles van ons vra.

In jou stilword vandag oordink in die eerste plek hierdie lewensveranderende waarheid dat jy die Here kan liefhê: “omdat die Here jou liefhet en Hy sy belofte nakom.” (Deut. 7:8).

Die teendeel is egter net so waar.  Waar God teengestaan word, waar sy wil nie nagekom word nie, waar afgode in sy plek aanbid word, dáár ontvlam sy toorn en trek Hy sy seën en beskerming terug.  Sy oordeel is die gevolg van sy vertrapte liefde.

God se oorlogsbeleid

Deuteronomium 7 staan daarom bekend as God se oorlogsbeleid (Craigie).  Soos die Here in Eksodus 15 se antieke lied van Moses en Mirjam Homself as die Bewerker van wonderdade wat sy volk beskerm en sy vyande verpletter openbaar, só is Hy dit ook hier in Deuteronomium 7.  Hy maak aan die een kant beloftes waar en seën en beskerm sy volk in die proses.  Hy tree aan die ander kant op teen sy vyande en vervolg en verpletter hulle.

Beide kante van God – die seën en die oordeel – is aspekte van sy soewereine Koningskap.  Hy is die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde, wat die wel en weë van alle mense van altyd af en tot in aller ewigheid bepaal.

As Moses dus hier sewe nasies noem wat met die Intog uitgewis moes word, dan is dit omdat die maat van hulle teenstand teen die Here vol geraak het, en die Here besluit het om op te tree.

En laat ons onmiddellik onthou, dieselfde lot sou Israel twee keer tref, omdat hulle self nie die Here gedien het soos Hy gevra het nie.  Die Here tree nie anders op met die nasies as wat Hy met sy eie volk optree nie.

Dieselfde oordeel tref almal wat teen die Here in opstand kom.  Gelukkig ook dieselfde seën vir diegene wat die Here lief het!

Die Here sal baie nasies voor jou uit verdryf – Deut. 7:1-6

Die oorlog is die Here s’n, want dit is Hy wat die nasies se land aan sy volk gee.  Daarom sal Hy al die nasies voor hulle uit verdryf al is hulle groter en sterker as Israel.

Die sewe nasies is meesal uit die nageslag van Kanaän, seun van Gam (Gen. 10:16):

  1. Hetiete, van wie Abraham Makpela-grot gekoop het, oorspronklik van Anatolië in die hedendaagse Turkye (Gen. 23:17);
  2. Girgasiete, waaroor ons geen buite-Bybelse inligting het nie;
  3. Amoriete, aanvanklik van die Eufraat-gebied;
  4. Kanaäniete, die oorspronklike inwoners van die land;
  5. Feresiete, waarskynlik ‘n subgroep van die Kanaäniete (Gen. 13:7; 34:30);
  6. Hewiete, onderkant Hermon in die Mispegebied (Jos. 11:3), waarskynlik dieselfde mense as die Goriete (Deut. 2:12);
  7. Jebusiete, in die Bergland in en om Jerusalem (Jos. 11:3; 15:8).

Dit is dieselfde nasies wie se grondgebied aanvanklik in die belofte aan Abraham genoem is, uitgesonderd die Hewiete.  In die aanvanklike belofte word ook die Keniete, Kenissiete, Kadmoniete en Refaïete genoem (Gen. 15:21; vgl. Neh. 9:8).  In die opdrag aan Moses met die Uittog word die Hewiete egter ook genoem as deel van die gawe van die Here aan sy volk (Eks. 3:8).

Daarom mag Israel die nasies nie jammer kry en ’n verbond met hulle sluit nie.  Hulle mag glad nie met hulle ondertrou nie, want só sal die kinders van die Here af wegrokkel word om ander gode te dien. Dan sal hulle op hulle beurt die toorn van die Here laat ontvlam wat hulle sal verdelg.

Hulle moet elke teken van die Kanaäniete se afgodsdiens verwyder en verwoes om net aan die Here toegewyd te lewe: “Jy is ’n volk wat vir die Here jou God afgesonder is. Vir jou het die Here jou God gekies om uit al die volke op die aarde sy eiendomsvolk te wees.” (vgl. 1 Pet. 2:9; Openb. 5:10; 20:6!).

Die Here het Israel gekies omdat Hy hulle liefhet – Deut. 7:7-16

Moses herinner die volk daaraan dat die Here hulle nie liefgekry en gekies het omdat hulle ‘n groter nasie was as die ander nie.  Trouens, hulle was die kleinste van almal.  Dit is suiwer: “Omdat die Here jou liefhet en Hy sy belofte nakom wat Hy met ’n eed bekragtig het aan jou voorvaders.

Daaruit kan hulle ‘n groot stuk troos put.  Die Here is hulle God.  Hy is betroubaar om sy verbond in stand te hou en sy troue liefde te betoon in al die geslagte, soos die derde gebod dit ook uitspel: “aan die duisendste geslag van hulle wat Hom liefhet en sy gebooie gehoorsaam.”

Die teendeel is ook waar dat Hy elkeen wat Hom haat, straf.  Dit moet hulle aanspoor om die gebod, die voorskrifte en die beslissings wat die Here hulle gee, te gehoorsaam.  Dan sal die Here sy verbond met hulle nakom in sy troue liefde.  Hulle sal sy seën en voorspoed ervaar.  Dit sal selfs met hulle beter gaan as met al die ander volke in terme van vrugbaarheid en siektes!

Moenie vir die nasies bang wees nie – Deut. 7:17-26

Met groot pastorale bewoënheid spreek Moses die vrees vir die nasies aan deur hulle te herinner aan wat die Here met die farao in Egipte gedoen het.  God het reeds en sal steeds met sy wonderdade die nasies die skrik op die lyf jaag: “Moenie vir hulle bang wees nie, want die Here jou God is by jou en Hy is ’n groot en magtige God.

Hy stel ook die volk gerus dat die oorwinning stukkie vir stukkie sal kom: “Jy sal hulle nie almal sommer dadelik kan uitwis nie, want dan sal die wilde diere vir jou te veel word.”  Die oorwinning sal kom deur veldslae, maar ook deur verwarring, totdat almal vernietig is: “Niemand sal jou kan teenstaan nie, jy sal hulle uitdelg.

Maar, dit beteken dat hulle nougeset moet nee sê vir die versoekings van die afgodsbeelde, anders sal dit vir hulle ‘n valstrik word. Wat God verafsku, moet hulle op dieselfde wyse verafsku.  Dit moet vernietig word.

View all posts in this series

Deuteronomium


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: