Skip to main content

Deuteronomium 27 – Gehoorsaamheid word van die leiers, priesters en die hele volk gevra

https://truthinmotion.wordpress.com /2013/06/20/word50/

Moses trek die leiers (oudstes) van Israel in by die derdelaaste deel van sy tweede preek met die opdrag om ‘n altaar te bou op Ebalberg net ná die Intog.  Op die klippe daarvan moes die woorde van die wet aangebring word as ‘n herinnering om daaraan gehoorsaam te wees (Deut. 27:1-8).  Hy trek die priesters en Leviete op soortgelyke wyse in by die tweedelaaste deel van sy tweede preek met die opdrag om in die middel van die twee berge net wes van die Jordaan te gaan staan met die helfte van die volk teen die hange van Gerisimberg en die ander helfte teen die hange van Ebalberg.  Die stamme teen die hange van Gerisim sou die seëninge van die verbond simboliseer.  Die stamme teen die hange van Ebal sou die strawwe van die verbond simboliseer.  Die Leviete moes dan die hele volk aan twaalf vloeke herinner wat op oortreders van die verbond sou rus (Deut. 27:12-26).  Wat die vloeke (en die seën) behels, word in die volgende hoofstuk uitgespel.

Die leiers kry die opdrag om ‘n altaar te bou waarop die wet geskrywe is – Deut. 27:1-8

‘n Mens kan nie anders as om in ontsag te staan vir die moeite wat die Here doen deur die leierskap van Moses om gehoorsaamheid aan sy wet te bevorder nie.  Nie net is die Tien Gebooie nou al twee keer as die fundamentele wil van God aan hulle deurgegee nie (Eks. 20; Deut. 5) en op kliptafels in die ark gebêre nie.  Nie net is die Tabernakel nougeset gebou volgens God se voorskrifte om permanensie aan God se teenwoordigheid onder die volk te verleen vanwaar die betekenis van die wet uitgelê kon word nie.  Nie net is die Tien Gebooie met 613 verskillende konkrete en praktiese voorskrifte (gebaseer op die werk van Rabbi Moshe ben Maimon, beter bekend as Maimonides – 1135-1204) uitgebrei in die boeke Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium sodat die volk geen onsekerheid sou hê oor wat gehoorsaamheid sou behels nie.

Nee, die leiers word beveel om die wet nóg ‘n keer op die klippe van ‘n altaar aan te bring teen die hange van Ebalberg nét na hulle deur die Jordaan getrek het.  Die kalk waarmee die klippe afgewit is, sou ‘n goeie oppervlak gee om die gebooie daarop te kan skryf, sodat dit vir almal duidelik kon wees.  Dit sou ook die eerste plek wees waar hulle brandoffers en maaltydoffers kon bring om versoening vir hulle sondes te bewerk.

En onthou, die Here besluit uiteindelik dat selfs dít nie genoeg is nie, en skryf deur sy Gees die wet op ons harte (Jer. 31:31-34; Hebr. 8:7-13) sodat ons nie nog na ‘n berg of die tabernakel hoef te loop om te gaan lees wat God wil nie.  Ons weet dus as gelowiges van die NT van binne-af wat God wil soos Hy ons deur sy Woord en Gees in ons harte en lewens begelei op grond van die soenverdienste van die Here Jesus Christus.

Die Leviete kry opdrag om die volk aan twaalf vloeke van die verbond te herinner – Deut. 27:9-26

Die Leviete moes tussen die volk gaan staan in die vlakte tussen die Gerisimberg en die Ebalberg.  Dit was naby Sigem 40 km noord van Jerusalem, wes van die Jordaan.  Die helfte van die volk moes teen die hange van Gerisim (Simeon, Levi, Juda, Issaskar, Josef en Benjamin) gaan staan en die ander helfte teen die hange van Ebal (Ruben, Gad, Aser, Sebulon, Dan en Naftali).

Die stamme teen Gerisim het die seën van die verbond gesimboliseer.  Die stamme teen die hange van Ebal het die strawwe en vloeke van die verbond gesimboliseer.  Die Leviete moes dan die hele volk aan twaalf vloeke herinner wat op oortreders van die verbond sou rus.

Let op hoe die gewig van hierdie laaste deel van Moses preek onderstreep word met die woorde: “Bly stil en luister, Israel! Vandag het jy die volk van die Here jou God geword. Jy moet na die Here jou God luister en jy moet lewe volgens die gebooie en die voorskrifte wat ek jou vandag beveel.”  Dit herinner aan die sjema van Deut. 6:4-5 waarmee Moses hierdie preek van hom begin het, sowel as aan die Here Jesus se opsomming van die wet (Mark. 12:28-34).

Die stamme op Gerisim was vier van die oudstes van Lea se eie kinders – Simeon, Levi, Juda en Issaskar  – uitgesonderd haar oudste, Ruben, wat op die ander berg geplaas is, moontlik weens sy sonde met Bilha.  Hy het by dié slavin van Ragel geslaap moontlik in ‘n poging om te keer dat dié slavin bó sy ma, Lea, verhef word (vgl. die sesde vloek hieronder).  Daarmee saam was Ragel se twee eie kinders – Josef en Benjamin – op Gerisim geplaas.

Die stamme op Ebal was eerstens Lea se oudste eie kind, Ruben.  Dan word Gad en Aser genoem, die oudste twee van Silpa, die slavin van Lea.  Daarna kom Sebulon, Lea se sesde eie kind.  Daarna die twee kinders van Bilha, die slavin van Ragel, naamlik Dan en Naftali.

Op elkeen van die twaalf vloeke moes die volk hulle gehoorsaam betuig met ‘n: “Amen!”  Die twaalf vloeke was gemik op verskillende aspekte van die Tien Gebooie, veral vier seksuele oortredinge in terme van die sewende gebod.  Let ook op dat al die sondes eintlik in die geheim gepleeg is of ten minste weg uit die openbare oog:

  1. Daar rus ’n vloek op elkeen wat ’n afgodsbeeld uitsny of giet en dit in die geheim êrens neersit om te vereer. Die Here het ’n afsku daarvan. Dit is mensewerk.” (tweede gebod).
  2. Daar rus ’n vloek op elkeen wat sy pa of ma minag.” (vyfde gebod).
  3. Daar rus ’n vloek op elkeen wat die grenslyn van sy buurman verlê!” (agste gebod).
  4. Daar rus ’n vloek op elkeen wat ’n blinde op ’n verkeerde pad lei!” (negende gebod).
  5. Daar rus ’n vloek op elkeen wat nie reg laat geskied aan ’n vreemdeling, ’n weeskind of ’n weduwee nie!
  6. Daar rus ’n vloek op elkeen wat gemeenskap het met sy pa se vrou, want hy het haar wat aan sy pa behoort, ontbloot.” (sewende gebod).
  7. Daar rus ’n vloek op elkeen wat gemeenskap het met enige dier!” (sewende gebod).
  8. Daar rus ’n vloek op elkeen wat gemeenskap het met sy suster, ’n dogter van sy pa of sy ma.” (sewende gebod).
  9. Daar rus ’n vloek op elkeen wat gemeenskap het met sy skoonma!” (sewende gebod).
  10. Daar rus ’n vloek op elkeen wat sy naaste doodmaak, al is dit in die geheim!” (sesde gebod).
  11. Daar rus ’n vloek op elkeen wat omkoopgeld aanvaar om ’n onskuldige dood te maak!” (sesde gebod).
  12. Daar rus ’n vloek op elkeen wat nie hierdie wet onderhou en nie daarvolgens lewe nie!

Wat hierdie vloeke (en die seën) behels word in die volgende hoofstuk uitgespel.  Dit sluit in die terugtrek en omkering van die seën van God; die ervaring om God as teëstander te hê deur verwarring, siekte en droogte; die vernedering onder die nasies deur nederlaag en ballingskap, en totale vernietiging.

Interessant, die Samaritane het later ‘n heiligdom op Gerisimberg gebou, en net die Pentateug as hulle heilige boek beskou.  Dit is dié berg waarna die Samaritaanse vrou by die put verwys as sy in gesprek is met Jesus en Hy die waarheid verkondig dat God in Hom nou oral aanbid kan word, nie net op ‘n enkele berg nie, hoe heilig dit ook al is (Joh. 4:20-24).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Deuteronomium


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar