Skip to main content

Deuteronomium 22 – Respek vir die grense van God vir die lewe en die huwelik

https://truthinmotion.wordpress.com /2013/06/20/word50/

Moses trek nou die beginsel van respek vir die lewe en die grense wat God gestel het deur na ‘n hele aantal ander sake.

Hy begin met agt losstaande sake: hulp aan jou naaste se verdwaalde diere of diere van hom wat geval het, die dra van klere wat pas by jou geslag, die beskerming van wyfievoëls, veiligheidsbewustheid by jou huis, geen vermenging van verskillende sade of materiale of die inspan van oneweredige trekdiere nie, sowel as die gebod om klossies aan die klere te dra, wat ons uit Numeri 15:37-41 weet ‘n herinnering was aan die gebooie van die Here (Deut. 22:1-12).

Hy pas die beginsel van respek toe op ses gevalle waardeur die huwelik in die gedrang kan kom: twee gevalle van voorhuwelikse seks, twee gevalle van owerspel of verkragting, en twee gevalle van bloedskande (Deut. 22:13-30).

In die volgende drie hoofstukke sal Moses nog verskeie voorbeelde noem waarin respek vir die lewe en die grense wat God gestel het prakties uitgespel sal word vir toepassing in: die gemeente of volksvergadering, persoonlike higiëne, beskerming van slawe, die verbod op kultiese of gewone prostitusie, beperking op rente, betaling van geloftesbeskerming van ander se eiendom, egskeiding, en ander voorskrifte wat die menswaardigheid van mense beskerm het. ‘n Uitsondering is die uitwissing van die Amalekiete weens hulle oorlogsugtigheid in die woestyn!

Respek vir die lewe en God se grense toegepas op agt losstaande sake – Deut. 22:1-12

Moses pas die beginsel van die respek vir die lewe en die respek vir die grense wat God stel toe op agt losstaande sake.

  • Uit respek vir diere en hulle eienaars help ‘n mens verdwaalde diere, selfs al is hulle nie jou eie nie: “Jy mag jou nie blind hou nie”! Jy mag nie onverskillig staan nie.  Jy moet jou naaste help, selfs al ken jy hom nie!  Jy tel ook die diere van jou naaste op wat geval het.  Hoe ironies dat die priester en die Leviet hulle blind gehou het vir die man wat onder die rowers geval het.  Hulle het nie eers die man bejeën met die respek wat ‘n mens ‘n dier verskuldig was nie (Luk. 10:31-32)!
  • Uit respek vir die ander geslag trek mans en vrouens nie dieselfde aan nie. Transvestisisme word hiermee afgewys, moontlik ook homoseksuele gedrag, hoewel die presiese kleredrag nie gespesifiseer word nie en die Hebreeuse woord (ke) ook wapens en ander manlike gebruiksartikels kon insluit.  Dit is nie asof daar iets inherent verkeerd is met die dra van spesifieke klere of gebruiksartikels nie.  Dit is doodgewoon ‘n grens wat God gestel het tussen mans en vroue wat sosiaal ook in kleredrag respekteer moet word.
  • Uit respek vir die voortbestaan van wilde diere word wyfievoëls beskerm sodat daar nóg kleintjies gebore kan word. ‘n Korttermyn voordeel – om al die voëls te eet of te gebruik vir offers – moenie langtermyn voordele – om ‘n voorraad voëls ook vir die toekoms te hê – dwarsboom nie.
  • Uit respek vir jou gaste sorg jy dat daar veiligheidsreëlings by jou huis aangebring word, sodat hulle nie per ongeluk afval van die kuierplek op die platdakhuise nie. Daar moenie ter wille van koste gespaar word en daarmee mense se lewens in gevaar gestel word nie.
  • Uit respek vir die uniekheid van spesies word geen vermenging van verskillende sade toegelaat nie. Weereens is daar nie iets inherent verkeerd daaraan nie, hoewel dit ook tot nadeel van die oes kan wees indien dit onversigtig gedoen word.  Die voorskrif was dat die opbrengs in sulke gevalle aan die Tabernakel behoort het.
  • Uit respek vir die oneweredige krag van ‘n bees en ‘n donkie mag hulle nie saam as trekdiere ingespan word nie. Die bees was ook ‘n rein dier – met ‘n gesplete hoef en ‘n herkouer – en die donkie onrein – sonder ‘n gesplete hoef.
  • Uit respek vir die Tabernakel mag wol en linne nie gemeng word nie, want dit was afgesonder vir gewyde gebruik (Eks. 26).
  • Uit respek vir die gebooie van die Here moes klossies aan die klere vasgewerk word om hulle daagliks te herinner aan die gebooie van die Here (vgl. Num. 15:37-41).

Ses gevalle waardeur die huwelik in die gedrang kom – Deut. 22:13-30

Moses pas vervolgens die beginsel van respek vir die lewe en die grense wat God stel toe op ses gevalle waardeur die huwelik in die gedrang kan kom.

Die eerste twee gevalle hanteer die problematiek van voorhuwelikse seks.  ‘n Vrou wat vóór haar huwelik reeds geslagsgemeenskap gehad het, het die gevaar geloop om nie net ‘n slegte naam te kry nie, maar gestenig te word.  Voorhuwelikse seks was doodgewoon ‘n ongehoorde ding in Israel.  ‘n Man wat haar egter valslik beskuldig het – en daarvoor was die getuienis van die eerste geslagsgemeenskap baie belangrik – is ook gestraf met ‘n drag slae en ‘n swaar boete en die man mag die vrou nooit daarna geskei het nie.  Paulus reël in die NT dat mense wat van begeerte brand, moet trou, sodat hulle nie in sonde leef deur voorhuwelikse seks nie (1 Kor. 7:8-9).

Die volgende twee gevalle hanteer die problematiek van owerspel of verkragting.  Owerspel is ook met die dood gestraf, veral waar mense op heterdaad betrap is.  Terloops, Jesus verander hierdie doodstraf in Johannes 8, maar reken steeds owerspel as sonde.  Verkragters is volgens Deuteronomium ook met die dood gestraf, veral in die geval van ‘n vrou wat reeds verloof was, hoewel dit duidelik moes blyk dat dit die geval was, d.w.s. dat die vrou nie saamgespeel het nie.

Vir ons gevoel is die reëling dat ‘n verkragter met ‘n ongetroude vrou moes trou en vir haar sorg vreemd.  Maar, ons moet onthou, dat só ‘n vrou nooit sou kon trou nie.  Dié reëling het nie net vir haar gesorg in terme van lewensonderhoud nie, maar was ook ‘n waarskuwing aan potensiële verkragters.  Glad nie ‘n ideale situasie nie, maar ‘n poging om die beste van ‘n slegte saak te maak.

Die laaste twee gevalle hanteer die problematiek van bloedskande.  ‘n Seun mag nie met sy pa se vrou getrou het nie.  Hy mag ook nie geslagsgemeenskap gehad het met ‘n vrou van sy pa nie.  Paulus handhaaf hierdie reël in sy skrywe aan die gemeente van Korinte (1 Kor. 5:1-13).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Deuteronomium


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Wat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ja Gerhard, ek sal eerder sê dat 'n mens jouself kan verafgod, as jou geloof as sodanig. Die Bybel praat nie so nie so ver ek kan agterkom. Die Bybel wys uiteraard afgode af, en dinge soos gierigheid wat 'n afgod kan raak. Daaruit kan 'n mens aflei dat enigiets wat in die plek van God gestel word, o…
  • Gerhard on Wat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ds ek is besig om afgodery na te slaan. Ek het 'n ds gehoor met die opmerking dat jy jou geloof kan verafgod? Afgodery is tog weg van God af soos wat ek verstaan. Groete Gerhard
  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.