Skip to main content

Deuteronomium 22 – Respek vir die grense van God vir die lewe en die huwelik

https://truthinmotion.wordpress.com /2013/06/20/word50/

Moses trek nou die beginsel van respek vir die lewe en die grense wat God gestel het deur na ‘n hele aantal ander sake.

Hy begin met agt losstaande sake: hulp aan jou naaste se verdwaalde diere of diere van hom wat geval het, die dra van klere wat pas by jou geslag, die beskerming van wyfievoëls, veiligheidsbewustheid by jou huis, geen vermenging van verskillende sade of materiale of die inspan van oneweredige trekdiere nie, sowel as die gebod om klossies aan die klere te dra, wat ons uit Numeri 15:37-41 weet ‘n herinnering was aan die gebooie van die Here (Deut. 22:1-12).

Hy pas die beginsel van respek toe op ses gevalle waardeur die huwelik in die gedrang kan kom: twee gevalle van voorhuwelikse seks, twee gevalle van owerspel of verkragting, en twee gevalle van bloedskande (Deut. 22:13-30).

In die volgende drie hoofstukke sal Moses nog verskeie voorbeelde noem waarin respek vir die lewe en die grense wat God gestel het prakties uitgespel sal word vir toepassing in: die gemeente of volksvergadering, persoonlike higiëne, beskerming van slawe, die verbod op kultiese of gewone prostitusie, beperking op rente, betaling van geloftesbeskerming van ander se eiendom, egskeiding, en ander voorskrifte wat die menswaardigheid van mense beskerm het. ‘n Uitsondering is die uitwissing van die Amalekiete weens hulle oorlogsugtigheid in die woestyn!

Respek vir die lewe en God se grense toegepas op agt losstaande sake – Deut. 22:1-12

Moses pas die beginsel van die respek vir die lewe en die respek vir die grense wat God stel toe op agt losstaande sake.

  • Uit respek vir diere en hulle eienaars help ‘n mens verdwaalde diere, selfs al is hulle nie jou eie nie: “Jy mag jou nie blind hou nie”! Jy mag nie onverskillig staan nie.  Jy moet jou naaste help, selfs al ken jy hom nie!  Jy tel ook die diere van jou naaste op wat geval het.  Hoe ironies dat die priester en die Leviet hulle blind gehou het vir die man wat onder die rowers geval het.  Hulle het nie eers die man bejeën met die respek wat ‘n mens ‘n dier verskuldig was nie (Luk. 10:31-32)!
  • Uit respek vir die ander geslag trek mans en vrouens nie dieselfde aan nie. Transvestisisme word hiermee afgewys, moontlik ook homoseksuele gedrag, hoewel die presiese kleredrag nie gespesifiseer word nie en die Hebreeuse woord (ke) ook wapens en ander manlike gebruiksartikels kon insluit.  Dit is nie asof daar iets inherent verkeerd is met die dra van spesifieke klere of gebruiksartikels nie.  Dit is doodgewoon ‘n grens wat God gestel het tussen mans en vroue wat sosiaal ook in kleredrag respekteer moet word.
  • Uit respek vir die voortbestaan van wilde diere word wyfievoëls beskerm sodat daar nóg kleintjies gebore kan word. ‘n Korttermyn voordeel – om al die voëls te eet of te gebruik vir offers – moenie langtermyn voordele – om ‘n voorraad voëls ook vir die toekoms te hê – dwarsboom nie.
  • Uit respek vir jou gaste sorg jy dat daar veiligheidsreëlings by jou huis aangebring word, sodat hulle nie per ongeluk afval van die kuierplek op die platdakhuise nie. Daar moenie ter wille van koste gespaar word en daarmee mense se lewens in gevaar gestel word nie.
  • Uit respek vir die uniekheid van spesies word geen vermenging van verskillende sade toegelaat nie. Weereens is daar nie iets inherent verkeerd daaraan nie, hoewel dit ook tot nadeel van die oes kan wees indien dit onversigtig gedoen word.  Die voorskrif was dat die opbrengs in sulke gevalle aan die Tabernakel behoort het.
  • Uit respek vir die oneweredige krag van ‘n bees en ‘n donkie mag hulle nie saam as trekdiere ingespan word nie. Die bees was ook ‘n rein dier – met ‘n gesplete hoef en ‘n herkouer – en die donkie onrein – sonder ‘n gesplete hoef.
  • Uit respek vir die Tabernakel mag wol en linne nie gemeng word nie, want dit was afgesonder vir gewyde gebruik (Eks. 26).
  • Uit respek vir die gebooie van die Here moes klossies aan die klere vasgewerk word om hulle daagliks te herinner aan die gebooie van die Here (vgl. Num. 15:37-41).

Ses gevalle waardeur die huwelik in die gedrang kom – Deut. 22:13-30

Moses pas vervolgens die beginsel van respek vir die lewe en die grense wat God stel toe op ses gevalle waardeur die huwelik in die gedrang kan kom.

Die eerste twee gevalle hanteer die problematiek van voorhuwelikse seks.  ‘n Vrou wat vóór haar huwelik reeds geslagsgemeenskap gehad het, het die gevaar geloop om nie net ‘n slegte naam te kry nie, maar gestenig te word.  Voorhuwelikse seks was doodgewoon ‘n ongehoorde ding in Israel.  ‘n Man wat haar egter valslik beskuldig het – en daarvoor was die getuienis van die eerste geslagsgemeenskap baie belangrik – is ook gestraf met ‘n drag slae en ‘n swaar boete en die man mag die vrou nooit daarna geskei het nie.  Paulus reël in die NT dat mense wat van begeerte brand, moet trou, sodat hulle nie in sonde leef deur voorhuwelikse seks nie (1 Kor. 7:8-9).

Die volgende twee gevalle hanteer die problematiek van owerspel of verkragting.  Owerspel is ook met die dood gestraf, veral waar mense op heterdaad betrap is.  Terloops, Jesus verander hierdie doodstraf in Johannes 8, maar reken steeds owerspel as sonde.  Verkragters is volgens Deuteronomium ook met die dood gestraf, veral in die geval van ‘n vrou wat reeds verloof was, hoewel dit duidelik moes blyk dat dit die geval was, d.w.s. dat die vrou nie saamgespeel het nie.

Vir ons gevoel is die reëling dat ‘n verkragter met ‘n ongetroude vrou moes trou en vir haar sorg vreemd.  Maar, ons moet onthou, dat só ‘n vrou nooit sou kon trou nie.  Dié reëling het nie net vir haar gesorg in terme van lewensonderhoud nie, maar was ook ‘n waarskuwing aan potensiële verkragters.  Glad nie ‘n ideale situasie nie, maar ‘n poging om die beste van ‘n slegte saak te maak.

Die laaste twee gevalle hanteer die problematiek van bloedskande.  ‘n Seun mag nie met sy pa se vrou getrou het nie.  Hy mag ook nie geslagsgemeenskap gehad het met ‘n vrou van sy pa nie.  Paulus handhaaf hierdie reël in sy skrywe aan die gemeente van Korinte (1 Kor. 5:1-13).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Deuteronomium


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda