Skip to main content

Deuteronomium 31:30-32:52 – Moses se loflied op die karakter van God

https://truthinmotion.wordpress.com /2013/06/20/word50/

Deuteronomium 32 is ‘n loflied op die karakter van God in sy ewewigtige hantering van Israel ten spyte van hulle wispelturigheid.  Dit is egter ook ‘n getuienis téén die volk wat hulle waarsku om rekening te hou met die God wat in die geskiedenis en die natuur sy almag kan betoon (Deut. 32:1-44).

Die betekenis van die loflied word onderstreep deur Moses se woorde daarna dat dit nie ’n geringe saak is vir hulle nie: “dit is die lewe vir julle.” (Deut. 32:45-47).  Daarna beveel die Here vir Moses om op die Neboberg te klim waar hy sou sterf (Deut. 32:48-52).

Ek gee die vertaling van die loflied min of meer weer soos dit in die nuutste BDV verskyn, met enkele wysigings en ‘n eie indeling van die onderskeie verse in gedagte eenhede.  Uit my indeling sal my weergawe van die boodskap van die loflied ook blyk:

  1. Hemel en aarde is getuies van God se onderrig – Deut. 32:1-3
  2. God is betroubaar – die volk is dwaas en onverstandig – Deut. 32:4-7
  3. God is goed vir alle nasies, maar in die besonder vir sy volk – Deut. 32:8-14
  4. Israel het eiesinnig geword en God versaak – Deut. 32:15-18
  5. Die Here het dit gesien en hulle verstoot – Deut. 32:19-25
  6. Die Here wou hulle uitwis, maar het Hom bedink weens sy vyande – Deut. 32:26-35
  7. Die Here sal sy volk tot insig bring – Deut. 32:36-43

Lees daarom die onderstaande loflied aandagtig deur en probeer om drie goed vir jouself te merk in die gedeelte om oor na te dink:

  1. Wat sê die loflied oor God se karakter?
  2. Wat sê die loflied oor die volk se karakter?
  3. Wat sê die loflied oor God se optrede teenoor sy volk?

1.  Hemel en aarde is getuies van God se onderrig – Deut. 32:1-3

1“Luister hemele, ek wil praat,
en aarde, jy moet die woorde van my mond hoor.
2Mag my onderrig neerstuif soos reën,
my woorde drup soos dou,
soos deurdringende reën op groen gras,
soos reënbuie op plante.
3Ja, die Naam van die Here roep ek uit,
Erken die grootheid van ons God.

2.  God is betroubaar – die volk is dwaas en onverstandig – Deut. 32:4-7

4Die Rots!  Volmaak is sy werk,
ja, al sy paaie is ‘n maatstaf.
‘n Betroubare God, sonder onreg,
regverdig en onkreukbaar is Hy.
5“Sy volk het hulle teenoor Hom wangedra;
hulle is nie sy kinders nie, maar ‘n skandvlek,
‘n vals en verworde geslag.
6Is dit hoe julle teenoor die Here optree,
dwase en onverstandige volk?
Is Hy nie jou Vader wat jou geskep het nie?
Hy is die Een wat jou gemaak het,
wat jou gevestig het.
7Onthou die tye lank gelede,
dink aan die jare van vorige geslagte;
vra jou vader, hy sal jou inlig;
jou ou mense, hulle sal dit vir jou sê:

3.  God is goed vir alle nasies, maar in die besonder vir sy volk – Deut. 32:8-14

8“Toe die Allerhoogste vir die nasies hulle erfenis gegee het,
toe Hy mensekinders van mekaar geskei het,
het Hy die grense van volke vasgelê
volgens die getal van die kinders van Israel;
9want die Here se deel is sy volk,
Jakob is sy afgemete erfenis.
10Hy het sy volk in ‘n woestynland gevind,
in ‘n onherbergsame streek met die wildernis se gehuil.
Hy het hom omring, hom versorg,
hom beskerm soos die appel van sy oog.
11Soos ‘n arend sy neskuiken aanspoor,
bo sy jong kuiken fladder,
sy vlerke oopsprei en hom vang,
hom op sy penvere dra,
12het net die Here hom gelei;
daar was geen vreemde god by hom nie.
13Die Here het hom laat ry
oor die hoogtes van die aarde.
Hy het die opbrengs van die veld geëet.
Die Here het hom gevoed met heuning uit ‘n rotsskeur,
met olie uit ‘n klipharde rots,
14met die dikmelk van beeste,
die melk van kleinvee,
ook met die vet van slaglammers,
ramme uit Basan, ook bokramme,
en met die fynste koringmeel.
En druiwebloed het jy gedrink – gistende wyn.

4.  Israel het eiesinnig geword en God versaak – Deut. 32:15-18

15“Jesurun ((‘n troetelnaam vir Israel met die betekenis “opregte”, hier in ‘n ironiese sin gebruik; vgl. Deut. 33:5 vir ‘n positiewe gebruik daarvan)
het vet geword en agterop geskop.
Jy het vet geword, rond geword, eiesinnig geraak.
Hy het die God wat hom gemaak het, versaak,
die Rots wat hom verlos, met minagting behandel.
16“Hulle het die Here met vreemde goed ontstel,
met afstootlike dinge het hulle Hom getart.
17“Hulle het vir demone, vir nie-gode,
vir gode wat hulle nie geken het nie, offers geslag –
nuwes wat maar onlangs na vore gekom het,
gode wat vir julle voorouers nie bestaan het nie.
18Die Rots wat jou verwek het, het jy verontagsaam;
jy het die God wat jou voortgebring het, vergeet.

5.  Die Here het dit gesien en hulle verstoot – Deut. 32:19-25

19“Die Here het dit gesien,
en uit ergernis sy seuns en dogters verstoot.
20Hy het gesê,
‘Ek wil my gesig vir hulle verberg;
Ek wil sien wat van hulle gaan word,
want hulle is ‘n ontaarde geslag,
kinders wat nie vertrou kan word nie.
21Hulle het my ontstel met nie-gode,
My uitgetart met hulle nietige afgode.
Ek gaan hulle ontstel met ‘n nie-volk,
met ‘n dwase nasie gaan Ek hulle tart.
22Want ‘n vuur het opgevlam in my woede,
en dit brand tot in die doderyk daaronder.
Dit verteer die aarde en sy opbrengs,
dit laat die fondamente van die berge in vlamme opgaan.
23Ek bring meer rampe oor hulle,
my pyle skiet Ek alles op hulle af:
24Uitgemergel deur honger,
uitgeteer deur pessiektes en verskriklike epidemies,
lewer Ek hulle uit aan verskeurende diere en giftige slange.
25Buite maai die swaard af,
en in die binnekamers die vrees –
jong man sowel as jong meisie,
die suigeling saam met die grysaard.

6.  Die Here wou hulle uitwis, maar het Hom bedink weens sy vyande – Deut. 32:26-35

26“‘Ek het gedink, Ek moet hulle uitwis,
die herinnering aan hulle onder die mense laat verdwyn,
27was dit nie vir die ergernis van vyande wat My afgeskrik het nie.
Anders maak hulle teenstanders ‘n verkeerde afleiding en sê:
“Ons mag het geseëvier; die Here het niks hiervan gedoen nie.”
28“Ja, die vyand is ‘n nasie wie se planne gedaan is,
by wie daar geen insig is nie.
29As hulle wys was, sou hulle dit begryp,
hulle sou nadink oor hulle einde.
30Hoe kan een dan duisend agtervolg,
en twee tienduisend op die vlug jaag
as hulle rots hulle nie verkoop het nie,
as die Here hulle nie oorgelewer het nie?
31Ja, hulle rots is nie soos ons Rots nie
– ons vyande gee dit toe –
32want uit Sodom se wingerd kom hulle wingerdstokkies,
van die terrasse van Gomorra is hulle druiwekorrels.
Dit is giftige druiwe, hulle dra bitter trosse.
33Hulle wyn is slanggif, die dodelike gif van kobras.
34Die Here sê,
‘Is dit nie by My weggebêre nie,
in my stoorkamers verseël
35vir die dag van wraak en vergelding,
vir die tyd wanneer hulle voete gaan wankel nie?
Want naby is die dag van hulle teenspoed;
wat vir hulle gereed lê, kom gou.’

7.  Die Here sal sy volk tot insig bring – Deut. 32:36-43

36“Maar die Here laat reg geskied aan sy volk,
oor sy diensknegte ontferm Hy Hom,
wanneer Hy sien dat hulle mag verdwyn het,
en dat die einde aangebreek het
vir wie gevange is en vir wie vrygelaat is.
37“Hy sal sê, ‘Waar is hulle gode,
die rots waar hulle geskuil het,
38wat die vet van hulle slagoffers geëet,
en die wyn van hulle drankoffers gedrink het?
Laat hulle opstaan en julle help,
laat hulle oor julle ‘n beskutting wees.
39Sien tog nou in dat Ek, ja, Ek die Een is;
daar is geen god naas My nie.
Ek maak dood en Ek maak lewend;
Ek verpletter, ja, Ek maak gesond,
en niemand red uit my hand nie.
40Ja, Ek hef my hand op na die hemel en sê:
“So waar as wat Ek ewig leef,
41Ek gaan my flitsende swaard skerp maak,
en my hand sal dit vir die vonnis vasgryp.
Ek gaan wraak neem op my teenstanders.
my haters gaan Ek vergeld.
42Ek gaan my pyle dronk maak van bloed
– my swaard sal vleis verslind –
van die bloed van gesneuweldes en gevangenes,
van die vyand se leiers met die los hare.”‘
43“Nasies, juig sy volk toe,
want Hy gaan die bloed van sy diensknegte wreek;
Hy gaan wraak neem op sy teenstanders
en versoening doen vir sy grond, sy volk.”

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Deuteronomium


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.