Deuteronomium 31:30-32:52 – Moses se loflied op die karakter van God

Deuteronomium 32 is ‘n loflied op die karakter van God in sy ewewigtige hantering van Israel ten spyte van hulle wispelturigheid. Dit is egter ook ‘n getuienis téén die volk wat hulle waarsku om rekening te hou met die God wat in die geskiedenis en die natuur sy almag kan betoon (Deut. 32:1-44).
Die betekenis van die loflied word onderstreep deur Moses se woorde daarna dat dit nie ’n geringe saak is vir hulle nie: “dit is die lewe vir julle.” (Deut. 32:45-47). Daarna beveel die Here vir Moses om op die Neboberg te klim waar hy sou sterf (Deut. 32:48-52).
Ek gee die vertaling van die loflied min of meer weer soos dit in die nuutste BDV verskyn, met enkele wysigings en ‘n eie indeling van die onderskeie verse in gedagte eenhede. Uit my indeling sal my weergawe van die boodskap van die loflied ook blyk:
- Hemel en aarde is getuies van God se onderrig – Deut. 32:1-3
- God is betroubaar – die volk is dwaas en onverstandig – Deut. 32:4-7
- God is goed vir alle nasies, maar in die besonder vir sy volk – Deut. 32:8-14
- Israel het eiesinnig geword en God versaak – Deut. 32:15-18
- Die Here het dit gesien en hulle verstoot – Deut. 32:19-25
- Die Here wou hulle uitwis, maar het Hom bedink weens sy vyande – Deut. 32:26-35
- Die Here sal sy volk tot insig bring – Deut. 32:36-43
Lees daarom die onderstaande loflied aandagtig deur en probeer om drie goed vir jouself te merk in die gedeelte om oor na te dink:
- Wat sê die loflied oor God se karakter?
- Wat sê die loflied oor die volk se karakter?
- Wat sê die loflied oor God se optrede teenoor sy volk?
1. Hemel en aarde is getuies van God se onderrig – Deut. 32:1-3
1“Luister hemele, ek wil praat,
en aarde, jy moet die woorde van my mond hoor.
2Mag my onderrig neerstuif soos reën,
my woorde drup soos dou,
soos deurdringende reën op groen gras,
soos reënbuie op plante.
3Ja, die Naam van die Here roep ek uit,
Erken die grootheid van ons God.
2. God is betroubaar – die volk is dwaas en onverstandig – Deut. 32:4-7
4Die Rots! Volmaak is sy werk,
ja, al sy paaie is ‘n maatstaf.
‘n Betroubare God, sonder onreg,
regverdig en onkreukbaar is Hy.
5“Sy volk het hulle teenoor Hom wangedra;
hulle is nie sy kinders nie, maar ‘n skandvlek,
‘n vals en verworde geslag.
6Is dit hoe julle teenoor die Here optree,
dwase en onverstandige volk?
Is Hy nie jou Vader wat jou geskep het nie?
Hy is die Een wat jou gemaak het,
wat jou gevestig het.
7Onthou die tye lank gelede,
dink aan die jare van vorige geslagte;
vra jou vader, hy sal jou inlig;
jou ou mense, hulle sal dit vir jou sê:
3. God is goed vir alle nasies, maar in die besonder vir sy volk – Deut. 32:8-14
8“Toe die Allerhoogste vir die nasies hulle erfenis gegee het,
toe Hy mensekinders van mekaar geskei het,
het Hy die grense van volke vasgelê
volgens die getal van die kinders van Israel;
9want die Here se deel is sy volk,
Jakob is sy afgemete erfenis.
10Hy het sy volk in ‘n woestynland gevind,
in ‘n onherbergsame streek met die wildernis se gehuil.
Hy het hom omring, hom versorg,
hom beskerm soos die appel van sy oog.
11Soos ‘n arend sy neskuiken aanspoor,
bo sy jong kuiken fladder,
sy vlerke oopsprei en hom vang,
hom op sy penvere dra,
12het net die Here hom gelei;
daar was geen vreemde god by hom nie.
13Die Here het hom laat ry
oor die hoogtes van die aarde.
Hy het die opbrengs van die veld geëet.
Die Here het hom gevoed met heuning uit ‘n rotsskeur,
met olie uit ‘n klipharde rots,
14met die dikmelk van beeste,
die melk van kleinvee,
ook met die vet van slaglammers,
ramme uit Basan, ook bokramme,
en met die fynste koringmeel.
En druiwebloed het jy gedrink – gistende wyn.
4. Israel het eiesinnig geword en God versaak – Deut. 32:15-18
15“Jesurun ((‘n troetelnaam vir Israel met die betekenis “opregte”, hier in ‘n ironiese sin gebruik; vgl. Deut. 33:5 vir ‘n positiewe gebruik daarvan)
het vet geword en agterop geskop.
Jy het vet geword, rond geword, eiesinnig geraak.
Hy het die God wat hom gemaak het, versaak,
die Rots wat hom verlos, met minagting behandel.
16“Hulle het die Here met vreemde goed ontstel,
met afstootlike dinge het hulle Hom getart.
17“Hulle het vir demone, vir nie-gode,
vir gode wat hulle nie geken het nie, offers geslag –
nuwes wat maar onlangs na vore gekom het,
gode wat vir julle voorouers nie bestaan het nie.
18Die Rots wat jou verwek het, het jy verontagsaam;
jy het die God wat jou voortgebring het, vergeet.
5. Die Here het dit gesien en hulle verstoot – Deut. 32:19-25
19“Die Here het dit gesien,
en uit ergernis sy seuns en dogters verstoot.
20Hy het gesê,
‘Ek wil my gesig vir hulle verberg;
Ek wil sien wat van hulle gaan word,
want hulle is ‘n ontaarde geslag,
kinders wat nie vertrou kan word nie.
21Hulle het my ontstel met nie-gode,
My uitgetart met hulle nietige afgode.
Ek gaan hulle ontstel met ‘n nie-volk,
met ‘n dwase nasie gaan Ek hulle tart.
22Want ‘n vuur het opgevlam in my woede,
en dit brand tot in die doderyk daaronder.
Dit verteer die aarde en sy opbrengs,
dit laat die fondamente van die berge in vlamme opgaan.
23Ek bring meer rampe oor hulle,
my pyle skiet Ek alles op hulle af:
24Uitgemergel deur honger,
uitgeteer deur pessiektes en verskriklike epidemies,
lewer Ek hulle uit aan verskeurende diere en giftige slange.
25Buite maai die swaard af,
en in die binnekamers die vrees –
jong man sowel as jong meisie,
die suigeling saam met die grysaard.
6. Die Here wou hulle uitwis, maar het Hom bedink weens sy vyande – Deut. 32:26-35
26“‘Ek het gedink, Ek moet hulle uitwis,
die herinnering aan hulle onder die mense laat verdwyn,
27was dit nie vir die ergernis van vyande wat My afgeskrik het nie.
Anders maak hulle teenstanders ‘n verkeerde afleiding en sê:
“Ons mag het geseëvier; die Here het niks hiervan gedoen nie.”
28“Ja, die vyand is ‘n nasie wie se planne gedaan is,
by wie daar geen insig is nie.
29As hulle wys was, sou hulle dit begryp,
hulle sou nadink oor hulle einde.
30Hoe kan een dan duisend agtervolg,
en twee tienduisend op die vlug jaag
as hulle rots hulle nie verkoop het nie,
as die Here hulle nie oorgelewer het nie?
31Ja, hulle rots is nie soos ons Rots nie
– ons vyande gee dit toe –
32want uit Sodom se wingerd kom hulle wingerdstokkies,
van die terrasse van Gomorra is hulle druiwekorrels.
Dit is giftige druiwe, hulle dra bitter trosse.
33Hulle wyn is slanggif, die dodelike gif van kobras.
34Die Here sê,
‘Is dit nie by My weggebêre nie,
in my stoorkamers verseël
35vir die dag van wraak en vergelding,
vir die tyd wanneer hulle voete gaan wankel nie?
Want naby is die dag van hulle teenspoed;
wat vir hulle gereed lê, kom gou.’
7. Die Here sal sy volk tot insig bring – Deut. 32:36-43
36“Maar die Here laat reg geskied aan sy volk,
oor sy diensknegte ontferm Hy Hom,
wanneer Hy sien dat hulle mag verdwyn het,
en dat die einde aangebreek het
vir wie gevange is en vir wie vrygelaat is.
37“Hy sal sê, ‘Waar is hulle gode,
die rots waar hulle geskuil het,
38wat die vet van hulle slagoffers geëet,
en die wyn van hulle drankoffers gedrink het?
Laat hulle opstaan en julle help,
laat hulle oor julle ‘n beskutting wees.
39Sien tog nou in dat Ek, ja, Ek die Een is;
daar is geen god naas My nie.
Ek maak dood en Ek maak lewend;
Ek verpletter, ja, Ek maak gesond,
en niemand red uit my hand nie.
40Ja, Ek hef my hand op na die hemel en sê:
“So waar as wat Ek ewig leef,
41Ek gaan my flitsende swaard skerp maak,
en my hand sal dit vir die vonnis vasgryp.
Ek gaan wraak neem op my teenstanders.
my haters gaan Ek vergeld.
42Ek gaan my pyle dronk maak van bloed
– my swaard sal vleis verslind –
van die bloed van gesneuweldes en gevangenes,
van die vyand se leiers met die los hare.”‘
43“Nasies, juig sy volk toe,
want Hy gaan die bloed van sy diensknegte wreek;
Hy gaan wraak neem op sy teenstanders
en versoening doen vir sy grond, sy volk.”
View all posts in this series
- Inleiding - October 10, 2017
- Begronding van die boodskap van die NT - October 11, 2017
- Hoe om Deuteronomium te lees
- Deuteronomium 1 – Vertroue in en gehoorsaamheid aan die Here is onverhandelbaar - October 12, 2017
- Deuteronomium 2 – God gee die land vir sy volk soos Hy eeue lank al vir ander nasies doen - October 13, 2017
- Deuteronomium 3 – Suksesse en ooreenkomste uit die verlede gee moed in die hede - October 16, 2017
- Deuteronomium 4:1-43 – Moet niks byvoeg of wegvat van God se wet nie; gehoorsaam Hom - October 17, 2017
- Deuteronomium 4:44-5:33 – Julle moet hierdie wet leer, gehoorsaam en daarvolgens lewe - October 18, 2017
- Deuteronomium 6 – Die liefde vir die Here bepaal jou hele lewe - October 19, 2017
- Deuteronomium 7 – Die liefde van die Here stel jou in staat om gehoorsaam te wees - October 20, 2017
- Deuteronomium 8 – Die Here leer die volk afhanklikheid en dankbaarheid - October 23, 2017
- Deuteronomium 9 – Moenie hardnekkig of verwaand raak nie - October 24, 2017
- Deuteronomium 10 – Gehoorsaam die Here, want Hy is jou God - October 25, 2017
- Deuteronomium 11 – Gehoorsaamheid bring seën; ongehoorsaamheid bring straf - October 26, 2017
- Deuteronomium 12 – Aanbid alleen die Here op die plek wat Hy uitkies en volgens sy voorskrifte - October 27, 2017
- Deuteronomium 13 – Moenie ander gode dien agter ander mense aan nie - October 30, 2017
- Deuteronomium 14 – Julle identiteit as Godsvolk moet in alle fasette van die lewe wys - October 31, 2017
- Deuteronomium 15 – Julle vrygewigheid sal in die afskryf van skuld en die vrylating van slawe sigbaar word - November 1, 2017
- Deuteronomium 16:1-17 – Drie feeste vier hulle identiteit: Paasfees, Pinksterfees, en Huttefees - November 2, 2017
- Deuteronomium 16:18-17:20 – Regters en konings moet nougeset volgens die wet regeer - November 3, 2017
- Deuteronomium 18 – Die priesters kry alles wat die Here toekom en die profete raak God se woordvoerders - November 6, 2017
- Deuteronomium 19 – Eerbied vir die lewe, grenslyne en waaragtige getuienis word beveel - November 7, 2017
- Deuteronomium 20 – Die Here soek vreeslose voetsoldate wat die oorlog met ‘n vredesaanbod begin - November 8, 2017
- Deuteronomium 21 – Respek vir die lewe rig selfs die wyse waarop die doodstraf toegepas word - November 9, 2017
- Deuteronomium 22 – Respek vir die grense van God vir die lewe en die huwelik - November 13, 2017
- Deuteronomium 23 – Om vlekloos en blaamloos voor God te lewe - November 14, 2017
- Deuteronomium 24:1-25:4 – Egskeiding, hertrou en praktiese naasteliefde - November 15, 2017
- Deuteronomium 25:5-19 – Die leviraatshuwelik en ‘n oproep tot regverdigheid en billikheid - November 16, 2017
- Deuteronomium 26 – Geloofsbelydenis, gebed en gehoorsaamheid - November 17, 2017
- Deuteronomium 27 – Gehoorsaamheid word van die leiers, priesters en die hele volk gevra - November 20, 2017
- Deuteronomium 28 – Die omvattende seëninge en strawwe van die verbond - November 21, 2017
- Deuteronomium 29 – Kom die woorde van die verbond na en voer dit uit - November 22, 2017
- Deuteronomium 30 – Kies die lewe en wat goed is, nie die dood en wat sleg is nie - November 23, 2017
- Deuteronomium 31:1-29 – Josua word as leier aangewys en die wetboek afgesluit as gesaghebbende woord van God - November 24, 2017
- Deuteronomium 31:30-32:52 – Moses se loflied op die karakter van God - November 27, 2017
- Deuteronomium 33 – Moses se finale seënbede - November 28, 2017
- Deuteronomium 34 – Moses sterf as iemand wat die Here persoonlik geken het - November 29, 2017
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar