Skip to main content

Deuteronomium 18 – Die priesters kry alles wat die Here toekom en die profete raak God se woordvoerders

https://truthinmotion.wordpress.com /2013/06/20/word50/

Na die aandag aan die publieke sisteme van die regstelsel en die politiek, fokus Moses op die godsdienstige sisteme, die priesters en Leviete (Deut. 18:1-8) en die profeet wat die Here vir hulle sal gee (Deut. 18:9-22).  In die geval van die stam van Levi geld die beginsel dat hulle alles kry wat die Here toekom uit die oorvloed wat Hy vir die volk gee.  In die geval van die profeet – let op die enkelvoud – geld die beginsel dat hy, soos Moses, alles moet deurgee wat die Here vir hom in die mond lê.  Hulle word die woordvoerders van die Here.

Die volk moet daarom die profeet nougeset gehoorsaam en doelbewus en konsekwent alle ander stemme ignoreer.  Sommige dink dat Moses hier verwys na die profeteamp.  Die NT beskou dit ten diepste as ‘n verwysing na die Here Jesus Christus (Mark. 6:15; Matt. 21:11, 46; Luk. 1:76; 7:16; 24:19; Joh. 1:45; 4:19; 5:46; 6:14; 7:40; 9:17; Hand. 3:22-23; 7:37).

Die priesters kry wat die Here toekom – Deut. 18:1-8

Omdat die stam van Levi die plek van die eersgeborenes van Israel ingeneem het (vgl. Num. 3-4), om die Here permanent te dien in die kultus van Israel (Num. 8), maak Moses die reëling dat hulle alles kry wat die Here uit die volk toekom.  Dit sluit offers en gawes in.  Israel sou dus vir die Leviete en priesters kos (vleis van die offers en ander kos van die oeste: koring, wyn, en olie) en klere (wolskeersel) verskaf.  Selfs Leviete wat op ander plekke bly in die stede wat deur die ander stamme vir hulle gegee is (Num. 34-35), kon by die sentrale diens kom aansluit, sonder dat hulle erfgoed teen hulle gehou is.

Die Here sal ‘n profeet gee soos Moses om God se woorde aan hulle te gee – Deut. 18:9-22

Moses begin met ‘n waarskuwing teen die “ander stemme” wat hulle in die land sal aantref. Die NAV is nie so duidelik in terme van die sake wat verbied word nie.  Die BDV vertaal dit beter: “Daar mag nooit by jou iemand wees wat sy seun of dogter in die vuur offer (met die oog op ‘n boodskap), of wat voorspellings maak, voortekens lees, waarsêery beoefen, of ‘n towenaar is nie, wat towerspreuke gebruik, waarsêer- of voorvadergeeste oproep, of dooies raadpleeg nie.”  Die Here het ‘n afsku aan die mense wat sulke praktyke beoefen.  Hulle moet aktief teengestaan word en op geen manier nagevolg word nie.  Trouens, dit is juis vanweë dié praktyke wat die Kanaäniete die land verbeur het.

Moses belowe dat die Here ‘n profeet vir hulle sal gee, uit hulle eie geledere, wat soos Moses hulle die wil van God kan leer, in vervulling van die versoek wat hulle destyds by Sinai (Horeb) aan die Here gerig het.  Die Here sal sy woorde in dié profeet se mond lê, in ooreenstemming met die wet wat Hy van Sinai af tot by die vooraand van die Intog in die beloofde land aan Moses gegee het.

Só ‘n profeet mag dus niks anders verkondig as wat die Here hom beveel nie.  Sy gesag sal ook lê in die uitkoms van sy woorde al dan nie.  Dit sal ook bepaal of die volk na hom moes luister of nie.

Die belofte van ‘n profeet het dus onmiddellike betekenis vir hulle, hoewel hulle name eers mettertyd aan ons bekend word.  Ons lees van een naamlose profeet in die Rigterstyd in die tyd van Gideon (Rigt. 6:8), dan natuurlik van die groot profeet Samuel (1 Sam. 3:20) waarna daar sprake is van ‘n profeteskool (1 Sam. 10:10; 19:23).  In die tyd van Dawid is daar ‘n paar profete wat optree (Gad – 1 Sam. 22:5; Natan – 2 Sam. 7:2).  Dit alles voor die groot profeet Elia in die tyd van Agab op die toneel verskyn (1 Kon. 17 tot 2 Kon. 2).

Die belofte van ‘n profeet het egter ook ‘n dieper betekenis.  Die belofte van ‘n profeet is as sodanig ook profeties.  Dit kom ons uit die NT agter.  Jesus word op talle plekke as die profeet waarvan Moses gepraat het, geïdentifiseer, soos dit bv. ‘n paar keer in die evangelie van Johannes gestel word.  Filippus verduidelik vir Natanael: “Ons het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het.” (Joh. 1:45).  Die skare by die wonderteken van die broodvermeerdering maak dieselfde konneksie: “Hy is werklik die Profeet, die Een wat na die wêreld toe moes kom.” (Joh. 6:14), soos ook sommige mense by die huttefees: “Hy is werklik die Profeet.” (Joh. 7:40).

Dit het ook deel van Jesus se selfverstaan gevorm: “As julle Moses geglo het, sou julle in My geglo het, want hy het van My geskrywe.” (Joh. 5:46).  Ná Jesus se opstanding en hemelvaart verkondig Petrus (Hand. 3:22-23) en Stefanus (Hand. 7:37) dit dan ook as deel van die boodskap van die koninkryk (Vergelyk ook Mark. 6:15, Matt. 21:11, 46, Luk. 1:76; 7:16; 24:19; Joh. 4:19; 9:17).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Deuteronomium


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms