Deuteronomium 18 – Die priesters kry alles wat die Here toekom en die profete raak God se woordvoerders

https://truthinmotion.wordpress.com /2013/06/20/word50/

Na die aandag aan die publieke sisteme van die regstelsel en die politiek, fokus Moses op die godsdienstige sisteme, die priesters en Leviete (Deut. 18:1-8) en die profeet wat die Here vir hulle sal gee (Deut. 18:9-22).  In die geval van die stam van Levi geld die beginsel dat hulle alles kry wat die Here toekom uit die oorvloed wat Hy vir die volk gee.  In die geval van die profeet – let op die enkelvoud – geld die beginsel dat hy, soos Moses, alles moet deurgee wat die Here vir hom in die mond lê.  Hulle word die woordvoerders van die Here.

Die volk moet daarom die profeet nougeset gehoorsaam en doelbewus en konsekwent alle ander stemme ignoreer.  Sommige dink dat Moses hier verwys na die profeteamp.  Die NT beskou dit ten diepste as ‘n verwysing na die Here Jesus Christus (Mark. 6:15; Matt. 21:11, 46; Luk. 1:76; 7:16; 24:19; Joh. 1:45; 4:19; 5:46; 6:14; 7:40; 9:17; Hand. 3:22-23; 7:37).

Die priesters kry wat die Here toekom – Deut. 18:1-8

Omdat die stam van Levi die plek van die eersgeborenes van Israel ingeneem het (vgl. Num. 3-4), om die Here permanent te dien in die kultus van Israel (Num. 8), maak Moses die reëling dat hulle alles kry wat die Here uit die volk toekom.  Dit sluit offers en gawes in.  Israel sou dus vir die Leviete en priesters kos (vleis van die offers en ander kos van die oeste: koring, wyn, en olie) en klere (wolskeersel) verskaf.  Selfs Leviete wat op ander plekke bly in die stede wat deur die ander stamme vir hulle gegee is (Num. 34-35), kon by die sentrale diens kom aansluit, sonder dat hulle erfgoed teen hulle gehou is.

Die Here sal ‘n profeet gee soos Moses om God se woorde aan hulle te gee – Deut. 18:9-22

Moses begin met ‘n waarskuwing teen die “ander stemme” wat hulle in die land sal aantref. Die NAV is nie so duidelik in terme van die sake wat verbied word nie.  Die BDV vertaal dit beter: “Daar mag nooit by jou iemand wees wat sy seun of dogter in die vuur offer (met die oog op ‘n boodskap), of wat voorspellings maak, voortekens lees, waarsêery beoefen, of ‘n towenaar is nie, wat towerspreuke gebruik, waarsêer- of voorvadergeeste oproep, of dooies raadpleeg nie.”  Die Here het ‘n afsku aan die mense wat sulke praktyke beoefen.  Hulle moet aktief teengestaan word en op geen manier nagevolg word nie.  Trouens, dit is juis vanweë dié praktyke wat die Kanaäniete die land verbeur het.

Moses belowe dat die Here ‘n profeet vir hulle sal gee, uit hulle eie geledere, wat soos Moses hulle die wil van God kan leer, in vervulling van die versoek wat hulle destyds by Sinai (Horeb) aan die Here gerig het.  Die Here sal sy woorde in dié profeet se mond lê, in ooreenstemming met die wet wat Hy van Sinai af tot by die vooraand van die Intog in die beloofde land aan Moses gegee het.

Só ‘n profeet mag dus niks anders verkondig as wat die Here hom beveel nie.  Sy gesag sal ook lê in die uitkoms van sy woorde al dan nie.  Dit sal ook bepaal of die volk na hom moes luister of nie.

Die belofte van ‘n profeet het dus onmiddellike betekenis vir hulle, hoewel hulle name eers mettertyd aan ons bekend word.  Ons lees van een naamlose profeet in die Rigterstyd in die tyd van Gideon (Rigt. 6:8), dan natuurlik van die groot profeet Samuel (1 Sam. 3:20) waarna daar sprake is van ‘n profeteskool (1 Sam. 10:10; 19:23).  In die tyd van Dawid is daar ‘n paar profete wat optree (Gad – 1 Sam. 22:5; Natan – 2 Sam. 7:2).  Dit alles voor die groot profeet Elia in die tyd van Agab op die toneel verskyn (1 Kon. 17 tot 2 Kon. 2).

Die belofte van ‘n profeet het egter ook ‘n dieper betekenis.  Die belofte van ‘n profeet is as sodanig ook profeties.  Dit kom ons uit die NT agter.  Jesus word op talle plekke as die profeet waarvan Moses gepraat het, geïdentifiseer, soos dit bv. ‘n paar keer in die evangelie van Johannes gestel word.  Filippus verduidelik vir Natanael: “Ons het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het.” (Joh. 1:45).  Die skare by die wonderteken van die broodvermeerdering maak dieselfde konneksie: “Hy is werklik die Profeet, die Een wat na die wêreld toe moes kom.” (Joh. 6:14), soos ook sommige mense by die huttefees: “Hy is werklik die Profeet.” (Joh. 7:40).

Dit het ook deel van Jesus se selfverstaan gevorm: “As julle Moses geglo het, sou julle in My geglo het, want hy het van My geskrywe.” (Joh. 5:46).  Ná Jesus se opstanding en hemelvaart verkondig Petrus (Hand. 3:22-23) en Stefanus (Hand. 7:37) dit dan ook as deel van die boodskap van die koninkryk (Vergelyk ook Mark. 6:15, Matt. 21:11, 46, Luk. 1:76; 7:16; 24:19; Joh. 4:19; 9:17).

View all posts in this series

Deuteronomium


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: