Skip to main content

Deuteronomium 33 – Moses se finale seënbede

https://truthinmotion.wordpress.com /2013/06/20/word50/

Net voor Moses teen Neboberg sou opklim om te sterf, gee hy soos ‘n Jakob van ouds (Gen. 49-50) ‘n laaste seënbede.  Dit is ‘n baie positiewe en deernisvolle afskeid van die volk aan die einde van sy lewe.

Die indeling van die seënbede is duidelik uit die onderskeie stamme wat genoem word.  Aan die begin word op die Here self gefokus, die een wat sy “wet van vuur” vir hulle gegee het.  Daarna volg die seën vir die onderskeie stamme.

  • Drie van die eie kinders van Lea word eerste genoem: Ruben, Juda, en Levi.
  • Daarna kom die twee eie kinders van Ragel: Benjamin en Josef (Efraim en Manasse word in die seën ingesluit).
  • Daarna kom die laaste twee eie kinders van Lea: Sebulon en Issaskar.
  • Simeon, Lea se ander eie kind, word vreemd genoeg nie genoem nie. Miskien word hy, soos in Jakob se seënbede, met Levi gereken.
  • Daarna kom die kinders van Jakob by sy twee slavinne. Eerste word Gad genoem, die oudste van Silpa, slavin van Lea.
  • Daarna Dan en Naftali, die twee kinders van Bilha, die slavin van Ragel.
  • Laaste word Aser genoem, die tweede kind van Silpa, slavin van Lea.

Die seënbede word afgesluit met ‘n opsommende seën vir Jesurun (Israel), die “opregte”.

Die seënbede

Hier is weereens die vertaling soos dit in die BDV gedoen is.  Merk vir jouself die kern van die seën wat vir elke stam gegee is.

2Van Sinai af het die Here gekom,
van Seïr af het Hy vir Israel lig laat skyn,
laat straal van die berg Paran af.
By Hom was tienduisende heiliges;
in sy regterhand was ‘n wet van vuur vir hulle;
3Ja, Hy het mense lief.
Al die heiliges is in u hand,
julle volg U op die voet;
elkeen het u uitsprake ontvang –
4die wet wat Moses ons beveel het,
die eiendom van die geloofsgemeenskap van Jakob.
5Die Here het in Jesurun (“opregte” – troetelnaam vir Israel) koning geword
toe die leiers van die volk byeengekom het,
toe die stamme van Israel bymekaar was.

 

6“Mag Ruben leef;
mag hy nie sterf nie, en sy manne nie min wees nie.”

 

7Dit het hy oor Juda gesê:

“Luister, Here, na die stem van Juda;
na sy volk met U hom bring,
met sy hande het hy vir homself gestry;
wees vir hom ‘n hulp teen sy teenstanders.”

 

8Oor Levi het hy gesê:

“U Tummim en Urim is bedoel vir u gunsgenoot
vir wie U getoets het by Massa,
met wie U stryd gevoer het by die water van Meriba;
9hy wat oor sy vader en moeder gesê het,
‘Ek sien hulle nie raak nie’,
wat sy broers nie erken het nie,
en sy seuns nie in ag geneem het nie.
maar u bevel nagekom, en aan u verbond voldoen het.
10Hulle sal vir Jakob beslissings leer,
ja, u wet vir Israel.
Hulle sal vir U wierook neersit om te ruik,
ook ‘n volledige offer op u altaar.
11Seën, Here, sy vermoë,
en aanvaar die werk van sy hande.
Verpletter die heupe van wie teen hom opstaan, van sy haters,
sodat hulle nie staande kan bly nie.”

 

12Oor Benjamin het hy gesê:

“Die geliefde van die Here –
mag dié veilig by Hom woon.
Die Here beskut hom altyd
waar hy tussen sy berghange woon.”

 

13Oor Josef het hy gesê:

“Sy land word deur die Here geseën
met die kosbaarste gawes van die hemelruim,
met dou en die oerwater wat onder lê;
14met die kosbare gawes wat die seisoene bied;
15met die beste van die oeroue berge
en die kosbare gawes van die ewige heuwels;
16met die kosbare gawes van die grond en alles daarop.
Die guns van Hom wat in die doringstruik was –
mag dit rus op die kop van Josef,
op die hoof van die prins onder sy broers.
17Sy eersgebore bul is statig;
en sy horings is buffelhorings;
daarmee sal hy volke saam wegstoot tot by die uithoeke van die aarde.
Hulle is die tienduisende van Efraim,
hulle is die duisende van Manasse.”

 

18Oor Sebulon het hy gesê:

“Sebulon, wees bly wanneer jy uittrek om te veg,
ook jy, Issaskar, in jou tente.
19Hulle sal volke na die berg nooi;
daar sal hulle gepaste offers bring,
want hulle gaan die oorvloed van die see
en die verborge skatte in die sand geniet.”

 

20Oor Gad het hy gesê:

“Hy wat vir Gad ruimte maak, moet geprys word.
Gad leef soos ‘n leeuwyfie: Hy verskeur arm en skedel.
21Hy het vir homself die beste deel uitgesoek;
ja, op daardie plek is die stuk grond van ‘n bevelvoerder vir hom uitgehou
toe hy na die leiers van die volk gekom het.
Hy het die geregtigheid van die Here volbring,
sy beslissings in verband met Israel.”

 

22Oor Dan het hy gesê:

“Dan is ‘n jong leeu; hy spring op uit Basan.”

 

23Oor Naftali het hy gesê:

“Naftali is versadig van die Here se guns,
en vol van sy seëninge.
Neem dan die weste en die suide in besit.”

 

24Oor Aser het hy gesê:

“Geseënd is Aser, meer as die ander seuns;
mag hy die gunsteling van sy broers wees,
sy voete in olyfolie doop.
25Mag jou sluitbalke van yster en brons wees,
en jou lewenskrag soos jou lewensjare.

 

26Jesurun, daar is niemand soos God nie,
wat as jou hulp deur die hemel ry,
deur die wolkehemel in sy verhewendheid.
27Die God van die voortyd is ‘n skuilplek,
en onder jou is ewige arms.
Hy het vyande voor jou verdryf en gesê, ‘Delg uit!’
28Israel het veilig gaan woon;
die fontein van Jakob was afgesonder
in ‘n land met koring en nuwe wyn,
en sy hemel drup dou.
29Hoe gelukkig is jy, Israel!
Wie is soos jy, ‘n volk wat verlos is deur die Here,
die skild wat jou help, en wat jou verhewe swaard is?
Jou vyande kom kruipend na jou, en jy trap op hulle rûe.
(soos letterlik gebeur het in oorlog waar die oorwonne leier na die oorwinnaar se troon op sy maag geseil en daar op sy rug getrap is)

View all posts in this series

Deuteronomium


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar