Skip to main content

Deuteronomium 33 – Moses se finale seënbede

https://truthinmotion.wordpress.com /2013/06/20/word50/

Net voor Moses teen Neboberg sou opklim om te sterf, gee hy soos ‘n Jakob van ouds (Gen. 49-50) ‘n laaste seënbede.  Dit is ‘n baie positiewe en deernisvolle afskeid van die volk aan die einde van sy lewe.

Die indeling van die seënbede is duidelik uit die onderskeie stamme wat genoem word.  Aan die begin word op die Here self gefokus, die een wat sy “wet van vuur” vir hulle gegee het.  Daarna volg die seën vir die onderskeie stamme.

  • Drie van die eie kinders van Lea word eerste genoem: Ruben, Juda, en Levi.
  • Daarna kom die twee eie kinders van Ragel: Benjamin en Josef (Efraim en Manasse word in die seën ingesluit).
  • Daarna kom die laaste twee eie kinders van Lea: Sebulon en Issaskar.
  • Simeon, Lea se ander eie kind, word vreemd genoeg nie genoem nie. Miskien word hy, soos in Jakob se seënbede, met Levi gereken.
  • Daarna kom die kinders van Jakob by sy twee slavinne. Eerste word Gad genoem, die oudste van Silpa, slavin van Lea.
  • Daarna Dan en Naftali, die twee kinders van Bilha, die slavin van Ragel.
  • Laaste word Aser genoem, die tweede kind van Silpa, slavin van Lea.

Die seënbede word afgesluit met ‘n opsommende seën vir Jesurun (Israel), die “opregte”.

Die seënbede

Hier is weereens die vertaling soos dit in die BDV gedoen is.  Merk vir jouself die kern van die seën wat vir elke stam gegee is.

2Van Sinai af het die Here gekom,
van Seïr af het Hy vir Israel lig laat skyn,
laat straal van die berg Paran af.
By Hom was tienduisende heiliges;
in sy regterhand was ‘n wet van vuur vir hulle;
3Ja, Hy het mense lief.
Al die heiliges is in u hand,
julle volg U op die voet;
elkeen het u uitsprake ontvang –
4die wet wat Moses ons beveel het,
die eiendom van die geloofsgemeenskap van Jakob.
5Die Here het in Jesurun (“opregte” – troetelnaam vir Israel) koning geword
toe die leiers van die volk byeengekom het,
toe die stamme van Israel bymekaar was.

 

6“Mag Ruben leef;
mag hy nie sterf nie, en sy manne nie min wees nie.”

 

7Dit het hy oor Juda gesê:

“Luister, Here, na die stem van Juda;
na sy volk met U hom bring,
met sy hande het hy vir homself gestry;
wees vir hom ‘n hulp teen sy teenstanders.”

 

8Oor Levi het hy gesê:

“U Tummim en Urim is bedoel vir u gunsgenoot
vir wie U getoets het by Massa,
met wie U stryd gevoer het by die water van Meriba;
9hy wat oor sy vader en moeder gesê het,
‘Ek sien hulle nie raak nie’,
wat sy broers nie erken het nie,
en sy seuns nie in ag geneem het nie.
maar u bevel nagekom, en aan u verbond voldoen het.
10Hulle sal vir Jakob beslissings leer,
ja, u wet vir Israel.
Hulle sal vir U wierook neersit om te ruik,
ook ‘n volledige offer op u altaar.
11Seën, Here, sy vermoë,
en aanvaar die werk van sy hande.
Verpletter die heupe van wie teen hom opstaan, van sy haters,
sodat hulle nie staande kan bly nie.”

 

12Oor Benjamin het hy gesê:

“Die geliefde van die Here –
mag dié veilig by Hom woon.
Die Here beskut hom altyd
waar hy tussen sy berghange woon.”

 

13Oor Josef het hy gesê:

“Sy land word deur die Here geseën
met die kosbaarste gawes van die hemelruim,
met dou en die oerwater wat onder lê;
14met die kosbare gawes wat die seisoene bied;
15met die beste van die oeroue berge
en die kosbare gawes van die ewige heuwels;
16met die kosbare gawes van die grond en alles daarop.
Die guns van Hom wat in die doringstruik was –
mag dit rus op die kop van Josef,
op die hoof van die prins onder sy broers.
17Sy eersgebore bul is statig;
en sy horings is buffelhorings;
daarmee sal hy volke saam wegstoot tot by die uithoeke van die aarde.
Hulle is die tienduisende van Efraim,
hulle is die duisende van Manasse.”

 

18Oor Sebulon het hy gesê:

“Sebulon, wees bly wanneer jy uittrek om te veg,
ook jy, Issaskar, in jou tente.
19Hulle sal volke na die berg nooi;
daar sal hulle gepaste offers bring,
want hulle gaan die oorvloed van die see
en die verborge skatte in die sand geniet.”

 

20Oor Gad het hy gesê:

“Hy wat vir Gad ruimte maak, moet geprys word.
Gad leef soos ‘n leeuwyfie: Hy verskeur arm en skedel.
21Hy het vir homself die beste deel uitgesoek;
ja, op daardie plek is die stuk grond van ‘n bevelvoerder vir hom uitgehou
toe hy na die leiers van die volk gekom het.
Hy het die geregtigheid van die Here volbring,
sy beslissings in verband met Israel.”

 

22Oor Dan het hy gesê:

“Dan is ‘n jong leeu; hy spring op uit Basan.”

 

23Oor Naftali het hy gesê:

“Naftali is versadig van die Here se guns,
en vol van sy seëninge.
Neem dan die weste en die suide in besit.”

 

24Oor Aser het hy gesê:

“Geseënd is Aser, meer as die ander seuns;
mag hy die gunsteling van sy broers wees,
sy voete in olyfolie doop.
25Mag jou sluitbalke van yster en brons wees,
en jou lewenskrag soos jou lewensjare.

 

26Jesurun, daar is niemand soos God nie,
wat as jou hulp deur die hemel ry,
deur die wolkehemel in sy verhewendheid.
27Die God van die voortyd is ‘n skuilplek,
en onder jou is ewige arms.
Hy het vyande voor jou verdryf en gesê, ‘Delg uit!’
28Israel het veilig gaan woon;
die fontein van Jakob was afgesonder
in ‘n land met koring en nuwe wyn,
en sy hemel drup dou.
29Hoe gelukkig is jy, Israel!
Wie is soos jy, ‘n volk wat verlos is deur die Here,
die skild wat jou help, en wat jou verhewe swaard is?
Jou vyande kom kruipend na jou, en jy trap op hulle rûe.
(soos letterlik gebeur het in oorlog waar die oorwonne leier na die oorwinnaar se troon op sy maag geseil en daar op sy rug getrap is)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Deuteronomium


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…