Skip to main content

Deuteronomium 34 – Moses sterf as iemand wat die Here persoonlik geken het

https://truthinmotion.wordpress.com /2013/06/20/word50/

Deuteronomium eindig met die verhaal van die 120 jarige Moses wat uit die Moabsvlakte opklim na Neboberg toe, tot op die top van Pisgaberg regoor Jerigo.  Daar het hy uit die verte die hele beloofde land gesien, soos die Here dit vir hom gewys het: van Gilead in die noorde af tot by Dan, die hele Naftali, die gebied van Efraim en Manasse in die noord-weste en die hele Juda tot by die see in die weste, en verder tot by Soar naby die Dooie See in die suide.

Ons kry ‘n kort weergawe van die intieme gesprek tussen die Here en Moses waarin die belofte van die land sterk onderstreep word met verwysing na die voorvaders, maar dit ook duidelik is dat Moses nie daarheen sal deurtrek nie.

Moses het daar gesterwe terwyl sy oë nog goed was en sy krag nog nie ingegee het nie.  Hy het die eer gekry, soos dit vertaal kan word, dat hy deur God begrawe is: “Hy het vir Moses begrawe”!   Niemand weet egter tot vandag toe waar sy graf is nie.

In die NT het ons ‘n verwysing hierna waar van ‘n konflik tussen die aartsengel Migael en die duiwel oor die liggaam van Moses ontstaan het, waarskynlik oor die eerbaarheid van Moses se dood op die berg (Jud. 9).  Deuteronomium aanvaar dat dit eerbaar was, omdat dit die Here self is wat sy liggaam begrawe het.

Israel het vir dertig dae oor hom gerou, maar hulle het ook ‘n vaardige wyse leier gehad in Josua wat voor sou vat met die Intog die beloofde land in.  Hy was nie ‘n Moses nie – dié het God persoonlik geken! – maar ‘n man wat self God se guns sou wegdra, omdat hy nougeset die Here gedien het en al sy opdragte uitgevoer het.

Die Hebreërskrywer som die impak van Moses se lewe op deur die volgende oor hierdie geloofsheld te sê.  Hy het volhard soos iemand wat die onsienlike God sien:

Omdat die ouers van Moses geglo het, het hulle hom na sy geboorte drie maande lank weggesteek toe hulle sien dat hy ’n mooi kindjie is. Hulle was nie bang vir die bevel van die koning nie.  Omdat Moses geglo het, het hy toe hy groot geword het, geweier om die seun genoem te word van die farao se dogter. Hy het verkies om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om die kortstondige genieting van sonde te hê. Die smaad ter wille van die Christus het hy ’n groter rykdom geag as die skatte van Egipte, omdat hy na die beloning uitgesien het.  Omdat hy geglo het, het hy Egipte verlaat sonder dat hy vir die woede van die koning bang was. Hy het volhard soos iemand wat die onsienlike God sien.  Omdat hy geglo het, het hy die pasga ingestel en die bloed aan die deurkosyne laat smeer sodat die engel van die dood nie die eersgeborenes van Israel sou tref nie.  Omdat die Israeliete geglo het, het hulle deur die Rooisee getrek soos oor droë grond, terwyl die Egiptenaars verdrink het toe hulle dit ook probeer doen het.” (Hebr. 11:24-29).

Sela!

View all posts in this series

Deuteronomium


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar