Deuteronomium 28 – Die omvattende seëninge en strawwe van die verbond

https://truthinmotion.wordpress.com /2013/06/20/word50/

Moses som self die seëninge en strawwe van die verbond op om die volk tot gehoorsaamheid aan te moedig as ‘n afsluiting van sy tweede preek.  Hy begin met die dinge waarmee God die volk sal seën as hulle Hom en sy gebooie gehoorsaam.  Dit is oorvloedig en omvattend en sluit elke faset van hulle lewe in, ook om in heiligheid voor die Here te leef (Deut. 28:1-14).

Hy vervolg met die dinge wat God nie net sal wegneem van hulle nie – die terugtrek en omkering van sy seën – maar ook dié vervloekinge wat Hy aktief oor hulle sal bring.  Dit is net so omvattend en sluit die ervaring in om God as teëstander te hê deur verwarring, siekte en droogte, die vernedering onder die nasies deur nederlaag en ballingskap, en totale vernietiging as gevolg van die verbreking van die verbond.   Die vervloekinge word opeenvolgend in ses fases beskryf soos in ‘n woeste maalkolk wat hulle sal insluk en vernietig (Deut. 28:15-68).

God se seën is oorvloedig en omvattend – Deut. 28:1-14

Moses begin deur die volk tot gehoorsaamheid aan te moedig.  Hy begin met die dinge waarmee God hulle sal seën as hulle Hom en sy gebooie gehoorsaam: “As jy luister na die Here jou God, sal al hierdie seëninge oor jou kom en jou lewe verryk.

God se seën vir mense wat Hom gehoorsaam is omvattend: persoonlik, sosiaal, ekonomies, ekologies, polities en publiek.  Dit sluit persoonlike veiligheid in sowel hulle blyplekke as die oop veld in, ‘n geseënde nageslag, goeie opbrengste op die lande, suksesvolle aantelings met diere, goeie oeste en suksesvolle produkte daarvan.

Die seën sal wees op reis, teenoor vyande, in alles wat hulle aanpak. Die hart daarvan sal wees dat God hulle sal in standhou as sy heilige volk!  Almal sal weet van hulle en bang wees vir hulle.  Hulle sal genoeg reën hê, en op die regte tyd.  Hulle sal vir ander leen, omdat hulle self genoeg sal hê.  Hulle sal die kop wees, nie die stert nie, ‘n nasie van groot betekenis, soos God aan Abraham belowe het.

God se strawwe en vloeke is net so omvattend – Deut. 28:15-68

Dit is moeilike leesstof dié.  Van die moeilikste wat ek al in die Bybel gelees het.

Maar dit onderstreep die feit dat ongehoorsaamheid ‘n geweldige koste inhou.  Waar die geloofsgemeenskap nie in respek vir die lewe en die grense wat God stel, leef nie, tree hulle uit die verbond met God en kan hulle nie staatmaak op die oorvloed van sy seën nie.

Opeenvolgend word die vervloekinge in ses fase beskryf soos in ‘n woeste maalkolk wat hulle insluk en vernietig.

1.  Die seën word in vervloekinge omgesit – vers 15-19

Die eerste vervloeking behels die letterlike omkeer van die oorvloedige en omvattende seën van die Here wat so pas aan hulle belowe is.  Hulle sal persoonlik, sosiaal, ekonomies, ekologies, polities en publiek die vloek van God ervaar.  Die vloek behels dus die terugtrek of omkering van God se seën.

2.  Verwarring en terugslae, peste en plae, allerlei siektes en droogte – vers 20-24

Die tweede vervloeking behels verwarring en terugslae in alles wat hulle aanpak wat op ‘n punt sal oorgaan tot hulle skielike ondergang oor al die verkeerde dinge wat hulle gedoen het.  Die hart van ongehoorsaamheid lê natuurlik in die feit dat hulle Hom verlaat deur nie te doen wat Hy vra nie.

Die peste en plae sal aan hulle kleef tot hulle heeltemal uitgeroei is uit die beloofde land.  Siektes soos tering, inflammasie en koors sal hulle tref.  Die land sal droog word van versengende hitte en ‘n gebrek aan reën.  Hulle sal in oorlog gewikkel wees en oeste verloor weens brandkoring en (wit)roes totdat hulle op hulle knieë is en uitgewis word.  Al reën wat hulle sal kry, is stof en roet uit die brons hemel daarbo met die aarde soos yster onder hulle voete.

3.  Verslaan in oorlog en weggevoer in ballingskap – vers 25-37

Die derde vervloeking behels dat hulle verslaan sal word in oorlog en verward in verskillende rigtings sal vlug voor hulle vyande.  Hulle sal kos word vir die voëls en wilde diere. Dié wat ontkom, sal uitgelewer wees aan die siektes van Egipte wat aan die plae herinner: bloedvinte, uitslag en jeuksiektes, waarvan hulle nie genees sal kan word nie.

Hulle sal verder met sielkundige en psigiatriese siektes getref word: kranksinnigheid en blindheid en waansin.  Hulle voorspoed sal op ‘n einde wees.  Hulle sal aanhoudend verdruk en beroof word en daar sal niemand wees om hulle te help nie.

Dit sal hulle huwelikslewe raak deurdat hulle vrouens verkrag sal word.  Dit sal hulle besittings raak deurdat hulle nie die vruggebruik daarvan sal kan geniet nie.  Alles sal tot niet gaan deur roof, verdrukking en swaarkry: “jy sal kranksinnig word van wat jy sien.”

Hulle sal met dodelike kwaadaardige swere getref word – van hulle voetsool tot by hulle kroontjie.  Hulle leiers sal weggevoer word en ander gode dien in ‘n ander land.  Hulle sal die grap van die wêreld wees.

4.  Verneder tot die status van mense wat agteruitboer tot daar niks van hulle oorbly nie – vers 38-46

Hulle sal in die vierde plek verdoem word tot die vernedering van dalende opbrengs (diminishing returns) waarin niks wat hulle investeer enige groei sal toon nie: “Goggas sal jou bome en die opbrengs van jou lande oorneem!”  Hulle sal die vernedering smaak dat die vreemdelinge by hulle vooruit sal boer, terwyl hulle sal agteruitboer tot daar niks van hulle oorbly nie.

Dít alles: “omdat jy nie na die opdrag van die Here jou God geluister het nie en nie sy gebooie en voorskrifte wat Hy jou gegee het, gehoorsaam het nie.”

Die beskrywing van hierdie vloeke moes vir altyd ‘n waarskuwingsteken vir hulle en hulle kinders bly.  Die gevolge van ongehoorsaamheid was: “too ghastly to contemplate”!

5.  Verower, verword en verworpe – vers 47-57

Die vyfde vervloeking is dat hulle nie net verower sal word deur hulle vyande nie, maar in hulle menswees sal ontaard en op die ashoop van die wêreld weggewerp sal word.

Die punt is, ongehoorsaamheid, veral deur ondankbaarheid soos Moses dit hier beskryf, dra in homself die kiem van vernietiging om.  Die beginsel wat hier sterk onderstreep word, is dat as hulle die Here nie met vreugde en blydskap dien weens die seën wat hulle ervaar nie, sal hulle deur hulle vyande verower word en deur die Here verwerp word.  Oorsaak en gevolg.  Die Here sal ‘n ander wrede nasie teen hulle laat opruk en hulle laat verdruk, wegvoer en uitroei.

Die ontbering wat Moses hier beskryf, is van die ergste wat ek al in die Bybel gelees het.  Die ontbering sal onmeetlik onmenslik wees soos deur twee van die wreedste metafore in die Bybel, geïllustreer.  Menswees sal in sy diepste wese ontaard (verword).

Die eerste metafoor beskryf die laagtes waartoe selfs die sagste en mees verfynde man (saggeaard en fynbesnaard – BDV) sal daal: “Selfs die sagste en mees verfynde man by jou sal niks omgee vir sy broer of sy lieflingvrou of sy kind wat nog lewe nie. Hy sal vir nie een van hulle die vleis van sy eie kinders gee wat hy eet nie, want dan hou hy niks vir homself oor nie.

Dit word geëggo met sy pasmaat metafoor van die laagtes waartoe die sagste en mees verfynde vrou (saggeaard en fynbesnaard – BDV) sal daal. Sy sal selfs haar nageboorte met niemand deel nie: “Die sagste en mees verfynde vrou by jou wat nie eers sal probeer om ’n voet op die grond te sit nie, so verfyn en sag is sy, sal vir haar man vir wie sy lief is, of vir haar seun of haar dogter niks omgee nie. Sy sal hulle nie laat eet van die nageboorte of van die vleis van haar kinders wat sy in die wêreld gebring het nie. Sy sal alles in die geheim opeet, so honger sal sy wees.”

6.  Verbreking van die verbond – vers 58-68

Die dieptepunt van hierdie maalkolk van vernietiging is die verbreking van die verbond met die Here.  As hulle nie lewe volgens die bepalings van die gebooie van hierdie verbondsboek nie, as hulle nie respek het vir die grense wat God gestel het nie, sal Hy ontsettende rampe oor hulle en hulle nageslag bring: “groot en langdurige rampe, kwaadaardige en ongeneeslike siektes.”

Al die siektes van Egipte sal oor hulle gebring word totdat daar net ’n klompie sal oorbly, omdat hulle die Here hulle God nie gehoorsaam het nie.

En dan die ergste boodskap: “Soos die Here jou God Hom oor julle verbly het toe Hy aan julle goed gedoen en julle baie gemaak het, so sal Hy Hom verbly wanneer Hy julle tot niet maak en julle uitroei.”  Amper te erg om aan boord te neem.

Die vervloeking van die Here sal alle vrede wegneem, alle rus.  Die Here self sal hulle: “‘n hart vol angs gee, oë wat ingee, ’n lewe wat wegkwyn.”  Dit sal wees asof hulle lewe aan ’n draadjie hang.  Hulle sal dag en nag in vrees lewe.  Hulle sal hulle hele lewe lank onveilig wees: “In die môre sal jy sê: ‘Was dit maar aand!’ en in die aand sal jy sê: ‘Was dit maar môre!’ so vol vrees sal jy wees en sulke vreeslike dinge sal jy belewe.” Niemand sal hulle selfs as slawe wil hê nie …

View all posts in this series

Deuteronomium


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Dankie vir die samestelling van so ‘n belangrike aspek vir my as christen om te weer te hoor dat daar twee kante is.
    Vrede

  • Fanie van Emmenes

    As ek bostaande lees, verbly ek my opnuut oor Jesus Christus en die geregtigheid wat deur die geloof in Hom ons deel word.
    Ek wil bykans saam met Retief Burger sing: Ek sien ‘n kruis——–.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Eksodus 26Hi Faan, ja, hulle het gebruik wat beskikbaar was, hoewel van die materiaal natuurlik ook saam gekarwei kon gewees het op trek van die Rooi See af. Di…
  • Chris van Wyk on Eksodus 27Hi Isaac, die Israeliete word in Jesaja 52:11 die opdrag gegee om niks onheiligs van Babel met hulle saam te neem terwyl hulle terugkeer na hulle land…
  • Chris van Wyk on Jesus se Ek is-uitsprakeHi Isaac, daar is baie materiaal by hierdie webtuiste. Dit is alles gratis.
  • Isaac Davids on Eksodus 27Goeiemore. Hoop dit Gaan goed. Ek Wil weet wat is die betekenis of openbaring in hierdie skrif Vir vandag in Jesaja 52:11 spesifiek "draers van die He…
  • Faan de Wit on Eksodus 262 dinge wat my opval is die gebreide dolfyn of Tornyn velle as buitenste bedekking van die tabernakel. Dit beteken bemagtigde vissers moes van Sinai w…
  • Isaac Davids on Jesus se Ek is-uitsprakeHi. Ek Wil van u studie materials he asb. Dankie.
  • Chris van Wyk on Eksodus 26👍
  • Marius on Eksodus 26Amen,net so en so moet ons verstaan wie ons nou in Christus is,sodat ons so kan wandel elke dag.
  • Chris van Wyk on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieDie punt van die gedeelte is dat Christus naby is. 'n Mens kan in Hom glo, want Hy het eers uit die hemel neergedaal en mens geword. Hy het toe gester…
  • Chris van Wyk on Eksodus 21Hi Frans, jy sou enige Bybelboek met die hulp van my bydraes op die webtuiste met hulle kon deurwerk. Veritas het ook 'n boek wat spesifiek op jongmen…
  • Petrus on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieGoeie More Chris Dus, om the se "Wie sal opvaar, " beteken nie gelowiges en regeverdiges, maar praat van Christus in die teks? Ook, "wie sal neerdaal,…
  • Frans Joseph Scheepers on Eksodus 21Goeie more my naam is Frans Scheepers en ek het laat verlede jaar hierdie besonderse ontdekking gemaak van wat u vir die Christen wêreld doen. Ek is '…
  • Chris van Wyk on RomeineHi Mariaana, jy kan Romeine lees by hierdie skakel: http://bybelskool.com/romeine/. Volg net die skakels aan die onderkant van daardie bydrae. Oor God…
  • Mariaana on RomeineHoe maak ek om die bybelstudie oor die boek Romeine te bekom En ook oor God Se wil asb
  • Chris van Wyk on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieHi Petrus, FF Bruce verklaar dit in sy kommentaar só: "Moenie in jou hart sê: ‘Wie sal na die hemel opvaar nie?’ – dit wil sê om Christus neer te brin…
%d bloggers like this: