Skip to main content

Deuteronomium 9 – Moenie hardnekkig of verwaand raak nie

https://truthinmotion.wordpress.com /2013/06/20/word50/

Moses sit sy preek voort deur die volk te waarsku teen hardnekkigheid – deur nie te buig voor die Here en sy wil vir hulle lewe nie – óf verwaandheid – deur hoogmoedig te word en te dink dat hulle beter is as die volke wie se grondgebied hulle van die Here in ontvangs gaan neem – Deut. 9:1-6.

Moses illustreer dit met vyf voorbeelde uit hulle geskiedenis, veral met die verhaal van die goue kalf uit Eksodus 32.  Hy verwys ook na die opstand oor water by Massa net voor die gebeure by Sinai (Eks. 17), die verwyte by Tabera (Num. 11:1-3) en die onweerstaanbare lus vir vleis by Kibrot-Taäwa (Num. 11:4-35) en die weiering van die eerste geslag om die Here te vertrou om die land in te trek by Kades-Barnea (Num. 13 en Num. 14) – Deut. 9:7-29.

Moenie dink die Here gee die land weens julle regverdigheid en opregtheid nie – Deut. 9:1-6

Israel moet aan die een kant hulleself voortdurend herinner dat dit die Here is wat nie net die land aan hulle skenk nie, maar voor hulle uitgaan as ‘n verterende vuur om die Enakiete, die reuse, van die land te oorweldig en aan hulle te onderwerp.  Waar dié besef ingeprent is in hulle geheue sal hulle die werklikheid van God se gawe in ontvangs kan neem.

Aan die ander kant moet Israel waak daarteen om dié herinnering mettertyd aan te pas en te dink dat die Here vir hulle die land gegee het weens hulle regverdigheid (volmaaktheid) en opregtheid van hart.  Die land is vir hulle op grond van die belofte aan die vaders gegee en weens die goddeloosheid van die Kanaäniete.

Israel se geheue moes dus op die ware feite begrond bly … want die Here het reeds geweet dat hulle ‘n hardnekkige (hardkoppige) volk is.  Dit het hulle geskiedenis Hom geleer.

Die NAV gebruik “hardkoppig” vir die Hebreeuse frase qešēh-ʿōʹrěp̄ wat in die BDV as “hardnekkig” vertaal word.  Die vergelyking is met ‘n dier wat sy nek styf maak en weier dat die juk om sy nek gesit word of om in die juk te trek as die dier einde ten laaste tog ingespan is.

Die NAV gebruik “volmaak” om die Hebreeuse woord eḏāqāh (geregtigheid) wat drie keer hier in vers 4-6 voorkom, te vertaal.  Die BDV gebruik “regverdigheid” wat die betekenis van Moses vir my beter oordra.  Ek gee dit in konteks weer:

  • “Wanneer die Here jou God hulle voor jou verjaag, moet jy nie dink, ‘Op grond van my regverdigheid het die Here my in hierdie land ingebring om dit in besit te neem’ nie. Dit is omdat hierdie nasies goddeloos is dat die Here hulle voor jou uit verdryf, en nie op grond van jou regverdigheid of opregte (yōʹšěr) hart nie … Jy moet besef dat dit nie op grond van jou regverdigheid is dat die Here jou God vir jou hierdie goeie land gaan gee om dit in besit te neem nie, want jy is ‘n hardnekkige volk.”

Moenie julle opstandigheid in die woestyn vergeet nie – Deut. 9:7-29

Moses illustreer hulle opstandigheid en hardnekkigheid met vyf voorbeelde uit hulle geskiedenis.  Nie om hulle moedeloos te maak nie, maar om hulle te help om altyd bewus te bly leef van die genade van die Here, waarin Moses se voorbidding ‘n baie belangrik rol gespeel het, sodat hulle nie verwaand of hoogmoedig word oor hulleself nie.

Dié hardnekkigheid kom reeds vandat hulle uit Egipte weggetrek het, sê Moses, maar die belangrikste opstand was met die gebeure van die goue kalf by die berg Sinai (Horeb – vgl. my bydrae daaroor: Eksodus 32 – Die tragedie van die goue bulkalf en die toorn van Jahwe).

Moses herinner hulle weer aan die woede en toorn van die Here oor hulle opstandigheid.  God wou die volk en Aäron uitroei toe hulle die goue kalf gemaak en aanbid het, terwyl Moses besig was om die wet van die Here met die bepalings van sy verbond op die twee plat klippe in ontvangs te neem.

Moses beklemtoon dat hierdie wet van die Here self af gekom het wat hulle sonde net nog meer beklemtoon het: “Die Here het … met sy eie vinger al die woorde geskryf … wat Hy op die berg uit die vuur uit met julle gepraat het.

Moses beklemtoon verder dat dit in antwoord was op sy intense veertig-dae-en-nagte lange voorbidding vir hulle wat die Here na hom geluister het en hulle lewe gespaar het.

Hy herinner hulle ook aan die toorn van die Here oor hulle hardnekkigheid met verwyte by Tabera en ‘n onversadigbare lus vir vleis by Kibrot-Taäwa (Numeri 11 – Die Here troef die gulsige verset van die volk met sy Gees en ‘n oordaad vleis) sowel as die verset oor water by Massa (Eksodus 17 – Is die Here by ons of nie?).  Ook by Kades-Barnea het hulle in opstand gekom in hulle weiering om die land binne te trek.  Lees meer daaroor in hierdie twee bydraes:

Moses verwys weer na sy langdurige voorbidding wat die toorn van die Here ook dié keer afgeweer het op grond van die feit dat hulle God se eiendom is, dat Hy hulle uit Egipte verlos het, en dat dit deel van sy belofte aan die voorvaders was: “Onthou tog u dienaars Abraham, Isak en Jakob. Moenie aandag gee aan die hardkoppigheid van hierdie volk nie, aan hulle opstandigheid en hulle sonde nie.

Moses het die Here ook toe daarop gewys dat die ander nasies die verkeerde gevolgtrekking sou kon trek oor die redes waarom die Here toegelaat het dat hulle só ver kom, maar hulle dan in die woestyn om die lewe bring.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Deuteronomium


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda