Skip to main content

Deuteronomium 29 – Kom die woorde van die verbond na en voer dit uit

https://truthinmotion.wordpress.com /2013/06/20/word50/

Die derde preek van Moses word voorafgegaan deur ‘n terugverwysing na sy preek van die vorige 25 hoofstukke.  Daarmee onderstreep die redakteur van die boek die beslissende belang van Moses se woorde.  Net soos die Tien Gebooie van God by die berg Horeb (Sinai) die basis van sy verbond met Israel gevorm het, só vorm Moses se uitleg van die Tien Gebooie, wat hy hier by Moab so voortreflik gedoen het, die basis van die verbond wat die Here hier deur Moses met Israel sluit.

Trouens, ‘n mens kan die verbond by Moab eintlik ‘n verbond van Moses noem, een wat hy met Israel sluit op grond van die Here se bevel.  Vers 1 lui só in ’n meer direkte vertaling: “Dit is die woorde van die verbond wat die Here Moses beveel het om met die Israeliete te sluit in die land van Moab, afgesien van die verbond wat Hy met hulle by Horeb gesluit het.” (Deut. 29:1).

Moses begin met sy derde preek om hulle geskiedenis tot by die Jordaan in perspektief te stel (Deut. 29:2-8) as begronding van sy oproep aan hulle om te sorg dat hulle alles uitvoer wat die verbond vir hulle as volk van God bepaal (Deut. 29:9-21).  Anders sal die toorn van die Here teen hulle ontvlam (Deut. 29:22-29).

Hy voltooi die preek in hoofstuk 30 deur die gevolge van hulle gehoorsaamheid al dan nie uit te spel in terme van die vloek en die seën van die Here (Deut. 30:1-10) en volg dit op met ‘n bemoedigende woord dat gehoorsaamheid moontlik is.  Dit is nie moeilik nie.  Dit is nie buite bereik nie (Deut. 30:11-14).  Al wat hulle moet doen, is om te kies vir die lewe saam met God, om Hom nougeset te gehoorsaam.  Die hemele en die aarde is getuies daarvan, sê Moses, dat hy niks teruggehou het van dít wat God wou hê dat hy vir hulle moes deurgee nie (Deut. 30:15-20; vgl. Jesus wat ‘n soortgelyke uitspraak maak in Joh. 15:15).

Die res van die boek is ‘n epiloog wat sal aandag gee aan die aanwys van Josua as die nuwe leier van die volk (Deut. 31; 34) sowel as aan twee liedere wat Moses: “tot die laaste woord toe” aan die volk voorgehou het.  Die een is ‘n loflied op die karakter van God in sy ewewigtige hantering van Israel ten spyte van hulle wispelturigheid (Deut. 32).  Die ander ‘n seënbede (Deut. 33).

Die verbond van God word deur sy wet begrond – Deut. 29:1

Dit is duidelik dat die inhoud van die verbond onomwonde deur God se wet gevorm is.  Soos die Tien Gebooie die basis van sy verbond met Israel by Sinai was, só is dit steeds hier by Moab, hoewel in ‘n meer uitgebreide geïnterpreteerde vorm.

Dit sal ook nooit verander nie, selfs nie in die NT nie, want soos Jesus in die Bergrede die wet as sy uitgangspunt neem (Matt. 5-7), só skryf die Gees die wet in ons harte as deel van die nuwe verbond (Jer. 31:31-34; Hebr. 8:7-13).  Die nuwe verbond se voordeel lê in die verlossing in Jesus Christus wat ons harte verander om dié wet te kan nakom (2 Kor. 3:3; Hebr. 10:22). Maar, God se wet bly vir ewig staan, Hy: “by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie.” Immers: “Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer.” (Jak. 1:17).

Moses gee vir hulle insig in die pad tot hier – Deut. 29:2-8

Moses plaas daarom hulle geskiedenis tot by die Jordaan in perspektief.  Let op hoe Moses hulle leer dat ervaring nie genoeg is om God se wese en werk te kan verstaan nie.  Hulle het immers al die wonderdade van Egipte tot en met die vooraand van die Intog beleef: “En tog het die Here tot nou toe nie vir julle verstand gegee om te verstaan, oë om te sien en ore om te luister nie.”  Dit is eers met Moses se prediking wat hulle die insig gekry het van wat regtig aan die gang was in terme van God se pad met hulle.

Moses lig ‘n paar verdere wonderwerke van God uit: klere wat nie verslyt het nie, skoene wat nie stukkend geraak het nie.  Hy wys ook hoe hulle sekere dinge moes ontbeer: brood, wyn en bier: “sodat julle kon leer dat die Here julle God is.” Dit was die belangrikste les wat hulle in die woestyn moes leer.  Ook in die oorwinnings in die verskillende oorloë tot hier, met die ekstra grondgebied wat hulle gekry het, het God vir hulle gewys dat hulle van Hom afhanklik kan wees.

Kom die woorde van die verbond na en voer dit uit – Deut. 29:9-21

Moses roep hulle op om te sorg dat hulle alles uitvoer wat die verbond vir hulle as volk van God bepaal.  Dit is die wesenlike van hulle godsdiens, om die woorde van die verbond na te kom en dit nougeset uit te voer.  Dit sal hulle voorspoed in die teenwoordigheid van die Here bepaal óf nie.

Let op dat almal deel kry aan hierdie verbond: “hoofde, stamme, leiers, beamptes, elke Israeliet, ook julle kinders en julle vrouens, selfs die vreemdeling wat by julle in die laer is, dié wat julle hout vir julle moet kap, en dié wat julle water vir julle moet aandra.” Die verbond is nie ‘n individuele aangeleentheid alleen nie, maar sluit letterlik almal in wat in en om die familie en huishouding geleef het.

Let op dat die verbond ook nie net die verlede betrek in terme van die voorvaders nie, maar ook almal wat nog gebore moet word.  Daarom is daar ‘n onontwykbare verpligting op almal om te sorg dat die Here gedien word deur almal wat hulle met die Godsvolk assosieer.  Die rede is dat enigiemand wat afvallig word soos ‘n gifwortel alles kan vergiftig.

So leer die Hebreërskrywer ons in die NT ook: “Pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.” (Hebr. 12:15).  Iemand wat afvallig word, kan maklik hom- of haarself wysmaak dat alles reg is: “Ek is veilig al volg ek my eie harde kop.” Maar dit sou ‘n valse gerusstelling wees en tot ellende en swaarkry lei: “want die Here sal nie so iemand wil vergewe nie.

Moses laat die volk onder geen illusie nie.  Die toorn en verontwaardiging van die Here sal so iemand tref.  Die Here sal sorg dat die vloeke van Deuteronomium só ‘n persoon sal tref.

Anders sal die toorn van die Here teen hulle ontvlam – Deut. 29:22-29

Gehoorsaamheid is ononderhandelbaar deel van die verbond.  Enige gebrek daaraan sal die toorn van die Here teen hulle laat ontvlam.   Dit sal vir hulle wees soos die vernietiging wat die vier stede in Lot se tyd getref het: Sodom, Gomorra, Adma en Sebojim.  Hulle sal deur die Here in sy gloeiende toorn verwoes word.

As die nasies verwonderd is oor die felheid van God se toorn teenoor sy volk, sal die boodskap aan hulle wees dat die volk die verbond met hulle God verbreek het en hulle hulle verdiende loon gekry het, soos die Here dit aan hulle geopenbaar het.  Dit is duidelik dat die straf van die ballingskap hier in die oog is.

Moses maak baie van die feit dat dié dinge geopenbaar is.  Daar is dinge wat net God weet, en dít moet ons nie bekommer nie.  Maar die dinge van die wet is geopenbaar.  Trouens, dit: “is vir altyd bekend aan ons en ons nageslag.” Daarom moet ons: “lewe volgens al die woorde van hierdie wet.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Deuteronomium


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.