Deuteronomium 14 – Julle identiteit as Godsvolk moet in alle fasette van die lewe wys
Om Israel te help om die versoeking van die vreemde gode die hoof te bied, herinner Moses die volk aan die verbod op heidense gebruike rondom rousmart en die gebod tot Joodse dieet gebruike. Hulle moes nie treur soos die heidene nie, omdat hulle aan God behoort en daarom heilig is (Deut. 14:1-2). Hulle moes ook onderskei tussen rein en onrein diere as ‘n herinnering daaraan dat God teenwoordig is in hulle alledaagse lewe en hulle hele lewe rein voor Hom moes wees (Deut. 14:3-21). Moses herinner hulle ook aan die tiendes wat hulle vir die Here by die heiligdom moes kom gee, as ‘n herinnering aan die dankbaarheid wat hulle aan die Here verskuldig is vir al sy gawes, sowel as sy opdrag tot vrygewigheid (Deut. 14:22-29).
Julle mag nie rou soos die heidene nie – Deut. 14:1-2
Moses begin met die verbod op heidense gebruike rondom die hantering van hulle rousmart. Hulle mag hulleself nie pyn aandoen deur hulle stukkend te kerf nie, selfs nie hulle hare voor op hulle kop afskeer oor iemand wat dood is nie. Hulle is immers kinders van die Here hulle God en aan Hom geheilig (gewy). As eiendomsvolk van God behoort hulle aan Hom.
Dit is immers die grootste troos in lewe en dood, dat ons aan God behoort. Soos Paulus dit in Romeine 14:8 stel: “As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.” En die Heidelbergse Kategismus eggo dit jare later in vraag en antwoord 1: “Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort.” (Lees dit hier).
Vergelyk Levitikus 19:28 en 21:5. Daar is die voorskrifte spesifiek vir die priesters gegee. Hier brei Moses dit uit na al die Israeliete.
Julle dieet moet julle identiteit as Godsvolk illustreer – Deut. 14:3-21
Moses gryp hier terug na die voorskrifte in Levitikus 11-15 waarvan hy egter net die deel oor die rein en onrein voedsel uitlig. In Levitikus skryf hy ook oor geboortes, siektes, uitskeidings sowel as die hantering van die tabernakel. Jy kan gaan lees wat ek daaroor geskrywe het in Levitikus 11 – Die onderskeid rein en onrein help Israel om daagliks in God se teenwoordigheid te lewe.
In onderskeid van heiligheid wat gedefinieer is in terme van die nabyheid of afstand van die Heilige, Jahwe, word reinheid gedefinieer in terme van ‘n polariteit van normaal of abnormaal, heel of gebroke, volmaak of onvolmaak, in orde of buite orde, hetsy deur intrinsieke eienskappe – bv. velsiektes soos in Levitikus 13 – of ekstrinsieke eienskappe – bv. deur God se bevel soos hier in Deuteronomium 13 (en vroeër in Lev. 11).
Vir die dieper delwers: Reinheid en onreinheid kan ook deur ‘n polariteit van lewe of dood, gedefinieer word. Dit wat lewe gegee en bevorder het, was rein. Dit wat die lewe bedreig en die dood gebring het, was onrein. Daarom het die aanraking van ‘n lyk of ‘n dooie dier jou onrein gemaak. Soortgelyk een of ander velsiekte of gebrek. Lees meer by my hantering van Levitikus daaroor.
In hoofstuk 13 (soos in Levitikus 11) sien ons dat herkouende diere met gesplete hoewe rein was en geëet mag word (bees, skaap, bok, takbok, ribbok, hartbees, klipbok, eland, gemsbok, springbok). Diere wat óf nie herkou nie (vark), óf nie gesplete hoewe het nie (kameel, haas. dassie), was onrein en mag nie geëet word nie. Dieselfde geld karkasse. Levitikus 11 voeg ook nog kruipende diere by as diere wat nie geëet mag word nie.
Soutwater en varswater visse met skubbe en vinne (galjoen en kabeljou bv., hoewel geen voorbeelde gegee word nie) kon geëet word. Hulle was rein. Visse sonder skubbe (barber bv., hoewel daar geen voorbeelde gegee word nie) of vinne (paling bv., hoewel daar weereens geen voorbeelde gegee word nie) was egter onrein en mag nie geëet word nie.
In die geval van diere met vlerke word slegs die onrein voëls gelys (arende, lammervangers en visarende; swartaasvoëls, valke en al die roofvoël-soorte; al die kraaisoorte; volstruise, nagvalke, see-meeue en alle soorte roofvoëls; uile, visvangers, ibisse, flaminke, pelikane, swane, visvangers, ooievaars, al die reiersoorte, hoep-hoepe en vlermuise).
Hier verbied Moses alle insekte met vlerke. Levitikus 11 gee egter meer inligting. Insekte met vlerke wat kan spring met hulle pote is rein verklaar (bv. alle soorte sprinkane en krieke). Alle ander insekte met vlerke, maar nie pote waarmee hulle kan spring nie, was verbode.
Vir die dieperdelwers (soos ek vroeër in Levitikus 11 geskryf het): ‘n Mens kan baie filosofeer oor hierdie dieetreëls. Die belangrikste is egter dat die Here hiermee aan die een kant vir hulle helder reëls gegee waarmee hulle almal kon onderskei tussen rein en onrein in terme van hulle dieet. Soos wat hulle dit daagliks nougeset nagevolg het en hulle soms ‘n paar keer deur die dag hierdie tipe keuses moes maak, het dit hulle aan God en aan sy wil vir hulle lewens herinner. So kon hulle bewus lewe van sy teenwoordigheid, selfs in die mees gewone dele van hulle lewens. ‘n OT manier van: “Practising the Presence of God.”
Dit het hulle as geloofsgemeenskap aan die ander kant ook ‘n gevoel van solidariteit gegee wat hulle onderskei het van die ander nasies wat nie God se wil vir die lewe nagekom het nie. Dit was daarom ‘n uiters belangrike deel van hulle gesamentlike identiteit om hieraan gehoorsaam te lewe.
Die feit dat die reëls egter ekstrinsiek was, d.w.s sonder ‘n duidelike intrinsieke rede, was waarskynlik ook waarom hierdie reëls rondom rein en onrein kos in die NT opgehef kon word, omdat God dit in die eerste plek beveel het en Hy die bevel in die nuwe bedeling opgehef het, en inderdaad kon ophef, omdat die skaduwee van die seremoniële dele van die wet vervul en vervang is met die volmaakte bedeling van sy Seun wat reinheid van hart gebring het (Mark. 7:19). Alle kos is daarom deur Jesus as rein verklaar.
Die teenwoordigheid van die Here het nou deur die Heilige Gees ‘n inwonende werklikheid geword, waarin die uiterlike reëls vervang is met ‘n intieme verhouding met God vanuit die kern van ons bestaan. En dit het nie net die persoonlike verhouding met God gekenmerk nie, maar ook die geloofsgemeenskap s’n. Elke gelowige was nou ‘n tempel van die Heilige Gees, sowel as die hele gemeenskap van gelowiges.
Deur hierdie helder reëls kon elke Israeliet egter in die ou bedeling streef na ‘n staat van heelheid en volmaaktheid deur die voorskrifte wat die Here in Levitikus neergelê het rondom die gedragskode by die tabernakel en by hulle eie tente. Hulle kon sy teenwoordigheid indra in hulle lewens deur Sy riglyne vir die lewe na te kom. Hulle kon hulle band met mekaar behou in die stryd om aan God gehoorsaam te bly in ‘n vyandige en onheilige samelewing.
Julle moet julle tiendes nie vergeet nie – Deut. 14:22-29
Die tiende was bedoel om ‘n gawe van dankbaarheid aan die Here vir al sy seëninge te wees. Dit is uit die opbrengs van hulle gesaaides gegee wat afhanklik was van die Here se seën in terme van beide reënval en vrugbaarheid. Daardeur sou hulle leer om die Here altyddeur te eer. Die opbrengs self moes gebring word, want hulle kon bv. met die maaltydoffer as families en vriende by die Tabernakel dit in sy teenwoordigheid eet. Die Leviete moes ook nie vergete bly nie. As die Tabernakel egter te ver was, moes hulle dit in kontant omsit en dan koop wat hulle nodig het vir die feestelikheid in die teenwoordigheid van die Here.
Elke derde jaar was die opbrengs bedoel vir die Leviete, die vreemdelinge, die weeskinders en die weduwees in hulle omgewing. Hulle voorspoed sou afhang van hulle vrygewigheid en mededeelsaamheid.
View all posts in this series
- Inleiding - October 10, 2017
- Begronding van die boodskap van die NT - October 11, 2017
- Hoe om Deuteronomium te lees
- Deuteronomium 1 – Vertroue in en gehoorsaamheid aan die Here is onverhandelbaar - October 12, 2017
- Deuteronomium 2 – God gee die land vir sy volk soos Hy eeue lank al vir ander nasies doen - October 13, 2017
- Deuteronomium 3 – Suksesse en ooreenkomste uit die verlede gee moed in die hede - October 16, 2017
- Deuteronomium 4:1-43 – Moet niks byvoeg of wegvat van God se wet nie; gehoorsaam Hom - October 17, 2017
- Deuteronomium 4:44-5:33 – Julle moet hierdie wet leer, gehoorsaam en daarvolgens lewe - October 18, 2017
- Deuteronomium 6 – Die liefde vir die Here bepaal jou hele lewe - October 19, 2017
- Deuteronomium 7 – Die liefde van die Here stel jou in staat om gehoorsaam te wees - October 20, 2017
- Deuteronomium 8 – Die Here leer die volk afhanklikheid en dankbaarheid - October 23, 2017
- Deuteronomium 9 – Moenie hardnekkig of verwaand raak nie - October 24, 2017
- Deuteronomium 10 – Gehoorsaam die Here, want Hy is jou God - October 25, 2017
- Deuteronomium 11 – Gehoorsaamheid bring seën; ongehoorsaamheid bring straf - October 26, 2017
- Deuteronomium 12 – Aanbid alleen die Here op die plek wat Hy uitkies en volgens sy voorskrifte - October 27, 2017
- Deuteronomium 13 – Moenie ander gode dien agter ander mense aan nie - October 30, 2017
- Deuteronomium 14 – Julle identiteit as Godsvolk moet in alle fasette van die lewe wys - October 31, 2017
- Deuteronomium 15 – Julle vrygewigheid sal in die afskryf van skuld en die vrylating van slawe sigbaar word - November 1, 2017
- Deuteronomium 16:1-17 – Drie feeste vier hulle identiteit: Paasfees, Pinksterfees, en Huttefees - November 2, 2017
- Deuteronomium 16:18-17:20 – Regters en konings moet nougeset volgens die wet regeer - November 3, 2017
- Deuteronomium 18 – Die priesters kry alles wat die Here toekom en die profete raak God se woordvoerders - November 6, 2017
- Deuteronomium 19 – Eerbied vir die lewe, grenslyne en waaragtige getuienis word beveel - November 7, 2017
- Deuteronomium 20 – Die Here soek vreeslose voetsoldate wat die oorlog met ‘n vredesaanbod begin - November 8, 2017
- Deuteronomium 21 – Respek vir die lewe rig selfs die wyse waarop die doodstraf toegepas word - November 9, 2017
- Deuteronomium 22 – Respek vir die grense van God vir die lewe en die huwelik - November 13, 2017
- Deuteronomium 23 – Om vlekloos en blaamloos voor God te lewe - November 14, 2017
- Deuteronomium 24:1-25:4 – Egskeiding, hertrou en praktiese naasteliefde - November 15, 2017
- Deuteronomium 25:5-19 – Die leviraatshuwelik en ‘n oproep tot regverdigheid en billikheid - November 16, 2017
- Deuteronomium 26 – Geloofsbelydenis, gebed en gehoorsaamheid - November 17, 2017
- Deuteronomium 27 – Gehoorsaamheid word van die leiers, priesters en die hele volk gevra - November 20, 2017
- Deuteronomium 28 – Die omvattende seëninge en strawwe van die verbond - November 21, 2017
- Deuteronomium 29 – Kom die woorde van die verbond na en voer dit uit - November 22, 2017
- Deuteronomium 30 – Kies die lewe en wat goed is, nie die dood en wat sleg is nie - November 23, 2017
- Deuteronomium 31:1-29 – Josua word as leier aangewys en die wetboek afgesluit as gesaghebbende woord van God - November 24, 2017
- Deuteronomium 31:30-32:52 – Moses se loflied op die karakter van God - November 27, 2017
- Deuteronomium 33 – Moses se finale seënbede - November 28, 2017
- Deuteronomium 34 – Moses sterf as iemand wat die Here persoonlik geken het - November 29, 2017
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Henriëtte
As senior burger maar nog baie onkundig in die Bybel en gebruike, slurp ek die kennis op. As Weskusser is ek egter nie so seker dat ‘n snoek nie skubbe het nie. Ek verstaan hy verloor sy skubbe wanneer hy uit die water uit kom. Sê maar net, anders is ek jammer dat die snoek vir hulle misgun is! (Verskoon die aweregse bydrae in die uitgelese geselskap)
Chris van Wyk
Hi Henriëtte. Jy leer my nou ‘n ding. Dit lyk my daar is maar min visse wat nie skubbe het nie. Barber is blykbaar een. Snoek se skubbe is net klein. Vandaar dat sommige hom as onrein beskryf. Hier is ‘n uitstekende bron wat visse beskryf in terme van hulle aanvaarbaarheid al dan nie binne die Joodse wetgewing. Nie dat dit meer op ons van toepassing is nie, maar net vir interessantheid.