Skip to main content

Deuteronomium 14 – Julle identiteit as Godsvolk moet in alle fasette van die lewe wys

https://truthinmotion.wordpress.com /2013/06/20/word50/

Om Israel te help om die versoeking van die vreemde gode die hoof te bied, herinner Moses die volk aan die verbod op heidense gebruike rondom rousmart en die gebod tot Joodse dieet gebruike.  Hulle moes nie treur soos die heidene nie, omdat hulle aan God behoort en daarom heilig is (Deut. 14:1-2).  Hulle moes ook onderskei tussen rein en onrein diere as ‘n herinnering daaraan dat God teenwoordig is in hulle alledaagse lewe en hulle hele lewe rein voor Hom moes wees (Deut. 14:3-21).  Moses herinner hulle ook aan die tiendes wat hulle vir die Here by die heiligdom moes kom gee, as ‘n herinnering aan die dankbaarheid wat hulle aan die Here verskuldig is vir al sy gawes, sowel as sy opdrag tot vrygewigheid (Deut. 14:22-29).

Julle mag nie rou soos die heidene nie – Deut. 14:1-2

Moses begin met die verbod op heidense gebruike rondom die hantering van hulle rousmart.  Hulle mag hulleself nie pyn aandoen deur hulle stukkend te kerf nie, selfs nie hulle hare voor op hulle kop afskeer oor iemand wat dood is nie.  Hulle is immers kinders van die Here hulle God en aan Hom geheilig (gewy).  As eiendomsvolk van God behoort hulle aan Hom.

Dit is immers die grootste troos in lewe en dood, dat ons aan God behoort.  Soos Paulus dit in Romeine 14:8 stel: “As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.”  En die Heidelbergse Kategismus eggo dit jare later in vraag en antwoord 1: “Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort.” (Lees dit hier).

Vergelyk Levitikus 19:28 en 21:5.  Daar is die voorskrifte spesifiek vir die priesters gegee.  Hier brei Moses dit uit na al die Israeliete.

Julle dieet moet julle identiteit as Godsvolk illustreer – Deut. 14:3-21

Moses gryp hier terug na die voorskrifte in Levitikus 11-15 waarvan hy egter net die deel oor die rein en onrein voedsel uitlig.  In Levitikus skryf hy ook oor geboortes, siektes, uitskeidings sowel as die hantering van die tabernakel.  Jy kan gaan lees wat ek daaroor geskrywe het in Levitikus 11 – Die onderskeid rein en onrein help Israel om daagliks in God se teenwoordigheid te lewe.

In onderskeid van heiligheid wat gedefinieer is in terme van die nabyheid of afstand van die Heilige, Jahwe, word reinheid gedefinieer in terme van ‘n polariteit van normaal of abnormaal, heel of gebroke, volmaak of onvolmaak, in orde of buite orde, hetsy deur intrinsieke eienskappe – bv. velsiektes soos in Levitikus 13 – of ekstrinsieke eienskappe – bv. deur God se bevel soos hier in Deuteronomium 13 (en vroeër in Lev. 11).

Vir die dieper delwers: Reinheid en onreinheid kan ook deur ‘n polariteit van lewe of dood, gedefinieer word.  Dit wat lewe gegee en bevorder het, was rein.  Dit wat die lewe bedreig en die dood gebring het, was onrein.  Daarom het die aanraking van ‘n lyk of ‘n dooie dier jou onrein gemaak.  Soortgelyk een of ander velsiekte of gebrek.  Lees meer by my hantering van Levitikus daaroor.

In hoofstuk 13 (soos in Levitikus 11) sien ons dat herkouende diere met gesplete hoewe rein was en geëet mag word (bees, skaap, bok, takbok, ribbok, hartbees, klipbok, eland, gemsbok, springbok).  Diere wat óf nie herkou nie (vark), óf nie gesplete hoewe het nie (kameel, haas. dassie), was onrein en mag nie geëet word nie.  Dieselfde geld karkasse.  Levitikus 11 voeg ook nog kruipende diere by as diere wat nie geëet mag word nie.

Soutwater en varswater visse met skubbe en vinne (galjoen en kabeljou bv., hoewel geen voorbeelde gegee word nie) kon geëet word.  Hulle was rein.  Visse sonder skubbe (barber bv., hoewel daar geen voorbeelde gegee word nie) of vinne (paling bv., hoewel daar weereens geen voorbeelde gegee word nie) was egter onrein en mag nie geëet word nie.

In die geval van diere met vlerke word slegs die onrein voëls gelys (arende, lammervangers en visarende; swartaasvoëls, valke en al die roofvoël-soorte; al die kraaisoorte; volstruise, nagvalke, see-meeue en alle soorte roofvoëls; uile, visvangers, ibisse, flaminke, pelikane, swane, visvangers, ooievaars, al die reiersoorte, hoep-hoepe en vlermuise).

Hier verbied Moses alle insekte met vlerke.  Levitikus 11 gee egter meer inligting.  Insekte met vlerke wat kan spring met hulle pote is rein verklaar (bv. alle soorte sprinkane en krieke).  Alle ander insekte met vlerke, maar nie pote waarmee hulle kan spring nie, was verbode.

Vir die dieperdelwers (soos ek vroeër in Levitikus 11 geskryf het): ‘n Mens kan baie filosofeer oor hierdie dieetreëls.  Die belangrikste is egter dat die Here hiermee aan die een kant vir hulle helder reëls gegee waarmee hulle almal kon onderskei tussen rein en onrein in terme van hulle dieet.  Soos wat hulle dit daagliks nougeset nagevolg het en hulle soms ‘n paar keer deur die dag hierdie tipe keuses moes maak, het dit hulle aan God en aan sy wil vir hulle lewens herinner.  So kon hulle bewus lewe van sy teenwoordigheid, selfs in die mees gewone dele van hulle lewens.  ‘n OT manier van: “Practising the Presence of God.

Dit het hulle as geloofsgemeenskap aan die ander kant ook ‘n gevoel van solidariteit gegee wat hulle onderskei het van die ander nasies wat nie God se wil vir die lewe nagekom het nie.  Dit was daarom ‘n uiters belangrike deel van hulle gesamentlike identiteit om hieraan gehoorsaam te lewe.

Die feit dat die reëls egter ekstrinsiek was, d.w.s sonder ‘n duidelike intrinsieke rede, was waarskynlik ook waarom hierdie reëls rondom rein en onrein kos in die NT opgehef kon word, omdat God dit in die eerste plek beveel het en Hy die bevel in die nuwe bedeling opgehef het, en inderdaad kon ophef, omdat die skaduwee van die seremoniële dele van die wet vervul en vervang is met die volmaakte bedeling van sy Seun wat reinheid van hart gebring het (Mark. 7:19).  Alle kos is daarom deur Jesus as rein verklaar.

Die teenwoordigheid van die Here het nou deur die Heilige Gees ‘n inwonende werklikheid geword, waarin die uiterlike reëls vervang is met ‘n intieme verhouding met God vanuit die kern van ons bestaan.  En dit het nie net die persoonlike verhouding met God gekenmerk nie, maar ook die geloofsgemeenskap s’n.  Elke gelowige was nou ‘n tempel van die Heilige Gees, sowel as die hele gemeenskap van gelowiges.

Deur hierdie helder reëls kon elke Israeliet egter in die ou bedeling streef na ‘n staat van heelheid en volmaaktheid deur die voorskrifte wat die Here in Levitikus neergelê het rondom die gedragskode by die tabernakel en by hulle eie tente.  Hulle kon sy teenwoordigheid indra in hulle lewens deur Sy riglyne vir die lewe na te kom.  Hulle kon hulle band met mekaar behou in die stryd om aan God gehoorsaam te bly in ‘n vyandige en onheilige samelewing.

Julle moet julle tiendes nie vergeet nie – Deut. 14:22-29

Die tiende was bedoel om ‘n gawe van dankbaarheid aan die Here vir al sy seëninge te wees.  Dit is uit die opbrengs van hulle gesaaides gegee wat afhanklik was van die Here se seën in terme van beide reënval en vrugbaarheid.  Daardeur sou hulle leer om die Here altyddeur te eer.  Die opbrengs self moes gebring word, want hulle kon bv. met die maaltydoffer as families en vriende by die Tabernakel dit in sy teenwoordigheid eet.  Die Leviete moes ook nie vergete bly nie.  As die Tabernakel egter te ver was, moes hulle dit in kontant omsit en dan koop wat hulle nodig het vir die feestelikheid in die teenwoordigheid van die Here.

Elke derde jaar was die opbrengs bedoel vir die Leviete, die vreemdelinge, die weeskinders en die weduwees in hulle omgewing.  Hulle voorspoed sou afhang van hulle vrygewigheid en mededeelsaamheid.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Deuteronomium


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.