Skip to main content

Deuteronomium 24:1-25:4 – Egskeiding, hertrou en praktiese naasteliefde

https://truthinmotion.wordpress.com /2013/06/20/word50/

Moses brei uit op die sewende gebod (egbreuk) en hanteer kortliks die saak van egskeiding en hertrou.  Dié voorskrif sou egter van groot belang in die besinning van die profetiese literatuur wees en sterk en fundamentele uitsprake van Jesus, Paulus en die Hebreërskrywer in die NT tot gevolg hê (Deut. 24:1-4).  Hy volg dit op met elf praktiese voorskrifte vir naasteliefde weereens geskoei op die beginsel van respek vir die lewe en die grense wat die Here stel (Deut. 24:5-25:4).

Egskeiding en hertrou – Deut. 24:1-4

Moses laat egskeiding toe in die geval dat ‘n man nie meer sy vrou liefhet: “omdat hy iets onbetaamliks aan haar gevind het”.   Die “onbetaamliks” (BDV het “onbehoorlik”) word nie uitgespel nie, maar die Hebreeuse woord ʿěrwāh word normaalweg met “naaktheid” vertaal,  soos ons dit bv. by Gam en sy pa Noag aantref (Gen. 9:22; vgl. Deut. 23:14).  Die onbetaamlike of onbehoorlike gedrag dui dus waarskynlik op een of ander growwe seksuele oortreding.

Moses brei dan verder uit hierop en skryf voor dat die man nooit weer met dié vrou mag trou as sy intussen ‘n ander een se vrou geword het nie.  Dit sal sonde in die oë van die Here wees en die land verontreinig.  Hertrou was dus nie meer ‘n opsie as daar reeds ‘n ander troue plaasgevind het nie.

Maar, let op dat egskeiding ‘n toegewing is, nie ‘n gebod nie.  Egskeiding was ‘n afskuwelike en gewelddadige gebeurtenis in die oë van die Here, verstaanbaar in enkele gevalle, maar steeds iets wat vermy kon word indien daar inkeer en versoening sou wees.  ‘n Tweede huwelik het dié versoening en hertrou onmoontlik gemaak, vandaar die sterk woorde daaroor.

Dié lering word bevestig deurdat die gebroke verhouding van Israel en Juda met die Here ook met die metafoor van ‘n egskeiding beskryf word waarin hertrou byna ‘n onmoontlikheid sou wees indien die situasie te lank sou aanhou, soos ons by Jesaja en Jeremia leer, wat albei op Deuteronomium 24 as agtergrond steun (Jes. 50:1-3; Jer. 3:1-4:4).

Daar is nog wel die moontlikheid van herstel van die verhouding met God, op sy inisiatief, en daarom iets wat per definisie ook moontlik sou kon wees vir twee mense in die huwelik.  Daarom dat Maleagi die OT boodskap opsom met hierdie onomwonde lering: “Die Here die God van Israel sê Hy haat egskeiding.  Egskeiding is niks anders as geweld nie, sê die Here die Almagtige.  Beheers julle, moenie ontrou wees nie.” (Mal. 2:16).  ‘n Huwelik was bedoel om lewenslank te wees tussen een man en een vrou, soos Genesis 1 inderdaad geleer het.

Egskeiding en hertrou in die NT

Ons leef in ‘n tyd waar egskeiding nie meer die wenkbroue laat lig nie.  Die Bybel se lering hieroor is egter deurgaans dat God egskeiding haat, soos ons reeds by Maleagi gesien het (Mal. 2:16).

Dit is iets wat ons ter harte sal moet neem in ons geloofspraktyke en gemeentes.  Want, dit is nie net die OT wat hieroor duidelik is nie.  Jesus, Paulus en die Hebreërskrywer is kras in hulle afwysing van die geweld van egbreuk en egskeiding.  En hulle lering is gebaseer op die OT, eksplisiet Deuteronomium 24:1.

Jesus oor egskeiding

Jesus gebruik Deuteronomium 24 op drie plekke as agtergrond vir sy lering oor egskeiding. En Hy is onverbiddelik in sy eis aan dissipels van Hom om getrou te bly in die huwelik.

1.  In die Bergrede wys Jesus dat die eintlike bedoeling van Deuteronomium 24 nie was dat ‘n man sommer om enige rede van sy vrou mag geskei het nie, soos die Jode verkeerdelik in hulle uitleg daarvan geleer het. Nee, sê Jesus, die huwelik is bedoel om ‘n lewenslange verbintenis te wees, al kan ‘n mens, sê Hy, verstaan dat owerspel (in Deut. 24:1 “iets onbetaamliks”) – wat in wese reeds egbreuk was – ‘n egskeiding tot gevolg kan hê.

So praat Jesus daaroor: “Daar is gesê: ‘Elkeen wat van sy vrou skei, moet aan haar ’n skeibrief gee.’ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei behalwe oor owerspel, maak dat sy egbreuk pleeg, en iemand wat met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.” (Matt. 5:31-32).

Geen wonder dat die dissipels baie ontsteld daarop reageer nie: “As dit is hoe die saak met man en vrou staan, is dit beter om nie te trou nie.”  Inderdaad!

Jesus se antwoord aan hulle eggo die dissipels se waarneming, maar moedig hulle aan om met wysheid op te tree: “Wat julle nou sê, is nie vir almal moontlik nie, net vir dié aan wie dit gegee is. Daar is mense wat nie kan trou nie omdat hulle van hulle geboorte af so is, ander is deur mense so gemaak, en ander het self so gekies ter wille van die koninkryk van die hemel.  Wie dit kan doen, laat hy dit doen.” (vgl. die lering in Deut. 23:1-8 wat hiermee verband hou).

2.  In ‘n gesprek met die Fariseërs – wat Hom beledig het dat Hy van hulle verwag om God bó alles te dien – beklemtoon Jesus die altyd-geldende krag van die wet: “Tog is dit makliker vir die hemel en die aarde om te vergaan as dat een lettertjie van die wet verval.” En Hy lê dié beginsel uit deur enige egskeiding, selfs ‘n huwelik met ‘n geskeide, as teen God se wil uit te lê: “Elkeen wat van sy vrou skei en met ’n ander een trou, pleeg egbreuk; en iemand wat met ’n geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.” (Luk. 16:14-18).

Voorwaar sterk en onverbiddelike woorde!  Owerspel mag dus nie sommer sonder meer as verskoning vir egskeiding gebruik word nie, al erken Jesus dat dit ‘n huwelik onmoontlik sou kon maak.

3.  In ‘n verdere gesprek met die dissipels onderstreep Jesus die lewenslange verbintenis van ‘n man en ‘n vrou in die huwelik deur dit aan God se goeie skepping te verbind. Die wet van egskeiding was nie bedoel om die huwelik te beskadig nie, maar was ‘n toegewing weens die hardheid van hulle harte.  En Hy herhaal die onverbiddelike eis dat gelowiges getrou moet bly in die huwelik met dieselfde woorde as wat Lukas ook neergepen het (Mark. 10:11-12; vgl. Luk. 16:18).

Paulus oor egskeiding en hertrou

Paulus waarsku dat egbrekers wat nie tot bekering kom nie geen deel sal hê aan die koninkryk van God nie.  Gelukkig is hy oortuig van die Korintiërs dat hulle reeds hulle sonde laat afwas het, deur Christus geheilig is, en vrygespreek is in die Naam van Jesus deur die kragtige werking van die Heilige Gees (1 Kor. 6:9-11).

Hy gaan verder om oor die huwelik te skrywe waarin hy helder daaroor is dat ‘n gelowige nie moet skei nie, maar nie ‘n ongelowige moet keer as dié wil skei nie.  Hertrou in laasgenoemde geval was ‘n moontlikheid, maar om dán ongetroud te bly eintlik beter (1 Kor. 7).

Die Hebreërskrywer oor ontug en egbreuk

Die Hebreërskrywer waarsku gelowiges dat ontug en egbreuk jou onder die oordeel van God laat kom: “Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom.” (Hebr. 13:4).  Woorde wat ons doodgewoon ter harte moet neem en as kinders van die Here moet gehoorsaam.

Elf praktiese voorskrifte van naasteliefde – Deut. 24:5-25:4

Die respek vir die lewe en die grense wat God stel word in elf praktiese voorskrifte uitgespel.  Daar is ooreenkomste met van die wysheidsliteratuur se wyshede:

  1. ’n Pasgetroude man is ‘n jaar van diensplig vrygestel ter wille van sy vrou om haar, let op: “gelukkig te maak”. Hy moet haar vreugde verskaf!
  2. Jy mag nie iemand se implemente (maalklippe) konfiskeer as pand (sekuriteit) nie. Hy moet steeds in staat wees om ‘n lewe te maak vir sy gesin.
  3. Ontvoering was heeltemal ontoelaatbaar en is met die dood gestraf (Eks. 21:16). Dit was ‘n oortreding van die agste gebod (steel).
  4. Die reinheidswette rondom melaatsheid (eintlik enige velsiekte: Levitikus 13-14) moes nougeset nagekom word ter wille van die gemeenskap, en die Here, soos Mirjam se voorbeeld gewys het (Numeri 12).
  5. Jy moes te alle tye sorg dat jy billik optree teenoor mense wat van jou iets leen, veral as hulle arm is. Private eiendom moes gerespekteer word.
  6. Jy moes te alle tye sorg dat jy billik optree teenoor iemand wat vir jou werk en hulle betyds betaal.
  7. Mense moes vir hulle eie sonde gestraf word, ook in die gesin. Daar was uiteraard ook korporatiewe verantwoordelikheid, bv. soos in die geval van oorlog of ballingskap.  Hier gaan dit oor ‘n sonde wat net die persoon betrek wat dit gepleeg het.
  8. Jy moes te alle tye die regte van ’n vreemdeling, weeskind (vaderloos) en weduwee beskerm.
  9. Jy moes iets op die lande los vir die vreemdelinge, weeskinders (vaderloos) en weduwees: koring, olywe, en druiwe.
  10. Lyfstraf was ‘n geldige straf in ‘n hofsaak, maar moes beperk word om niemand te verkleineer nie.
  11. Selfs diere moes billik hanteer word deurdat jy nie ’n bees waarmee jy graan dors, se bek mag toebind nie (vgl. Spr. 12:10). Paulus trek hieruit ‘n les ook vir evangeliedienaars (1 Kor. 9:8-12) en lerende ouderlinge (1 Tim. 5:18).
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Deuteronomium


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda