Skip to main content

Geloof en twyfel

Julle geloof is baie kosbaarder as goud.

So sê Petrus aan die begin van sy brief aan die vreemdelinge versprei in Klein-Asië (1 Pet. 1:7). Hy praat hier van die “geloof tot die saligheid“, die geloof wat deur die wedergeboorte ‘n krag van God geword het in ons en ons laat vertrou op ‘n hiernamaals saam met God. Dit is ‘n erfenis wat God aan ons belowe wat onverganklik is, deur niks besmet kan word nie, en nooit soos ‘n blom sal verwelk nie.

Die egtheid van hierdie geloof word deur beproewinge getoets sodat dit al hoe suiwerder aan God kan vasgryp tot lof en eer aan Hom in hierdie lewe en die lewe wat kom.

Twyfel bedreig dié geloof, want dit kan jou koers laat verloor. Daarom moet ons as geloofsgemeenskap op mekaar ag slaan om deur ons bemoediging en aanmoediging die geloof lewend te hou.

Twyfel het met twee goed te make, met vrees en kleingelowigheid.

Josef praat oor vrees in die OT. Hy waarsku sy broers in Egipte dat hulle nie langs die pad terug Kanaän toe moet bang word en begin twyfel of hy dit met hulle goed bedoel nie (Gen. 45:24).  Hulle moet hulle staal teen die vrees sodat hulle nie weens twyfel die uitkoms van Egipte in die hongersnood sal mis nie. Twyfel, om watter rede ook al, sê Asaf in die Psalms vir ons, laat ‘n mens maklik koers verloor (Ps. 73:2).

Jesus doen dieselfde in die NT. Hy bemoedig vir Johannes die Doper wat in die tronk is en begin om uit vrees te twyfel aan Jesus.  Jesus wys hom op alles wat Hy doen wat getuig dat Jesus werklik die Messias is om Johannes die Doper se geloof te versterk (Matt. 11:2).

Jesus praat ook oor kleingelowigheid in die NT. Twyfel kom van kleingelowigheid, soos Jesus Petrus waarsku op die see as die golwe dreig om oor hom te slaan (Matt. 14:31).  Die oplossing vir twyfel is om Jesus se opdragte en beloftes na waarde te skat en in Hom jou vertroue te plaas ten spyte van wat die “golwe van die lewe” aan jou doen.

Uit die hoek is twyfel die teenoorgestelde van geloof, soos Jesus direk uitspel in die voorbeeld van die vyeboom: “As julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle …” (Matt. 21:21).

Maar, ongeloof is ook deel van twyfel.  Daarom gebruik Paulus Abraham as voorbeeld van iemand wat nie in ongeloof begin twyfel het aan die belofte van God nie (Rom. 4:20).  En Jakobus, Jesus se een broer, moedig ons aan om gelowig te bid en nie te twyfel as ons wysheid van God kortkom nie (Jak. 1:6).

Daar rus dus op ons ‘n groot verantwoordelikheid om ons oor diesulkes, die twyfelaars in die geloofsgemeenskap, te ontferm by wie ‘n verkeerde (bose) gesindheid van ongeloof kan ontstaan, want dit kan lei tot afvalligheid van die lewende God (Hebr. 3:12, 19), soos die ander broer van Jesus ons ook waarsku (Jud. 22).

Twyfel word dus nie soseer “sonde” genoem in die NT nie, maar ‘n “hardheid van hart” (Mark. 16:14) of ‘n “bose ongelowige hart” soos die Hebreërskrywer dit noem (Hebr. 3:12 – beter vertaal in die OAV).

Twyfel kan jou dus soos ‘n ongelowige laat optree, maar daar is tog ‘n onderskeid met ware ongelowiges wat natuurlik nie twyfel nie, maar reeds in hulle ongeloof die erkenning van en vertroue op God prysgegee het.  Die eindpunt van twyfel is egter ook ongeloof, en iets wat altyd dringend hanteer moet word.

Byvoorbeeld, as iets slegs gebeur, is dit baie normaal om aan God, of sy goeie bedoelings met ons, te twyfel, veral as dit met die dood van ‘n geliefde of nog erger van ‘n kind te make het.  Maar, dit word steeds op dieselfde manier hanteer.  Ons reik uit met ontferming en laat die teenwoordigheid van die Here inspeel in die situasie.

Die Here is immers die een wat geloof versterk en selfs vooraf vir Petrus bid met die oog op sy komende afvalligheid by die vuur waar hy Jesus sou verloën: “Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie.” (Luk. 22:32).

Só sal ons almal deur tye van verdrukking en beproewing gaan waarin ons mekaar geestelik moet versterk en moet aanspoor om getrou te bly in die geloof (Hand. 14:22).  En waar ons dit regkry om mekaar te help om te volhard ten spyte van die uitdagings kweek dit egtheid van geloof (Rom. 5:4).

Wat ek al baie ervaar het rondom die hantering van die dood, is dat die Bybelse hoop die geloof aan die brand hou, soos Paulus dit aan die Kolossense stel: “Hierdie geloof … is gegrond op die hoop wat vir julle in die hemel bewaar word …” (Kol. 1:5).  Dit help ‘n mens begryp dat hierdie lewe nie al is waarom dit gaan nie; dat die hoop op die lewe hierna ons vertroue in God versterk en lewend hou.

Dit beteken in wese om aan Jesus self vas te gryp: “die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.” (Hebr. 12:2).


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda