Skip to main content

Geloof en twyfel

Julle geloof is baie kosbaarder as goud.

So sê Petrus aan die begin van sy brief aan die vreemdelinge versprei in Klein-Asië (1 Pet. 1:7). Hy praat hier van die “geloof tot die saligheid“, die geloof wat deur die wedergeboorte ‘n krag van God geword het in ons en ons laat vertrou op ‘n hiernamaals saam met God. Dit is ‘n erfenis wat God aan ons belowe wat onverganklik is, deur niks besmet kan word nie, en nooit soos ‘n blom sal verwelk nie.

Die egtheid van hierdie geloof word deur beproewinge getoets sodat dit al hoe suiwerder aan God kan vasgryp tot lof en eer aan Hom in hierdie lewe en die lewe wat kom.

Twyfel bedreig dié geloof, want dit kan jou koers laat verloor. Daarom moet ons as geloofsgemeenskap op mekaar ag slaan om deur ons bemoediging en aanmoediging die geloof lewend te hou.

Twyfel het met twee goed te make, met vrees en kleingelowigheid.

Josef praat oor vrees in die OT. Hy waarsku sy broers in Egipte dat hulle nie langs die pad terug Kanaän toe moet bang word en begin twyfel of hy dit met hulle goed bedoel nie (Gen. 45:24).  Hulle moet hulle staal teen die vrees sodat hulle nie weens twyfel die uitkoms van Egipte in die hongersnood sal mis nie. Twyfel, om watter rede ook al, sê Asaf in die Psalms vir ons, laat ‘n mens maklik koers verloor (Ps. 73:2).

Jesus doen dieselfde in die NT. Hy bemoedig vir Johannes die Doper wat in die tronk is en begin om uit vrees te twyfel aan Jesus.  Jesus wys hom op alles wat Hy doen wat getuig dat Jesus werklik die Messias is om Johannes die Doper se geloof te versterk (Matt. 11:2).

Jesus praat ook oor kleingelowigheid in die NT. Twyfel kom van kleingelowigheid, soos Jesus Petrus waarsku op die see as die golwe dreig om oor hom te slaan (Matt. 14:31).  Die oplossing vir twyfel is om Jesus se opdragte en beloftes na waarde te skat en in Hom jou vertroue te plaas ten spyte van wat die “golwe van die lewe” aan jou doen.

Uit die hoek is twyfel die teenoorgestelde van geloof, soos Jesus direk uitspel in die voorbeeld van die vyeboom: “As julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle …” (Matt. 21:21).

Maar, ongeloof is ook deel van twyfel.  Daarom gebruik Paulus Abraham as voorbeeld van iemand wat nie in ongeloof begin twyfel het aan die belofte van God nie (Rom. 4:20).  En Jakobus, Jesus se een broer, moedig ons aan om gelowig te bid en nie te twyfel as ons wysheid van God kortkom nie (Jak. 1:6).

Daar rus dus op ons ‘n groot verantwoordelikheid om ons oor diesulkes, die twyfelaars in die geloofsgemeenskap, te ontferm by wie ‘n verkeerde (bose) gesindheid van ongeloof kan ontstaan, want dit kan lei tot afvalligheid van die lewende God (Hebr. 3:12, 19), soos die ander broer van Jesus ons ook waarsku (Jud. 22).

Twyfel word dus nie soseer “sonde” genoem in die NT nie, maar ‘n “hardheid van hart” (Mark. 16:14) of ‘n “bose ongelowige hart” soos die Hebreërskrywer dit noem (Hebr. 3:12 – beter vertaal in die OAV).

Twyfel kan jou dus soos ‘n ongelowige laat optree, maar daar is tog ‘n onderskeid met ware ongelowiges wat natuurlik nie twyfel nie, maar reeds in hulle ongeloof die erkenning van en vertroue op God prysgegee het.  Die eindpunt van twyfel is egter ook ongeloof, en iets wat altyd dringend hanteer moet word.

Byvoorbeeld, as iets slegs gebeur, is dit baie normaal om aan God, of sy goeie bedoelings met ons, te twyfel, veral as dit met die dood van ‘n geliefde of nog erger van ‘n kind te make het.  Maar, dit word steeds op dieselfde manier hanteer.  Ons reik uit met ontferming en laat die teenwoordigheid van die Here inspeel in die situasie.

Die Here is immers die een wat geloof versterk en selfs vooraf vir Petrus bid met die oog op sy komende afvalligheid by die vuur waar hy Jesus sou verloën: “Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie.” (Luk. 22:32).

Só sal ons almal deur tye van verdrukking en beproewing gaan waarin ons mekaar geestelik moet versterk en moet aanspoor om getrou te bly in die geloof (Hand. 14:22).  En waar ons dit regkry om mekaar te help om te volhard ten spyte van die uitdagings kweek dit egtheid van geloof (Rom. 5:4).

Wat ek al baie ervaar het rondom die hantering van die dood, is dat die Bybelse hoop die geloof aan die brand hou, soos Paulus dit aan die Kolossense stel: “Hierdie geloof … is gegrond op die hoop wat vir julle in die hemel bewaar word …” (Kol. 1:5).  Dit help ‘n mens begryp dat hierdie lewe nie al is waarom dit gaan nie; dat die hoop op die lewe hierna ons vertroue in God versterk en lewend hou.

Dit beteken in wese om aan Jesus self vas te gryp: “die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.” (Hebr. 12:2).


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms