Skip to main content

Inleiding

https://truthinmotion.wordpress.com /2013/06/20/word50/

Die tweede generasie kamp in die vlakte van Moab.  Hulle is gereed om die beloofde land Kanaän in te neem.  Moses het egter aan die einde van sy reis as leier met die volk gekom.  Net voordat hy sterwe, lewer hy daarom drie laaste “preke” om die volk voor te berei vir die Intog.  Hy het dit, saam met al die vorige woorde van God: “tot die laaste woord toe, in ’n boek opgeteken”, en vir die Leviete gegee om in die Tabernakel by die verbondsark te bewaar as getuienis van God self aan die volk (Deut. 31:24).  Daarom word die boek in Hebreeus: “Hierdie is die woorde” genoem.

Na sy dood op die berg Nebo sou Josua die volk verder lei die beloofde land in met hierdie wetboek as rigsnoer: “Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees.” (Jos. 1:8).

Die drie toesprake van Moses vorm die inhoud van die boek Deuteronomium wat daarmee die vyf boeke van die Pentateug afsluit.  Moses fokus in hierdie drie boodskappe op die impak van die verlede, hede en toekoms op die volk.  Dit verskaf ‘n teologiese raamwerk waarbinne Israel nie net hulle identiteit as volk van God kan begryp nie, maar hulle absolute lojaliteit aan die Here as Verbondsgod kan verseker.  Dit sou die lamp vir hulle weg en die lig op hulle pad wees (Ps. 119:105).

Moses begrond sy boodskappe in die genade van God wat sy beloftes vir die geloofsgemeenskap in vervulling sal bring.  Hierdie genade van God sal vir hulle die lewe beteken as hulle aan God gehoorsaam is.  Ongehoorsaamheid sal egter die oordele van die verbond oor hulle bring.

Met hierdie begronding van God se seën in ‘n oorsaak-gevolg skema stempel Deuteronomium die geskiedenis van Israel in die beloofde land, soos veral hierna in die sogenaamde Deuteronomistiese Geskiedwerk – Josua, Rigters, 1 en 2 Samuel, 1 en 2 Konings – beskryf sal word.  Gehoorsaamheid aan God sou met die keur van sy seëninge begroet word. Ongehoorsaamheid aan God sou hulle blootstel aan die trauma van sy strawwe wat uiteindelik in die oordeel van die onderskeie ballingskappe sou uitmond.

Verband met die res van die Pentateug

Deuteronomium vervolg direk op Numeri se afsluiting en verwys na talle gebeure uit die verhaal van die volk soos dit opgeteken is tot hier in Eksodus, Levitikus en Numeri.  Hier is ‘n lysie van die belangrikste verwysings:

  • Die Paasfees – Eks. 12 met Deut. 16:1-8;
  • Die tien gebooie – Eks. 20 met Deut. 5;
  • Oor slawe – Eks. 21 met Deut. 15:12-18;
  • Die goue kalf – Eks. 32 met Deut. 9;
  • Die tweede opskryf van die tien gebooie – Eks. 34 met Deut. 10;
  • Rein en onrein kos – Lev. 11 met Deut. 14;
  • Die fees van die weke – Lev. 23:15-21 met Deut. 16:9-12;
  • Die huttefees – Lev. 23:33-43 met Deut. 16:13-17;
  • Die afskryf van skuld – Lev. 25 met Deut. 15:1-11;
  • Mirjam se melaatsheid – vgl. Num. 12 met Deut. 24:9;
  • Die mislukte eerste Intog in Kanaän – vgl. Num. 13-14 met Deut. 1:19-46;
  • Die trek deur die woestyn – vgl. Num. 20:14-21:20 met Deut. 2:1-25;
  • Die inname van die streek oos van die Jordaan – vgl. Num. 21:21-35; 32 met Deut. 2:26-3:10;
  • Die verhaal van Bileam – vgl. Num. 22-24 met Deut. 23:4-5;
  • Die voorsiening vir die priesters – vgl. Num. 18 met Deut. 18:2;
  • Die gebeure by die Meribawaters by Kades – vgl. Num. 20:12 met Deut. 32:51-52;
  • Die voorskrifte oor geloftes – vgl. Num. 30 met Deut. 23:21-23;
  • Die asielstede – vgl. Num. 35:9-34 met Deut. 19:1-13 (vgl. Jos. 20:1-9);
  • Die oorlog teen die Midianiete – vgl. Num. 13-14 met Deut. 3:12-29.

Dit beteken dat alles wat in Eksodus tot by Numeri beskryf is, vóór die toesprake van Moses in Deuteronomium plaasgevind het.  Trouens, dit vorm ‘n noodsaaklike agtergrond vir Moses se toesprake.  Daarsonder sou wat hy sê min sin maak.

Inhoud van die boek Deuteronomium

Die tweede generasie van die volk word nou ingetrek in ‘n verbintenis aan God wat met ‘n verbondsluiting verseël sal word (Deut. 29).  Die land wat God aan hulle en hulle voorvaders belowe het, moet in besit geneem word.

Moses spreek hulle nou toe met drie wydlopende boodskappe wat die raamwerk gee vir hulle ontvangs van God se gawe.   Die inhoud van die drie boodskappe gee ook ‘n handige indeling van die inhoud van die boek Deuteronomium:

  • HISTORIESE TERUGKYKDeuteronomium 1:1-4:43.  Die eerste preek begin in Hebreeus met die woorde: “Dit is die woorde …  Moses herinner die volk waarvandaan hulle kom en begrond daarmee sy boodskap aan Israel in hulle gedeelde ervaring van God uit die verlede.  Soos God aan hulle getrou was, sal Hy dit in die toekoms doen.  Maar dan sal hulle Hom en Hom alleen moet dien.
  • RIGLYNE VIR NAVOLGINGDeuteronomium 4:44-28:68.  Die tweede preek begin in Hebreeus met die woorde: “En dit is die wet …  Moses bemoedig die volk om die Here lief te hê en met alles in hulle te dien in die hede.  Hy vermaan hulle om te luister na die Here en met Hom in ‘n verbondsverhouding te lewe.  Die herhaling en uitleg van die tien gebooie en verwante wetgewing speel daarin ‘n groot rol.  Geen wonder dat die boek daarom in die Griekse vertaling daarvan Deuteronomium, d.w.s. “tweede wet”, genoem word nie.  Dit handel oor:
    • die regte balans tussen aanbidding en lewe: Deut. 12-16:17,
    • billike en regverdige leierskap van regters, priesters, konings en profete: Deut. 16:18-18:22, en oor
    • ‘n gesonde gemeenskap na buite (asiel, grense, hofsake, oorlog, moord, moraliteit, geloofsgemeenskap) en na binne (huwelik, egskeiding, hertrou, oeste, tiendes): Deut. 19-26.
    • die seën en strawwe van die verbond: Deut. 28.
  • PROFETIESE VOORUITKYKDeuteronomium 29:1-30:20.  Die derde preek begin in Hebreeus soos by die eerste preek met die woorde: “Dit is die woorde (van die verbond)” en voer dit verder.  Moses moedig Israel aan om te volhard in hulle gehoorsaamheid aan die Here in die toekoms in ‘n vernuwing van hulle verbond met Hom: Deut. 29.  Dit sal vir hulle die lewe beteken.  Ingesluit daarby is die aanmoediging om te vertrou op die beloftes van God ook vir die toekoms.  Ongehoorsaamheid sal egter oordeel vir hulle beteken.  In ‘n vernuwing van die verbond verbind die volk hulle aan die seën en straf daarvan: Deut. 30.

Die boek word afgesluit met ‘n epiloog Deuteronomium 31:1-34:12 wat oor die aanstelling van Josua handel (Deut. 31), die lied van Moses (Deut. 32), die seën van Moses (Deut. 33), en die dood van Moses (Deut. 34), waarmee afskeid van hierdie groot leier geneem word.

Deuteronomium is ook ‘n verbondsboek wat die struktuur van ander Ou Nabye Oosterse verdrae tussen konings en onderhorige volkere, bv. dié van die Hetiete, uit die 14de eeu v.C. en later vertoon. ‘n Mens kan die tradisionele indeling van sulke verdrae as volg in Deuteronomium sien:

  • Aanhef en historiese proloog (Deut. 1-4);
  • Stipulasies van die verbond (Deut. 5-26);
  • Klousules – algemeen en spesifiek – wat uitgevoer moet word (Deut. 27);
  • Seëninge en strawwe (Deut. 28-29; 32-33);
  • Getuies (Deut. 30-31).

Boodskap van die boek Deuteronomium

Die boek Deuteronomium beklee ‘n besondere plek in die Pentateug, omdat dit die wet van God nie net uitlê in terme van godsdienstige en morele voorskrifte nie – soos ander wetsvoorskrifte van die Ou Nabye Ooste soos dié van Hammurabi uit die 18de eeu v.C. – maar in terme van die daaglikse wandel met God saam met jou geloofsgenote.  Trouens, die innerlike verbintenis aan God, een van liefde, een van die hart, word sterk beklemtoon.  Geen wonder dat sommige geleerdes van Deuteronomium as die Vyfde Evangelie praat nie!

Moses praat bv. van die beginsel van ‘n besnydenis van die hart wat dieper is as maar net die uitwendige merkteken van die verbond.  Dit is aan die een kant ‘n persoonlike verantwoordelikheid: “Besny dan die voorhuid van julle hart en verhard julle nek nie verder nie.” (Deut. 10:16 OAV).  Dit is aan die ander kant iets wat net God werklik in ‘n mens kan bewerk: “En die HERE jou God sal jou hart besny en die hart van jou nageslag, om die HERE jou God lief te hê met jou hele hart en met jou hele siel, dat jy kan lewe.” (Deut. 30:6 OAV).

Dit hang saam met die geweldige belangrike klem op die monoteïsme, die onverdeelde eenheid van God, en die belangrikheid van onverdeelde lojaliteit aan Hom.  Na Hom alleen moet geluister word, soos die bekende shema beklemtoon: “Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag.” (Deut. 6:4-5).

Betekenis van die boek Deuteronomium

Deuteronomium het ook ‘n groot impak op die res van die Bybel, waarskynlik meer as enige ander boek.  Die hele geskiedenis van die volk in die beloofde land word in die Deuteronomistiese Geskiedwerk – Josua, Rigters, 1 en 2 Samuel, 1 en 2 Konings – vanuit die voorwaardelike begronding van God se seën in ‘n oorsaak-gevolg skema beskryf.  Gehoorsaamheid aan God is met sy seëninge begroet. Ongehoorsaamheid aan God het hulle blootgestel aan sy strawwe. 

Die verhaal van die volk tot met die twee ballingskappe kan daarom volledig aan die hand van die skema van gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid, en gevolglik seën en straf, beskryf word.  Regdeur die tyd van die Rigters, en regdeur die tyd van die konings, het die volk gewissel tussen gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid.  En die Here se reaksie was voorspelbaar voorwaardelik verbind daaraan met die seëninge en strawwe van die verbond.

In die tyd van die profete soos Samuel, Elia en Elisa, word God se ingrype in die lewe van die volk nog volledig binne hierdie skema van gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid, seën en straf, beskryf.  Die drie groot Skrifprofete: Jesaja, Jeremia en Esegiël, sit dié beoordeling van die volk Israel voort, hoewel hulle tog begin teruggryp na die hoop van God se genade aan Abraham waarin die idee van ‘n nuwe verbond wat ‘n nuwe hart sou insluit met die aankondiging van die koms van die Messias ‘n verwagting vir die toekoms geskep het, iets wat ook by sommige van die Twaalf Kleiner Profete prominensie begin kry het (vgl. Miga, Joël, Sagaria, Maleagi).

Dit sou egter eers in die NT wees wat hierdie siklus van gehoorsaamheid-ongehoorsaamheid volledig verbreek is met die openbaring van Jesus wat die straf van God vir die sonde gedra het, om vir elkeen wat in Hom glo, volkome verlossing te bring (Joh. 3:15-18).  Verlossing is dus in die NT iets wat Jesus deur sy Gees in ons bewerk, sodat ons uit die siklus van gehoorsaamheid-ongehoorsaamheid kan breek en in staat is om volhardend te kies om God te dien, en Hom alleen (Rom. 8; Gal. 5; Ef. 5).

View all posts in this series

Deuteronomium


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar