Skip to main content

Deuteronomium 16:18-17:20 – Regters en konings moet nougeset volgens die wet regeer

https://truthinmotion.wordpress.com /2013/06/20/word50/

Ná die feeste fokus Moses op die publieke sisteme, die regstelsel (Deut. 16:18-17:13) en die konings (Deut. 17:14-20).  Soos gehoorsaamheid aan die Here die volk se alledaagse en godsdienstige lewe beïnvloed het, só moet dit die publieke sfere van die regswese en die politiek bepaal.  Daar is nie ‘n area van die lewe in God se land wat buite sy soewereine wil val nie. In alles moet Hy gehoorsaam word en deur almal, die hooggeplaastes en die gewone mense.

Die regters en amptenare moet die reg handhaaf soos God dit wil hê – Deut. 16:18-17:13

Let op hoe Moses sy uitsprake oor die regstelsel motiveer en begrond in die feit dat dit nie net die land is wat deur die Here aan hulle gegee is nie, maar ook elke dorp.  Daarom moet regters en amptenare aangestel word wat die reg kan handhaaf soos God dit wil hê.  Hulle moet billik en regverdig wees en vir niemand partydig, bv. deur omkoopgeskenke te aanvaar nie: “want dit maak dié wat van beter moet weet, blind en laat die saak van die onskuldige skeef loop.”  ‘n Versoeking waarvoor baie deur die eeue geval het!

Weereens sluit dit in dat ‘n mens nie ‘n afgodsbeeld (gewyde paal) langsaan die Here mag skep en aanbid nie.  Dit is God alleen wat aanbid moet word.  Hy duld geen kompetisie nie.  Hy wil ook geen halfhartige diens van enigiemand hê nie, soos wanneer iemand ‘n offer met ‘n liggaamsgebrek of ’n letsel bring nie.

Wanneer iemand ander goed aanbid, dinge soos die son, maan of ander hemelliggame, moet dit noukeurig ondersoek word en sulke mense die doodstraf opgelê word.  Daar moet ook twee of drie getuies wees, nie net ‘n enkel persoon se woord teen iemand anders s’n.  Die getuies word ook by die vonnis voltrek, waarna die hele volk dit moes help uitvoer. Só sou hierdie soort kwaad tussen hulle uitgeroei kan word, dit was die droom.

Wanneer ‘n saak te moeilik was om plaaslik uit te sorteer, is die Tabernakel se Levitiese priesters geraadpleeg waarvan een as die diensdoenende regter aangestel is.  Sy raad moes tot die letter gevolg word, sodat die gemeenskap in alles volgens die wil van die Here kon optree.

Slegs konings wat deur die Here gekies is, mag aangestel word – Deut. 17:14-20

Daar sou nog baie water in die see loop voor die eerste koning Saul min of meer 350 jaar later deur die Here aangewys sou word (1 Sam. 9-15).  Moses kyk ver die toekoms in en voorsien die moontlikheid dat die volk soos die ander nasies rondom hulle ‘n koning sou wou hê.  Iets wat Samuel aanvanklik teengestaan het, maar later in gehoorsaamheid aan die Here uitgevoer het (1 Sam. 8).  Moses sal in die volgende hoofstuk nog verder in die toekoms inkyk en ‘n profeet sien wat uiteindelik in die Here Jesus vervul is.

Die voorskrif van die Here is dat hulle iemand moet aanstel wat die Here vir hulle aanwys, iemand uit hulle eie geledere, soos dit later die geval met beide Saul en Dawid sou wees.  Let op dat dié koning nie lief moes wees vir die simbole van mag en rykdom nie, perde en vroue, iets wat Salomo se val sou veroorsaak.  Lees wat ek daaroor geskryf het: 1 Konings 10-11 – Die Here is lief vir Salomo, maar hy is lief vir perde en vroue.

Die rigsnoer vir die koning se heerskappy moes uit die wet kom, hierdie boek wat Moses besig was om klaar te maak en uiteindelik vir die Leviete sou gee om by die ark te bewaar.  Hy moes ‘n afskrif maak – ‘n Deuteronomium, ‘n tweede wet! – en dit: “by hom hou en sy lewe lank moet hy dit gereeld lees sodat hy kan leer om die Here sy God te dien deur gehoorsaam te wees aan alles in hierdie wet en om volgens al hierdie voorskrifte te lewe.

Dan sou hy hoogmoed kon vermy en hom nie bó sy mense verhef nie.  Hy sou die voorskrifte van die wet nougeset kon handhaaf.  Trouens, hy moes nie: “’n haarbreedte afwyk van hierdie gebod nie.” Dit sal nie net vir die volk en homself tot seën dien nie, maar ook vir sy nageslag, waaruit ‘n dinastie sou kon voortspruit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Deuteronomium


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar