Skip to main content

Deuteronomium 6 – Die liefde vir die Here bepaal jou hele lewe

Dit is die gebod, voorskrifte en beslissings

https://truthinmotion.wordpress.com /2013/06/20/word50/

Soos Moses hierdie tweede preek van hom begin het met die woorde: “Dit is die wet” (Deut. 4:44), waarna hy die Tien Gebooie weer aan die volk voorgehou het, só begin hy sy uitleg van die implikasies daarvan met die woorde: “Dit is die gebod” (Deut. 6:1). In die eerste geval gebruik hy die Hebreeuse woord tôrāh – wet of riglyn – en in die tweede geval die Hebreeuse woord miṣwāh – gebod of bevel.

Die miṣwāh – gebod of bevel – is ‘n uitvloeisel van die tôrāh – wet of riglyn – soos dit duidelik blyk uit die gebruik daarvan in die eerste vers saam met die reëls of voorskrifte (ḥǔqqîm) en bepalings of beslissings (mišpāṭîm) wat aan hulle voorgehou en geleer moet word.  Dit is dus dinge wat voortgevloei het uit die toepassing van die wet (tôrāh) en vorm saam die korpus van wat God se wil vir die volk is (Deut. 6:1).  Vergelyk ook Deuteronomium 5:31 waar die drie woorde – miṣwāh, ḥǔqqîm, en mišpāṭîm – reeds as ‘n opsomming van die implikasies van die wet (tôrāh) gebruik word, direk na die herhaling van die Tien Gebooie.

Die Tien Gebooie bepaal die gebooie, voorskrifte en beslissings

Begrip hiervan is nie maar net van akademiese belang nie.  Dit beteken dat die Tien Gebooie die hele verdere uitleg van die gebooie, voorskrifte en beslissings bepaal.  Dit is die grondslag waarop Deuteronomium, die Pentateug, die Geskrifte, die Profete en uiteindelik die hele Skrif berus.

Die Geskrifte toets juis die verhaal van die volk en sy konings aan die gehegtheid aan die Tien Gebooie.  Die Profete verkondig die oordeel van God op grond van die verbreking van die verbond met God wat sy diepste verwoording het in die Tien Gebooie.  Selfs die hoop wat hulle vir die toekoms verkondig, berus steeds op die feit dat die wet tot sy reg kom in die harte en lewens van gelowiges, soos Jesaja en Jeremia so roerend beskryf:

  • Bind die getuienis toe, verseël die wet in die hart van my leerlinge.” (Jes. 8:16).
  • Luister na My, julle wat die geregtigheid ken, volk in wie se hart my wet is!” (Jes. 51:7).
  • Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees.” (Jer. 31:31)

Daarom dat Esegiël droom van ‘n tyd wat God die hart van sy mense sal verander om Hom van binne af te kan dien.  Hy skryf trouens twee keer daaroor: “En Ek sal hulle een hart gee, en ’n nuwe gees in julle binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit hulle vlees verwyder en hulle ’n hart van vlees gee.” (Eseg. 11:19; 36:26).

Die Tien Gebooie bly die basis van die dubbele liefdesgebod in die NT

Die NT sluit by albei hierdie gedagtes aan waarin klem gelê word op die nakom van die wet nie in terme van die uiterlike seremoniële gestalte daarvan nie, maar in die innerlike gehegtheid daarvan soos Jesus dit in die dubbele liefdesgebod opgesom het (Mark. 12:28-34; Matt. 22:34-40; Luk. 10:25-27).  En Markus haal baie spesifiek die Sjema aan uit Deuteronomium 6:4 as inleiding daartoe.

Só volg Paulus (bv. Rom. 13:8-14), Johannes (bv. 1 Joh. 4:7-21), die Hebreërskrywer (Hebr. 8:11), en Jakobus (Jak. 2:8) Jesus ná en handhaaf die Tien Gebooie as die grondbeginsels van die verhouding met God.

Sodat julle dit kan doen in die land

Terug by Deuteronomium.  Moses lê klem hierop: “sodat julle daarvolgens kan lewe in die land” (NAV), of meer letterlik vertaal: “sodat julle dit kan doen in die land” (OAV).  Wat die Here hulle gebied in die gebod is bedoel om gedoen te word in die land wat Hy aan hulle sal gee.

Waarop hulle dus moet fokus word in die res van die hoofstuk uitgespel.  In die eerste deel van die hoofstuk – vers 1-9 – beskryf Moses die liefde wat hulle vir die Here in die verbondsverhouding met Hom moet gee, gekoppel aan die fundamentele dogma van die Sjema: “Hoor, Israel, die HERE onse God is ’n enige HERE.” (Deut. 6:4).  Die tweede deel – vers 10-25 – beskryf die lewe wat hulle in die land met sy uitdagings moet voer waarin hulle moet sorg dat hulle die Here en sy voorskrifte nie vergeet nie.

HOOR die gebod om God as die enigste Here lief te hê met jou hele hart, siel en krag – Deut. 6:1-9

Moses skets die mees algemene beginsel van die verbond as die stipulasie van die “liefde” (Deut. 6:5), dit wat so pas in die Tien Gebooie in Deuteronomium 5 uitgespel is. Hy sal telkens hierna terug verwys.  Dit is die liefde van ’n pa, ’n liefde wat vol deernis is (vgl. Deut. 1:31), maar ook vol dissipline (vgl. Deut. 8:5).

Hy begin met die liefde vir God.  Die liefde tot die naaste sal in Deuteronomium 9-10 meer spesifieke aandag kry, hoewel die twee kante van die liefde natuurlik aan mekaar verbind is.  Die een kan eintlik nie sonder die ander nie.

Hoekom?  Want: “Hoor, Israel, die HERE onse God is ’n enige HERE.” Dit is wat die Sjema (Hoor of Luister) van hulle vereis, die naam waarmee hierdie kernagtige teks bekend geraak het.

Die liefde moet met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag wees.  Dit is die dinge wat jy jou kinders en kleinkinders moet leer.  Sonder ophou.  Solank as wat jy leef.

Dit sal beteken dat dit nie net goed gaan met jou nie, maar ook met jou nageslag.

Daarom moet die woorde van die wet in elkeen se hart insak.  Dit moet vir die kinders ingeskerp word.   Daar moet gedurig oor die betekenis daarvan gesels word.  As jy reis of rustig by die huis sit.  As jy gaan slaap en as jy wakker word.

Dit moet ‘n teken wees op jou hand – wat jy doen – en tussen jou oë – waarna jy kyk en wat jy dink – en op jou huis se deure (dit is waarvandaan die gebruik van die mesusa kom) en die stad se poorte.

Alles wat jy dink en doen moet onder die vaandel van die liefde tot God gebeur.  Alles.

ONTHOU die gebod om die Here nie te vergeet nie en altyd vir Hom te lewe – Deut. 6:10-25

Hierdie liefde vir God moet nie net vóór die beloofde land uitgeleef word nie, maar ook ná hulle dit in besit geneem het.  Die gevaar is immers groot dat hulle in die rus wat die nuwe tuiste vir hulle sal bied, sal eet en versadig word … en dan die Here vergeet wat hulle uit die slawerny van Egipte verlos het.

Daarom moet hulle altyd fokus daarop om die Here te onthou sodat hulle Hom alleen kan dien en in ontsag vir Hom kan lewe, soos Jesus in die versoeking in die woestyn gedemonstreer het (Matt. 4:10; Deut. 6:13).  Die Here is jaloers (besitlik) op hulle en sal nie duld dat hulle agter ander gode aanloop nie, presies dit wat die eerste gebod van die Tien Gebooie verbied nie.

Hulle moet ook in dankbaarheid teenoor die Here lewe en tevrede wees met wat Hy vir hulle gee, anders as wat die volk by Massa gedoen het en die Here met hulle ongebreidelde begeertes getart (versoek) het (Eks. 17:7), ook soos Jesus in die versoeking in die woestyn gedemonstreer het (Matt. 4:7; Deut. 6:16).  Doen wat die Here vra, en Hy sal vir jou gee wat jy nodig het (Matt. 6:33)!

Daarby moet hulle nie doen wat mense as reg beskou nie, maar wat: “reg en goed is in die oë van die HERE”.  Dan sal dit goed met hulle gaan en al hulle vyande voor hulle uit die beloofde land verdryf word.

Dié fokus op die verlede en alles wat die Here hulle beveel het, moet telkens die onderwerp van hulle gesprekke met hulle kinders wees, sodat hulle kinders die groot geskenk van die verlossing uit Egipte kan verstaan, maar ook dat hulle nie – deur die Here te vergeet – onder sy oordeel kom nie.

Jesus en Deuteronomium 6

‘n Laaste woord oor hierdie belangrike gedeelte.  Jesus het ‘n besondere band met Deuteronomium 6 gehad.  Drie keer het Hy sy toevlug daartoe geneem, twee keer in versoeking, en een keer toe Hy na die grootste gebod in die wet gevra is.  Die inhoud daarvan het Hom dus nie net in versoeking staande gehou nie.  Hy het dit ook gebruik toe Hy die hart van die Godsverhouding moes uitspel.

Hierdie drie verse is daarom van sleutelbelang in die NT:

  • Jesus haal uit Deuteronomium 6:16 aan om die tweede versoeking van die Satan om Jesus die beloftes van God te laat misbruik om van ‘n toring af te spring, te troef: “Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.” (Matt. 4:7; Luk. 4:12 – Lukas plaas dié versoeking derde in sy weergawe).
  • Jesus haal uit Deuteronomium 6:13 aan om die derde versoeking van die Satan om Jesus ‘n kortpad tot die koninkryk te laat kies deur die Satan te aanbid, te troef: “Gaan weg, Satan, want daar staan geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.” (Matt. 4:10; Luk. 4:8 – Lukas plaas dié versoeking tweede in sy weergawe).
  • Jesus haal uit Deuteronomium 6:5 aan om die liefde tot God te begrond: “Die eerste van al die gebooie is: Hoor, Israel, die Here, onse God, is ’n enige Here; en jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag. Dit is die eerste gebod.” (Mark. 12:29-30 waar Jesus Deut. 6:4-5 aanhaal).

Dit is, soos julle weet, nie die enigste aanhaling uit Deuteronomium nie.  Jesus haal talle kere uit Deuteronomium aan soos wat ek in die inleiding vermeld het.  Deuteronomium het dus ‘n groot rol gespeel in sy verstaan van wat God van ons elkeen vra, en in sy verkondiging van God se wil vir almal.  Bêre hierdie hoofstuk se boodskap ook in jou hart.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Deuteronomium


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders