Deuteronomium 3 – Suksesse en ooreenkomste uit die verlede gee moed in die hede
Moses sit sy motivering vir die Intog voort deur drie verdere herinneringe. Hy herinner die volk eerstens aan die verdere suksesvolle oorlog teen die ander Amoritiese koning Og van Basan wat die laaste van die antieke reuse was (Deut. 3:1-11). Hy vervolg met die herinnering aan die grondgebied wat só vir Ruben, Gad en die helfte van die stam van Manasse verower is (Deut. 3:12-20). Hy sluit derdens af met die herinnering aan die aanwysing van Josua as die leier wat die volk sal lei van hierdie punt af (Deut. 3:21-29). Die suksesse en ooreenkomste uit die verlede gee moed in die hede.
Sukses in oorlog motiveer Israel vir die uitdaging van die stryd wat voorlê – Deut. 3:1-11
Moses se herinnering aan die tweede suksesvolle oorlog wat hulle gevoer het teen die Amoriete was bedoel om hulle te staal teen die uitdagings wat vir hulle voorlê op grond van die suksesse wat hulle reeds behaal het. Dit was ‘n tipiese geval van: “finding a usable future in your past”, soos die Lutherse sistematikus Pat Kiefert lief was om te sê. Jy kan meer gaan lees oor die oorlog in Numeri 21:33-35 sowel as in my bydrae: Numeri 21 – God bring verlossing vir dié wat op Hom vertrou.
Boonop was die oorlog teen koning Og van Basan, die ander Amoritiese koning, wat net soos koning Sihon van Gesbon verslaan is. Dit was ‘n belangrike oorwinning teen juis die reuse waarvoor hulle ouers só bang was (Num. 13:33). Koning Og was die laaste van die Refaïete, die reuse van daardie tyd, soos ook die Enakiete dit was, afstammelinge van Enak, bekend as besondere lang mense, die “reuse” (Griekse vertaling van Nefilîm). Jy kan meer daaroor lees in my bydrae: Numeri 13 – Ons was soos sprinkane in ons eie oë.
Let op die redaksionele kommentaar aan die einde van die perikoop dat koning Og se groot bed van yster nou nog in Rabba van die Ammoniete te siene is. Die opmerking kom duidelik uit ‘n latere tyd. Lesers word dus daarmee uitgenooi om die bewyse self te gaan verifieer. Die woord vir bed kan ook met ‘n sarkofaag verbind word wat bedoel dat dit eintlik oor sy graf gaan eerder as oor sy bed.
Let op dat die Here se rol in die oorlog reg aan die begin beklemtoon word. Dit is Hy wat hulle die opdrag gee. Dit is ook Hy wat hulle die oorwinning gee. Daarom was die oorwinning ook totaal, selfs al was dit versterkte stede en al was dit groot mense waarteen hulle geveg het.
Onthou ook dat die grondgebied van die Amoriete nie in die eerste plek aan Israel gegee is nie, en dat die oorlog deur die Amoriete begin is. Israel wou vreedsaam deur hulle gebied trek, maar is wederregtelik deur die Amoriete aangeval (Num. 21:21).
Die Amoritiese gebied Basan (‘n gebied net oos van die Golan hoogtes in hedendaagse Sirië net suid van Damaskus) was interessant genoeg nie net ‘n ryk en vrugbare gebied nie, maar mitologies in die Ugaritiese tekste met die deurgang na die onderwêreld verbind. Die oorwinning oor hulle het waarskynlik ook die Here se mag gedemonstreer oor alles wat bestaan, sienlik en onsienlik.
Vorige ooreenkomste dien as motivering vir volle deelname aan die Intog – Deut. 3:12-20
Hierdie onbeplande stuk grondgebied wat ingeneem is, is op die versoek van die stamme van Ruben, Gad en die helfte van die stam van Manasse aan hulle gegee. Daarmee verwys Moses na die geskiedenis wat in Numeri 32 opgeteken is. Lees meer daaroor in my bydrae: Numeri 32 – Ruben, Gad en die helfte van Manasse kry grondgebied oos van die Jordaan.
Die enigste voorwaarde was dat hierdie drie stamme nie hulle volksgenote in die steek moet laat nie. Daarom was die reëling dat hulle saam met hulle volksgenote sou trek totdat die Here aan almal ’n veilige woonplek gegee het. Moses herinner hulle dus ook in hierdie preek aan hulle ooreenkoms in die verwagting dat hulle dit sal nakom. Alle land, ook hulle land, het immers aan die Here behoort en was ‘n gawe uit sy hand.
Die vermelding van Gilead wat aan Makir gegee is, die voorvader van Selofgad se dogters, herinner die volk ook aan die hele geskiedenis van die erfreg wat op die dogters se versoek verander is om vroue in te sluit. Jy kan meer oor Selofgad se dogters lees in my twee bydraes: Numeri 27 – God handhaaf die erfreg van vroue en stel Josua as leier aan en Numeri 36 – Elke Israeliet moes vashou aan sy deel van die stam se grond.
Moses praat Josua moed in ten spyte van sy wroeging met God se besluit – Deut. 3:21-29
Moses sluit sy motivering vir die Intog af met sy verwysing na God se aanwysing van Josua as die leier wat die volk sal lei van hierdie punt af. Jy kan by die boonste skakel na Numeri 27 ook meer daaroor lees.
Interessant genoeg gebruik Moses weereens die oorwinnings oor Sihon en Og, maar hierdie keer as direkte motivering vir Josua om hom moed in te praat vir die uitdagings van sy leierskap. Soos die Here dit aanvanklik in die oorlog teen die Amalekiete gedoen het deur Moses te beveel om die sukses in oorlog vir Josua op te skryf (Eksodus 17 – Is die Here by ons of nie?), só doen Moses dit nou hier steeds mondelings vir Josua.
Die belofte aan Josua is dat die Here self in die oorlog vir hulle sal veg. Daarom hoef hy nie bang te wees nie. Hy het immers proefondervindelik die Here se oorwinning oor dié twee konings ervaar. So sal die Here ook doen met die ander konings wat hulle teëstaan. Josua se oë moet dus wees op die Onsienlike wat in die konkrete geskiedenis van wat Josua kan waarneem, optree.
Moses sluit af met ‘n persoonlike woord oor sy wroeging om só naby die beloofde land te kom, maar tog nie die voorreg van die Intog te kan beleef nie. Só naby, maar tog ook só ver. Sy smeking word uiters goed gemotiveer. Die Here het dan nog net “begin” om Moses sy grootheid en mag te laat ondervind. Daar is niemand soos God nie. En Moses verkwalik die volk dat hulle die eintlik rede was vir dié besluit van die Here.
Maar, tevergeefs. Net soos die vorige kere wat hy met die Here daaroor gepraat het. Die Here was weereens duidelik, sê Moses: “Jy het nou al genoeg daaroor gepraat. Moenie weer met My oor hierdie saak praat nie.” Hy gee Moses wel ‘n visie van die Pisgaberg af van die beloofde land, maar laat hom nie toe om die Jordaan oor te steek nie.
Josua moes sy opdragte kry. Moses moes hom moed in praat. Moses moes hom raad gee, soos hy inderdaad hier gedoen het. Maar die mantel het nou op Josua geval om die volk deur die Jordaan te lei en die beloofde land in besit te laat neem.
View all posts in this series
- Inleiding - October 10, 2017
- Begronding van die boodskap van die NT - October 11, 2017
- Hoe om Deuteronomium te lees
- Deuteronomium 1 – Vertroue in en gehoorsaamheid aan die Here is onverhandelbaar - October 12, 2017
- Deuteronomium 2 – God gee die land vir sy volk soos Hy eeue lank al vir ander nasies doen - October 13, 2017
- Deuteronomium 3 – Suksesse en ooreenkomste uit die verlede gee moed in die hede - October 16, 2017
- Deuteronomium 4:1-43 – Moet niks byvoeg of wegvat van God se wet nie; gehoorsaam Hom - October 17, 2017
- Deuteronomium 4:44-5:33 – Julle moet hierdie wet leer, gehoorsaam en daarvolgens lewe - October 18, 2017
- Deuteronomium 6 – Die liefde vir die Here bepaal jou hele lewe - October 19, 2017
- Deuteronomium 7 – Die liefde van die Here stel jou in staat om gehoorsaam te wees - October 20, 2017
- Deuteronomium 8 – Die Here leer die volk afhanklikheid en dankbaarheid - October 23, 2017
- Deuteronomium 9 – Moenie hardnekkig of verwaand raak nie - October 24, 2017
- Deuteronomium 10 – Gehoorsaam die Here, want Hy is jou God - October 25, 2017
- Deuteronomium 11 – Gehoorsaamheid bring seën; ongehoorsaamheid bring straf - October 26, 2017
- Deuteronomium 12 – Aanbid alleen die Here op die plek wat Hy uitkies en volgens sy voorskrifte - October 27, 2017
- Deuteronomium 13 – Moenie ander gode dien agter ander mense aan nie - October 30, 2017
- Deuteronomium 14 – Julle identiteit as Godsvolk moet in alle fasette van die lewe wys - October 31, 2017
- Deuteronomium 15 – Julle vrygewigheid sal in die afskryf van skuld en die vrylating van slawe sigbaar word - November 1, 2017
- Deuteronomium 16:1-17 – Drie feeste vier hulle identiteit: Paasfees, Pinksterfees, en Huttefees - November 2, 2017
- Deuteronomium 16:18-17:20 – Regters en konings moet nougeset volgens die wet regeer - November 3, 2017
- Deuteronomium 18 – Die priesters kry alles wat die Here toekom en die profete raak God se woordvoerders - November 6, 2017
- Deuteronomium 19 – Eerbied vir die lewe, grenslyne en waaragtige getuienis word beveel - November 7, 2017
- Deuteronomium 20 – Die Here soek vreeslose voetsoldate wat die oorlog met ‘n vredesaanbod begin - November 8, 2017
- Deuteronomium 21 – Respek vir die lewe rig selfs die wyse waarop die doodstraf toegepas word - November 9, 2017
- Deuteronomium 22 – Respek vir die grense van God vir die lewe en die huwelik - November 13, 2017
- Deuteronomium 23 – Om vlekloos en blaamloos voor God te lewe - November 14, 2017
- Deuteronomium 24:1-25:4 – Egskeiding, hertrou en praktiese naasteliefde - November 15, 2017
- Deuteronomium 25:5-19 – Die leviraatshuwelik en ‘n oproep tot regverdigheid en billikheid - November 16, 2017
- Deuteronomium 26 – Geloofsbelydenis, gebed en gehoorsaamheid - November 17, 2017
- Deuteronomium 27 – Gehoorsaamheid word van die leiers, priesters en die hele volk gevra - November 20, 2017
- Deuteronomium 28 – Die omvattende seëninge en strawwe van die verbond - November 21, 2017
- Deuteronomium 29 – Kom die woorde van die verbond na en voer dit uit - November 22, 2017
- Deuteronomium 30 – Kies die lewe en wat goed is, nie die dood en wat sleg is nie - November 23, 2017
- Deuteronomium 31:1-29 – Josua word as leier aangewys en die wetboek afgesluit as gesaghebbende woord van God - November 24, 2017
- Deuteronomium 31:30-32:52 – Moses se loflied op die karakter van God - November 27, 2017
- Deuteronomium 33 – Moses se finale seënbede - November 28, 2017
- Deuteronomium 34 – Moses sterf as iemand wat die Here persoonlik geken het - November 29, 2017
Jan Louw
Chris,
Die rede van Moses is ingebed in historiese werklikhede. Ek het waardering daarvoor dat jy dit geskiedenis noem. Ek kan nie verstaan dat die teologie in ons tyd, hierdie geskiedenis wil vervang met onsekere mondelinge oorleweringe wat eers in die ballingskaptyd neergepen is as die “verhaal” van Israel nie.
Chris van Wyk
Dankie, Jan. John Walton, bekende en gerekende Ou Testamentikus, sê, ons moet altyd onthou dat die teks geïnspireer is en uitgelê moet word. Ons is nie geïnspireer nie. Ons kennis is nie geïnspireer nie. Daarom doen ons die teks geweld aan as ons ons eie menings inlees in die teks, of ons kennis gebruik om die boodskap van die Bybel te verander of verwerp.