Deuteronomium 31:1-29 – Josua word as leier aangewys en die wetboek afgesluit as gesaghebbende woord van God
Die res van die boek word gewy aan drie finale boodskappe van Moses. Die eerste fokus op die aanwys van Josua as die nuwe leier van die volk (Deut. 31:1-8; vgl. Deut. 34 vir die uitvoering daarvan) en die oorhandiging van die wetboek aan die volk as voortdurende lering van die volk by hulle feeste (Deut. 31:9-13).
Dan tree die Here self toe tot die proses en formaliseer direk die oorhandiging van die leierskap aan Josua by die Tabernakel met ‘n woord van bemoediging en versterking vir sy taak, tesame met die opdrag aan Moses om die loflied wat God vir hom gee, op te teken en vir die volk aan te leer (Deut. 31:14-23). Moses sluit sy boodskap af met ‘n waarskuwende woord oor hulle waarskynlike ongehoorsaamheid, maar is helder daaroor dat hy die wet wat die Here vir hom gegee het: “tot die laaste woord toe” aan die volk voorgehou het (Deut. 31:24-29).
Die tweede en derde boodskappe van Moses fokus op die twee liedere van Moses, ‘n loflied en ‘n seënbede, wat ook opgeteken word afgewissel met ‘n paar laaste reëlings (Deut. 31:30-33:29).
Die aanwys van Josua as nuwe leier van die volk – Deut. 31:1-8
Moses het aan die einde van sy lewe en bediening gekom, 120 jaar oud. Die realiteit is dat hy nie saam met die volk die beloofde land sal intrek nie. Josua is reeds aangewys vir dié taak en word nou finaal in dié rol bevestig.
Moses is egter ook duidelik daaroor dat die eintlike leier die Here self sal wees wat voor hulle uit deur die Jordaan sal trek en die grondgebied van die nasies vir hulle sal gee. Hulle kan dus moed hou en dapper wees. Trouens, hulle word opgeroep om nie bang te wees en vir die nasies te skrik nie, anders sal hulle nie kan doen wat die Here hulle beveel nie.
Moses bemoedig ook vir Josua met dié woorde.
Moses oorhandig die wetboek aan die priesters om voortdurend aan die volk voor te hou by hulle feeste – Deut. 31:9-13
Soos die Here die eintlike leier van die volk sal wees, só gee Moses ook met die oorhandiging van die wetboek aan die priesters die boodskap deur dat dit sy wil is, en sy wil alleen, wat hulle nougeset moet nakom. Dit is die boek wat hulle elke sabbatsjaar moet voorlees op die huttefees wanneer almal daar is, en selfs die slawe vrygelaat is om die woord van die Here te hoor (vgl. Neh. 8 vir ‘n voorbeeld van só ‘n geleentheid). Almal moet dit hoor en gehoorsaam. Dit is die fundamentele inhoud van hulle identiteit as volk van die Here.
Die Here wys self vir Josua as leier aan en gee Moses die opdrag tot ‘n loflied – Deut. 31:14-23
Skielik verskyn die Here self op die toneel en bekragtig dít wat Moses gedoen en gesê het. Vanuit die wolkkolom by die tentdeur van die Tabernakel gee die Here sy laaste opdragte aan Moses en draai nie doekies om oor die waarskynlikheid van die volk se afvalligheid nie. As getuienis téén die volk word Moses ‘n loflied gegee waarin God se onkreukbare karakter besing word teenoor die volk se halfhartige gehoorsaamheid. Vir Josua het die Here egter ‘n bemoedigende woord. Hy sal slaag in wat die Here hom voor roep, want God sal by hom wees.
Moses lewer ‘n laaste waarskuwende woord – Deut. 31:24-29
Geen wonder dat Moses ook afsluit met ‘n waarskuwende woord nie. Hy gee die wetboek, wat hy: “tot die laaste woord toe” opgeteken het vir die Leviete om dit langs die verbondsark van die Here neer te sit. Dit sou saam met die loflied ‘n bron van lering wees, maar ook ‘n bron van oordeel wanneer hulle opstandig en hardkoppig daaraan ongehoorsaam sou word. Die wetboek sou dus ook teen hulle getuig.
Hy het geweet presies hoe hulle is. Veertig jaar het hom onder geen illusies oor hulle gelaat nie. Hy was baie bewus van die feit dat dit erger sou gaan ná sy dood. Hy roep daarom die beamptes en leiers van die volk bymekaar as getuies, saam met die hemel en aarde, dat sy woorde nie net warm lug was nie, maar in die lewe van die volk bewaarheid sou word.
View all posts in this series
- Inleiding
- Begronding van die boodskap van die NT
- Hoe om Deuteronomium te lees
- Deuteronomium 1 – Vertroue in en gehoorsaamheid aan die Here is onverhandelbaar
- Deuteronomium 2 – God gee die land vir sy volk soos Hy eeue lank al vir ander nasies doen
- Deuteronomium 3 – Suksesse en ooreenkomste uit die verlede gee moed in die hede
- Deuteronomium 4:1-43 – Moet niks byvoeg of wegvat van God se wet nie; gehoorsaam Hom
- Deuteronomium 4:44-5:33 – Julle moet hierdie wet leer, gehoorsaam en daarvolgens lewe
- Deuteronomium 6 – Die liefde vir die Here bepaal jou hele lewe
- Deuteronomium 7 – Die liefde van die Here stel jou in staat om gehoorsaam te wees
- Deuteronomium 8 – Die Here leer die volk afhanklikheid en dankbaarheid
- Deuteronomium 9 – Moenie hardnekkig of verwaand raak nie
- Deuteronomium 10 – Gehoorsaam die Here, want Hy is jou God
- Deuteronomium 11 – Gehoorsaamheid bring seën; ongehoorsaamheid bring straf
- Deuteronomium 12 – Aanbid alleen die Here op die plek wat Hy uitkies en volgens sy voorskrifte
- Deuteronomium 13 – Moenie ander gode dien agter ander mense aan nie
- Deuteronomium 14 – Julle identiteit as Godsvolk moet in alle fasette van die lewe wys
- Deuteronomium 15 – Julle vrygewigheid sal in die afskryf van skuld en die vrylating van slawe sigbaar word
- Deuteronomium 16:1-17 – Drie feeste vier hulle identiteit: Paasfees, Pinksterfees, en Huttefees
- Deuteronomium 16:18-17:20 – Regters en konings moet nougeset volgens die wet regeer
- Deuteronomium 18 – Die priesters kry alles wat die Here toekom en die profete raak God se woordvoerders
- Deuteronomium 19 – Eerbied vir die lewe, grenslyne en waaragtige getuienis word beveel
- Deuteronomium 20 – Die Here soek vreeslose voetsoldate wat die oorlog met ‘n vredesaanbod begin
- Deuteronomium 21 – Respek vir die lewe rig selfs die wyse waarop die doodstraf toegepas word
- Deuteronomium 22 – Respek vir die grense van God vir die lewe en die huwelik
- Deuteronomium 23 – Om vlekloos en blaamloos voor God te lewe
- Deuteronomium 24:1-25:4 – Egskeiding, hertrou en praktiese naasteliefde
- Deuteronomium 25:5-19 – Die leviraatshuwelik en ‘n oproep tot regverdigheid en billikheid
- Deuteronomium 26 – Geloofsbelydenis, gebed en gehoorsaamheid
- Deuteronomium 27 – Gehoorsaamheid word van die leiers, priesters en die hele volk gevra
- Deuteronomium 28 – Die omvattende seëninge en strawwe van die verbond
- Deuteronomium 29 – Kom die woorde van die verbond na en voer dit uit
- Deuteronomium 30 – Kies die lewe en wat goed is, nie die dood en wat sleg is nie
- Deuteronomium 31:1-29 – Josua word as leier aangewys en die wetboek afgesluit as gesaghebbende woord van God
- Deuteronomium 31:30-32:52 – Moses se loflied op die karakter van God
- Deuteronomium 33 – Moses se finale seënbede
- Deuteronomium 34 – Moses sterf as iemand wat die Here persoonlik geken het
Tags: Deuteronomium
Trackback from your site.
Piet du Toit
| #
Groot waardering vir jou deeglike uitlegging Chris. Baie dankie.
Reply