Skip to main content

Deuteronomium 19 – Eerbied vir die lewe, grenslyne en waaragtige getuienis word beveel

https://truthinmotion.wordpress.com /2013/06/20/word50/

Na Moses se aandag aan die publieke – (regters, konings) en godsdienstige sisteme (priesters en profete) lê hy die tweede tafel van die wet verder uit.  Die aandag aan die gesagstrukture van die publieke en godsdienstige dele van die samelewing in hoofstuk 17-18 was intiem verweef aan die vyfde gebod aan kinders om hulle ouers te eer, om hulle vaders en moeders “gewig” in die lewe te gee.  Sonder ‘n gesonde onderwerping aan gesagstrukture by die huis, sou die onderwerping aan die gesagsfigure in die samelewing altyd op losse skroewe staan.  Albei was gebaseer op dieselfde beginsel in die wet, die vyfde gebod.

Die wyse waarop oortredings van die sesde gebod hanteer word, jy mag nie moord pleeg nie, kom nou volgende in hoofstuk 19 aan die beurt waar Moses begin om oor die voorsiening van asielstede vir moord sonder opset te praat (Deut. 19:1-13).  Hy sal in die volgende hoofstukke ook nog aan ander aspekte daarvan aandag gee, veral in terme van wat in oorlog en verwante sake moet gebeur.

Daaraan koppel Moses ook oortredings van die tiende, agste, en negende gebod, jy mag nie begeer of steel nie (grenslyne verskuif), of vals getuienis lewer nie (Deut. 19:14-21).  Hy sal verder aan ook uitvoerig oor die sewende gebod (bv. Deut. 24) praat.  Dit is regdeur duidelik dat die Tien Gebooie die basis is van alles wat hy aan die volk deurgee.

Die Here gee asielstede vir moord sonder opset – Deut. 19:1-13

Let op dat Moses begin om oor die Here se rol in die uitwissing van die nasies van Kanaän te gesels.  Dit is belangrik in die lig van wat verder gaan volg, nie net oor die gevalle van mense wat sonder opset doodgemaak het en waarvoor asiel gereël kan word nie, maar ook vir die beskrywing van hoe Israel in die oorlog moet optree (Deut. 20 vv.).

Dit is duidelik dat die inisiatief vir die oorlog van die Here af kom.  Dit is Hy wat die nasies gaan uitroei om hulle land vir Israel te gee.  Die motivering vir die oorlog kom dus van God se soewereine besluit af, nie van die grypsug van die volk nie.  En die redes vir sy besluit is nou al verskeie kere gegee.  Die nasies wou Hom nie dien nie en het afskuwelike godsdienstige en moreel-etiese praktyke gevestig.

Die maat van hulle sonde het vol geraak en die Here het besluit om hulle uit te wis.  Ook natuurlik in vervulling van die beloftes aan die aartsvaders.  Só het Moses reeds vroeër in hierdie preek van hom dit gestel: “Nie ter wille van jou geregtigheid en die opregtheid van jou hart kom jy in om hulle land in besit te neem nie, maar weens die goddeloosheid van hierdie nasies verdryf die Here jou God hulle voor jou uit, en om die woord te vervul wat die Here vir jou vaders, Abraham, Isak en Jakob, gesweer het.” (Deut. 9:5).

God is dus self onskuldig aan “moord” vir in geval iemand Hom daarvan sou wou beskuldig.  Hy straf op geregverdigde wyse die nasies.  Israel is dus by voorbaat vrygespreek van die uitwissing van die mense van Kanaän waarby hulle binnekort betrokke sou raak.  Hulle voer die “Heilige Oorlog” van die Here self.

Verwant hieraan beskerm die Here ook diegene wat “onskuldig” by die dood van ‘n ander betrokke is, d.w.s. sonder opset en sonder voorbedagte rade.  Vandaar die klem op stede wat asiel kan verleen.

Die Here het alreeds vroeër sy reëlings hieroor aan die volk deurgegee (vgl. my bydrae Numeri 34-35 – God beskerm die volk met grense en asielstede. Die Leviete kry ook stede en weiveld).  Ses stede moes as asielstede geoormerk word sodat dié wat iemand doodmaak sonder opset of voorbedagte rade daarheen kan vlug.  Dit moes ook maklik bereikbaar wees deur die eweredige verspreiding in die land.

‘n Paar voorbeelde word ter illustrasie gegee waaruit dit duidelik is dat hierdie reëling wraak in die hitte van die oomblik probeer voorkom, uit eerbied vir die lewe, maar dat daar steeds deeglik ondersoek ingestel is om die waarheid al dan nie van die doodmaak vas te stel.  Asiel het nie gehelp as jy inderdaad skuldig was aan moord met opset of met voorbedagte rade nie.  Moord is met die doodstraf gestraf.

Die uitvoering van die uitdeel van dié asielstede word in Josua 20 vertel.

Grenslyne moet eerbiedig en getuienis waaragtig wees – Deut. 19:14-22

Gehoorsaamheid aan die voorskrifte van die Here moet ook gehandhaaf word in hulle hantering van hulle grondgebied en die wyse waarop hulle getuienis lewer in hofsake.  Jou naaste (buurman) se grenslyne mag nie wederregtelik verskuif word om meer grond in te palm nie.  Die ooreenkoms waarvolgens dit in die verlede uitgedeel is, moet eerbiedig en gehandhaaf word.  Dit is na alles ‘n geskenk van die Here self (vgl. ook Deut. 27:17).

Dit maak ook nie saak wat op die spel is in ‘n hofsaak nie.  Al was die misdaad ook hoé erg, ‘n mens het meer as net een persoon se getuienis nodig.  Een se getuienis was nie genoeg nie.  Getuienis moes daarby deeglik ondersoek word, en valse getuies die straf kry wat hulle eintlik aan iemand anders wou laat toedien.  Waar die wet hieroor nagekom word, sal die samelewing gehelp word om as geheel hulle hieraan te hou, sê Moses.

Valse getuienis (en getuies) moes geen genade kry nie.  Die Lex Talionis moes vir hulle geld: “’n lewe vir ’n lewe, ’n oog vir ’n oog, ’n tand vir ’n tand, ’n hand vir ’n hand en ’n voet vir ’n voet.” Die idee daaragter in hierdie konteks is gelykwaardige vergoeding (straf), nie noodwendig die letterlike uitoefening daarvan nie (vgl. Eksodus 21 en Levitikus 24).

Vyfde gebod in die Heidelbergse Kategismus

Vir dié wat dieper wil ingaan op die verband tussen die huis en die samelewing (“almal wat oor my gestel is”) in die vyfde gebod kan gaan lees wat die Heidelbergse Kategismus hieroor skryf in vraag en antwoord 104:

104 Vraag: Wat eis God in die vyfde gebod?

Antwoord: Ek moet my vader en moeder en almal wat oor my gestel is, alle eer, liefde en trou bewys. Aan hulle goeie leer en tug moet ek my met die verskuldigde gehoorsaamheid onderwerp (a). Ook moet ek met hulle gebreke geduld hê (b), omdat God ons deur hulle wil regeer (c).

(a) Ef. 6:1, 2, 5; Kol. 3:18, 20, 22; Ef. 5:22; Spr. 1:8; 4:1; 15:20; 20:20; Eks. 21:17; Rom. 13:1. (b) Spr. 23:22; Gen. 9:24;1 Pet. 2:18. (c) Ef. 6:4, 9; Kol. 3:20; Rom. 13:2, 3; Matt. 22:21.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Deuteronomium


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…