Deuteronomium 19 – Eerbied vir die lewe, grenslyne en waaragtige getuienis word beveel

Na Moses se aandag aan die publieke – (regters, konings) en godsdienstige sisteme (priesters en profete) lê hy die tweede tafel van die wet verder uit. Die aandag aan die gesagstrukture van die publieke en godsdienstige dele van die samelewing in hoofstuk 17-18 was intiem verweef aan die vyfde gebod aan kinders om hulle ouers te eer, om hulle vaders en moeders “gewig” in die lewe te gee. Sonder ‘n gesonde onderwerping aan gesagstrukture by die huis, sou die onderwerping aan die gesagsfigure in die samelewing altyd op losse skroewe staan. Albei was gebaseer op dieselfde beginsel in die wet, die vyfde gebod.
Die wyse waarop oortredings van die sesde gebod hanteer word, jy mag nie moord pleeg nie, kom nou volgende in hoofstuk 19 aan die beurt waar Moses begin om oor die voorsiening van asielstede vir moord sonder opset te praat (Deut. 19:1-13). Hy sal in die volgende hoofstukke ook nog aan ander aspekte daarvan aandag gee, veral in terme van wat in oorlog en verwante sake moet gebeur.
Daaraan koppel Moses ook oortredings van die tiende, agste, en negende gebod, jy mag nie begeer of steel nie (grenslyne verskuif), of vals getuienis lewer nie (Deut. 19:14-21). Hy sal verder aan ook uitvoerig oor die sewende gebod (bv. Deut. 24) praat. Dit is regdeur duidelik dat die Tien Gebooie die basis is van alles wat hy aan die volk deurgee.
Die Here gee asielstede vir moord sonder opset – Deut. 19:1-13
Let op dat Moses begin om oor die Here se rol in die uitwissing van die nasies van Kanaän te gesels. Dit is belangrik in die lig van wat verder gaan volg, nie net oor die gevalle van mense wat sonder opset doodgemaak het en waarvoor asiel gereël kan word nie, maar ook vir die beskrywing van hoe Israel in die oorlog moet optree (Deut. 20 vv.).
Dit is duidelik dat die inisiatief vir die oorlog van die Here af kom. Dit is Hy wat die nasies gaan uitroei om hulle land vir Israel te gee. Die motivering vir die oorlog kom dus van God se soewereine besluit af, nie van die grypsug van die volk nie. En die redes vir sy besluit is nou al verskeie kere gegee. Die nasies wou Hom nie dien nie en het afskuwelike godsdienstige en moreel-etiese praktyke gevestig.
Die maat van hulle sonde het vol geraak en die Here het besluit om hulle uit te wis. Ook natuurlik in vervulling van die beloftes aan die aartsvaders. Só het Moses reeds vroeër in hierdie preek van hom dit gestel: “Nie ter wille van jou geregtigheid en die opregtheid van jou hart kom jy in om hulle land in besit te neem nie, maar weens die goddeloosheid van hierdie nasies verdryf die Here jou God hulle voor jou uit, en om die woord te vervul wat die Here vir jou vaders, Abraham, Isak en Jakob, gesweer het.” (Deut. 9:5).
God is dus self onskuldig aan “moord” vir in geval iemand Hom daarvan sou wou beskuldig. Hy straf op geregverdigde wyse die nasies. Israel is dus by voorbaat vrygespreek van die uitwissing van die mense van Kanaän waarby hulle binnekort betrokke sou raak. Hulle voer die “Heilige Oorlog” van die Here self.
Verwant hieraan beskerm die Here ook diegene wat “onskuldig” by die dood van ‘n ander betrokke is, d.w.s. sonder opset en sonder voorbedagte rade. Vandaar die klem op stede wat asiel kan verleen.
Die Here het alreeds vroeër sy reëlings hieroor aan die volk deurgegee (vgl. my bydrae Numeri 34-35 – God beskerm die volk met grense en asielstede. Die Leviete kry ook stede en weiveld). Ses stede moes as asielstede geoormerk word sodat dié wat iemand doodmaak sonder opset of voorbedagte rade daarheen kan vlug. Dit moes ook maklik bereikbaar wees deur die eweredige verspreiding in die land.
‘n Paar voorbeelde word ter illustrasie gegee waaruit dit duidelik is dat hierdie reëling wraak in die hitte van die oomblik probeer voorkom, uit eerbied vir die lewe, maar dat daar steeds deeglik ondersoek ingestel is om die waarheid al dan nie van die doodmaak vas te stel. Asiel het nie gehelp as jy inderdaad skuldig was aan moord met opset of met voorbedagte rade nie. Moord is met die doodstraf gestraf.
Die uitvoering van die uitdeel van dié asielstede word in Josua 20 vertel.
Grenslyne moet eerbiedig en getuienis waaragtig wees – Deut. 19:14-22
Gehoorsaamheid aan die voorskrifte van die Here moet ook gehandhaaf word in hulle hantering van hulle grondgebied en die wyse waarop hulle getuienis lewer in hofsake. Jou naaste (buurman) se grenslyne mag nie wederregtelik verskuif word om meer grond in te palm nie. Die ooreenkoms waarvolgens dit in die verlede uitgedeel is, moet eerbiedig en gehandhaaf word. Dit is na alles ‘n geskenk van die Here self (vgl. ook Deut. 27:17).
Dit maak ook nie saak wat op die spel is in ‘n hofsaak nie. Al was die misdaad ook hoé erg, ‘n mens het meer as net een persoon se getuienis nodig. Een se getuienis was nie genoeg nie. Getuienis moes daarby deeglik ondersoek word, en valse getuies die straf kry wat hulle eintlik aan iemand anders wou laat toedien. Waar die wet hieroor nagekom word, sal die samelewing gehelp word om as geheel hulle hieraan te hou, sê Moses.
Valse getuienis (en getuies) moes geen genade kry nie. Die Lex Talionis moes vir hulle geld: “’n lewe vir ’n lewe, ’n oog vir ’n oog, ’n tand vir ’n tand, ’n hand vir ’n hand en ’n voet vir ’n voet.” Die idee daaragter in hierdie konteks is gelykwaardige vergoeding (straf), nie noodwendig die letterlike uitoefening daarvan nie (vgl. Eksodus 21 en Levitikus 24).
Vyfde gebod in die Heidelbergse Kategismus
Vir dié wat dieper wil ingaan op die verband tussen die huis en die samelewing (“almal wat oor my gestel is”) in die vyfde gebod kan gaan lees wat die Heidelbergse Kategismus hieroor skryf in vraag en antwoord 104:
104 Vraag: Wat eis God in die vyfde gebod?
Antwoord: Ek moet my vader en moeder en almal wat oor my gestel is, alle eer, liefde en trou bewys. Aan hulle goeie leer en tug moet ek my met die verskuldigde gehoorsaamheid onderwerp (a). Ook moet ek met hulle gebreke geduld hê (b), omdat God ons deur hulle wil regeer (c).
(a) Ef. 6:1, 2, 5; Kol. 3:18, 20, 22; Ef. 5:22; Spr. 1:8; 4:1; 15:20; 20:20; Eks. 21:17; Rom. 13:1. (b) Spr. 23:22; Gen. 9:24;1 Pet. 2:18. (c) Ef. 6:4, 9; Kol. 3:20; Rom. 13:2, 3; Matt. 22:21.
View all posts in this series
- Inleiding - October 10, 2017
- Begronding van die boodskap van die NT - October 11, 2017
- Hoe om Deuteronomium te lees
- Deuteronomium 1 – Vertroue in en gehoorsaamheid aan die Here is onverhandelbaar - October 12, 2017
- Deuteronomium 2 – God gee die land vir sy volk soos Hy eeue lank al vir ander nasies doen - October 13, 2017
- Deuteronomium 3 – Suksesse en ooreenkomste uit die verlede gee moed in die hede - October 16, 2017
- Deuteronomium 4:1-43 – Moet niks byvoeg of wegvat van God se wet nie; gehoorsaam Hom - October 17, 2017
- Deuteronomium 4:44-5:33 – Julle moet hierdie wet leer, gehoorsaam en daarvolgens lewe - October 18, 2017
- Deuteronomium 6 – Die liefde vir die Here bepaal jou hele lewe - October 19, 2017
- Deuteronomium 7 – Die liefde van die Here stel jou in staat om gehoorsaam te wees - October 20, 2017
- Deuteronomium 8 – Die Here leer die volk afhanklikheid en dankbaarheid - October 23, 2017
- Deuteronomium 9 – Moenie hardnekkig of verwaand raak nie - October 24, 2017
- Deuteronomium 10 – Gehoorsaam die Here, want Hy is jou God - October 25, 2017
- Deuteronomium 11 – Gehoorsaamheid bring seën; ongehoorsaamheid bring straf - October 26, 2017
- Deuteronomium 12 – Aanbid alleen die Here op die plek wat Hy uitkies en volgens sy voorskrifte - October 27, 2017
- Deuteronomium 13 – Moenie ander gode dien agter ander mense aan nie - October 30, 2017
- Deuteronomium 14 – Julle identiteit as Godsvolk moet in alle fasette van die lewe wys - October 31, 2017
- Deuteronomium 15 – Julle vrygewigheid sal in die afskryf van skuld en die vrylating van slawe sigbaar word - November 1, 2017
- Deuteronomium 16:1-17 – Drie feeste vier hulle identiteit: Paasfees, Pinksterfees, en Huttefees - November 2, 2017
- Deuteronomium 16:18-17:20 – Regters en konings moet nougeset volgens die wet regeer - November 3, 2017
- Deuteronomium 18 – Die priesters kry alles wat die Here toekom en die profete raak God se woordvoerders - November 6, 2017
- Deuteronomium 19 – Eerbied vir die lewe, grenslyne en waaragtige getuienis word beveel - November 7, 2017
- Deuteronomium 20 – Die Here soek vreeslose voetsoldate wat die oorlog met ‘n vredesaanbod begin - November 8, 2017
- Deuteronomium 21 – Respek vir die lewe rig selfs die wyse waarop die doodstraf toegepas word - November 9, 2017
- Deuteronomium 22 – Respek vir die grense van God vir die lewe en die huwelik - November 13, 2017
- Deuteronomium 23 – Om vlekloos en blaamloos voor God te lewe - November 14, 2017
- Deuteronomium 24:1-25:4 – Egskeiding, hertrou en praktiese naasteliefde - November 15, 2017
- Deuteronomium 25:5-19 – Die leviraatshuwelik en ‘n oproep tot regverdigheid en billikheid - November 16, 2017
- Deuteronomium 26 – Geloofsbelydenis, gebed en gehoorsaamheid - November 17, 2017
- Deuteronomium 27 – Gehoorsaamheid word van die leiers, priesters en die hele volk gevra - November 20, 2017
- Deuteronomium 28 – Die omvattende seëninge en strawwe van die verbond - November 21, 2017
- Deuteronomium 29 – Kom die woorde van die verbond na en voer dit uit - November 22, 2017
- Deuteronomium 30 – Kies die lewe en wat goed is, nie die dood en wat sleg is nie - November 23, 2017
- Deuteronomium 31:1-29 – Josua word as leier aangewys en die wetboek afgesluit as gesaghebbende woord van God - November 24, 2017
- Deuteronomium 31:30-32:52 – Moses se loflied op die karakter van God - November 27, 2017
- Deuteronomium 33 – Moses se finale seënbede - November 28, 2017
- Deuteronomium 34 – Moses sterf as iemand wat die Here persoonlik geken het - November 29, 2017
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar