Skip to main content

Josua 8 – Die Here oorwin Ai met leierskap en vernuf

Die stad Ai het ons natuurlik al in die verhaal van Abram teëgekom. Hy het tussen Bet-El en Ai van plek tot plek getrek en ook daar naby ‘n altaar gebou (Gen 12:8; 13:3). Met hierdie tweede probeerslag van Josua-hulle word ook dié gebied dus verower as vervulling van die belofte aan Abram.

Waar Goddelike begeleiding afwesig was in die eerste veldtog teen Ai, weens Josua-hulle se versuim, neem die Here nou self die inisiatief in die tweede veldtog. Hy besweer eers die vrees en kommer van Josua, en beveel hom om met al die manskappe teen Ai op te trek. Die Here belowe om hulle in die hande van Josua oor te gee. Israel moes Ai se mense uitwis soos hulle met Jerigo gedoen het, behalwe dat hulle hierdie keer die buit en vee vir hulleself kon hou.

Die Here gee hulle ook die plan om hulle manskappe in twee groepe te verdeel.  Die groter groep van 30 000 moes in die nag hulle aan die westekant van die stad gaan versteek. Die kleiner groep – hierdie keer darem 5 000 teenoor die vorige 3 000 – moes die manskappe van Ai vanuit die noorde uit die stad uitlok na die ooste, dws na die woestyn se kant toe, deur te maak asof Israel in daardie rigting voor Ai se mense wegvlug.

Ai se manskappe laat hulle stad toe onbewaak in hulle ywer om Israel weer ‘n keer te verslaan en word in ‘n knyptang vasgevang toe Josua-hulle omdraai en vanuit die ooste aanval, en sy ander manskappe nie net Ai vanuit die weste verwoes nie, maar die manskappe van Ai wat uitgetrek het, heeltemal vernietig.

Dit is duidelik dat Josua iemand was wat geweet het hoe leierskap werk, want hy slaap dié nag tussen die manskappe, aanvanklik juis aan die westekant by die groter groep. Die volgende dag vroeg, of miskien selfs in die nag, is hy na die kleiner groep om hulle direk aan te voer die volgende oggend. Josua is ‘n leier wat persoonlik lei en deel in al die uitdagings van sy manskappe in die veld.

Dit is ook duidelik dat die planne van die Here strate beter is as wat Israel, of selfs Josua, op hulle eie sou kon uitdink. God neem aktief deel as die aanvoerder van nie net die weermag van die Here nie, maar ook van Israel s’n. Dit is na alles ‘n “Heilige Oorlog”.

Die mense van Ai word van weerskante aangeval en sneuwel in die stryd met hulle koning wat aan ‘n boom opgehang is. Die eerste verhaal van die mislukte veldtog teen Ai het geëindig met Akan onder ‘n hoop klippe. Die tweede verhaal van die suksesvolle veldtog teen Ai eindig met die koning van Ai onder ‘n hoop klippe.

Josua het Ai verwoes sodat daar net ruïnes oorgebly het. Die redakteur sê: “Dit is nou nog so.” Daar is nie veel verdere verwysings in die Bybel na Ai nie, net by Esra en Nehemia waar die aantal Jode wat teruggekom het, gelys word, ook na Ai toe (Es 2:28; Neh 7:32). Dit wil dus voorkom of die plek later weer herbou is, soos die geval met Jerigo ook was.

Josua offer aan die Here by Ebal- en Gerisimberg soos Moses hulle beveel het

Nou eers kom Josua so ver om Moses se opdrag na te kom om ‘n altaar te bou op Ebalberg en daar brandoffers en maaltydoffers te bring (Deut 27). Die brandoffers het versoening gebring vir hulle sondes, en die maaltydoffers gemeenskap nie net met God nie, maar ook vir die families en vriende (vgl my bydraes oor Levitikus). Let op dat die vreemdelinge ook by is. Dit verwys na die mense wat saam met hulle getrek het, en met Israel geassosieer het, maar moontlik ook na Ragab-hulle wat nou deel van Israel geword het.

Maar dit is nie net die offers wat hier belangrik is nie. Josua laat die twee groepe van Israel op die twee berghange van Ebal en Gerisim staan en lees vir hulle elke enkele woord voor wat Moses neergeskryf het. Hy bring ook ‘n afskrif daarvan aan op die klippe, soos Moses beveel het. Hy lees onder andere die seën sowel as die straf voor (Deut 28) wat alreeds met die oorloë teen Jerigo en Ai op konkrete wyse bevestig is aan hulle.

Let op die geweldige nougesette aandag van ‘n ieder en ‘n elk aan die wet van die Here: “Daar was nie een woord van alles wat Moses beveel het wat Josua nie voor die hele gemeente van Israel voorgelees het nie. Die vrouens en die kinders en die vreemdelinge wat tussen die Israeliete gebly het, was by.” Vergelyk die soortgelyke verhaal in Nehemia 8 met die terugkeer ná die ballingskap.

Die Samaritane sou later hier by Gerisim ‘n heiligdom bou en besluit om net hierdie woorde, die woorde wat uiteindelik die eerste vyf boeke van die Bybel geword het – die Pentateug – as die Woord van God te aanvaar.  Dit sou ‘n radikale skeur met die Joodse geloof veroorsaak, maar dit is ‘n verhaal vir ‘n ander dag.

Vir dieperdelwers: vergelyk die wyse waarop Gerisim ingetrek word in Jesus se gesprek met die Samaritaanse vrou (Joh 4).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Josua


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.
  • Marius smit on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieHoekom beskerm die Here jou juis aan jou regterkant?
  • runawayjoyous2427b27b07 on Eenjaar Bybelleesprogram – 366 daeBaie dankie!