Skip to main content

Josua 8 – Die Here oorwin Ai met leierskap en vernuf

Die stad Ai het ons natuurlik al in die verhaal van Abram teëgekom. Hy het tussen Bet-El en Ai van plek tot plek getrek en ook daar naby ‘n altaar gebou (Gen 12:8; 13:3). Met hierdie tweede probeerslag van Josua-hulle word ook dié gebied dus verower as vervulling van die belofte aan Abram.

Waar Goddelike begeleiding afwesig was in die eerste veldtog teen Ai, weens Josua-hulle se versuim, neem die Here nou self die inisiatief in die tweede veldtog. Hy besweer eers die vrees en kommer van Josua, en beveel hom om met al die manskappe teen Ai op te trek. Die Here belowe om hulle in die hande van Josua oor te gee. Israel moes Ai se mense uitwis soos hulle met Jerigo gedoen het, behalwe dat hulle hierdie keer die buit en vee vir hulleself kon hou.

Die Here gee hulle ook die plan om hulle manskappe in twee groepe te verdeel.  Die groter groep van 30 000 moes in die nag hulle aan die westekant van die stad gaan versteek. Die kleiner groep – hierdie keer darem 5 000 teenoor die vorige 3 000 – moes die manskappe van Ai vanuit die noorde uit die stad uitlok na die ooste, dws na die woestyn se kant toe, deur te maak asof Israel in daardie rigting voor Ai se mense wegvlug.

Ai se manskappe laat hulle stad toe onbewaak in hulle ywer om Israel weer ‘n keer te verslaan en word in ‘n knyptang vasgevang toe Josua-hulle omdraai en vanuit die ooste aanval, en sy ander manskappe nie net Ai vanuit die weste verwoes nie, maar die manskappe van Ai wat uitgetrek het, heeltemal vernietig.

Dit is duidelik dat Josua iemand was wat geweet het hoe leierskap werk, want hy slaap dié nag tussen die manskappe, aanvanklik juis aan die westekant by die groter groep. Die volgende dag vroeg, of miskien selfs in die nag, is hy na die kleiner groep om hulle direk aan te voer die volgende oggend. Josua is ‘n leier wat persoonlik lei en deel in al die uitdagings van sy manskappe in die veld.

Dit is ook duidelik dat die planne van die Here strate beter is as wat Israel, of selfs Josua, op hulle eie sou kon uitdink. God neem aktief deel as die aanvoerder van nie net die weermag van die Here nie, maar ook van Israel s’n. Dit is na alles ‘n “Heilige Oorlog”.

Die mense van Ai word van weerskante aangeval en sneuwel in die stryd met hulle koning wat aan ‘n boom opgehang is. Die eerste verhaal van die mislukte veldtog teen Ai het geëindig met Akan onder ‘n hoop klippe. Die tweede verhaal van die suksesvolle veldtog teen Ai eindig met die koning van Ai onder ‘n hoop klippe.

Josua het Ai verwoes sodat daar net ruïnes oorgebly het. Die redakteur sê: “Dit is nou nog so.” Daar is nie veel verdere verwysings in die Bybel na Ai nie, net by Esra en Nehemia waar die aantal Jode wat teruggekom het, gelys word, ook na Ai toe (Es 2:28; Neh 7:32). Dit wil dus voorkom of die plek later weer herbou is, soos die geval met Jerigo ook was.

Josua offer aan die Here by Ebal- en Gerisimberg soos Moses hulle beveel het

Nou eers kom Josua so ver om Moses se opdrag na te kom om ‘n altaar te bou op Ebalberg en daar brandoffers en maaltydoffers te bring (Deut 27). Die brandoffers het versoening gebring vir hulle sondes, en die maaltydoffers gemeenskap nie net met God nie, maar ook vir die families en vriende (vgl my bydraes oor Levitikus). Let op dat die vreemdelinge ook by is. Dit verwys na die mense wat saam met hulle getrek het, en met Israel geassosieer het, maar moontlik ook na Ragab-hulle wat nou deel van Israel geword het.

Maar dit is nie net die offers wat hier belangrik is nie. Josua laat die twee groepe van Israel op die twee berghange van Ebal en Gerisim staan en lees vir hulle elke enkele woord voor wat Moses neergeskryf het. Hy bring ook ‘n afskrif daarvan aan op die klippe, soos Moses beveel het. Hy lees onder andere die seën sowel as die straf voor (Deut 28) wat alreeds met die oorloë teen Jerigo en Ai op konkrete wyse bevestig is aan hulle.

Let op die geweldige nougesette aandag van ‘n ieder en ‘n elk aan die wet van die Here: “Daar was nie een woord van alles wat Moses beveel het wat Josua nie voor die hele gemeente van Israel voorgelees het nie. Die vrouens en die kinders en die vreemdelinge wat tussen die Israeliete gebly het, was by.” Vergelyk die soortgelyke verhaal in Nehemia 8 met die terugkeer ná die ballingskap.

Die Samaritane sou later hier by Gerisim ‘n heiligdom bou en besluit om net hierdie woorde, die woorde wat uiteindelik die eerste vyf boeke van die Bybel geword het – die Pentateug – as die Woord van God te aanvaar.  Dit sou ‘n radikale skeur met die Joodse geloof veroorsaak, maar dit is ‘n verhaal vir ‘n ander dag.

Vir dieperdelwers: vergelyk die wyse waarop Gerisim ingetrek word in Jesus se gesprek met die Samaritaanse vrou (Joh 4).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Josua


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.