Skip to main content

Bybelskool oor Josua en Rigters hervat 17 Januarie 2018

Ek beplan om Josua in die eerste kwartaal 2018 hoofstuk vir hoofstuk deur te lees. Ek begin DV 17 Januarie 2018.  Daarna beplan ek om Rigters deur te lees vanaf 21 Februarie 2018.

‘n Lusmaker

Die boek Josua is die eerste een van die Vroeë Profete in die Ou Testament.  Die ander is Rigters, 1-2 Samuel, en 1-2 Konings (wat jy by die skakels kan bereik en hoofstuk-vir-hoofstuk kan deurlees).

Die boeke word profeties genoem omdat die doel van die beskrywing van dié verhale van Israel was om vanuit ‘n teologiese en Goddelike perspektief te beskrywe wat en hoe dinge gebeur het sodat dit as geestelike onderrig vir die volk kan dien.

In Josua handel die profetiese onderrig oor die inname en verdeling van die land Kanaän, veral uit die hoek van die suksesse wat onder die leiding van Josua behaal is in hulle gehoorsaamheid aan die roeping en begeleiding van die Here self.

Interessant is dat ons met die boek Josua ‘n duidelike proses begin raaksien van die skrifstelling van die uiteindelike OT. Die skrifstelling van die Bybel is deur Moses begin (Eks 24:4) en het die hart van die wetboek gevorm wat deur die Leviete bewaar is in die Tabernakel (Deut 31:9).  Die wetboek was bedoel om deur hulle en die ander leiers bestudeer te word as rigsnoer vir die lewe.

Onthou ook dat die naam van die boek Deuteronomium die “tweede wet” beteken. ‘n Afskrif van die wetboek is aan die leiers gegee – veral later ook aan die koning – om gereeld te lees en in alles as rigsnoer te gebruik: “Wanneer hy as koning oor sy ryk regeer, moet hy vir hom ’n afskrif van hierdie wet maak. Hiervoor moet hy die eksemplaar van die Levitiese priesters gebruik. Hy moet die afskrif by hom hou en sy lewe lank moet hy dit gereeld lees sodat hy kan leer om die Here sy God te dien deur gehoorsaam te wees aan alles in hierdie wet en om volgens al hierdie voorskrifte te lewe.” (Deut 17:18-19).

Hierdie wetboek raak dus die boek wat Josua sy eie maak (Jos 1:7). Hy kry ook die voorreg om later die wetboek aan te vul (Jos 24:26). Die sogenaamde Josua-woorde vul dus die Moses-woorde aan. In sy tyd was daar ook nog die Boek van die Opregte (Jos 10:13) wat die verhaal van die stilstand van die son en maan vertel (vgl. ook 2 Sam 1:18 wat vertel dat ‘n lied van Dawid daarin opgeteken is).

Ons sien dus hier by Josua die begin van ‘n kern-kanon (kanon beteken “maatstaf“), die begin van die Bybel. Later sou Samuel ook regsvoorskrifte, veral ten opsigte van die koning se verantwoordelikhede, byvoeg (1 Sam 10:25) en dit saam met Moses en Josua se geskrifte in die heiligdom bewaar.  Van tyd tot tyd is die verhale van Josua opgedateer (van die stede in Jos 15 het moontlik eers in die 8ste eeu v.C. tot stand gekom) om die relevansie daarvan vir die kultiese gebruik by hulle feeste te behou.

Die leier Josua

Josua is uiteraard die hoofkarakter. Hy was die seun van Nun, en oorspronklik Hosea (“verlossing”) genoem. Moses het egter sy naam op betekenisvolle wyse verander na Josua (“die Here is verlossing”), die Hebreeuse naam wat Jesus (Grieks vir Josua) ook uiteindelik sou kry! Hy is deur Moses uitgekies om die aanvoerder te wees in die geveg teen die Amalekiete (Eks 17), waar hy dan ook die oorwinning behaal. Hy het saam met Moses op die berg van God geklim (Eks 24) en het weer saam met hom na 40 dae en nagte afgeklim (Eks 32).

Interessant, in Eks. 33:11 word gesê dat hy hom nie uit die tent, waar God Hom aan Moses geopenbaar het, verwyder het nie. Hy wou meer hoor en moontlik sien van hoe God aan Moses verskyn en met hom gepraat het!  Die Here laat hom egter nie toe om iets meer te sien nie, waarskynlik omdat Hy hom aan die skriftelike boodskap soos dit tot stand begin kom het, wou bind (Jos 1).

Uit Numeri 11:28 blyk dat Josua van sy jeug af Moses se dienaar was.  Hy was een van die verkenners van Kanaän (Num 13) en saam met Kaleb het hy, anders as die tien ander verspieders, aanbeveel dat hulle die land binnetrek.  Hulle was dan ook die enigste twee van die volk wat uiteindelik die land kon intrek by hulle tweede aankoms by die land Kanaän na ongeveer 40 jaar.

Josua is deur die Here aangewys as die opvolger van Moses, en deur Moses aangestel, dmv ’n handoplegging (Num 27:12–23; Deut 3:28; 31:7, 8, 23). Reeds in Numeri 34:17 is hy saam met die priester Eleásar deur die Here benoem om die land te help verdeel.

Die hoëpriester Eleasar

Eleasar is die ander hoofkarakter. Interessant is dat sy naam in Grieks Lasarus is. Hy was die derde seun van Aäron (Eks 6:22), en is saam met sy pa en sy drie broers tot priesters gewy (Eks 28:1). Sy twee ouer broers, Nadab en Abihu het gesondig teen die Here en is deur Hom doodgemaak (Lev 10:1–7). Daarom is Eleasar aangewys om sy pa as hoëpriester op te volg (Num 20:25–28). Hy help veral vir Josua met die verdeling van die land Kanaän onder die 12 stamme (Jos 14:1; 17:4; 19:51; 21:1).

Indeling van die boek

Ons gaan die boek lees in sy 4 hoofdele:

  1. Israel trek die land Kanaän binne (1:1-5:12)
  2. Israel neem die land in besit (5:13-12:24)
  3. Die land word verdeel onder die 12 stamme (13:1-21:45)
  4. Die volk hernuwe hulle verbond met die Here (22-24)

Die veldtog verloop as volg:

  1. Dit begin by Sittim – 12 km oos van die Jordaanrivier.
  2. Die Jordaanrivier word oorgesteek by Gilgal om in Kanaän in te gaan. Dit was in April (Jos 4:19) toe die rivier vol was.
  3. Gilgal was sowat 2 km noordoos van Jerigo. Die Israeliete het hulle daar aan God toegewy en ‘n klipaltaar gebou. Ook die paasfees is daar gevier. Dit het ‘n heilige plek geword waar Saul ook later gekroon is (1 Sam 11). Verskeie van die veldslae is van hier af gevoer. En geleerdes verbind die totstandkoming van die boek Josua tot ‘n groot mate aan die kultus van Gilgal (Butler).
  4. Jerigo was die eerste stad wat geval het, een van die oudste stede ter wêreld met hoë amper ondeurdringbare mure.
  5. Die volgende veldslag was teen Ai, waar hulle aanvanklik verloor het, omdat hulle nie die Here se opdrag gehoorsaam het nie, maar ook weens die hulp van die mense van Bet-El. Met die tweede veldslag het hulle oorwin.
  6. Josua het ná die neerlaag by Ai ’n altaar op die Ebalberg gebou. Die volk het in twee verdeel—die een helfte het by die voet van Ebalberg en die ander helfte by die voet van Gerisimberg gestaan (soos dit aanvanklik deur Moses as “eerste orde besigheid” beveel is – Deut. 27), ‘n plek wat veral vir die latere Samaritane ‘n heilige plek geword het. Die priesters het met die ark tussen die twee berge gestaan en Josua het die wet van God vir die volk gelees (Jos 8:35).
  7. Die inwoners van Gibeon, Hewiete uit vier dorpies sowat 12 km noord van Jerusalem en 10 km suid van Bet-El en Ai, het onder valse voorwendsels ’n vredesverdrag met Israel gesluit, terwyl hulle weer by Gilgal laer opgeslaan het, maar uiteindelik slawe van Israel geword.
  8. Van Gilgal af het Josua ‘n groot veldslag teen ‘n suidelike koalisie van vyf van die konings in die Suide gevoer op aandrang van die Gibeoniete. Die geveg het suidwaarts van Gibeon af na die Ajalonlaagte verskuif. Dit was hier waar Josua die Here gevra het om die son en die maan te laat stilstaan sodat hulle die vyand kon verslaan.
  9. Na ‘n klomp van die suidelike stede ingeneem is, het Josua ook Hasor, ’n belangrike stad tussen die Hulemeer en die See van Galilea, ingeneem. Koning Jabin van Hasor het die leërs van omliggende stede gevra om hom te help, maar die Here het die Israeliete bygestaan om hierdie noordelike koalisie te verslaan. Dit het aan hulle toegang verleen tot die ander gebiede in die noorde van Israel.
  10. Josua-hulle het daarna by Silo bymekaargekom, noord van Bet-el (verbind met Jakob), om die tent van ontmoeting daar op te rig, die plek waar Eli en Samuel later diens gedoen het. En van daar af is die res van die land onder die stamme verdeel (Jos 18). Die land word verdeel deur Josua en Eleasar onder die 12 stamme, met spesiale reëlings vir die Leviete, soos die Here dit uitgewys en sommige dit versoek het.
  11. Aan die einde van Josua se lewe, bring hy die hele volk by Sigem bymekaar en herinner hulle daaraan dat God die land aan hulle gegee het. Hulle sou dit dus slegs met sy hulp kon behou. Die volk het belowe om na aan Hom te leef en vir die res van Josua se lewe was daar vrede en het die Israeliete nie weer by enige oorlog betrokke geraak nie (Jos 24).

Die groot vraag wat egter na die inname en verdeling van die land ontstaan, is: “Sal die volk getrou bly aan die Here? En die hele verhaal van Israel wat hierna ontvou deur die boeke wat volg – in die Vroeë Profete en later die 15 Skrifprofete – word aan hulle getrouheid aan God al dan nie beoordeel.

En les bes:

Josua en Jesus

Josua word net 2 keer in die NT genoem. Stefanus herroep Josua se leiding met die Intog in sy toespraak voor die Joodse Raad (Hand 7:45) en die Hebreërskrywer gebruik die Intog onder leiding van Josua as ‘n aanduiding van die onvolledige rus wat dit vir die volk van God gegee het.  Die volle rus het eers in Jesus aangebreek.

Jesus is ‘n Verlosser soos Josua

Deurdat Maria die opdrag kry om haar seun Jesus te noem (Matt 1:21), trek die NT alreeds ‘n sterk verband met Josua van die OT. Jesus is die Griekse vorm van die Hebreeuse naam Josua.  Soos Josua die volk die beloofde land moes binnelei, só kan dieselfde van Jesus gesê word.  Die beloofde land waarheen Jesus egter gelowiges lei, is die koninkryk van God wat uiteindelik ‘n nuwe hemel en aarde insluit.

Jesus stuur die dissipels soos Moses Josua gestuur het

Jesus eindig sy aardse lewe op ‘n berg (Matt 28), soos Moses dit ook gedoen het (Deut 34). Soos Moses vir Josua in opdrag van die Here gestuur het om die beloofde land binne te trek (Deut 31:32), só stuur Jesus die dissipels die wye wêreld in om die boodskap van die koninkryk aan al die nasies te gaan verkondig (Matt 28:18-20). Soos Moses beklemtoon het dat Josua en die volk alles moet doen wat die Here hulle deur sy bediening beveel het (Deut 31:12), só doen Jesus dit ook (Matt 28:20).  Soos Josua rus vir die volk gebring het in die beloofde land (Jos 11:23; 21:44), só doen Jesus dit ook (Hebr 4:1-11; 12:1-2).

Genoeg stof vir hierdie Adventstyd om oor na te dink!

Geseënde Advent en Christusfees!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Josua


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders