Skip to main content

Josua 24 – Die leiers en die volk word aan God self verbind in ‘n verbondshernuwing

Dit is duidelik dat dieselfde leiers as in Josua 23 in hierdie laaste toespraak van Josua teenwoordig is. Die hele volk word egter saam met hulle in ‘n verbondshernuwing seremonie ingetrek by Sigem, die grondgebied wat Josua in besit geneem het, en waar Jakob aanvanklik ‘n stuk grond gekoop het.

1. Aan die een kant is hierdie toespraak ‘n terugblik op die Israeliete se vorming as volk in vervulling van die beloftes van die Here. Daarom gaan haal Josua die verhaal by Tera, vader van Abraham, anderkant die Eufraat. Die Here se keuse van Abraham was nie net om vir hom ‘n land en ‘n nageslag te gee nie, maar hom ook uit afgodediens aan die enigste ware God te verbind.

Elke deel van dié pad word as stasies op die roete na Kanaän uitgelê: Abraham se blootstelling aan die land Kanaän; Isak as die kind van die belofte; Jakob en Esau wat begin beslag lê het op hulle onderskeie grondgebiede; die verlossing uit Egipte deur Moses en Aäron en God se bewaring deur die Rietsee en die woestyn. God is die Een wat help en verlos, soos ten minste Josua en Kaleb nog eerstehands ervaar het.

Die Uittog het uitgemond in die Intog en Vestiging in die land waarin selfs die land oos van die Jordaan in hulle besit gekom het. God se hand in dit alles word onomwonde erken en geëer. Hy het hulle geseën ten spyte van die pogings van Bileam en hulle kon die land inneem.

Die gawe van die land is weens God se werk, nie deur hulle swaarde, pyle en boë nie. Hulle sou gevolglik ook nooit die land kon beskerm net met hulle swaarde, pyle en boë nie. Die land sou altyd belofteland bly, en net in hulle besit wees solank as hulle die Here aanbid en gehoorsaam het.

2. Aan die ander kant is Josua se toespraak ‘n toekomsblik van hulle lewe in die teenwoordigheid van die Verbondsgod aan wie hulle hulle opnuut verbind. En dit is die dieptepunt van sy appèl aan hulle om aan dié God eerbied te betoon en Hom met opregtheid en trou te dien.

Dit sal moet insluit dat hulle hulle afgodery vaarwel moet roep, die gode van anderkant die Eufraat, die gode van Egipte, en dié wat hulle in die land Kanaän mee in aanraking gekom het. En onthou, Sigem is die plek waar Jakob die afgode van sy vroue begrawe het (Gen 36)!

‘n Mens kan jou beswaarlik indink hoe ‘n groot uitdaging die afgode was in ‘n omgewing waarin niemand net een god aanbid het nie. Die druk was daar om aan te pas by die omgewing, veral die druk weens die ondertrouery met die ander nasies in die land wat onder die radar toegeneem het en mettertyd drastiese stappe geverg het van die leiers.

Hierdie klem op die aanbidding van nét een God, die God wat Hom aan hulle as Jahwe openbaar het, was só belangrik dat Josua hulle in ‘n seremonie begelei om eens en vir altyd te kies wie hulle wil dien: “Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.

Op die volk se eendragtige antwoord dat hulle glad nie daaraan dink om die Here te verlaat en ander gode te dien nie, waarsku Josua hulle dat dié God onverdeelde trou eis en hulle nie hulle opstandigheid en sonde hierin sal vergewe nie: “As julle die Here verlaat en julle dien vreemde gode, sal Hy wat aan julle goed gedoen het, teen julle draai en rampe oor julle bring en ’n end aan julle maak.

Josua het geweet hoe wispelturig die volk se lojaliteit was, en hoe groot die uitdaging by hulle huise gaan wees, want die ander nasies is nie uitgewis nie. Die versoeking sou dus blywend wees en baie sou daarvoor swig.

Daarom waarsku hy hulle en moedig hulle aan om die vreemde gode tussen hulle uit te wis en hulle heeltemal aan Jahwe te verbind.

Op die volk se eendragtige ja hernuwe Josua uiteindelik die verbond op grond van die voorskrifte en bepalings wat nie net Moses neergepen het nie, maar waartoe hy nou bygevoeg het. Sy woorde, die sogenaamde Josua-woorde, vul nou die Moses-woorde aan, en word saam in die wetboek van God opgeskryf.

As herinnering aan dié gewigtige oomblik word ‘n klip as getuienis gekies. En daarmee gee Josua ook die leierskap oor aan die leiers van die stamme wat van nou af in gehoorsaamheid aan die Here hulle mense moes begelei en dien. Daarna het Josua die volk laat gaan, elkeen na sy eie grond toe.

Die boek sluit af met die beskrywing van die dood van Josua op die rype ouderdom van 110 jaar. Hy word begrawe op sy grondgebied. Ook Josef se wens om in Sigem begrawe te word, word nagekom.

Die hoërpriester Eleasar is ook oorlede en begrawe op die grond wat aan sy seun Pinehas in die Efraimsberge toegeken is.

Die skakel na die volgende boek in die reeks van die Vroeë Profete, Rigters, word gegee met die opmerking: “Israel het die Here bly dien tydens die lewe van Josua en tydens die lewe van die leiers wat vir Josua oorleef het en alles ervaar het wat die Here vir Israel gedoen het.

Dat dit nie só goed gegaan het met die leiers daarna nie, en wat die Here gedoen het om hulle ook deur daardie drif te trek, is die onderwerp van ons volgende studie in die boek Rigters.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Josua


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.
  • Marius smit on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieHoekom beskerm die Here jou juis aan jou regterkant?
  • runawayjoyous2427b27b07 on Eenjaar Bybelleesprogram – 366 daeBaie dankie!