Skip to main content

Nehemia 8 – Esra help die volk om mense van die Boek te word

Die muur is voltooi op die 25ste dag van Elul, die sesde maand (29 dae lank).  Almal het teruggekeer na hulle plekke.  Vyf dae later op die 1ste dag van die sewende maand, Tishri, het die hele volk soos een man bymekaargekom in Jerusalem soos die wet hulle beveel het (Lev. 23:24) om ’n spesiale Sabbat vir die Here te vier. 

Esra verskyn nou weer op die toneel, nadat ’n mens vir 13 jaar lank niks van hom gehoor het nie, presies hoekom weet ons nie.  Moontlik was hy teruggeroep Babel toe – onthou hy was in opdrag van die koning na Jerusalem gestuur.  Maar ons weet nie regtig nie.

Die volk vra Esra om vir hulle uit die wetboek van Moses te lees.  Hy doen dit omtrent ses uur lank van ligdag af tot in die middel van die dag, met 13 (waarskynlik) priesters weerskante van hom en 13 Leviete wat gehelp het met die uitleg van die wetboek.

Dit is een van die min plekke in die Bybel waar ons agterkom hoe die geloofsgemeenskap die Bybel gelees het.  Die volk het van Esra geëis dat hy vir hulle help verstaan wat die wetboek van die Here sê sodat hulle dit kon doen (Neh. 8:2).  As Esra aan hulle versoek voldoen en uit die wetboek begin lees, staan daar letterlik dat die “ore van die volk op die wet gerig was” (Neh. 8:4), so graag wou hulle verstaan!

Nadat die volk, al staande, na die eerste maraton voorlesing geluister het en in lofprysing gereageer het, het die leiers (Nehemia ingesluit), priesters en Leviete as ‘n span verder gegaan en in die proses van verstaansbegeleiding van die volgende stappe gebruik gemaak.  Hulle het gefokus op:

  1. die verdere hardop lees van die teks,
  2. die verklaring daarvan,
  3. die verduideliking van die betekenis daarvan,
  4. totdat die volk dit verstaan het (Neh. 8:9).

En uit die verloop van die verhaal in die res van die hoofstuk word die gevolg van dié proses uitgespel in die nougesette navolging van wat hulle gehoor het.  Hulle het regtig verstaan!  Geen wonder dat hulle nou met reg mense van die Boek genoem kon word, want dít is inderdaad wat hulle geword het.

Die aanhoor van die wetboek van Moses se eise en voorskrifte het die volk egter hartseer gestem, omdat hulle op soveel wyses daaraan ongehoorsaam was.  Nehemia-hulle stop dié gehuilery egter baie gou en moedig die volk aan om eerder hulle verbintenis aan Hom te vier met blydskap en ook die feestelikheid te deel met dié wat niks voorberei het nie.

Op die tiende dag van dié maand moes hulle eintlik ook die versoendag vier (Lev. 23:27), maar ons lees nie eksplisiet dat hulle dié dag gevier het nie.  Vyf dae later moes hulle egter die week lange huttefees (23:34) vier en hulle begin onmiddellik daarvoor voorbereidings tref.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Nehemia


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar