Skip to main content

Josua 5:13-6:27 – Die Here self voer die oorlog teen Jerigo

Die ontblote swaard van die vors van die weermag van die Here – Jos 5:13-15

Die laaste versterking vir die stryd in Kanaän is dan ook die belangrikste. Die Here self verskyn aan Josua met ‘n ontblote swaard om hom te versterk vir die stryd wat voorlê. Die Here word hier as die “vors van die weermag (leëraanvoerder) van die Here” – śǎr-ṣeḇāʾ-yehwāh – geteken. Dit was ‘n voorreg wat Bileam (Num 22:22-23) vroeër en ook Dawid (1 Kron 21:16) later gehad het.

Hierdie “vors” is waarskynlik dieselfde as die “vors van die vorste” (śǎr-śārîm) wat ons in Daniël aantref en in die konteks met die Here geïdentifiseer word (Dan 8:25). Daniël onderskei hierdie “vors” van die drie ander vorste wat hy noem (Dan 10:20; 12:1), dié van Persië, Griekeland en Israel (Migael). Dit is waarskynlik hierdie vors, of beter gestel Vors, wat met hierdie man in Josua verbind moet word.

Let veral op dat Josua vir dié man vra aan wie se kant hy is, en dié man “Nee” antwoord. Hy is nie daar om kant te kies nie, maar om die Here se wil uit te voer.  Daarom is hy daar, as die een wat die oorlog gaan voer op grond van God se eie besluit.

Dit is ‘n perspektief op God wat reeds ‘n hele paar keer in die Pentateug voorgekom het.  Die Here word reeds in Miriam se loflied ná die tog deur die Rietsee as ‘n “man van oorlog, Jahwe is sy Naam” geteken (vgl Eks 15:3).

Dit is ook waar van die engel wat God voor die volk uitstuur om hulle na die plek toe te bring wat Hy vir hulle reg gemaak het, Kanaän. Dié engel is niemand minder as God self nie, want hulle kry die opdrag om na dié engel te luister, hulle nie teen hom te  verset nie, want Hy sal hulle nie vergewe as hulle teen hom in opstand kom nie, want God het aan hom sy volmag gegee.

As Israel dus goed ag gee op hom en alles doen wat Hy, dws God, sê, sal die Here die vyand van Israel se vyande wees en die teëstander van hulle teëstanders. Sy engel sal voor hulle uitgaan en hulle bring in Kanaän waar al die volke deur die Here self uitgewis sal word (Eks 23:20-23).

Hierdie ontmoeting met die vors van die weermag van die Here is dus ‘n baie belangrike openbaring aan Josua.  Dit verklaar hierdie oorlog as ‘n “Heilige Oorlog”. Dit is nie maar net een volk wat ‘n ander se grondgebied afvat nie. Dit is die Here self wat dit doen.

Daarom is die grond waar hierdie ontmoeting plaasvind heilig en moet Josua – soos Moses vroeër by die brandende doringbos – sy skoene uittrek (Eks 3). Josua word ook nie gekeer om dié vors te aanbid nie, wat die man se goddelikheid onderstreep.

Terloops, dieselfde perspektief geld die Here Jesus, die Ruiter op die wit perd, die Koning van die konings en die Here van die heersers. Hy voer oorlog met die swaard van sy mond en trap self die parskuip van die wyn van die toorn van die oordeel van God (Openb 19:11-21). Uiteraard verskil die styl van oorlogvoering, en moet ‘n mens dit metafories verstaan. Maar dit bepaal wel deeglik die toekoms van werklike mense in terme van dié wat ingesluit word in die hemelse Jerusalem en dié wat daarbuite sal bly en vernietig sal word.

Die oorlog teen Jerigo is die Here s’n – Jos 6:1-27

Die mense van Jerigo was voorbereid op die Israeliete.  Hulle het die stad gesluit en verskans. Hulle het alle verkeer in en uit die stad gestop.  Waarmee hulle nie rekening gehou het nie is dat die oorlog nie deur vlees en bloed gevoer sou word nie, maar deur die Here. Die oorlog teen Jerigo was die Here s’n.

Die priesters moes met die verbondsark stap om die stad met die gewapende manskappe voor hulle uit. Dit moes ses dae lank gebeur en die sewende dag, waarskynlik ‘n Sabbatdag, moes hulle daarby ‘n aanvalskreet hard uitskree waarop die mure van Jerigo inmekaar sou stort en die stad en sy mense oorwin kon word.

Israel moes dus wel veg, maar die slag sou reeds gelewer wees met die bonatuurlike ingryping met die ineenstorting van die mure.

‘n Mens tel ‘n ywerigheid by die priesters op wat begin loop nog voor Josua klaar was. Dieselfde geld die manskappe wat sommer met die eerste loop al begin skreeu het, sodat Josua hulle moes keer. Hulle moes nie ‘n geluid te laat hoor voor die laaste dag nie.

Die skrywer van Hebreërs verbind hierdie ywer met hulle vertroue op God: “Omdat die Israeliete geglo het, het die mure van Jerigo geval nadat hulle sewe dae daaromheen getrek het” (Hebr 11:30).

Met rooidag die sewende dag het die mure geval met die kreet: “Die Here gee die stad aan julle oor!” Die opdrag was dat die stad heeltemal uitgedelg word as ‘n banoffer vir die Here, behalwe vir die prostituut Ragab haar mense. Hulle het verblyf gekry by Israel en sy trou mettertyd met Salmon, en word só in die geslagsregister van Jesus ingesluit. Die mededeling dat Ragab se nageslag nou nog hier bly, dui op ‘n inskrywing nie baie lank ná hierdie gebeure nie.

Josua het ‘n verklaring uitgereik dat Jerigo nie herbou mag word nie met ‘n waarskuwing dat die Here só ‘n man sal straf met die dood van sy oudste en jongste seun. Dit het ses eeue later gebeur (1 Kon 16:34). Daarna word Jerigo weer genoem. Trouens van hulle mense bou later in die tyd van Nehemia aan die mure van Jerusalem (Es 2:34; Neh 3:2). Jerigo is ook in die NT van belang (Mark 10:46; Matt 20:29; Luk 10:30; 18:35; 19:1).

Die verhaal van Jerigo sluit af met die mededeling dat die Here by Josua was en dat dit hom oor die hele land bekend laat word het.

View all posts in this series

Josua


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar